Wilbur Smith

Donderslag


Скачать книгу

’n skietding!” roep iemand.

      “Daar’s ’n haelgeweer agter die toonbank.” Maar niemand verlaat die kring om Sean nie en hy gluur hulle aan met wildstarende oë in sy bebloede gesig.

      “Jy’t hom doodgemaak!” beskuldig ’n stem hom. Die woorde dring deur die waansin, Sean se liggaam ontspan ietwat en hy probeer die bloed met sy oop handpalm afvee. Hulle merk die verandering in hom.

      “Kalm nou, ou kêrel. Pret is pret, maar moord is ’n ander storie.”

      “Wees net rustig. Laat ons kyk wat jy aan hom gedoen het.”

      Sean kyk af na die lyf wat daar lê, en hy is verward en skielik bang. Die man is dood, hy’s seker daarvan.

      “O, my God!” fluister hy, staan agteruit en vee sy oë vergeefs af, smeer net die bloed oor sy gesig.

      “Hy’t ’n mes uitgetrek. Moenie bekommerd wees nie, ou maat, jy’t ooggetuies.” Die skare se bui het verander.

      “Nee,” mompel Sean. Hulle verstaan nie. Vir die eerste keer in sy lewe het hy sy krag misbruik; dit gebruik om iets sonder goeie rede dood te maak – om dood te maak vir die blote plesier daarvan, om dood te maak soos ’n luiperd dit doen.

      Dan beweeg die man effens; hy rol sy kop en een van sy bene skop liggies. Sean voel die hoop in hom opvlam.

      “Hy lewe!”

      “Gaan roep die dokter.”

      Vreesagtig gaan Sean nader en kniel langs die man. Hy haal sy eie serp van sy nek af en gebruik dit om die bloed van die man se mond en neus af te vee.

      “Hy sal regkom, los hom maar vir die dokter.”

      Die dokter kom, ’n skraal, lakoniese man wat tabak pruim. In ’n stormlantern se geel lig ondersoek en druk-druk hy aan die beseerde terwyl hulle om hom saamdrom en hulle nekke rek om oor sy skouers te kyk. Uiteindelik staan die dokter op.

      “Als reg. Julle kan hom beweeg. Dra hom na my spreekkamer toe.” Dan kyk hy na Sean. “Is dit jou handewerk?”

      Sean knik.

      “Herinner my dat ek jou nie kwaad maak nie.”

      “Ek wou nie, dit het net sommer gebeur.”

      “Is dit so?” Die dokter spoeg ’n stroom geel tabaksous in die stof in. “Kom ons kyk na jou kop.” Hy trek Sean se kop af na sy hoogte toe en stoot die swart hare uit die pad uit.

      “’n Aar bygekom. Daar’s nie steke nodig nie. Was dit met ’n bietjie jodium.”

      “Hoeveel, Dok, vir die ander ou?” vra Sean.

      “Betaal jy?” Die dokter kyk hom vraend aan.

      “Ja.”

      “Gebreekte kakebeen, gebreekte sleutelbeen, omtrent twee dosyn steke en ’n paar dae in die bed met harsingskudding,” prewel hy terwyl hy somme in sy kop maak. “Sê maar so twee ghienies.”

      Sean gee hom vyf. “Kyk mooi na hom, Dok.”

      “Dis my werk.” En hy loop agter die manne aan wat vir Perdereuk van die werf af dra.

      “Ek reken jy’t ’n dop nodig, meneer. Dis op my,” bied iemand aan. Die hele wêreld hou van ’n wenner.

      “Ja,” stem Sean saam. “Ek kan doen moet ’n dop.”

      Sean drink nog net daardie een. Wanneer Mbejane hom teen middernag kom haal, is dit ’n gesukkel om vir Sean op die perd te kry. Halfpad kamp toe gly Sean af en val in die pad, bly net daar lê. Dan pak Mbejane hom weer en laat hom oor die perd se rug hang, kop en arms wat eenkant afhang en bene anderkant.

      “Môre gaan jy dit tien teen een berou,” sê Mbejane vermanend toe hy vir Sean langs die vuur aflaai en hom net so bebloed en met stewels en al in sy kombers toerol.

      Hy is reg.

      10

      Teen sonop vee Sean sy gesig af met ’n lap wat hy in ’n beker warm water gedoop het, bekyk sy weerkaatsing in die klein metaalspieël, en die enigste ding wat hom ’n bietjie beter laat voel, is die tweehonderd-en-iets pond wat hy van gisteraand af oor het.

      “Is Pa siek?” Dirk se onsimpatieke belangstelling in sy toestand maak Sean net nog meer beduiweld.

      “Eet jou ontbyt,” sê Sean doelbewus kwaai om verdere vrae te ontmoedig.

      “Daar is nie kos nie.” Mbejane is terug in sy gewone rol as beskermer

      “Vir wat nie?” Sean rig sy bloedbelope oë op Mbejane.

      “Een van ons dink mos dis belangriker om sterk drank en ander dinge te koop, eerder as kos vir sy seun.”

      Uit sy baadjiesak haal Sean ’n hand vol geld. “Gaan,” beveel hy. “Koop kos en vars perde. Gaan gou sodat ek nie so siek soos wat ek hier sit nog na jou beskuldigings ook hoef te luister nie. Vat vir Dirk saam.”

      Mbejane kyk na die geld en lag. “Die aand was toe darem nie ’n totale vermorsing nie.”

      Nadat hulle weg is Frere toe – met Dirk wat langs die groot, halfkaal Zoeloe draf en sy stem wat dra totdat hy meer as ’n honderd jaarts ver is – skink Sean vir hom nog ’n beker koffie en hou sy hande bak daarom terwyl hy na die gloeiende kole staar. Hy kan op Mbejane reken om die geld goed te benut; hy is ’n geduldige onderhandelaar wat, indien nodig, twee dae daaraan kan wy om ’n enkele os te koop. Hierdie dinge pla Sean nie nou nie. Pleks daarvan speel hy die vorige aand se gebeure in sy kop terug. Hy berou sy moorddadige woedeuitbarsting, maar probeer dit regverdig in die lig van als wat hy verloor het – die vrug van baie jare se harde werk wat in ’n enkele dag van hom af gestroop is; die swaarkry en onsekerheid wat gevolg het – en uiteindelik die krisispunt toe die drank en dobbelspanning sy selfbeheersing geknak het.

      Maar dit is nie al nie, hy weet hy vermy die grootste kwessie – Ruth. Toe hy weer aan haar dink, word hy oorweldig deur verlange, wanhoop waarvan hy die gelyke nog nooit deurgemaak het nie. Hy kreun, en wend sy oë tot die môrester wat op die pienk horison verdof namate die son opkom.

      Nog ’n paar minute lank versink hy in die teerheid van sy liefde; hy onthou haar manier van stap, die donker erns van haar oë, haar mond wanneer sy glimlag en haar stem as sy sing – totdat die herinneringe dreig om hom in hul knusse sagtheid te versmoor.

      Dan spring hy orent en loop rusteloos heen en weer deur die gras langs die vuur. Hy moet wegkom van hierdie plek af, en sommer gou ook. Hy moet iets kry om te doen, iets wat hom sal keer om verder so te dink, iets waarmee hy sy hande besig kan hou, die hande wat nou brand van die begeerte om haar weer vas te hou.

      Met die pad langs, noordwaarts na Colenso toe, marsjeer ’n lang kolonne infanterie verby hom in die oggendlig. Hy steek vas en hou hulle dop. Elke man leun vorentoe onder die swaar rugsak en die geweerlope staan langs hul skouers uit.

      Ja, dink hy, ek sal saam met hulle gaan. Miskien kan ek dít wat my laas nag ontwyk het, vind op die plek waarheen hulle op pad is. Ons sal teruggaan Ladyburg toe, ons sal die nuwe perde hard ry. Ek sal vir Dirk by my ma los, en dan kom ek terug na hierdie oorlog toe.

      Hy begin weer ongeduldig heen en weer loop. Waar de joos bly Mbejane?

      Van die hoogtes af kyk Sean na Ladyburg. Die dorpie lê in ’n netjiese kring om die kerktoring. Hy onthou die toring as ’n glimmende baken in sy nuwe koperbeslag, maar ná negentien jaar in die wind en weer het dit dofbruin geraak.

      Negentien jaar. Dit voel nie so lank nie. Daar is nou ’n rangeerwerf by die stasie, ’n nuwe betonbrug oor Bobbejaanspruit, die bloekoms in die plantasie anderkant die skool is hoër, en die vlambome langs die hoofstraat is weg.

      Effe teësinnig draai Sean sy kop en kyk regs, oor Bobbejaanspruit, naby die platorand, na waar hy Theuniskraal se groot Kaaps-Hollandse gewelhuis met die rietdak en geelhoutluike agtergelaat het. Dis nog daar, maar nie soos hy dit onthou nie. Selfs op hierdie afstand kan