loop weg sonder om te antwoord. By die fontein spat hy hande vol koue water oor sy gesig om die woede in hom af te koel. Aletta se verwysing na die afranseling het die wonde weer oopgeruk. Die dag toe Aletta hom smalend vertel het dat Klara saam met Aalwyn Holkrans toe is, is nog vars in sy geheue. Tog is dit nie die pyn wat hom bybly nie, maar die vernedering dat dit ten aanskoue van die slavinne en die huismense gedoen is. Vir Aletta se aandeel in sy lot sal hy haar nooit vergewe nie. Al het sy hom glo volgens die slavin gered van ’n baie erger loesing.
Die eerste paar honderd tree afdraand gaan dit maklik, want die pad is droog al is daar oral tekens van verspoeling. Ten minste twee weke terug laas hier gereën, skat Lammert. Hy praat deurentyd met die osse, terwyl hy tussen hulle en die afgrond beweeg, om hulle rustig te hou. Op ’n gelykte gee hy ongemerk vir Soetland, die linkervooros, ’n hou onder die maag met die sweepstok. Soetland ruk vorentoe en die ander osse volg hom. Moos, in stede van vassteek en die os onder beheer bring, begin drafstap om nie onder die hoewe te beland nie.
“Staan stil, Moos!” Lammert se uitroep laat Soetland net sterker vorentoe beur. Met die omkyk struikel Moos en beland tussen die voorosse.
“Ysterklou!” skree Lammert en kry vir Soetland aan die horing beet. Gelukkig het September geluister toe hy hom van die remskoen verduidelik het, want die wa knars tot stilstand.
Moos kruip tussen die osse uit en gaan sit teen ’n rots.
Lammert gryp die leitou. “My magtig, Moos, jy’s mos ’n ou touleier. Hoe kan jy ’n os toelaat om die pas aan te gee? Jy gaan ons almal doodmaak,” raas hy om sy aandeel in die amper ongeluk te verbloem. Wat het hom besiel? Hy wou net vir Moos en September die doodskrik op die lyf jaag. As die osse aan die hol geraak het, was die wa regtig die kloof af.
“Wat gaan nou aan?” wil Aletta weet toe sy met Gertjie in die arms op die wakis kom sit. “Ek het net ingesluimer toe die wa my wakker ruk.”
“Die osse het geskrik toe Soetland op ’n los klip gly,” jok Lammert. “Toontjies, kom vat die leitou.” Lammert verdwyn haastig om die wa. September staan steeds met die riem om sy lyf aan die wa vasgemaak. “Maak los die ding. Ek dog jy weet ek maak sommer net ’n grap. Dis net as ’n draai na die afgrond uitgooi dat jy die riem moet vashou.”
Aletta is gelukkig terug in die wa toe Lammert by Moos gaan hurk. “Het jy seergekry?” Moos skud sy kop, maar bly net voor hom op die grond staar. Hy is bang, besef Lammert. Pa Voorslag het hom geleer ’n bang touleier is ’n gevaarlike touleier, want die osse ruik die vrees en dit maak hulle onrustig. “Ek sal nou self die tou vat. Sien jy kans om vooruit te loop en die los klippe uit die pad te gooi sodat ’n os nie weer struikel nie?” probeer hy sy gewete sus.
Moos spring op om die pad te fynkam.
Verlig neem Lammert die leitou oor. “Toontjies, jy vat my plek langs die osse. Jy ken mos elke os se naam. As dit lyk of een wil dwarstrek, sê jy net sy naam sodat ek hom kan aanpraat.” Maar dis nie vir Lammert nodig om ’n enkele keer ’n os te kalmeer nie. Hy kan maar net lag oor hoe goed Toontjies hom namaak. Toe Gert die rou kind by die matjieshuise op sy plaas langs die Hexrivier gaan haal het, het hy gedink hulle twee sal mekaar nooit verstaan nie. En nou praat Toontjies Hollands asof hy dit by sy ma geleer het.
Laatmiddag span hulle onder in die vallei uit. Dis die eerste aand dat hulle nie by vriende of familie van die Bassons oornag nie, maar Aletta kerm nie omdat sy in die wa moet slaap nie. Toe September die vuur aanpak, roep sy vir Toontjies.
In plaas van hulle gewone rantsoen gedroogde vis bring Toontjies brood, soutvleis, koffiemoer en suikerklontjies. “Die nôi vra ’n beker koffie, die ander goed is vir ons.” Een van die suikerklontjies verdwyn dadelik in Toontjies se mond asof hy instinktief weet dat Lammert hom gaan terugstuur met die goed.
Maar die genot waarmee die kind aan die klontjie suig, versag Lammert se hart. “Die suiker is vir die koffie,” keer hy toe Toontjies nog een wil gryp. Sy mond water self vir ’n dronkie soet koffie. “Waar’s die nôi se beker?”
“Sy’t gesê jy moet dit kom haal as jy haar hangmat kom regmaak.”
“Verdomp,” vloek Lammert binnensmonds. Hy moes geweet het Aletta gaan weer met haar streke begin. “September, kom help my eers. Die nôi is seker haastig om tot ruste te kom.” Hy ignoreer Aletta se frons toe sy die flap oopmaak en September ook daar staan. Soos Lammert vermoed het, hang die mat nog net soos hy dit in die Kaap vasgemaak het. “Wat’s verkeerd, Nôi?” vra hy nors.
“Die hangmat is te ver agtertoe,” verduidelik Aletta. “Ek wil dit hier voor hê sodat ek kan uitkyk as ons môre deur die vallei ry, anders moet ek die hele tyd met Gertjie op die wakis sit.” Sy gee ’n beker vir September. “Gaan maak solank my koffie.”
Voor Lammert kan keer, is September van die wa af. Hy wil by Aletta verbyskuur om gou die hangmat te skuif, maar sy hou hom aan sy arm teë.
“Hoekom is jy so hatig teenoor my, Lammert? Jy was tog lief vir my …”
“Wat!” Lammert praat sagter toe hy besef die klomp by die vuur kan hom dalk hoor. “Waar kom jy aan sulke bog?”
“Toe ons kinders was, het jy so mooi na my gekyk. My rondgeabba, dorings uit my voete gehaal en met Aalwyn geraas as hy my geterg het.”
“Daaraan het jy nie gedink toe jy my amper dood laat slaan het nie,” spoeg Lammert sy bitterheid uit.
“Ek sweer dit was nie ek nie. Dis my aaklige skoonma. Die ou heks het ons afgeloer en toe vir Gert aangehits.” Aletta gaan kniel by die klerekis. “Ek het vir jou iets gekry om te vergoed. Jy kan nie so verflenterd op Holkrans aankom nie.”
Lammert laat die belediging van hom afrol. Sy weet goed wie se skuld dit is dat hy steeds met Aalwyn se oorgroot klere rondloop. Nie ’n bloue duit het hy van Gert van der Merwe gekry in die tyd dat hy vir hom werk nie. Sonder om in Aletta se rigting te kyk, gaan pluk hy die hangmat af en hang dit op waar sy voorheen gewys het. “Naand, Nôi,” lig hy sy hoed toe hy klaar is. Gelukkig is die hangmat nou tussen hulle en kan sy nie naby hom kom nie.
“Asseblief, Lammert. Ek het die klere spesiaal vir jou laat maak. Vir die snyer gesê dis vir my boetie op die plaas.” Aletta skud die langbroek, hemp en baadjie oop vir Lammert om te sien. “Ek sit dit by die agterste flap. Dan kan jy dit daar vat en in jou bondel sit sodat die ander nie weet dit kom van my af nie.”
Terug by die vuur vra September vir Lammert: “Hoekom skree jy ‘ysterklou’ as ek die rem moet vastrek?”
“Het jou ma nie vir jou kleintyd Jakkals-en-Wolf-stories vertel nie?” vra Lammert verbaas. Die vlietende hartseer op September se gesig laat hom besef dat September seker ook soos Klara kleintyd van sy ma geskei is. Dis seker hoekom September en Moos nie van hom hou nie, want hy loop en spog gedurig oor alles wat hy by sy pa geleer het.
“Vertel vir ons, toe, oom Lammert,” por Toontjies.
“Eendag het Jakkals en Wolf gaan jag. Hulle loop kort by boer se huis verby en daar lê ’n perd en slaap. Jakkals sê vir Wolf: ‘Oom, hier lê ’n dooie perd. Kom ons sleep hom ’n ent weg voor ons vreet, anders sal die boer ons sien. Ek sal vir Oom aan die stert vasmaak en dan vir my aan die kop en so kan ons hom maklik wegsleep.’ Nadat Jakkals vir Wolf aan die stert vasgemaak het, gee hy die perd ’n skop. Die perd skrik wakker, vlieg op, hardloop dat dit so dreun en skop vir Wolf aanhoudend raak. Jakkals lag dat jy hom wie weet waar kan hoor en skree: ‘Slaan ysterklou in die grond, oom Wolf.’ Wolf skree terug: ‘Ek kan geen hemel of aarde beken nie, hoe moet ek nog ysterklou in die grond slaan?’ Toe lag Jakkals eers lekker.”
“So ’n vervloekte jakkals,” lag Moos. “G’n wonder hulle sê iemand is so skelm soos ’n jakkals nie.”
“Maar ek verstaan nog nie wat ysterklou beteken nie,” kla Toontjies.
“Dit beteken maar net mens moet vasstaan,” verduidelik Lammert.
“Ken jy nog van dié stories?” vra September.
“Genoeg om ons