Koos Stadler

Recce


Скачать книгу

was, het hom voorgedoen toe ’n werwing­span van 31 Bataljon die Infanterieskool besoek het. 31 Bataljon was in die westelike deel van die Caprivi gestasioneer en het toevallig ook ’n baie suksesvolle verkenningsvleuel gehad. Die ver­kenningsvleuel was verantwoordelik vir taktiese verkenning in klein groepies, terwyl die gewone kompanies in ’n offensiewe soek-­en-vernietig-rol ontplooi is.

      Frannie du Toit, ’n vuurvreter van ’n luitenant wat in beheer van die werwingspan was, het my onmiddellik oortuig toe hy vertel dat ons in die Caprivi-bos sou woon en verkenningsoperasies saam met die Boesmans sou doen. Die volgende drie jaar by 31 Bataljon sou inderdaad van die beste tye van my lewe wees.

      Die operasies by 31 Bataljon was van ’n taktiese aard en het mis­kien nie dieselfde professionele status geniet as dié wat ek later in die Spesmagte sou ervaar nie, maar dit het my as soldaat gevorm. Ek moes nou en dan ’n paar koeëls systap en het vir die eerste keer die dood van naby ervaar. Ek het mense raakgeloop wat nie die druk van die oorlog kon hanteer nie, maar het ook nou saam­gewerk met manne wat koel en kalm onder vuur kon optree. Ek het meestal met uitstekende soldate te doene gekry, manne wat ’n blywende indruk op my gemaak het. Die belangrikste aspek van daardie tyd was egter die blootstelling wat ek aan verkenning gekry het – en die unieke konsep wat ons tydens die uitvoering van talle verkenningstake ontwikkel het.

      DEEL 2

      Die Boesmans

      ~

      “You can do anything with enthusiasm. Enthusiasm is the sparkle in your eyes, the swing in your gait. It is the grip of your hand, the irresistible surge of your will, the energy to execute your ideas. Enthusiasts are fighters. They have fortitude. They have staying qualities. Enthusiasm is at the bottom of all progress. With it there is accomplishment. Without it there are only alibis ...”

      Henry Ford (Nyweraar en entrepreneur, 1863-1947)

      1

      Die onbekende in

      IN NOVEMBER 1978 vlieg twee groepe jong avonturiers in ’n militêre vragvliegtuig na die oorlogsfront. Die een groep was vrywilligers wat na 32 Bataljon sou gaan, ’n eenheid wat deur kol. Jan Breytenbach uit oudsoldate van die FNLA saamgestel en in ’n gedugte swart gevegseenheid omskep is. Die ander een was my groep, wat op pad was na die militêre dorp Omega in die Caprivi, die tuisbasis van 31 Bataljon.

      Operasionele gebied

Kaart_1_fmt.jpg

      Die leiersgroep van 31 Bataljon het uit wit offisiere en ’n kom­binasie van wit en Boesman-onderoffisiere bestaan. Die eenheid is deur kol. Delville Linford gestig. Hy was een van daardie son­derlinge karakters in die weermag wat dinge op sy eie, onorto­dokse manier gedoen het – én daarmee weggekom het. Hoewel Linford nie meer by die eenheid was nie en ek hom nooit ontmoet het nie, was sy foto’s oral teen die mure en was sy invloed nog byna tasbaar.

      Ons was ’n gemengde groep van kandidaatoffisiere en onderkorporaals vars uit die Infanterieskool. Ná ons aankoms op Rundu is ons agterop ’n Kwêvoël (’n 10-ton-vragmotor met ’n mynbestande kajuit) na Omega. Die rit was ’n heel interessante ervaring. Ons het op ons bagasie gesit en tuur na die bosse, almal ’n bietjie onseker oor wat vir ons voorlê. Voor ons teen die kajuit was sakke mieliemeel wat moes saamgaan Omega toe. Fyn meelpoeier het die hele tyd op ons neergesif. Onderweg het ’n donderstorm losgebars, wat – soos ons gou tydens operasies in die bos sou agterkom – tipies was van die Caprivi se somerweer. Ná die reën het die son weer deurgebreek en die meel op ons klere en gesigte hard gebak. Teen die tyd dat ons op Omega aangekom het, het ons soos ’n Kwêvoëlvrag vol varsgebakte brode gelyk.

      Kapt. Frans “Gor-Gor” Gunther het ons verwelkom en ’n kort induksieprogram laat doen. Hy was ’n indrukwekkende figuur met ’n ewe oorweldigende persoonlikheid en ’n reuse-snor om die prentjie af te rond. Die gerug het gou die ronde begin doen dat sy snor alles oor sy gemoedstoestand verklap. As hy byvoor­beeld kwaad of ontevrede was, sou die snorpunte na onder hang, terwyl ’n reguit snor daarop gedui het dat hy tevrede was met jou prestasie. Oor die volgende drie jaar het ek en my verkenningspan die voorreg gehad om verskeie kere saam met Frans en sy C-kompanie te ontplooi. Ek kan gelukkig sê dat ek sy beroemde snor nooit in die hangende posisie gesien het nie.

      Ná die week lange induksie is 18 verkenningsvleuel-kandidate geskei van dié wat by die kompanies sou aansluit. Ons 18 het met keuring vir die verkenningsvleuel begin, terwyl die ander groep ’n program gevolg het wat hulle sou voorberei om hul Boesmanpelotons in ’n teeninsurgensie-oorlog aan te voer.

      In die middel-sewentigerjare het ’n behoefte aan taktiese ver­kenning gelei tot die stigting van verkenningspelotons by die infanterie-eenhede wat permanent in die Grensoorlog se ope­ra­sionele gebied gestasioneer was. Destyds was 31 en 32 Bataljon die eerste eenhede wat verkenningspanne in Zambië en Angola ontplooi het om Swapo-basisse op te spoor in gebiede wat Swapo as “veilig” beskou het.

      Aanvanklik is hierdie verkenningsvleuels deur instrukteurs van die Verkenningskommando’s (later Verkenningsregimente) in die fynere kunsies van taktiek opgelei. Die spanne het talle verkenningstake op taktiese vlak uitgevoer, baie daarvan voor­dat aanvalle of strooptogte op vyandelike basisse en infrastruk­tuur gedoen is. Sowat tien jaar lank, tussen 1976 en 1986, het die ver­­kenningsvleuels die las van die Verkenningskommando’s verlig deur verkenningstake in die operasionele gebiede van Sektor 10, 20 en 703 uit te voer. Gevolglik kon die Spesiale Magte hulle op operasies in die strategiese sfeer toespits.

      Daar is nooit ’n duidelike onderskeid tussen taktiese en stra­te­giese ontplooiings gemaak nie. Dit is egter algemeen aanvaar dat die taktiese verkenningspanne in elke sektorhoofkwartier se direkte verantwoordelikheidsgebied sou ontplooi – dus tot sowat 60 km in Angola of Zambië in. Daar was wel verskeie uitsonderings op die reël. Talle Spesiale Magte-operasies is by­voorbeeld in die taktiese sfeer uitgevoer – soos die pseudo-­guerrilla-operasies deur 51 Kommando aan albei kante van die Suidwes-Angola-grens.

      Handboekdefinisies van daardie era het strategiese verkenning beskou as operasies waar ’n span onafhanklik – dus sonder enige direkte grond- of lugsteun – opereer. Die inligting wat tydens die verkenning ingesamel is, sou ook nie noodwendig tot direkte optrede teen die vyand lei nie, maar sou wel ’n strategiese uitwerking op die uitkoms van die oorlog hê. Daarteenoor is taktiese verkenningstake in die taktiese invloedsfeer van operasies uitgevoer, dus binne reikafstand van grond- en lugsteun. Dit sou ook feitlik altyd tot direkte taktiese optrede deur eie grond­magte lei.

      Die modus operandi van die taktiese verkenningspelotons het van eenheid tot eenheid verskil. ’n Verkenningspatrollie wat voor ’n gevegsmag moes patrolleer, het uit vier tot ses man bestaan en moes swaar genoeg bewapen wees om hulself in ’n geveg te handhaaf. Vir ’n verkenning van ’n Swapo-basis sou ’n patrollie uit hoogstens vier manne bestaan. Indien die basis binnegedring moes word, sou dit dikwels deur twee manne gedoen word.

      Selfs in die beginjare van die oorlog het die moeilike terrein en gebrek aan skuiling die gebruik van groot spanne verhinder. Dit het meegebring dat die konsep van kleinspanoperasies reeds teen die laat 1970’s met groot sukses deur die taktiese verkenningsvleuels toegepas is.

      Die keuring vir die verkenningsvleuel van 31 Bataljon was die strafste wat ek nog deurgemaak het. Aan die begin van die keuring is ons ’n week lank aan die ergste liggaamsoefeninge (LO) denkbaar onderwerp, van 05:00 in die oggend tot laat in die nag. Die instrukteurs wou ons klaarblyklik vir die bosfase gereed kry, maar al wat hulle bereik het, was om ons tot die dood toe uit te put. Ons moes nog eers aan die Caprivi se warm en vogtige lug gewoond raak.

      Toe is ons bos toe vir die regte keuring, maar het gou besef dat dit bloot ’n aanhoudende gesloeg deur die ruie bosse was van die een rendezvous (RV, of soms ruitverwysing) na die volgende. By elke RV het die instrukteurs ons met nóg ’n verrassing ingewag. Soms was dit ’n stywe LO-sessie in die sand en ander kere moes ons kilometers ver leopard crawl. Daarna het ons ’n nuwe kompas­peiling gekry na die volgende RV, wat gewoonlik ’n onmoontlike afstand weg was om binne die gegewe tyd af te lê.