Nelia Engelbrecht

Die Poort 3: Helers


Скачать книгу

sekondes skemer. Daar is nou glad nie meer mure om ons nie, net water. Ek kyk in Tara en Nomsa se groot, bang oë en vir ’n oomblik wil my reptielbrein oorvat en my oortuig dat ek ook my asem moet ophou. Dan laat ek toe dat water in my longe instroom. Soos altyd is dit erg weird toe die eerste nat suurstof deur my are vloei.

      Ek kyk op. Die water bokant ons is ligter as die water onder ons voete, en die borrels wat ek uitblaas, beweeg ook op. Oukei, nou weet ons ten minste die oppervlak is regtig bokant ons.

      Op! sein Leonardo. Gou!

      Ek en hy swem supervinnig boontoe en sorg dat ons nie Nomsa en Tara se hande los nie.

      Tara en Nomsa hoes en hyg na asem toe ons koppe bokant die oppervlak uitbars. Die eerste droë suurstof skuur pynlik deur my lugpyp.

      “Bloody hell,” hyg Nomsa. “What happened? Waar is ons?”

      “Is ons in die see?” vra Tara en kyk verward rond.

      In die see. Régtig? Bospoort is duisende kilometer van die see af. Die naaste water is in die rotspoel buite die dorp.

      Dit lyk vir my bietjie groot vir ’n rotspoel, sein Leonardo, wat natuurlik al weer my gedagtes gelees het.

      Terwyl ek water trap, kyk ek om my. Die deinings is darem nie te hoog nie en wanneer hulle sak, kan mens tot by die horison sien. Mind you, al wat tussen ons en die horison is, is water. Ek kyk oor my skouer. Daar’s oral water. Sherbet, Tara is reg. Ons is in die see.

      “Ek dink ons het deur een of ander Poort gegaan,” sê Leonardo.

      “Ek hoop net nie ons is terug op Mitigon nie.” Die eerste keer toe ons deur die Poort Gereis het, het ons gescuba van die rotspoel buite Bospoort af, deur ’n onderwatergrot tot in ’n rotspoel wat presies soos die een buite Bospoort gelyk het. Behalwe dat dit op Mitigon was, en dis ’n planeet in ’n heeltemal ander sterrestelsel.

      “I’m getting tired of treading water,” sê Tara.

      Nomsa se oë rek. “Oeee, sê nou daar is goeters onder ons in die see wat ons gaan opvreet? Mitigon-haaie of goed?”

      “Relax, Nomsa, ons is nie op Mitigon nie,” sê Leonardo en kyk boontoe. “Ek herken van die sterkonstellasies – ons is beslis iewers op die aarde.”

      Ek frons. “Maar waar? En hoekom in die middel van die see?”

      “I have a bad feeling about this,” sê Tara.

      “Ek ook,” voeg Nomsa by. “Kom ons Reis huis toe.”

      Nou kyk, Nomsa hou niks van Reis nie, so as sy die dag vrá om te Reis, moet jy weet sy is baie benoud. Ek kyk na Leonardo. “Ek dink ook ons moet terug Reis. Dis regtig nie snaaks om so in die middel van die see rond te hang nie.”

      “Nou goed dan. Hou vas.”

      Misslierte begin om ons draai en krul. Die sterre bokant ons raak weg. Die water om ons ook. Dan is ons in die stil, wit wêreld van die Portaal.

      “Iets is verkeerd. Kyk,” sê Tara. Sy wys na die mis rondom ons. Dit lyk baie digter as gewoonlik. Sy steek haar hand uit. “Dit is ys. We’re surrounded by ice.”

      Ysblokke. Régtig? Die Portaal is veronderstel om ’n plek vol wit wattewolke te wees.

      Leonardo sê iets in Italiaans – most probably ’n baie lelike woord. “Wat de hel gaan aan?” Hy slaan met sy vuis teen die wit muur voor ons.

      “Dis jou GPS wat nie werk nie,” sê Nomsa en kyk beskuldigend na hom. “In plaas van huis toe, het jy ons na die North-bloody-Pole toe laat Reis.”

      “Ja, en jy het natuurlik al die Olimpiese Spele vir Reis gewen, nè,” sê hy terwyl hy al hoe harder teen die ysmuur slaan. Hy kyk oor sy skouer na my. “Kali, kry lewe en kom help my. Ons moet hier uitkom.”

      Ek en Leonardo is Krygers – dit beteken ons is goeie vegters, maar ook vinniger en sterker as ander Bewakers.

      “Eina, bliksem!” Leonardo hou sy hand vas.

      Tara is dadelik by. “Laat ek sien …” Sy kyk bekommerd na my. “Kali, it looks bad – jy moet hom Heel.”

      Tara het ’n hengse crush op Leonardo, net jammer hy verbeel hom hy is verlief op my. En dit terwyl ek vir Zak het – my kleintyd-speelmaatjie wat intussen my baie sexy ou geword het. Ek tree vorentoe. “Gee hier jou hand.” Tara is reg, dit lyk of hy ’n beentjie in sy hand gebreek het. Ek vryf daaroor.

      “Ouch!”

      “Toe nou, moenie ’n sissie wees nie.” Die blou swelsel begin verdwyn. Dis een van my Bewaker-magte wat ek by my pa geërf het. Behalwe dat hy ’n gewone dokter is, is hy ook ’n Heler.

      “As julle nou klaar dokter-dokter gespeel het, kan ons dalk plan maak om by die huis te kom?” vra Nomsa.

      “Dis Leonardo wat dink hy is Chuck Norris. Al wat hy moet doen, is watch and learn. Staan bietjie agtertoe.”

      Ek maak die wit lig diep in my lyf bymekaar en stuur dit reguit na die ysblok voor ons. Die ys klap en knetter toe die lig dit tref. Krake verskyn oral teen die muur. Die krake word groter en – wait for it – ja, sowaar, water begin daardeur spuit.

      “Hoekom kry ek die feeling van déjà-bloody-vu?” roep Nomsa uit bo die lawaai van die bruisende water.

      “No, it can’t happen again,” kerm Tara.

      “Vat hande en hou vas!” roep Leonardo uit.

      “Sorry, ek het nie bedoel om …” die res van my woorde raak weg toe die water oor ons spoel. Ek proe die sout en dan is ons terug in die see, die lug vol sterre bokant ons.

      “Moerse, Kali, dit kom nou van windgat wees,” sê Leonardo en kyk my amper middeldeur.

      “Dink jy nou dit was aspris? As jy ook net nie …”

      “Kyk!” onderbreek Tara ons stryery.

      Toe ’n deining voor ons sak, sien ek dit ook: ’n donker voorwerp teen die horison. “Kan dit land wees? Dalk ’n berg?”

      “Dit lyk soos ’n skip,” sê Tara.

      “Nou moes ons een van daai flares gehad het om te skiet sodat hulle ons kan sien,” sê Nomsa.

      Ek trek my oë op skrefies. “Dit lyk kleiner as ’n passasierskip. Dalk is dit ’n vissersboot.” Dan sien ek die ligte seile teen die naghemel. “Nee, wag. Lyk my dit is een van daardie outydse seilskepe waarmee hulle toeriste op trips vat.”

      “The wind is picking up,” waarsku Tara.

      Dit is waar, die deinings word al hoe hoër. “Die wind waai darem uit die rigting van die skip. As dit ’n seilskip is, sal dit hulle gouer by ons kry.”

      “Hou hande vas – ons moet mekaar nie verloor nie,” sê Leonardo.

      In die droom wat Tara gehad het, het ons ook hande vasgehou toe ’n groot brander oor ons gespoel het. Toe die water terugtrek in die see in, was ons oukei en het ons kampvuur op die strand ook nog gebrand.

      “Oe-ee, die ouens op die skip gaan ons nooit sien nie, ons gaan verdrink.” Met elke woord styg Nomsa se stem. “My ma-hulle gaan nie ’n clue hê wat met my gebeur het nie. Hulle dink ek sit in my kamer en huiswerk doen, meantime is ek besig om te verdrink en as die haaie ons nie opvreet nie, gaan ons lyke iewers …”

      “Nomsa!” Ek skrik skoon vir my eie kwaai stem. “Moenie uitfreak nie, ek het ’n plan om hulle aandag te trek.”

      Ons het dalk nie ’n flare om in die lug op te skiet nie, maar as ek Sondagmiddag my ma-hulle se koerant aan die brand kon kyk, kan ek seker probeer om weer die vuur-ding te doen?

      Ek kyk in die lug op. Ek staar stip na die sterre bokant ons. Dalk moet ek my verbeel Chanda-Mundia, die bad guy van Mitigon, sit op een van daardie sterre en ek maak vuur onder sy gat.

      Ouch. My oë brand vreeslik en dit voel