toe help dit. Jy moes baas Gert se gesig gesien het toe kleinnôi Aletta op September afstorm en die sambok gryp.”
“Aletta is ’n slang. Sy’t alles beplan. Ek sal haar nog kry.”
“Nôi Aletta vir jou. Jy sal jou oorlamsgeit moet sluk. Baas Gert is klaar agterdogtig. Hy sê dis stront dat jy gister die hele dag hier lê en bewe het en maak of jy wil dood. Môre vat hulle jou Groene Punt toe. Jy gaan die wa en osse daar oppas. Dis wat hy vir kleinnôi Aletta sê, maar ons weet hy wil hê jy moet wegloop sodat hy die fiskaal op jou kan sit. Dan’s dit verby met jou.”
September maak hom vroegoggend wakker. Lammert wil sy eie klere aantrek, maar die slaaf waarsku: “Moenie skoorsoek met baas Gert nie.” Hy trek Aalwyn se bloedbevlekte klere aan en rol syne saam met sy komberse op. September wil hom op die perdekar help, maar Lammert klim self op, al moet hy op sy tande byt om nie te kreun nie.
Die Groene Punt is aan die westekant buite die dorp. Oor die Buitengracht, verby die begraafplaas tot by ’n vlei tussen Vlaeberg en die see draf die perde. Lammert herken Gert se wa.
September haal ’n sak van die kar af. “Hier’s jou kos.” Hy lag toe Lammert gesig trek vir die skerp reuk van die droë bokkoms. “Daar’s brood en koffie ook. Oor ’n week moet jy reg wees om Hexrivier toe te gaan.”
Lammert se hemp kleef nog plek-plek aan die etter uit sy wonde toe Gert en Moos die vaatjies bring. Gert gaan te perd saam Hexriviervallei toe. Lammert wonder of Gert moeg geraak het om te wag dat hy moet wegloop, en hom nou daar tussen die berge wil gaan vermoor.
By die plaas gaan Gert reguit matjieshuise toe en kom terug met ’n kind wat nie eens so hoog soos die voorwiel van die wa is nie. “Hy’s van nou af jou touleier.”
“Wat is jou naam?” vra Lammert vir die verskrikte seuntjie wat hom net met oopgesperde oë aanstaar, terwyl hy met sy toon in die grond boor.
“Hoe de donner moet hy nou Hollands verstaan?” snou Gert vir Lammert. “Noem hom Toontjies. Kyk hoe verskrompel is sy linkervoet se tone. Jy sal hom deeglik touwys moet maak, want dis jy wat gaan deurloop as my wa of osse iets oorkom.”
Gert se grynslag ontgaan Lammert nie en hy onthou die slavin se waarskuwing: “Hy sal jou bly treiter tot jy kwaad genoeg is om terug te praat of erger nog, te slaan. Leer by die skilpad. Trek jou kop in en skuil in jou dop tot die gevaar verby is.”
“Ja, baas Gert,” antwoord Lammert met ’n glimlag al stoot die gal in sy keel op. “Khoi-Khoikinders word mos met ry-osse groot. Hy sal sommer vanself weet.”
Verligting spoel deur Lammert toe Gert sê hy gaan met die ou olifantpad deur Du Toit se kloof terug Kaap toe. Vir Moos alleen sien hy kans.
Lammert laat vir Toontjies op die wakis langs hom sit sodat hy gewoond kan raak aan die osse en kyk hoe Moos hulle met die leitou stuur. Toe Lammert vir hom ’n droë bokkom gee om aan te peusel, smyt hy dit weg asof dit ’n skerpioen is wat hom kan steek. Lammert se skaterlag laat Moos omkyk en glimlag. By die eerste uitspanplek verdwyn Toontjies tussen die bosse.
Lammert laat hom begaan. Hy is nie Gert se kindervanger nie. Hy bekyk die berge oos van die Breederivier. As hy net daar kan oor. Aan die ander kant sal daar tog ook mense soos Toontjies se pa-hulle wees waar hy kan skuil. As sy rug net nie so verdomp seer was nie.
Moos het skaars die kampvuur aan die brand, toe is Toontjies terug met ’n fisant.
“A, lekker kos,” sê Moos ingenome.
“Lekka thos,” herhaal Toontjies met ’n tongklap.
Terug by Groene Punt vlieg die dae nou vir Lammert verby. Hulle ry die meentgrond plat sodat Toontjies kan leer van osse inspan en toulei.
Die woorde kom krom en skeef uit, maar hy leer vinnig. Die wonde op Lammert se lyf genees; dis saans wanneer Toontjies slaap dat sy gedagtes die loop neem en die bitterheid oorkook, om wraak roep. Sy dag sal kom, maar tot dan sal hy gatkruip en ja-baas en goed-nôi, want oor ’n balie laat hy hom nie weer trek nie. Nooit, ooit weer nie.
Met die volgende tog Hexrivier toe vat Toontjies die leiriem. Op die plaas begin die neukery toe twee vrouens matjies en latte op die wa kom laai en Lammert se beduie en skel hulle nie van plan laat verander nie. So vinnig soos hy afgooi, laai hulle weer op. Tot Toontjies hom aan die arm gryp: “Myne,” tik hy op sy bors. Uit sy geradbraakte Hollands moet Lammert verder aflei dat dit sy ma en suster is. Daarom aanvaar hy dit toe die vrouens die wa volg.
Nadat die matjieshuis in ’n voormiddag by die Groene Punt opgeslaan is, loop die vrouens en Toontjies Vlaeberg op en kom terug met ’n velsak vol plante en ’n haas. Die aand eet Lammert hom dik aan haasvleisbredie wat net soos sy ma s’n smaak. Tog is hy dankbaar toe Gert ’n paar dae later twee vaatjies en ’n klomp stawe lood bring wat dadelik moet Hexrivier toe. Dis tyd dat Toontjies se ma en suster huis toe gaan. Die jong meisie se kaal borste, wat met elke beweging swaai, laat hom na Klara smag.
Dit word winter met vlae motreën, afgewissel deur woeste stormwinde, wat vir Lammert uit die wakap na Toontjies se matjieshuis laat trek. In die reëntyd bring Gert en September nie vaatjies nie; Gert is natuurlik bang die kruit word nat. Lammert verwyl die tyd deur vir Toontjies te leer hoe om osrieme vet te smeer en swepe te vleg. Op mooi dae verken hulle Vlaeberg.
Gedurende die tweede winter op die Groene Punt is Lammert verbaas om Gert se perdekar in die middel van die dag te sien aankom. Sonder om af te klim beveel Gert: “Lammert, kry die wa reg. Môre vat jy vir nôi Aletta Holkrans toe.” En toe glimlag hy sowaar. “Sy wil die kleinbasie vir sy ouma gaan wys.”
“Nee,” glip uit voor Lammert hom kan bedink en hy skerm vinnig. “Ons het dan klaar ons eerste winterreën gehad, baas Gert. Dis te gevaarlik om nou met nôi Aletta en ’n babatjie die Piekenierskloof te wil deur.”
“Dis hoekom ek jou vir ’n wadrywer het. Bewys nou jy’s jou sout werd en so goed as wat Aalwyn jou voor uitgeveil het. Moos en September gaan saam om met die wa te help.”
By die fontein bo-op die Olifantsrivierberg laat Lammert eers die osse uitspan. Dis die eerste keer vandat hy in Oktober 1792 hier weg is, dat hy die Sederberg weer sien. Die Olifantsrivier lê soos ’n blink slang ver onder in die vallei. Uit vrye wil sou hy nie weer hierheen kom nie, maar nou kan hy tog die blydskap om sy familie weer te sien nie onderdruk nie.
“Moet ons hier af?” vra September en wys na die pad wat bergaf slinger.
“Ja, ek het baas Gert gewaarsku dis nekbreek soek om deur die Piekenierskloof te wil foeter in die reëntyd, maar hy wou nie hoor nie. Een os wat gly, vat die wa en die touleier met hom saam oor die afgrond.” Lammert verlekker hom daarin toe September en Moos se oë rek. Hy het nie gedink sy kans om hom op hulle te wreek gaan so gou kom nie. Gelukkig het Gert die twee slawe voor hom beveel om te luister as hy praat, want hy is baas op hierdie tog.
Aletta loer by die wakap uit. “Dan gaan ek ook te voet af.”
Lammert ignoreer haar. “Moos, jy sal moet toulei. Dis nie ’n kind se werk nie. Jy sal stewig moet staan en die osse met jou gewig stuit as hulle gly.” Hy roep na September wat om die wa verdwyn het. “Kom maak ’n riem hier by die remskoen aan die wa vas. Sodra ons die afdraand vat, bind jy die ander punt van die riem om jou lyf. As ek skree: ‘ysterklou’, moet jy blitsig rem aanslaan en terselfdertyd aan jou riem klou om die wa regop te hou.”
“Maar dan neuk ek mos saam met die wa af,” protesteer September.
“Dis die plan. Baas Gert gaan jou buitendien vrekmaak as jy die oorsaak is dat sy vrou en seuntjie iets oorkom.”
“Ek sê mos ek gaan loop,” laat Aletta ongeduldig hoor terwyl sy van die wa klim.
“Moenie laf wees nie. Jy kan nie met ’n baba in jou arms bergaf loop nie,” vererg Lammert hom so dat hy skoon vergeet om die “nôi” by te las.
“Toontjies kan vir Gertjie dra. Jy sê mos hy gaan nie toulei nie.”
“Toontjies moet die ander riem vat. Mens kan nie ’n wa net op een plek anker nie. Loop