twee vrouens wat nog grootoog geskrik in die kombuisdeur staan. “Het Tante vir my slaapplek, asseblief?” vra sy vir die ouer vrou.
“By Ouma in die matjieshuis, Ma,” sê Voorslag.
“Aitsa, ek’t ’n slim kind,” glimlag Trui. “Dan sal ons sommer smôrens weet of die ou mens nog ’n asempie het.”
Toe die wa klaar afgelaai is, tel Voorslag Rut se kis op sy kop en sy volg hom sonder om vir Elsie te groet. Die hele tyd dat sy en Trui-hulle Elsie se kiste in die kamer opgestapel het, het sy met toe oë op die katel gelê. Wat môre inhou, wil Rut nie nou weet nie. Die nag tussen vreemdes gaap klaar soos ’n diep kuil voor haar.
“Die ounôi is maar altyd so galbek,” troos Voorslag toe hulle buite hoorafstand van die huis is.
Rut se gedagtes is op Tierfontein, waar saans by die kombuistafel Boekegevat en stories vertel is. “Nou’s ek erg bly Jakkals het vir Kraai uitoorlê om sy kos te kry.”
“Huh?” Voorslag draai so vinnig na Rut, sy moet koes dat die kis wat hy met een hand op sy kop hou, haar nie raak stamp nie.
“Sommer ’n storie wat my … Elsie se pa vertel het.”
Maar Voorslag bly vraend na haar kyk en sy moet verduidelik, al lê die trane nou vlak oor die verlang na haar kleintyd en vrees vir die nag wat voorlê. “Jakkals het gemaak of Kraai mooi kan sing. Toe die dom voël sy bek oopmaak om te sing, val sy kos uit en Jakkals vreet dit op. Ek was altyd jammer vir Kraai, maar die ounôi lyk nes ’n kraai.”
“Hoi daar, die ounôi het skerp ore en sy kan slaat. Tot vir baas Hans kleintyd met die osriem bygekom dat die bloed loop.”
Rut kyk verskrik in die rigting van die woonhuis, maar hulle word reeds deur die waenhuis afgeskerm. In stilte loop hulle verby die hoenderhok, die kraal en die varkhok. Sy herken die ronde vorm van matjieshuise teen ’n effense bult nader aan die kranse.
Voor een van die matjieshuise, wat in ’n kring gerangskik is, sit ’n ou vrou op ’n veldstoeltjie en pyprook. Voorslag klap sy tong ’n paar keer asof hy met haar raas, maar sy glimlag wyd met haar tandlose mond en antwoord met tongklappe voor sy vir Rut vra: “Wie’s jy?”
Voorslag spring vir Rut voor: “Die nuwe kleinnôi se klimmeid. Sy slaap hier by Ouma tot ma-goed vir haar ’n matjieshuis kan opsit.”
“Mooi so, het ek nie gesê jou vrou gaan oor die berg kom nie?”
“Ouma praat twak. Moenie vir haar luister nie,” sê Voorslag vir Rut toe hy haar kis op die grond neersit en dit by die matjieshuis instoot.
“Ek praat dit nie, ek rook dit.” Die ou vrou se smal skouertjies skud van die lag en Rut kan nie anders as om te glimlag nie. Voorslag maak hom met ’n tongklap uit die voete. Sy ouma skree agter hom aan: “Loop maak droë kooibos bymekaar.” Sy gee ’n diep teug aan haar pyp en bied dit dan vir Rut aan, wat dit nie wil vat nie. “Gedog jy’s nie Khoi-Khoi se kind nie. Wat is jy?”
Rut weet nie wat om te antwoord nie. Sy wonder of die ou vrou se kop nog reg werk. Dan onthou sy van die reisiger wat by hulle op Tierfontein oornag het en haar ’n “zwarte Hollander” genoem het. “Ek is ’n swart Hollander,” sê sy hardop, meer vir haarself as vir die ou vrou.
“’n Hollander met daai boude! Slaat my dood.” Ouma lag só dat Rut verwag sy gaan van die stoeltjie afval. Toe sy die lagtrane wat in haar plooie opdam, met haar roksoom afgevee het, sê-vra sy: “Dan kan jy seker nie matjiesgoed vleg nie?”
Rut skud haar kop.
“Net môre leer ek jou hoe. Voor jy nie genoeg matjies het vir jou eie huis nie, kan jy nie man vat nie.” Ouma knipoog vir Rut. “Dan leer ek jou hoe om daai boude te swaai wanneer jy voor die regte man in die kring instap as ons dans.”
Rut ril. Sy sien nie eens kans om een nag in ’n hut te slaap nie, laat staan nog vir ’n leeftyd in een saam met ’n Khoi-Khoiman. Dit bly in haar kop maal toe sy later die aand haar lappieskombers oopgooi oor die kruiebossies wat die kinders onder Voorslag se toesig aangedra het. Sy probeer haar gedagtes hokslaan deur name te koppel aan die gesigte wat sy vroeër die aand gesien het om die vuur waar almal saamgeëet het. Sy weet dat hulle Ouma se drie seuns met hulle vrouens en kinders en Voorslag se twee jonger broers is, maar al een wie se naam sy onthou, is Ben, die slaaf uit Bengale. Hy sal verstaan hoe sy vanaand voel: alleen tussen vreemdes. Maar sy wou nie met hom praat nie, want hy deel ’n matjieshuis met een van Voorslag se susters. ’n Seuntjie met gladde, donker hare en bruin oë het heelaand op sy hurke by hom gesit.
Al het Rut die vorige nag nie ’n oog toegemaak nie, kan sy nie op die bossiesmatras met sy vreemde geur aan die slaap raak nie. Ouma se rustige asemhaling laat haar na ma Lammie verlang. Sy probeer die snikke binnehou deur haar mond toe te druk.
Toe begin Ouma sing. Die tongklappe is nou sag, en die strelende wysie voer vir Rut mee. Iewers het sy die lied al gehoor.
Die son skyn helder toe Rut wakker word. Die oopte tussen die matjieshuise is verlate. Veraf hoor sy kinderstemme. Ouma sit toe-oë aan die sonkant van haar matjieshuis en rook. Rut hoop die ou vrou het van die matjiesgoed vergeet. “Ek moet vir Elsie gaan help uitpak,” sê sy.
“Kleinnôi Elsie,” vermaan Ouma sonder om haar oë oop te maak. “Die nôi verdra nie oorlamsgeit nie. Gaan sê eers dag by die kliphuis voor ons vlei toe gaan vir die matjiesgoed.”
Op pad na die kliphuis hoor Rut Hans en sy ma se harde stemme in die waenhuis. Sy loop haastig verder, verlig dat sy vir Elsie alleen gaan kry.
“Nog in die kooi,” sê Trui toe sy by die kombuis inloer om te sien of Elsie daar is.
Elsie se gesig is gepof en haar oë rooi asof sy die hele nag gehuil het. Sy begin weer huil toe Rut die kamer inkom. “Hou op grens,” vervies Rut haar. “Jy’s sewentien, nie meer ’n kind nie. Jou skoonma sal dink ma het jou nie ordentlik grootgemaak nie.”
“Ek is bang vir haar.”
“Dan gaan jou lewe ’n groter hel wees as myne. Tensy jy haar wys jy’t ook ’n sê hier.”
“Hoe?”
“Jy weet mos hoe om almal om jou pinkie te draai. Hoe’t jy jou man sover gekry om my saam te bring hiernatoe?”
Elsie glimlag tussen die trane deur. Sy tik op die bed. “Kom sit, dan vertel ek jou.”
“Nee, ek het net kom sê ek kan nie help uitpak nie. Ek gaan leer matjiesgoed maak sodat ek ’n man kan kry.” Rut steur haar nie aan Elsie se pleidooi om by haar te bly nie. Sy wil weg wees voor Hans of sy ma uit die waenhuis kom.
Ouma leun wagtend op haar kierie toe Rut by die matjieshuise kom. Dina, Ben se vrou, en ’n string kinders gaan saam om te help biesies sny en die bondels huis toe te dra. Die vlei waar die biesies groei, is naby die ingang van ’n kloof. Rut kyk onrustig na die skeur in die berg. Die vreemde geluide wat daarvandaan kom, ken sy nie.
“Moenie bang wees nie,” sê Ouma. “Dis net bobbejaan se kind wat so kerjakker dat die kranse weergalm. Voorslag moet vir jou die grot gaan wys, dan sal jy nie meer so skrikkerig wees vir die berg nie.”
Rut verstom haar aan die vernuf waarmee die ou vrou se krom vingers die biesiestingels in ’n digte mat vleg. Haar eie vingers is dom en al die eerste dag skrynerig. “Dit brand soos vuur,” kla sy, “ek kan nie meer nie.”
Ouma klik onsimpatiek met haar tong en vra ergerlik: “Hoe wil jy kleintjies kry as jy so pieperig is?”
Rut gaan nie weer kliphuis toe nie en Elsie laat haar ook nie roep nie. Trui vertel dat Elsie heeldag in haar kamer lê, maar dit lyk darem of Elsie snags op en wakker is, want Hans fluit vrolik wanneer hy soggens uit die kamer kom.
Eers ná veertien dae se sukkel is Ouma tevrede: “Hierdie een sal nie stof of water deurlaat nie.” Rut rol haar eerste matjie op en bêre dit in die matjieshuis.
“’n Goeie vrou hou haar man en kinders warm en droog,” sê Ouma. “Dis hoekom ons vrouens