Wilbur Smith

Donderslag


Скачать книгу

terwyl Ada en Mary vir hulle kos aandra. Ada Courtney glo die eerste ding om met ’n man te doen, is om hom kos te gee.

      Mary is omtrent net so opgewonde soos Ada. Sy het die paar minute wat sy alleen was goed benut. Haar hare is nuutgeborsel en sy dra ’n bont nuwe tabberd, maar die poeier waarmee sy haar beplak het om haar slegte vel te verdoesel, vestig net nog meer aandag daarop. Uit simpatie weerhou Sean hom daarvan om na haar te kyk, en Mary kom dit agter. So in die stilligheid spits sy haar daarop toe om Dirk se aandag te trek. Sy maak op ’n stil manier ’n ophef van hom, en Dirk aanvaar dat dit maar is hoe dinge veronderstel is om te wees.

      Terwyl hulle eet, gee Sean vir Ada ’n vinnige oorsig van sy doen en late in al die jare wat hy weg was, raak net in die verbygaan aan Dirk se ma se dood en ander goed waarop hy nie trots is nie. Hy kom by die einde.

      “En hier is ons nou.”

      Hy haal vir Robert Louis Stevenson aan: “Home is the sailor, home from the sea, and the hunter home from the hill … Dirk, moenie jou mond so vol stop nie en kou toemond.”

      “Hoe lank gaan jy bly? … Mary, gaan kyk tog of daar nog konfyttertjies in die blik is, Dirk is nog honger,” sê Ada.

      “Julle sal dat hy hom siek eet … Ek weet nie, nie te lank nie, dis oorlog.”

      “Gaan jy aansluit?”

      “Ja.”

      “O, Sean. Moet jy?” Maar sy weet hy moet. Terwyl hy ’n rookding uit sy houertjie haal, bekyk Sean haar vir die eerste keer deeglik. Daar is nou grys in haar hare, soos hy verwag het, amper soveel grys as swart, lang strepe langs haar slape. En haar vel se tekstuur het verander: die jeugdige soepelheid is weg, dit kreukel by haar oë en span styf oor haar hande, en hy kan die knopperige kneukels en blou are daaronder duidelik sien. Sy is plomper ook, haar boesem vol en rond, met die twee buuste wat nie meer van mekaar te onderskei is nie.

      Tog is die ander eienskappe wat hy al so lank in sy herinneringe koester nog daar, selfs sterker as tevore – die ingetoë kalmte wat in haar lyf en hande wys, maar wat deur die humor om haar mond weerspreek word; die oë met hul diepe begrip en simpatie vir dit wat hulle sien. Maar bowenal die aura van suiwer goedhartigheid wat haar omhul. As hy so na haar kyk, kom hy opnuut onder die indruk dat geen negatiewe gedagte lank agter daardie oë kan oorleef nie.

      Sean steek die seroet op en praat terwyl die rook sy gesig verdoesel.

      “Ja, Ma, ek moet gaan.”

      Ada, wie se man ook weg is oorlog toe en nooit weer teruggekom het nie, kan nie keer dat die hartseer in haar oë wys nie. “Ja, jy moet seker. Garry is al weg en Michael hou aan dat hy ook wil gaan.”

      “Michael?” vra Sean skerp.

      “Garry se seun. Hy’s gebore kort nadat … kort nadat jy uit Ladyburg weg is. Hy word hierdie jaar agttien.”

      “Hoe ’n soort kind is hy?” Sean se stem klink te gretig. Michael … Dit is dus my seun se naam, dink hy. My eersgeborene. Goeie genade, my eersgeborene en ek het nie eens sy naam geweet totdat hy al byna ’n grootmens geword het nie.

      Ada kyk na hom met haar eie vraag ongevra. “Mary, vat vir Dirk badkamer toe, asseblief. Probeer om daardie kos rondom sy mond af te was.”

      Sodra hulle weg is, antwoord sy Sean se vraag. “Hy is ’n lang seun, lank en lenig. Donker soos sy ma. ’n Ernstige kind, hy lag nie veel nie. Staan altyd eerste in sy klas. Ek hou baie van hom. Hy kuier gereeld hier by my.” Sy is vir ’n oomblik stil, dan: “Sean …”

      Sean onderbreek haar haastig. “En hoe gaan dit met Garry?” Hy weet wat sy wou vra.

      “Garry het nie veel verander nie. Die ongeluk ry hom die laaste tyd … Arme Garry, dinge is maar sleg op die plaas. Die runderpes het die beeste uitgeroei, hy moes geld by die bank leen.” Sy huiwer ’n oomblik. “En hy drink deesdae baie. Ek kan nie vir seker sê nie – hy gaan nooit hotel toe nie en ek het hom nog nooit sien drink nie. Maar dis wat dit moet wees.”

      “Ek sal uitvind waar hy is wanneer ek Colenso toe gaan.”

      “Jy sal hom maklik kry. Garry is ’n luitenant-kolonel in die generale staf. Hy is verlede week van majoor af bevorder, en hy het die Distinguished Service Order gekry, by sy Victoria Cross. Hy is in beheer van die samewerking tussen die koloniale en imperiale eenhede.”

      “Goeie hemel!” Sean is verbyster. “Garry ’n kolonel!”

      “Generaal Buller dink die wêreld van hom. Die generaal het natuurlik self ’n Victoria Cross.”

      “Maar,” protesteer Sean, “Ma weet hoe Garry daardie medalje gekry het. Dit was ’n fout. As Garry op die generale staf is … die Vader behoed die Britse leër.”

      “Sean, jy moenie so van jou broer praat nie.”

      “Kolonel Garrick Courtney.” Sean lag hardop.

      “Ek weet nie wat hierdie ding tussen jou en Garry is nie. Maar dis iets aakligs, en ek wil niks daarvan in hierdie huis hê nie.” Ada se stemtoon is kwaai en Sean sluk sy lag.

      “Ek is jammer.”

      “Voordat ons die onderwerp los, wil ek jou net waarsku. Wees baie versigtig hoe jy vir Garry hanteer. Wat ook al tussen julle gebeur het – en ek wil nie weet wat dit is nie – Garry haat jou nog. Hy het selfs ’n keer of wat oor jou begin praat, en ek moes hom stilmaak. Maar ek hoor dieselfde stories van Michael af, die seun kry dit by sy pa. Dis omtrent ’n obsessie by hom. Loop lig vir Garry.”

      Ada staan op. “En nou, wat Dirk betref … Wat ’n lieflike kind is hy nie! Maar, Sean, ek is bevrees jy’t hom bietjie bederf.”

      “Hy’s ’n wildewragtig,” gee Sean toe.

      “Watse skool het hy gehad?”

      “Wel, hy kan so ’n bietjie lees …”

      “Los hom hier by my. Ek sal hom inskryf as die skooljaar begin.”

      “Ek wou gevra het. Ek sal geld los.”

      “Tien jaar gelede is daar ’n groot en geheimsinnige deposito in my bankrekening inbetaal. Dit was nie myne nie, toe belê ek dit teen goeie rente.” Sy glimlag vir hom en Sean lyk skuldig. “Ons kan dit gebruik.”

      “Nee,” sê hy.

      “Ja,” kap sy teë. “En sê nou vir my wanneer jy weggaan.”

      “Binnekort.”

      “Hoe gou?”

      “Môre.”

      11

      Sedert hulle die World’s View-pad uit Pietermaritzburg geklim het, ry Sean en Mbejane in sonskyn – ou kamerade, gemaklik saam. Met verloop van jare, deur swaarkry en gedeelde humor, het hulle gevoel vir mekaar in ’n hegte vriendskap ontwikkel. Hulle grappe is ou grappe, en die reaksies teen dié tyd amper outomaties, maar die opwinding wat hulle nou voel, is nuut, soos wat elke dag se son nuut is. Want hulle ry oorlog toe, op pad na nog ’n kragmeting met die dood, en dit laat als anders onbelangrik voel. Sean voel vry, verlos van die gedagtes en menseverhoudings wat hom die afgelope tyd teister. Slaggereed gaan hy sy toekoms tegemoet met ’n opgeruimde gevoel in sy hart.

      Terselfdertyd kan hy van sy eie ek af ontsnap, dis asof hy homself op ’n afstand sien en goedig grinnik vir sy eie kinderlikheid. Liewe hemel, hulle is soos twee seuns wat stokkiesdraai! Toe hy die gedagte verder voer, is hy meteens dankbaar – dankbaar dat dit so is, dankbaar dat hy nog steeds in staat is om alles anders te vergeet en soos ’n kind uit te sien na dit wat kom. Vir ’n ruk steek sy nuwe gewoonte van selfondersoek weer kop uit: Ek is nie meer jonk nie en ek het baie geleer, ervaring steen vir steen langs die pad opgetel en in ’n muur in gemessel. Die vesting van my manlikheid is nog nie klaar nie, maar wat ek tot dusver gebou het, is sterk … En tog is die doel van ’n vesting om kosbare dinge veilig te bewaar. As ’n mens dan tydens die bou van die vesting als verloor wat jy wil beskerm, is die voltooide