hy sy kop hoog kan hou.
Net een keer het hy sy eie reël oortree, en dit tel nie as ’n teregstelling nie. Hy was boonop net sestien. Nog emosioneel onvolwasse. Ook omdat hy …
Hy skud sy kop ergerlik. Wat het hom nou dááraan laat dink? Dis verbode terrein, dis dinge wat hy met sy daaglikse meditasiesessie suksesvol uit sy bewussyn weer.
Hy staar na homself in die badkamerspieël. Die lyne op sy gesig het vermenigvuldig sedert die spoke verskyn het, sy hare het gryser geword, sy wange meer ingesonke.
Hy sluk. Die herinnering wat pas deur die skans van sy meditasiemuur geglip het, het hom onverhoeds betrap. Die enkele traan wat teen sy wang af loop, vee hy haastig met sy voorarm weg.
Hy draai om. Buskruit sit in die badkamerdeur en hou hom vol afwagting dop.
Hy klap sy vingers vir die hond. “Moet ons gaan frisbee gooi?”
9
“My finale bevinding is dat Smuts beslis deur ’n tweede party opgehang is.” Dokter Momberg, die patoloog, loer oor sy raamlose brilletjie na Kassie en Rooi.
“Abrasies aan sy gewrigte en enkels dui daarop dat die slagoffer vasgebind was,” gaan hy voort. “Ons het ook kleefbandgom op sy lippe gekry. ’n Mens kan met redelike sekerheid aanneem sy mond was toegeplak tydens die voorval.”
“En is hy dood omdat hy opgehang is?” vra Kassie. “Ons het al ’n geval gehad waar die slagoffer eers verwurg en toe opgehang is om die indruk van selfmoord te skep.”
Dokter Momberg skud sy kop. “As Smuts reeds dood was en toe opgehang is, sou daar ’n verskuiwing van die ligatuur plaasgevind het namate die trekkrag van die tou toeneem. Buitendien sou die afsakking van die bloed met verwurging baie waarneembaar gewees het bokant die ligatuur. Jy sou nog die oksipitale bloeding kon sien.”
“Hoe laat skat dok is hy vermoor?” vra Rooi.
“Net gegrond op die inhoud van die maag en die manier waarop die liggaam verstyf het, skat ons dit het kort voor middernag gebeur. Toe julle op sy lyk afkom, was hy sowat nege, tien uur al by sy Skepper.”
Kassie moet ’n glimlag onderdruk. Dok Momberg doen altyd so formeel verslag, nie soos die meeste ander patoloë wat gewone, verstaanbare en soms kru polisietaal gebruik nie.
“Ek sal nog temperatuurmetings neem en vloeistof uit sy oë trek om ’n meer akkurate tydsaanduiding te gee,” sluit Momberg sy relaas af.
“Thanks, dok,” sê Kassie. “Alles wat jy sê, bevestig ons afleidings. Bel asseblief as iets anders opduik.”
“Ek stuur die volledige outopsieverslag so vinnig as wat my beperkte tyd dit toelaat,” groet Momberg.
Kassie en Rooi stap by die staatslykshuis se trappe af na die poelmotor.
“Ek wonder of dok Momberg ooit hardop poep,” sê Rooi. “Hy’s tog altyd so pynlik korrek. Die ou maak my skoon ongemaklik.” Kassie lag. “Wel, nou weet ons ten minste dit was nie selfmoord nie.”
“Ek was gou by Da Silva aan,” rapporteer Rooi toe hulle in die kar klim. “Hy’t nog geen deurbraak gehad met die vingerafdrukke nie. Net Smuts se eie en die ander huismense s’n geïdentifiseer.”
Kassie knik. “En Mabesi, die nuwe ondersoeker wat op die toneel was, sê hy vermoed die moordenaar het met ’n loper by die agterdeur toegang gekry. Maar hy kon geen skoen-identifikasiemerke optel nie, ook geen vreemde tyre-afdrukke op die stukkie grond voor die geplaveide oprit nie.”
Rooi sug. “So ons het in dié stadium minder as fokol.”
Kassie se selfoon lui. Dis mevrou Van Zyl.
Hy luister in stilte, sê dan: “Baie dankie, mevrou. Dit help.”
“Goeie nuus?” vra Rooi.
Kassie druk sy foon dood. “Nie eintlik nie. Sy sê sy’t nou net ’n oproep gekry van die opsigter by haar broer se woonstel in Johannesburg. Hy het Smuts blykbaar twee dae voor sy dood ingelig daar’s by sy woonstel ingebreek.”
Rooi se wenkbroue skiet op. “Ingebreek?”
“Jip, en dit lyk blykbaar nie of iets gesteel is nie. Daar’s in ’n paar laaie gekrap, maar al die waardevolle toerusting is net so gelos.”
“Wat beteken die inbreker was moontlik ook agter goed aan wat verband hou met Smuts se ondersoek.”
“Dis wat ek ook vermoed,” sê Kassie. “Ek het nogal gedink ons kan ’n speurder in Sandton vra om in die woonstel te gaan kyk of daar leidrade oor Smuts se ondersoek is.”
“Nou’s dit te blerrie laat,” brom Rooi.
“Ons móét eenvoudig uitvind wat Smuts ondersoek het.”
“Easier said than done.”
“Darem nie só moeilik nie. Vra dat Magrieta by die selfoondiensverskaffer ’n uitdruk van Smuts se oproepe kry. Dis ons beste beginpunt. Hy moes tog afsprake gemaak het met die mense met wie hy oor sy ondersoek wou chat.”
“Dis waar,” sê Rooi. “Maar ons gaan ons gatte af wag. Jy weet self hoeveel red tape daar is.”
“Daaraan kan ons nie veel doen nie. Onthou, ons werk vir die SAPD.”
Kassie kyk na Rooi. “Daar’s twee dinge aan hierdie moord wat hoegenaamd nie sin maak nie.”
“Wat?”
“Hoekom iemand ophang as jy weet die polisie sal maklik agterkom dit was nie selfmoord nie? Die moordenaar het alles gevat wat met Smuts se ondersoek verband hou. Hy moes tog geweet het die polisie sal nie val vir die idee van selfmoord nie. Dit sou baie minder moeite gewees het om Smuts met ’n pistool die ewigheid in te blaas, of hom met ’n mes by te kom.”
“Moontlik maar ’n versteurde fokker wat sy kicks daaruit kry om iemand te hang,” sê Rooi.
“Kan wees,” gee Kassie toe. “Maar dit bring my by die ander ding. Volgens wat dok Momberg gesê het, lyk dit of Smuts vrywillig op die stoel gestaan het om opgehang te word. Geen merke aan sy lyf wat op dwang dui nie, geen vingermerke aan sy arms of so iets nie. Dit maak tog nie sin nie. G’n mens klim soos ’n mak lammetjie op ’n stoel om gehang te word nie.”
Rooi herkou ’n rukkie daaraan. “Dalk het die moordenaar vir Smuts ’n gat in die kop gepraat, dat hy nie besef het hy gaan gehang word nie.”
“Goed, dit klink na ’n sinvolle verduideliking. Maar wat beteken die skaakstuk in Smuts se hempsak?”
Rooi skud sy kop. “Met daai een het jy my.” Hy grinnik. “Skaakmat!”
* * *
Claus wag ongeduldig in sy kar. Soms raak Macy so donners veeleisend. Hy’t vir haar gesê hy wil vanoggend eers by al hulle takke aangaan, maar nou wil sy saamkarring. “Want ek’s lus vir ’n nice middagete in die stad,” het sy gepruil.
Hy steek ’n sigaret aan en rem aan sy serp. In die somer versmoor die ding hom, maar Macy dring daarop aan dat hy ’n serp dra. “Dit laat jou soos ’n artist lyk, darling. Baie sexy.”
Hy’t geen begeerte om soos ’n verdomde kunstenaar te lyk nie, maar dis nie die moeite werd om daaroor te stry nie. As sy van serpe hou, dra hy dit om die vrede te bewaar.
Hy hou haar dop waar sy met die stoeptrappe af stap. Sy hart versag dadelik. Die mans in die stad gaan vandag weer hulle koppe af draai. Haar pikswart hare hang golwend tot op haar skouers en omraam haar ovaalvormige gesiggie. Haar lyf is gegiet in ’n kort somersrokkie met ’n hals wat beswaarlik die nodige binne hou.
“Sorry dat jy moes wag, darling,” sê sy met die inklim en blaas ’n soentjie vir hom.
“Moet my net nie vanoggend aanjaag nie.”
Sy trek haar mond skeef. “Waarheen moet ons oral gaan?”
“Eers