Nelia Engelbrecht

Die Poort 1: Bewakers


Скачать книгу

rooi kop skielik in my gedagtes in druk.

      “Voor verlede jaar het ek gedink ek het nie ’n kat se kans met jou tussen al daai stadsouens nie,” sê Zak en staan op. “Kom, ons moet seker teruggaan.”

      Ek wil nie eintlik teruggaan saal toe nie, maar dalk is dit veiliger. Voor ek nog van sy gedagtes oor my boobies hoor en dit weer soos warm stroop deur my lyf loop.

      “Oukei.” Ek kyk vir oulaas op na die sterre voor ons terugstap saal toe. Hulle het nog nooit vir my so mooi gelyk soos nou nie.

      “Daar’s nog niks nuus oor die twee vroue wat verdwyn het nie,” sê Nomsa terwyl sy uit die swembad klim. “Ek swéér dis ’n serial killer se werk.”

      “Oh, come on. A serial killer in Bospoort?” Tara loer oor die rand van haar sonbril na Nomsa.

      Dis die Sondagmiddag ná die atletiekbyeenkoms en ons drie relax langs ons swembad. My ma en pa het by vriende gaan kuier en Zak en Leonardo staan onder die lapa, besig om die vleis op die vuur dop te hou.

      ’n Vreeslike gehyg kom al hoe nader. Ek kyk op. Dis Kristoffel wat oor die grasperk nader galop.

      “Ou Kristoffeltjie, kom hier, jou vetgat!” roep Zak.

      Die vet hond en die hunk met die swart swembroek storm op mekaar af en rol stoeiend op die gras rond.

      “Hy lyk vir my nes een van daai outydse baddens wat op sulke kort pootjies staan,” sê Nomsa.

      “Ek neem aan jy praat van die hond, en nie van Zak nie,” sê Tara droog.

      “Of course, man. Nes ’n bad, ek sê jou.”

      Die volgende oomblik spat die water. Leonardo het in die swembad geduik en swem nou onder die water. Heen en weer. En nog ’n keer. Dan eers kom hy op vir asem.

      “Wow, nie sleg nie,” sê ek vir Tara.

      “Hy sê hy kon swem nog lank voor hy kon loop. Dis in sy gene, want sy familie bly al vir eeue in Venesië.”

      Die Italiaanse stad op die water. G’n wonder hy swem soos ’n vis nie.

      “Iets brand,” sê Nomsa.

      Die vleis! Ek spring op, hol lapa toe en gryp die rooster van die vuur af. “Julle kan baie bly wees dis net die een tjoppie hier op die kant wat gebrand het.” Ek is nog besig om die vleis met die braaitang in ’n bak te pak toe ek bewus raak van die stilte agter my. Ek draai stadig om.

      Almal staar na my, behalwe Kristoffel wat besig is om sy oor met sy vet agtervoet te krap.

      “Wát?” Ek kyk af. My swemklere maak tog alles toe wat saak maak.

      “Jy was … vinnig,” sê Zak.

      “So? Die vleis was besig om te brand omdat julle twee nie daarna gekyk het nie.”

      Roerlose stilte.

      “Jy verstaan nie, Kali,” sê Tara met groot oë. “Jy was báie vinnig.”

      “Ja, soos in Usain Bolt en The Flash-vinnig,” voeg Nomsa by.

      “Ag, komaan, julle oordryf nou,” sê Leonardo terwyl hy uit die swembad klim. “Sy het net gestress oor die vleis.” Hy draai ’n handdoek om sy heupe en kom nader. “Laat ek sien wat die skade is … Not to worry, alles lyk nog eetbaar.”

      “So ons pretend maar net niks snaaks het gebeur nie?” vra Nomsa.

      Ek gee ’n tree agteruit. “Julle laat my soos ’n freak show voel.”

      Zak kom nader en sit sy arm om my skouers. “Los nou my meisie uit, toe? Buitendien, die vleis word koud.”

      Wow, hy’t my sy meisie genoem.

      “Dit was obviously ’n adrenalien-rush,” sê Leonardo terwyl hy hompe botter op ’n broodjie plak. “Die hipotalamus in die brein trigger die adrenale klier om adrenalien in die bloedstroom in te pomp. Dit verhoog die hartklop, wat sorg dat daar meer bloed na die spiere en suurstof na die longe toe gaan. En voilà, Kali The Flash saves the day – en die skaaptjops.”

      “This is not fair, Leonardo,” sê Tara terwyl sy vir haar slaai inskep. “Jy lees een keer iets op Wikipedia en onthou dit vir altyd. Ons ander moet ons vrék leer om goed in ons koppe te kry.”

      “Wat kan ek sê? I have nothing to declare but my genius. By the way, Oscar Wilde het dit by die doeane gesê toe hy in 1882 in Amerika gaan kuier het.”

      “I rest my case,” sê Tara en almal lag.

      Almal behalwe ek. Was ek regtig so vinnig soos hulle sê? My vingers bewe toe ek aan die riffies van die sirkels agter teen my nek vat. Ek ruik iets bitters – soos vleis wat in sy glory in verbrand het.

      Maandag is nie blou nie, dis pérs. Net so pers soos die merke op Chantelize se arm.

      “Is dit waar, Kali?” My ma vat haar hare agter haar kop bymekaar en trek dit oor haar linkerskouer.

      Ons sit in die hoof se kantoor. Dis nou ek en my ma en Chantelize en haar ma en pa. My pa was besig om te opereer toe die hoof gebel het, dis waarom hy nie nou die party join nie.

      “Kali?“ vra die hoof, sy woeste wenkbroue teen mekaar soos hy frons.

      Meneer Croucamp is ’n heel nice ou, maar ek hoor jy moenie aan sy verkeerde kant kom nie. En dit is aan daai kant van hom wat ek nou hier op die puntjie van my stoel sit.

      “Ek is regtig jammer, ek het nie bedoel om haar seer te maak nie,” sê ek tussen stywe lippe deur.

      “Dit is absoluut ongehoord dat ons leerders geweld teenoor mekaar gebruik,” sê meneer Croucamp. “Om die situasie te ontlont, sal jy vir die volgende week elke eerste pouse ’n sessie met die skoolsielkundige hê. Die gesprekke sal gemik wees op die beheer van emosies, en veral woede.”

      Woede? Jis, hy laat my soos ’n freaking psigopaat klink.

      Hy kyk na my ma en dan na Chantelize se ouers. “Dra dit u almal se goedkeuring weg?”

      Die Harmses knik terwyl hulle na my kyk asof ek laer as slakslym is.

      “Dit is in orde,” sê my ma ook.

      Whoopee, ek gaan elke tweede pouse met ’n shrink praat. Ek kan nie wág nie … Dan tel ek iets op wat my ma dink.

      … werk toe eintlik goed uit. Vambo kan nou sommer tydens haar sessies die opleiding doen.

      “Wat werk goed uit, wie is Vambo en watse opleiding is dit?” vra ek vir my ma toe ons uit die hoof se kantoor is.

      Sy steek vas. “Nee, nee, so kan dit nie aangaan nie. Jy sal moet leer om dit te beheer.”

      “Wat? My kastige woede? Ek het mos gesê dit was net ’n ongeluk en …”

      “Nee, dit is nie wat ek bedoel nie,” val my ma my in die rede. “Maar jy moet nou eers klas toe gaan. Ek het … dinge om te reël.”

      Met dié halwe antwoord los sy my net daar en march in die gang af. Ek is duidelik nie die enigste weirdo in die gesin nie.

      Vir die res van die dag ruik my gedagtes soos nat teer. Wat seker nie snaaks is nie: mal mense se gedagtes ruik seker nie soos ’n blomtuin nie. En totally insane is ek beslis. Normale mense lees nie ander se gedagtes nie.

      Ja, ek weet, mens dink altyd dit moet vreeslik nice wees om dit te kan doen, maar glo my, dit is nie. Veral nie as jy ’n hele crowd gelyk hoor dink nie. Vat maar die spul rondom my. As ek op hulle konsentreer, klink dit soos ’n klomp dronk bye wat ’n disco in my kop hou.

      “ … so deurmekaar soos ’n hoer se handsak … flippen hel, asof ek nou mind of ek vyftig of tagtig vir wiskunde kry … my ma se kredietkaart gebruik om … dra sulke fugly outannie-skoene … as hy nou weer vir my kyk, gaan ek …”

      “Kali?”

      Die gezoem hou op. Tara staan voor my, haar gesig ’n