Nelia Engelbrecht

Die Poort 3: Helers


Скачать книгу

“Van wanneer af doen jy dit?”

      “Ja, hoekom weet ons nie daarvan nie?” vra Nomsa.

      “Dit het eergister gebeur. Ek was so kwaad toe ek die berig in die Sondagkoerant sien oor wat Chantelize gesê het van Bospoort se vroue wat verdwyn en ons wat superkragte het dat ek dit soort van verloor het. Toe ek weer sien, brand ek ’n gat in die koerant.”

      “Oee-ee,” sê Nomsa. “As ek Chantelize is, sal ek liewer vergeet ek het jou en Leonardo se Kragte daar by die rotspoel sien werk.”

      “En sy beter ook ophou om jou boyfriend te probeer steel,” voeg Tara by. “For that alone you should fry her.”

      “Hulle het ons gesien,” sê Leonardo terwyl hy in die rigting van die skip kyk.

      Met ons Bewaker-nagvisie sien ons hoe die skip al hoe nader kom en hoe hulle ’n reddingsboot laat afsak. Die wind waai die klank van manstemme en die geplas van roeispane na ons toe.

      “Dis alles fine om toeriste in ’n outydse skip rond te ry, maar kon hulle nie maar vir hulle ’n reddingsboot met ’n enjin gekry het nie?” vra ek.

      “And they have lamps instead of proper searchlights,” voeg Tara by. “Hulle wil seker vir die toeriste ’n authentic experience gee.”

      “Of anders maak hulle ’n movie oor pirates,” sê Nomsa. “Hulle kan ons as ekstras gebruik – dink net, dis dalk die begin van ons Hollywood careers.”

      “Het julle al gedink watter storie ons vir hulle gaan spin om te verduidelik wat ons hier in die middel van die see doen?” vra Leonardo.

      Oeps. Nou kyk, met dié dat ek al so baie vir my liewe Zak moes jok oor my Bewaker-dinge, kan jy maar sê ek is teen dié tyd die queen van lieg. Maar glo my, Leondardo bly koning. “Jy lieg die beste,” sê ek vir hom. “Jy moet iets uitdink.”

      “Ahoy!” roep die man wat voor in die bootjie staan en die lamp vashou. “Zijn jullie drenkelingen?”

      “Hoekom praat hy sulke funny Afrikaans?” vra Nomsa.

      “Dis nie Afrikaans nie, dis Hollands,” antwoord ek.

      “Ek het nog nooit gehoor van Hollanders wat ’n pirate movie maak nie,” sê Nomsa.

      “Kyk hulle klere,” sê Tara. “Dit lyk genuine of hulle op ’n movie set is.”

      Iets is nie reg nie. Ons Bewakers se grootste vyande is die Ander wat op Mitigon bly. As hulle naby is, begin die merk agter teen my nek brand. Al brand dit nie nou nie, sê my gut feeling vir my iets is fishy – en dit het niks te doen met die seelewe onder ons voete nie.

      “Leonardo, kan jy Hollands praat?” vra ek.

      “Laat ek sien – Italiaans, Engels, Afrikaans, Duits, Frans … nee, Hollands is nie op my lysie nie. Maar jy en Nomsa het mos superduper Bewaker-taalmagte. Julle sal maar met die dude moet chat.”

      Ek en Nomsa kan Mitigons verstaan en praat, maar Hollands? Ek het geen idee nie.

      Oukei. Here goes. “Uhm …” Jisterday, hoe sê mens in Hollands ons skip het gesink en ons soek ’n lift na die naaste hawe sodat ons kan terugvlieg Suid-Afrika toe?

      “Wie zijn jullie? Is jullie schip gezonken? Waren het piraten?” vra die man nog voor ek my sin agtermekaar het.

      Seerowers? Is ons aan die kus van Afrika waar moderne seerowers deesdae skepe aanval?

      “Ja, onze schip is gezonken, maar er waren geen piraten … er was een storm en toen viel onze boot om,” lieg ek.

      “Zijn jullie de enigste overlevenden?” vra die man.

      “Helaas, ja.”

      “Holy moly, Kali, van wanneer af kan jy Hollands praat?” vra Nomsa.

      “Dis seker deel van haar nuwe Powers,” sê Tara.

      Wow, hulle is reg – ek praat sowaar as vet Hollands.

      Die Hollanders help ons tot in die bootjie. Water slaan van alle kante af in terwyl ons teen elke deining uit sukkel. My derms spring omtrent by my keel uit elke keer as die bootjie aan die bopunt van die deining kom en dan tot onder val, net om weer die volgende deining te tackle.

      “Hell’s bells, dit is erger as ’n roller coaster,” sê Nomsa terwyl sy aan die kant van die boot vasklou. Tara sê niks nie, maar sy lyk maar redelik groenerig so in die lamplig.

      Toe ons eindelik teen die kant van die skip kom, wag daar ’n ander verrassinkie vir ons – ’n touleer wat gevaarlik heen en weer beweeg, al hou twee van die Hollanders die onderste punte vas.

      “Dink hulle regtig ek gaan tot daar bo klim?” vra Nomsa terwyl sy opkyk na die bokant van die skip doer duskant die sterre.

      “Ek kan jou altyd oor my skouer gooi en boontoe dra,” bied Leonardo aan.

      Vir ’n oomblik lyk dit of Nomsa sy aanbod ernstig oorweeg. Dan skud sy haar kop. “Thanks, but no thanks. Ek vat liewer my kanse met die touleer.”

      Iemand op die skip gooi darem ’n tou van bo af en Leonardo maak dit om Nomsa se lyf vas.

      “Nice. As my voet gly, gaan ek nog bungy-bloody-jumping ook doen,” brom sy en begin klim.

      “Jou beurt,” sê Leonardo vir Tara toe Nomsa uiteindelik bo is en die mans die tou weer ondertoe gooi.

      “Ek is bang,” sê Tara sag en kyk met groot oë na Leonardo.

      “Moenie worry nie, ek sal ons al twee aan die tou vasmaak en saam met jou boontoe klim. Ek belowe ek sal jou nie laat val nie.”

      Tara byt op haar onderlip. “Okay, I trust you,” sê sy en kyk na Leonardo asof hy ’n mix tussen Superman en Spiderman is.

      Ek hou my asem op tot hulle veilig bo is. Oukei, nou’s dit my beurt. Ek maak die tou om my vas en probeer nie dink hoeveel verdiepings ek boontoe moet klim nie. Jis, het die mense nog nooit van iets soos ’n hysbak gehoor nie?

      Ek kyk af. Ver onder my voete lyk dit of daar swart afgronde tussen die deinings is. Afgronde waarin ’n mens vir altyd kan verdwyn.

      Komaan, Kali, jy kan dit doen, sein Leonardo van bo af. Jy’s nie verniet vernoem na Kali, die Hindoe-godin van oorlog en verwoesting nie.

      Ja, reg. Ek wed jou sy het nooit nodig gehad om met ’n leer wat heen en weer swaai teen ’n freaking berg van ’n skip uit te klim nie, sein ek terug.

      My lyf bewe toe ek bo kom en Leonardo my oor die kant help. Vir ’n sekonde druk hy my teen hom vas. Met my Bewaker-senses hoor ek hoe sy hartklop versnel. Ek is fine, thanks, sein ek en tree terug. Netnou kom Tara agter hoe hy oor my voel.

      “Is alles goed?” vra die man wat die lamp vasgehou het toe hy ook oor die rand van die skip klouter.

      “Ja, bedankt,” antwoord ek en kyk rond. Ouke-ei, hoekom staar almal na ons asof ons aliens is? En by the way, hoekom lyk dit asof die kastige matrose dae laas gebad of geskeer het? Die paar wat soos soldate aangetrek is, lyk ook nie of hulle binnekort medaljes gaan kry vir was en stryk nie. Nee, jis, as ek ’n toeris op hierdie skip was, sou ek beslis by die bestuurder gaan kla het.

      “Dis weird,” fluister Nomsa langs my.

      “Baie,” fluister ek terug.

      Dan staan die halfmaan mense opsy vir ’n man wat naderkom. Ek moet sê, hy lyk darem bietjie beter gegroom as die res. Behalwe vir die baard wat maar lekker wild is.

      “Welkom op die Oosterland,” dreun sy Hollands bo die klank van die branders en die wind.

      Die Oosterland. Régtig? Nee. Undo. So toevallig kan dit nie wees nie.

      Is dit nie die skip wat jou ancestors Kaap toe gebring het nie? sein Tara.

      Jip, sein Leonardo. Die sameste een.

      Dan tref dit my. Dit is nie ‘n movie set nie.