Wilbur Smith

Donderslag


Скачать книгу

En die rook het geen vorm nie. In sy ore is ’n geweldige gesuis wat alle oorlogsgeraas uitdoof. Hy is alleen en rustig, sy sinne swaar en dof weens die hangende rook en die onophoudelike herhaling van laai en skiet, laai en skiet.

      Skielik word die stemming gebreek. ’n Geruis soos dié van groot vlerke trek oor hulle, dan kom ’n knal asof Satan die hel se hekke oopstamp. Verbyster kyk hy op en sien ’n bal glinsterende wit rook in die lug bo die kanonne verskyn. Dit warrel en sprei wyer, bloei soos ’n blom in die lug.

      “Wat de …”

      “Skrapnel,” kreun Saul. “Nou’s dit klaarpraat.”

      Dan ’n knal en nog een soos die Boere se Nordenfelts hul watteblomme van rook oor die vlakte plant. Dit skeur oor die kanonne en deur die manne wat in ’n zoemende storm staalskerwe probeer werk.

      Dan is daar stemme. Dit vat ’n ruk vir Sean, deurmekaar en beneweld van die geweervuur, om agter te kom wat dit is. Hy het van die voetsoldate vergeet.

      “Bly bymekaar.”

      “Nader aan mekaar daar aan die regterkant, bly in julle rye!”

      “Moenie hardloop nie. Hou net die pas, manne. Moenie hardloop nie.”

      Ry op ry van soldate, lyne wat uitswel en daal en dan onder hulle offisiere se bevele reguit trek. Eweredig gespasieer, elkeen met sy geweer voor die bors, ploeter hulle voort en marsjeer by die kanonne verby. Agter hulle laat hulle bondels kakie op die vlak lê. Party lê stil, maar ander kreun en skreeu. Namate gate in die lyne oopval, word hulle gevul met oproepe van: “Vul op, vul op, bymekaar daar, manne.”

      “Hulle is op pad na die spoorbrug toe.” Sean sien dat dinge op ’n ramp afstuur. “Weet hulle dan nie die brug is verwoes nie?”

      “Ons moet hulle keer.” Saul spring orent langs Sean.

      “Hoekom volg die idiote nie ons merkers nie?” Ontstoke skreeu Sean die vraag sonder antwoord. Hy doen dit om tyd te wen, om die oomblik uit te stel wanneer hy sy grasskuiling se yl dekking moet verlaat en in die oopte in gaan waar die skrapnel en Mauserkoeëls die lug deurklief. Sean se vrees kom met mening terug. Hy wil nie opstaan nie.

      “Komaan, Sean. Ons moet hulle keer.” En Saul begin hardloop. Hy lyk soos ’n klein, maer apie, al hollend na die aankomende golf soldate toe. Sean trek sy asem in en hou dit ’n oomblik in voordat hy sy makker agternasit.

      Twintig jaarts voor die eerste ry soldate kom ’n offisier flink op lang bene aangestap. Sy swaard is uit die skede getrek en hy hou dit in sy een hand. “Haai, jy!” roep Sean, en waai sy hoed om aandag te trek. Hy kry dit reg. Die offisier kyk hom aan met helderblou oë soos ’n paar bajonette en sy moestas se gewakste punte wikkel. Hy stryk aan na Sean en Saul toe.

      “Julle mik vir die verkeerde brug,” skree Sean vir hom, sy stem hoog van frustrasie. “Hulle het die spoorbrug opgeblaas, julle sal nooit daar kan oor nie.”

      Die offisier bereik hom en breek sy pas.

      “En wie de hel is jy, as dit nie ’n onbeskofte vraag is nie?”

      “Ons is die verkenners …” begin Sean, maar ’n Mauserkoeël slaan in die grond tussen sy voete vas en hy spring eenkant toe. “En sit daai verdomde swaard weg – jy sal maak dat elke Boer aan die Tugela probeer om jou eerste om te klits.”

      Die offisier, ’n kolonel volgens die krone op sy skouers, frons vir Sean.

      “Die korrekte aanspreekvorm, sersant …”

      “Te hel daarmee!” bulder Sean vir hom. “Draai julle opmars na die padbrug toe.” Hy beduie verwoed na die brug se staalstruktuur wat links bo die doringbome uitsteek. “As julle hierdie kant toe aanfoeter, sal hulle julle uitmekaar skiet.”

      Die kolonel staar nog ’n oomblik langer met sy bajonet-oë na Sean, dan steek hy ’n silwer fluitjie tussen sy lippe en blaas skril daarop.

      “Val plat,” roep hy. “Val plat!”

      En dadelik duik die voorste linie in die gras neer. Agter hulle verloor die ander rye vorm soos die manne huiwer.

      “Maak dat julle in die dorp kom,” skree ’n stem. “Soek skuiling in die geboue.” En hulle lê rieme neer, elmboë kap mekaar soos hulle na die veiligheid van Colenso se huise toe hol. Hulle storm in die enkele straat in, duik by deure en vensters in. Binne dertig sekondes het elkeen skuilplek gevind.

      “Nou, wat is jou storie?” dring die kolonel by Sean aan. Ongeduldig herhaal Sean wat hy gesê het, staan oop en bloot, ongemaklik bewus daarvan dat daar nie ander teikens is om die Boere se aandag van hom af te trek nie.

      “Is jy seker?”

      “Magtig! Natuurlik is ek seker. Die brug is verwoes en hulle het rolle doringdraad in die rivier gegooi. Julle sal nooit daar kan deurgaan nie.”

      “Kom saam.” Die kolonel kies koers na die naaste huisie toe en Sean loop langs hom. Ná die tyd weet hy nie hoe hy dit reggekry het om daardie honderd jaarts af te lê sonder om te begin hardloop nie.

      “Om hemelsnaam, sit tog daardie swaard weg,” brom hy vir die kolonel terwyl hulle stap met koeëls wat heeltyd om hulle klap, woer en fluit.

      “Gespanne, sersant?” En vir die eerste keer glimlag die kolonel.

      “Allamagtig, ja.”

      “Ek ook. Maar ons kan nie dat die manne dit sien nie, of hoe?” Hy vat die skede op sy heup vas en laat die swaard daarin terugglip. “Wat is jou naam, sersant?”

      “Sean Courtney, Natal Corps of Guides. En joune?” Sean koes instinktief toe ’n koeël verby sy kop blits, en die kolonel glimlag weer oor hoe Sean hom aanspreek.

      “Acheson. John Acheson. Tweede bataljon, Scots Fusilliers.”

      En hulle bereik die huisie. Sean kan nie langer uithou nie, en koes dankbaar by die kombuisdeur in. Saul is al klaar binne. Hy gee vir Sean ’n seroet om te rook en hou vir hom ’n vuurhoutjie reg.

      “Hierdie bedonnerde Souties!” merk hy op. “En jy’s net so erg – loop soos ’n meneer in die middel van ’n skietgeveg rond.”

      “Reg, Courtney.” Acheson volg hom in die kombuis in. “Laat ons die situasie oorweeg.”

      Die kolonel luister stil terwyl Sean die besonderhede verduidelik. Hy moet hard praat om hoorbaar te wees bo die geknal van Boerekanonne en die gedruis van ’n duisend Leemetford-gewere wat van Colenso se vensters en deure af terugskiet. Langs hulle word die kombuis as veldhospitaal gebruik en die gewondes se gekerm en gekreun maak die gevegsgeraas selfs nog erger.

      Wanneer Sean sy storie klaar vertel het, draai Acheson weg en loop venster toe. Hy kyk uit oor die spoorlyn na waar die kanonne staan. Hulle is opgestel in ’n presiese paradegrondformasie. Maar nou is hulle stil. Die oorlewende kanonniers kruip in klein groepies na ’n diep donga toe vir skuiling, sleep en dra gewondes met hulle saam.

      “Die arme drommels,” prewel Sean, toe hy sien hoe een van die terugvallende kanonniers in die kop geskiet word, hoe sy helm in ’n pienk wolk bloed in die lug tol.

      Die toneel gryp Acheson blykbaar ook aan.

      “Nou goed,” sê hy. “Ons sal na die padbrug toe opmars. Komaan, Courtney.”

      Hulle voeg die daad by die woord. Toe hulle ’n ent weg op pad is, skree iemand agter hulle, en Sean hoor hom val. Maar hy kyk nie om nie. Hy kyk na die brug voor hulle. Hoewel sy bene meganies onder hom beweeg, lyk dit of die brug niks nader kom nie. Hier langs die rivier is die doringbome digter en bied ’n bietjie skuiling teen die genadelose skerpskutters op die oorkantste wal. Tog val daar kort-kort iemand, en die skrapnel bars siedend bo hulle koppe.

      “Kom ons gaan oor. Neem die beste plekke aan die ander kant in,” skree Saul langs hom.

      “Nou komaan dan,” stem Sean saam, en hulle hardloop saam. Hulle is eerste op die brug, met Acheson op hul hakke. Koeëls maak blink skrape op die grysgeverfde