die wa weer vertrek, weet almal dat hulle dié keer wel Kaap toe gaan, want benewens Voorslag, Ben en die touleier moet Voorslag se twee broers ook saam.
“En hierdie keer is dit my geweer wat gaan praat as ek weer iemand met ’n skaapvel sien weghol,” waarsku Hans voor hy sy perd bestyg.
Ouma sit nie voor haar matjieshuis en rook toe Rut en Trui die middag by die huis kom nie. Trui roep na haar en sy kom op haar kierie uit die huis gesukkel. “Jy moet praat, Trui, hulle wil nie hoor nie.”
“Het die kleingoed weer Ouma se pyp weggesteek?”
Ouma skud haar kop. Trane vind ’n pad deur die plooie tot in haar nek, want sy het albei hande nodig om haar op die kierie te stut. “My kinders gaan trek, en ek is te oud om op ’n os te ry.”
Trui help haar eers na die stoeltjie toe en steek die pyp vir haar aan, voor sy antwoord: “Ek weet, Ouma, myne ook. Ouboeta het my vanoggend eers gesê. Hulle wil oor die berg Bokkeveld toe. Ben sal nie waag om weg te loop nie, so ek en Dina bly net hier.”
“En ek,” beaam Rut. “Voorslag het nie ’n woord daaroor gerep nie. Ons sal vir Ouma sorg.”
Daardie nag, toe die maan opkom, gaan haal Ouma se seuns die beeste in die versteekte kloof van die buurplaas. Vroegoggend help almal om die huise af te slaan en die latte en opgerolde matte met rieme aan die osse vas te maak. Mikstokke, om potte en kalbasse water aan te hang, word agter die bondels matte ingewoel. Rut probeer Ouma se aandag aftrek van die naderende afskeid: “Dis lyk of mansmense weet hoe om huise af te breek, al kan hulle dit nie opsit nie.”
Ouma snork: “Van goeters breek hoef mens hulle nie te leer nie, veral nie hulle ma’s en oumas se harte nie.”
Stilswyend kyk die vier vrouens die trek agterna tot hulle net spikkeltjies teen die berg is. Toe tref die werklikheid hulle. Wie gaan die plaaswerk doen tot Voorslag en Ben terug is?
“Ek sal melk,” bied Rut aan. “Hoekom kyk julle so vir my? Ek en Elsie moes van kleins af plaaswerk doen as haar pa-hulle gaan jag het.” Niemand betig haar oor sy Elsie gesê het nie en Rut voel vir die eerste keer tuis tussen hulle. “My rokke sal moet korter kom, soos julle s’n, anders sleep dit in die mis.”
“Ek kan nog groente skil en kospotte dophou,” bied Ouma aan.
“En oog hou oor Bennie en Lammert,” sê Trui, “dan doen ons die ander werk so saam-saam.”
“Ek sal net vir Lammert aan Bennie moet vasmaak met ’n riem, anders gaan hy weghol om vir Aalwyn te soek,” besluit Rut.
Die dae vlieg verby, maar saans kom spook die vrees by hulle: vrees vir hulle veiligheid omdat hier geen mansmens op die werf is nie, maar ook onsekerheid oor wat Hans gaan doen wanneer hy tuiskom.
“As ek die datum van die doop reg onthou en hulle kom reguit terug Holkrans toe, gaan nôi Elsie-hulle môre of oormôre tuis wees,” sê Rut een aand.
“Ja, noudat ons Heitsi-Eibib se wysheid nodig het, het hy al sy lewens opgebruik?” sug Ouma.
“Wie’s dit?” Rut kyk vir Ouma asof sy nie meer reg wys is nie.
Ouma lag: “Vergeet ek skoon jy ken nie ons stories nie. Heitsi-Eibib was ’n goeie man met bowenaardse krag, maar hy was nie die enigste met so ’n krag nie. Gama-Gorib het bose goed met sý krag gedoen. Hy het ’n diep gat gegrawe en daarby gesit, en as iemand verbyloop, soek Gama-Gorib skoor tot hy met ’n klip gegooi word. Dan gebruik hy sy krag om die klip terug te werp na die gooier wat summier morsdood in die gat val. So het baie mense doodgegaan, tot iemand by Heitsi-Eibib gaan kla het. Heitsi-Eibib het net gelag toe Gama-Gorib hom probeer kwaad maak, want dit was nie sy aard om mense met klippe te gooi nie. Sê Heitsi-Eibib vir Gama-Gorib: ‘Kyk ’n bietjie wat’s agter jou.’ Toe hy omkyk, slaat Heitsi-Eibib hom agter die oor. Toe’s dit Gama-Gorib wat dood in die gat lê. Daarna het die mense in vrede saamgeleef. Uit dankbaarheid gooi mense vandag nog ’n klippie of takkie op Heitsi-Eibib se graf as hulle daar verbyloop.”
“Ja,” las Trui by, “toe eet Heitsi-Eibib mos van die rosyntjieboom se bessies en gaan dood. Terwyl hy nou so op sterwe lê, vra hy sy seun om mense te waarsku om nie van die boom te eet nie. Later loop die storie toe dat hy snags onder die klippe uitkruip en in die boom gaan sit en fluister om self die mense te waarsku. Hy’t ’n jong vrou gehad wat hom graag wou terug hê, en sy stuur haar seuns om hom te vang wanneer hy weer in die boom loop klim. Daarna het hulle lank saamgeleef tot ’n tier vir Heitsi-Eibib doodgebyt het. Toe’s dit weer dieselfde storie, en sy vrou laat hom vang as hy uitkruip om in ’n boom te klim. Ek weet nie hoeveel keer hy dood is nie, maar elke keer het sy vrou hom laat terugsleep na haar toe. Dis hoekom hy so baie graftes het.”
Onseker wag hulle die volgende middag die wa onder die akkerboom in. Van ver af hoor hulle vir Aletta skree. Rut laat vir Lammert begaan toe hy vir Aalwyn tegemoet hardloop. Sy sien dadelik die swelsel op Voorslag se wang toe hy die osse tot stilstand bring, maar voor sy hom daarna kan vra, roep Elsie haar om vir Aletta aan te vat. “Ek gaan nooit weer êrens met dié kind nie. Tot die volk kon haar gekerm nie meer uithou nie en Voorslag se twee broers het laas nag verdwyn. Hans is agter hulle aan.”
“Dis nie Aletta se skuld nie. Almal is weg, net ons vier het gebly,” sê Rut, maar Elsie hoor haar skynbaar nie, want sy kla eenstryk deur.
Hans is in ’n slegte bui toe hy tuiskom. Rut hoor hom in die slaapkamer uitvaar. “Die verdomde veldwagmeester wil my nie help nie. Sê Hotnots kan kom en gaan soos hulle wil. Ek moet by die Heemrade kla oor daar nie wette is nie.”
Elsie klink moeg: “Gun my tog ’n bietjie slaap.”
Dis al skemer voor Rut uiteindelik vir Aletta aan die slaap het. Hans sit nog by die eettafel en skryf. Kla seker by die Heemrade, wie hulle ook al is. Elsie slaap vas toe sy vir Aletta in die wiegie gaan neerlê en vir Lammert optel waar hy styf teen Aalwyn lê en slaap.
Voorslag sit op die kraalmuur en wag.
“Wat makeer jou gesig?”
“Baas Hans se vuis. Hy wou nie glo ek weet nie waarheen my broer-goed is nie.” ’n Siddering gaan deur sy lyf. “Ek en hy het saamgespeel, soos Lammert en Aalwyn, maar hy vloek en slaan my in die gesig of ek ’n hierjy-droster is.”
“Hoekom het jy nie saam met jou broers geloop nie?”
“Hulle’t my nie gesê nie.” ’n Ruk loop hulle in stilte. “As ek geweet het, sou ek ook nie saamgeloop het nie.”
“Hoekom nie?”
“Want jy sal nie vir nôi Elsie los nie.”
3
Holkrans, Januarie 1784
Lammert abba sy vierjarige boetie tot by die akkerboom voor die kliphuis en gooi die velkombers oop sodat Ouma sy babasussie kan neerlê. Hier pas Ouma vir Adam en Sussie bedags op, want Sussie drink nog aan sy ma. Tannie Dina werk nou ook in die kombuis, want ouma Trui is saam met die vioolspeler weg Jandisselsvlei toe.
Aalwyn kom uit die kombuis. “Ons moet hol voor Aletta klaar is.”
Hulle weet dis verniet om vir Aletta te probeer weghardloop as sy hulle eers gewaar het, want sy trek haar sproetgesig op ’n plooi en skree soos ’n maer vark. Dan roep nôi Elsie, of sy ma, wie ook al in die nabyheid is: “Aalwyn! Lammert! Abba vir Aletta.”
Toe Aletta kleiner was, het Lammert altyd gaan hurk sodat sy op sy rug kan klim en haar mollige armpies om sy nek slaan. Maar nou is sy sewe en swaarder as die weggooilammers wat sy neef Bennie aan hulle vasgebinde bene om sy nek hang sodat hy hulle lammerhok toe kan dra.
Halfpad rivier toe kom die gehate bevel van sy ma af: “Lammert, Aalwyn, wag vir Aletta.”
“Maak of jy nie hoor nie,” sê Aalwyn.
“Aalwyn! Lammert! Kom haal vir Aletta, en julle gaan nie rivier toe met haar nie. Tel die vrot vye op en gooi dit vir die varke,” roep nôi Elsie en Lammert gehoorsaam dadelik.
In