Nelia Engelbrecht

Die Poort 1: Bewakers


Скачать книгу

was net ’n katterige klomp vroumense wat hulle pa, Zeus, ’n harde tyd gegee het.

      Ek gaan staan langs my ma en haal die afdroogvadoek van die hakie af. “Ma moenie worry nie. Ma sal Ma se muse een van die dae terugkry.”

      “Mens sê bekommer, Kali, nie worry nie. Praat ordentlike Afrikaans.”

      “Já, Ma.” Ek wens sy wil bietjie bykom. Net oumense en taal-snobs praat suiwer Afrikaans.

      Vir die res van die skottelgoedwassery bly ek liewer stil. Toe ons klaar is, surprise my ma my totally toe sy my teen haar vasdruk. “Wat ook al gebeur, jy moet onthou ek en jou pa is lief vir jou en sal jou altyd ondersteun.”

      Nou kyk, my ma is nie die drukkerige soort nie en al weet ek sy is lief vir my, sê sy dit ook nie heeldag nie. “Nou freak Ma my heeltemal uit,” sê ek toe sy my los.

      Sy glimlag skeef. “Ek gaan bad. Jy moet lekker slaap.”

      Ek kyk haar agterna. Wow, dis weird. Sy’t nie eens gekla oor die Engelse woord wat al weer uitgeglip het nie. En daar was trane in haar oë voor sy omgedraai het. Ek dink nie ek het haar al ooit gesien huil nie. Behalwe toe haar pa en ma so ’n paar jaar terug in ’n motorongeluk dood is.

      Iets is nie lekker nie. En dis scary.

      2

      Leonardo Contarini moes liewer in Italië gebly het. Hy’t alles kom bederf. Ek en Zak en die twee girls het lekker gejel. Tot hy teruggekom het. Nou voel ek soos gister se oorskietkos wat iemand iewers in die verste hoekie van die yskas vergeet het.

      Boonop interfere hy met my en Zak se verhouding. Vat nou maar vandag se atletiekbyeenkoms. Net toe ek vir Zak agter die paviljoen behoorlik wil gelukwens met sy eerste plek in die honderd meter, kom hy om die hoek en bederf die oomblik.

      “A, hier’s die twee love birds.”

      Dit sê hy toe my lippe twee sentimeter van Zak se mond af is. “Jy’s lastig. Gaan weg,” grom ek.

      “Mag mens dan nie vir jou buddy geluk sê met sy oorwinning nie?” vra Leonardo terwyl hy Zak se hand skud.

      “Thanks, dude, maar jou timing suck,” sê Zak en sit sy arm om my middel.

      “Julle sal nie glo wat ek gehoor het nie,” sê Nomsa skuins agter ons.

      Oh my word, nou kan ek rêrig maar vergeet van enige alleentyd met Zak.

      “Laat ek raai,” sê Zak, “dis seker weer Nokwazi FM wat uitsaai.”

      “Ja, en sy sê haar cousin sê daar het gister nog ’n vrou verdwyn. Ek kan nou nie onthou wat haar naam is nie, maar sy’t by die bank langs die poskantoor gewerk. Of eintlik, sy het nie nou gewerk nie, sy was met maternity leave. Sy sou volgende week teruggegaan het werk toe.”

      “Wow, dis weird,” sê Zak. “Daar gebeur amper nooit iets op Bospoort nie en nou verdwyn daar binne twee weke twee mense.”

      “Dit het begin,” sê Leonardo sonder om sy mond oop te maak.

      “Wat het begin?” vra ek hom.

      Die klein beweging van sy kop en oë wys hy skrik. “Wat bedoel jy?”

      “Jy het gesê dit het begin – wat het begin?”

      “Jou kop raas. Ek het niks gesê nie.”

      Zak en Nomsa staar na my asof ek ’n alien is.

      “Wát?”

      “Ek dink dit is daai gogga wat jou gebyt het,” sê Nomsa fronsend. “Nou’t jy koors of iets.”

      “Wie’s lus vir pannekoek?” Tara het nadergekom. Sy hou ’n wit polistireenhouer uit na ons. Ek sien die pannekoek, maar ek ruik dit nie. Ek ruik gemufte brood.

      “H’m, dit lyk lekker.” Leonardo vat een uit die houer.

      “Kali makeer iets,” sê Nomsa vir Tara terwyl sy ook ’n pannekoek vat. “Ek dink dis die goggabyt wat haar siek gemaak het. Sy hoor stemme.”

      Ek strip my net daar. “Ag, bollie, man.”

      “Is, jy’t gesê Leonardo het gesê …”

      “Hei, moet nou nie ’n big deal daarvan maak nie, toe?” val Leonardo haar in die rede. “Zak, moet jy nie gaan opwarm vir jou volgende item nie? Vergooi of weghol of so iets. En vat vir Kali saam dat sy kan cheer as jy wen.”

      Zak vat my hand. “Goeie plan. Kom ons waai.”

      Toe ons ’n ent weg is, trek ek my hand uit Zak s’n en gaan staan. “Jy dink ook ek makeer iets, nè?” My oë brand. Ek beter nie nou begin huil nie.

      “Dalk is Nomsa reg – jy moet miskien vir jou pa sê jy …” Hy bly stil en kyk ongemaklik weg.

      “Wat? Dat ek stemme hoor?” Ek knip my oë, maar dit is te laat. Die eerste traan rol al klaar oor my wang.

      “Sorry, ek het nie bedoel … moenie huil nie, toe?” Hy raak met sy vinger aan die nattigheid op my wang. Die reuk van gemufte brood raak weg. Ek vat sy hand in myne.

      Ag, shit, nou huil sy en dis my skuld.

      “Dit is nie jou skuld nie, dis Nomsa wat … ” Ek bly stil toe hy sy hand uit myne trek, sy oë vol ongeloof. “Zak?”

      “Hoe het jy geweet wat ek gedink het?”

      “Ek verstaan nie …”

      Dan stoot die verstaan saam met die naarheid in my keel op. My derms begin ruk. Jis, ek wil opgooi. Ek moet wegkom.

      “Kali!”

      Ek hoor hom roep, maar kyk nie om nie. ’n Rooikopmeisie gee my ’n vuil kyk toe ek die twee draairoomyse amper uit haar hande uit hardloop. “Sorry!” Sherbet, ek gaan nie die kleedkamer haal nie. Dan sien ek die skool se trekker en sleepwa eenkant staan.

      Mens moenie ’n groot ontbyt eet as jy beplan om later in die dag agter ’n trekker naar te word nie. Dis totally gross.

      Gelukkig het ek ’n pakkie tissues in my sak. Ek is nog besig om snot en trane en opgooi af te vee, toe Zak langs my buk.

      “Is jy oukei?”

      Ek skud my kop en blaas my neus baie unladylike. “Nomsa was reg, ek hoor stemme. Ek is siek. Dalk is dit ’n breingewas.”

      “Kali, kyk vir my.”

      Ek loer vir hom tussen my geswelde ooglede deur. Jis, selfs in my deurmekaar toestand bly hy vir my gorgeous, veral as die son so op die koper in sy hare blink.

      “As mense mekaar goed ken, weet die een partykeer sommer net wat die ander een dink, en dit is wat netnou tussen ons gebeur het. Dis al.”

      Ek knik my kop. “Jy’s reg. Dis wat gebeur het.”

      Ons kyk vir mekaar en ek weet die onsekerheid wat ek in sy oë sien, is ook in myne. Want netnou het ek ook geweet wat Leonardo gedink het, en ek ken hom skaars. En dan wil ek nie eens dink aan die ander mense wat ek so met hulle toe monde gehoor praat het nie. Die hoof. My ma.

      Sherbet. Ek is siek. Sériously siek.

      Ek buk oor die wasbak in die kleedkamer en hou my nat vingers oor my oë. Hopelik sal dit die rooi wegvat. Ek háát dit as ek so aan die grens gaan. En toe skiet ek nog ’n kat ook. Voor Zak. Ek skaam my morsdood.

      “Siestog, ek het gesien jy het naar geword; daar by die trekker. Voel jy darem nou beter?”

      Ek kyk op. Dis die rooikop wat ek netnou amper uit die aarde uit gehol het.

      “Ek is nou oukei,” piep ek soos ’n half versuipte muis.

      “Hierso,” sê sy en hou ’n papierhandoek uit na my. “My naam is Chantelize – ons het saam Afrikaans by juffrou Venter.”

      “Hi, ek is Kali.” My stem klink darem al minder muiserig.