Koos Stadler

Recce


Скачать книгу

gevlieg. Toe vlieg hy na ’n omgevalle boomstomp waarby ons kort tevore verbygeloop het. Tango se gesig het dadelik opgehelder. Met ’n breë glimlag op sy verrimpelde gesig het hy die woord “heuning” gevorm.

      Die Boesmans het binne minute vuur gemaak en groen blare om ’n brandende stomp gedraai om ’n doeltreffende rookmaker te skep. Terwyl ek waggestaan het, het die een Boesman met sy jag­mes aan die boomstomp begin kerf om die byenes oop te maak, terwyl die ander met die rokende stomp om die nes gestap het.

      Uiteindelik het hulle van die goue heuningkoeke uit die boomstomp gehaal en dit op ’n stuk vars boombas, wat netjies vir die doel gesny is, uitgepak. Daarna het hulle van die koeke met papies van jong bytjies as beloning vir die heuningvoëltjie uitgepak. Ons is terug na ons skuilplek met die heuning waar ons saam met Frannie aan die heerlike soetigheid gesmul het. Die stroop het ons in ’n waterbottel opgevang en dit die volgende dag saam met die oorblywende heuningkoeke teruggevat basis toe nadat die HK uit­eindelik ingewillig het om ons te onttrek.

      My eerste ware kontak met ’n vyandelike mag het plaasgevind tydens ’n ontplooiing net noord van die Matabelevlakte in die suidweste van Zambië. Swapo het ’n reeks opleidingsbasisse in die omgewing van Ngwezi Pools gevestig in ’n gebied wat hulle as veilig beskou het. Ons ontplooiing was deel van ’n groter offen­sief wat Sektor 70 uit Katima Mulilo geloods het.

      Dié offensief, Operasie Saffraan, is op 7 Maart 1979 begin om saam te val met Operasie Rekstok, wat terselfdertyd vanaf Sektor 10 (Oshakati) in Angola geloods is. Operasie Saffraan was weerwraak vir Swapo se aanval op Katima Mulilo die vorige jaar, sowel as vir die talle infiltrasies in die Oos-Caprivi in die voorafgaande maande. As een van die vernaamste rolspelers in die offensief moes 31 Bataljon sy kompanies in ’n wye vee-operasie teen Swapo-­basisse tussen die Cuando- en Zambezirivier ontplooi. Die ver­kenningsvleuel sou as afsnygroep noord van die Matabelevlakte ontplooi.

      Met drie spanne van ses elk was ons vegpatrollie 18 man sterk, tot die tande gewapen. Inligting het daarop gedui dat ’n elite-Swapo-­eenheid met die naam Typhoon in die gebied opgelei word. Typhoon het daarin gespesialiseer om diep in Suidwes se plaasgebiede in te dring om boere aan te val en die gemeenskappe te teister.

      Ons opdrag was om elemente van hierdie groep op te spoor en uit te wis. Ons is per helikopter ontplooi en het ’n week lank die bosgebied gepatrolleer waar die Typhoon-afdeling volgens alle aan­duidings hul basis ingerig het. Op die derde dag het ons tekens van Swapo-teenwoordigheid begin kry. Oral was vyandelike spore wat dikwels na krale in die gebied gelei het. Ons het die plaaslike bevolking egter vermy en kon dus nie die vyand eien nie.

      Aan die einde van die eerste week het ons besluit om ons voorraadaanvulling as rookskerm te gebruik om die vyand onder die indruk te bring dat ons uit die gebied onttrek het. Die hele span het uit die bos gekom en helder oordag voor al die inwoners van ’n kraalkompleks, wat verdag voorgekom het, in ’n suidelike rigting begin onttrek. Om alle twyfel uit die weg te ruim dat ons besig was om pad te gee, het ons etlike kilometers ver ’n duidelike spoor gelaat. Laat daardie middag het ons sowat 10 km suid van die kraalkompleks ’n resup (’n heraanvulling van kos, water en batterye) per helikopter ontvang. Nadat die helikopters weg is, het ons vinnig die voorraad onder almal versprei, dit in ons rugsakke gepak en alle tekens van ons teenwoordigheid sorgvul­dig uitgevee. Frannie het twee Boesmans aangesê om ons spore uit te wis.

      Hy het daarna ’n RV naby aan die kraalkompleks gekies waar ons weer bymekaar sou kom om die gebied dop te hou. Ons het in die drie sesman-spanne verdeel en deur die nag na die RV-punt beweeg. Elke span het baie versigtig te werk gegaan om geen spore te laat nie en stil en ongemerk by die RV uit te kom.

      Nadat al die spanne by die RV aangekom het, het ons laaggelê. Die volgende dag het ons tweeman-spanne begin uitstuur om tekens van die vyand te soek. Ons is beloon toe een verkenningspan terug­gekeer het met die nuus dat daar vars spore is wat na die kraal toe lei. Die hele groep het versigtig in die boomlyn om die kraal na die teenoorgestelde kant beweeg van waar die spore by die kraal in is. Frannie het twee Boesmans, wat in Swapo-drag geklee was, opdrag gegee om in die oopte in te beweeg en hulself sigbaar te maak. Die twee het doodluiters, met wapens oor die skouers in tipiese Swapo-­styl, voor die kraalinwoners oor ’n oop stuk grond gestap. Toe het hulle weer in die bosse verdwyn en by ons aangesluit. Die hele groep het daarna in die digte bos inbeweeg en ’n hinderlaagposisie ingeneem.

      Die Swapo-patrollie, wat nie geweet het met wie hulle so ver van die Suidwes-grens te doen het nie, het die aas gegryp en ons spoor baie aggressief in ’n oop formasie gevolg. Maar ons was reg vir hulle. Almal het vir Frannie gewag om te skiet en toe die eerste skoot klap, het ek ’n Swapo skaars 20 m van my af in die visier gehad. Hy en vier ander is deur die eerste hewige sarsie neergevel. Die res het in die lang gras ingeduik en holderstebolder in alle rigtings laat spaander.

      Teen hierdie tyd het die meeste van ons uit dekking beweeg en met vuur-en-beweging vorentoe geveg. Halfpad deur die vuurgeveg het ek Frannie skielik hoor skreeu: “Moenie skiet nie, moenie skiet nie. Dis ’n bicycle daai!”

      Ná die kontak het ons lekker gelag toe ons hoor waaroor dit eintlik gegaan het. Die bevelvoerder van Sektor 70 op Katima Mulilo het ’n fiets as beloning aangebied vir enige Boesmansol­daat wat ’n Swapo lewend terugbring. Vir inligtingsdoeleindes was ’n lewende een inderdaad veel meer werd as ’n dooie. Ons het wel nie vir ’n fiets gekwalifiseer nie omdat ons nie ’n Swapo kon vang nie, maar was nogtans verlig oor die uitkoms van die geveg, want ons het niemand verloor nie.

      Ons het ’n tydelike basis ingerig met behoorlike rondomverdedi­ging, ingeval die vyand sou besluit om ’n teenaanval te loods. Frannie het die kontak aan die HK gerapporteer terwyl ons bewys­stukke bymekaargemaak het. Vyf Swapo’s is dood en die bloedspore het daarop gedui dat minstens nog drie ernstig gewond was. Ons was diep in die vyandelike gebied sonder noue lugsteun en Frannie het besluit om nie ’n opvolgaksie te begin nie.

      Die HK het ook opdrag gegee dat al die lyke teruggebring word omdat die Typhoon-vonds deur die inligtingsafdeling as uiters be­langrik beskou is. Hulle wou selfs die dooies se gesigte en vingerafdrukke ontleed. Ons het al die lyke en hul wapens, persoonlike uitrusting en dokumente bymekaargemaak en na die LZ gebring wat ons voorberei het.

      Twee helikopters het die spanne en die lyke na die operasionele hoofkwartier in die omgewing van die Ngwezi Pools geneem. Nadat ons afgelaai is, is die lyke na Katima Mulilo afgevoer. Ons spanne het nog twee verkenningstake uitgevoer om Swapo-ontplooi­ings in die gebied op te spoor, maar teen daardie tyd het die vyand reeds al sy basisse ontruim en verder noord teruggetrek. Operasie Saffraan was klaar en die hele eenheid is terug Omega toe.

      Ná die kontak het ek my nie veel aan die lyke by die LZ gesteur nie. Die ekstase van die oomblik en die fisieke inspanning om die lyke en uitrusting in die hitte bymekaar te maak, het my nie veel geleentheid gegee om daaroor te tob nie. Later het ek egter baie gewonder oor die mense wat daardie dag deur ons toedoen dood is. Hoe het dit gebeur dat hulle daar beland het? Hulle het ver van hul geliefdes onder die warm Afrika-son gesterf. Sou hul families ooit weet hoe en waar hulle aan hul einde gekom het?

      3

      Kamerade

      DAARDIE JARE op Omega in die Caprivi was vir my as 21-jarige tweede-luitenant een groot avontuur. Ek was spanleier van ses manne – aanvanklik twee wittes en vier Boesmans – wat ek op verkenningstake die bosse ingelei het. Ek het genoeg vryheid gehad om my eie ding te kon doen, maar sonder die verantwoor­delikheid van ’n meer senior rang. Dit was sorgvrye dae en ek het geleef vir die oomblik – en vir die operasies wat kort op mekaar gevolg het.

      Teen daardie tyd het ek al vir kortdiens aangesluit, wat beteken het dat ’n bykomende tweejaar-kontrak by my twee jaar diensplig gevoeg is. Dit het ook gesorg vir ’n gesonde salarispakket, omdat die operasionele gevaartoelaag (danger pay) my salaris omtrent ver­dubbel het.

      Meer as 4 000 Boesmans het op Omega gewoon. Hiervan was 800 soldate en die res hul familielede. Die soldate is in vier kompa­nies verdeel: A-kompanie (bestaande uit Barakwenas, ’n inheemse stam uit die Cuando-Cubango-provinsie van Angola), B- en C-­kompanie (Vasquelas – Boesmans wat wydverspreid in die suidelike streke van Angola en die noordoostelike dele van Suidwes