Wilbur Smith

Donderslag


Скачать книгу

albei uitasem. Sean kyk terug. Oor die brug kom ’n massa kakie aangepeul, alle tekens van orde is daarmee heen toe hulle in die bottelnek in stroom en die Boere se vuur onder hulle begin maai.

      Sodra hulle oorkant is, sprei die voorstes langs die rivier uit, koes agter die wal se rand, terwyl die slagting agter hulle op die brug voortduur. ’n Sukkelende massa van vloekende, hardlopende, woedende, bang en sterwende mans.

      “Dis ’n duiwelse slagpale.” Sean is diep geskok deur wat hy sien. Dooie en gewonde mense val oor die lae reling, plons in die Tugela se bruin water waar hulle sink of lomp wal toe probeer swem. Maar ’n aaneenlopende stroom soldate kom oor die brug en soek dan skuiling in die twee diep slote en agter die rivierwal se rand.

      Dis vir Sean duidelik dat die aanval sy momentum verloor. Wanneer die manne in die slote in spring, sien hy in hulle gesigte en aan die manier waarop hulle hulself skaars maak dat hulle alle moed vir die aanval verloor het. Die dissipline wat hulle tydens die opmars in netjiese rye gehou het, is ná die tog oor die brug daarmee heen. Offisiere en manskappe loop deurmekaar in ’n moeë en verskrikte mengelmoes. Daar is geen kontak tussen die verskillende groepe in die slote en dié langs die rivierwal nie – en daar is klaar min skuiling vir die soldate wat steeds oor die brug aangestroom kom. Die vuur uit die Boerestellings neem nie af nie, en teen dié tyd blokkeer die gesneuweldes se lyke die brug, sodat elke klomp nuwe aankomelinge oor hulle moet klouter, moet trap op dooies en gewondes, terwyl die storm van koeëls hulle soos windgedrewe reën tref.

      Stroompies vars bloed loop teen die brug se pilare af, skelrooi teen die grys verf, en die rivier word gevlek deur ’n wolk bloed wat stadig stroomaf sprei. Hier en daar klink ’n desperate stem op wat die manne probeer aanmoedig, te midde van ’n gegil en gekerm.

      “Hiernatoe, die 21ste. By my, vorm om my.”

      “Onafhanklike vuur. Op die hoogtes. Tien skote snelvuur.”

      “Draagbaar! Draagbaar!”

      “Bill. Waar’s jy, Bill?”

      “Jissis tog! Liewe Here tog!”

      “Kom regop, julle! Staan op!”

      “Komaan die 21ste. Bajonette gereed.”

      Party van hulle is kop en skouers uit die sloot uit, beantwoord die Boere se vuur. ’n Paar drink al klaar uit hulle waterbottels. ’n Sersant sukkel met ’n storing en vloek sag vir sy geweer sonder om op te kyk, terwyl die man langs hom wydsbeen met sy rug teen die wal sit en kyk hoe die bloed uit sy maagwond pols.

      Sean staan op en voel die wind van ’n koeël verby sy wang piets terwyl die slymerige reptiel van vrees stywer kronkel in sy maag. Dan klouter hy teen die sloot se wal uit.

      “Komaan!” bulder hy en begin na die koppies se kant toe hardloop. Dis oop hier, soos weiveld, en voor hom hang ’n ou doringdraadheining aan verrotte pale. Hy bereik dit, lig sy voet en skop met sy hak. Die heiningpaal breek stomp teen die grond af en die draad val om. Hy spring daaroor.

      “Hulle kom nie,” roep Saul langs hom, en Sean steek vas. Die twee van hulle is alleen in die oop veld – en trek vuur.

      “Hardloop, Saul!” skree Sean en pluk sy hoed af. “Komaan, julle bliksems.” Hy waai sy hoed vir die manne agter hom.

      Die koeël tref hom so hittete dat hy die wind daarvan voel, en wegsteier.

      “Diekant toe! Volg ons! Komaan!” Saul het hom nie verlaat nie. Hy dans en swaai sy arms, skoon besete.

      “Kom terug.” Acheson se stem dryf na hulle kant toe. Hy staan in die sloot, sy hele bolyf steek uit. “Kom terug, Courtney!”

      Die aanval is verby. Sean weet dit in daardie oomblik, en besef Acheson se besluit is wys. ’n Verdere stormloop oor die oop weiland onder die hoogtes is selfmoord. Die selfgeloof wat hom tot hier gebring het, stort ineen en sy vrees hap na die halter waarmee hy dit in toom hou. Hy hardloop blindelings terug, snikkend, vorentoe geleun, met elmboë wat woes pomp en sy voete wat deur vrees aangevuur word.

      Dan word Saul langs hom geskiet. Die skoot tref hom teen die kop, gooi hom vorentoe. Sy geweer tol uit sy hande uit en hy kerm hees van pyn en verbasing toe hy skuiwend op sy maag te lande kom. En Sean hardloop aan.

      “Sean!” Saul se stem agter hom.

      “Sean!” ’n Uitroep van verskriklike nood, en Sean verhard sy hart en hardloop verder na die sloot toe, na veiligheid.

      “Sean, asseblief!”

      En Sean steek vas en staan onseker met die Mausers wat knal en die skote wat die gras rondom hom peper.

      Los hom, skree Sean se vrees. Los hom. Hardloop! Hardloop!

      Saul kruip na hom toe, bloed op sy gesig en sy oë vasgenael op Sean se gesig. “Sean!”

      Los hom. Los hom.

      Maar daar is hoop in daardie bejammerenswaardige, bloedbesmeerde gesig. Saul se vingers kramp in die graswortels soos hy sy lyf vorentoe sleep.

      Dit maak geen sin nie, maar Sean gaan terug om hom te haal.

      Ondanks die aanslae van vrees, vind Sean die krag om vir Saul op te tel en met hom te hardloop.

      Hy haat sy makker soos nog nooit tevore nie, strompel voort na die sloot toe met Saul op sy rug. Sy gedagtes gaan so wild op loop dat dit voel of tyd stadiger verbygaan, asof hy vir ewig hardloop.

      “Vervloekte bliksem!” vorm sy mond die woorde. Hy haat vir Saul. “Jy kan in jou moer in vlieg!” Die woorde kom maklik uit sy mond uit, ’n redelose uitdrukking van sy angs.

      Dan gee die grond onder sy voete mee en hy val. Saam beland hulle in die sloot en Sean rol van hom af weg. Hy lê op sy maag, druk sy gesig teen die grond en skud soos iemand wat hoë koors het.

      Stadig kom hy van daardie ver plek af terug waarheen die vrees hom gedryf het, en hy lig sy kop.

      Saul sit teen die sloot se wal. Sy gesig is besmeer met bloed en modder.

      “Hoe’s dinge?” kreun Sean en Saul kyk dofweg na hom. Dis helder en baie warm in die son. Sean skroef sy waterbottel oop en hou dit teen Saul se lippe. Saul sluk pynlik en die water loop oor sy ken en mors op sy baadjie.

      Dan drink Sean en hyg daarna van plesier.

      “Kom ons kyk na jou kop.”

      Hy haal Saul se hoed af, en die bloed wat onder die sweetband opgedam het, stort soos ’n brander teen sy nek af. Sean sprei die nat swart hare oop en kry die groef in Saul se kopvel.

      “Skrams skoot,” brom hy en voel na die veldverband in Saul se baadjiesak. Terwyl hy ’n onnette tulband om Saul se kop bind, kom hy agter dat ’n vreemde stilte op die gevegsveld neergedaal het, stilte wat net nog meer opvallend is wanneer hy die mans rondom hom se stemme hoor, en af en toe ’n skoot wat vanaf die hoogtes klap.

      Die geveg is verby. Ons het darem ten minste oor die rivier gekom, dink hy bitter. Die enigste probleem is nou om weer terug te gaan.

      “Hoe voel dit?” Hy gebruik sy nat sakdoek om die bloed en stof van Saul se gesig af te vee.

      “Dankie, Sean.” Dan besef Sean dat Saul se oë vol trane is en dit maak hom verleë. Hy kyk anderpad.

      “Dankie dat … dat jy teruggekom het om my te haal.”

      “Dis niks.”

      “Dis nie niks nie. Ek sal dit nooit vergeet nie, so lank ek leef.”

      “Jy sou dieselfde gedoen het.”

      “Nee, ek glo nie. Ek sou nie kon nie. Ek was so bang, so vrek bang, Sean. Jy sal nooit weet nie. Jy sal nooit weet hoe dit voel om so bang te wees nie.”

      “Vergeet daarvan. Los dit uit.”

      “Ek moet jou sê. Ek is dit aan jou verskuldig. Van nou af skuld ek jou … As jy nie teruggekom het nie, het ek nou nog daar gelê. Ek skuld jou.”

      “Bly stil, magtig!”