summier uit.
Daniels se frons verdiep. Dis nié die Kassie wat hy ken nie.
* * *
Net soos gister ry Naas Kuyler laatmiddag na die Durbanville-gholfklub, en volg Moos hom na die klub se ruim kroeg. Vandag is hier meer mense en Moos kan hom ongemerk dophou van sy sitplek in die hoek tussen ’n spul rumoerige gholfers.
Kuyler sit weer alleen by die kroegtoonbank en bestel vir hom ’n bier. Hoewel hy gister net drie biere gedrink het, het hy tot skemer hier gesit voordat hy huis toe is. Dit lyk vir Moos of hy vandag dieselfde gaan doen.
Hy hou Kuyler stip dop terwyl dié ’n eerste slukkie van die bier neem en die skuim met die agterkant van sy hand van sy bolip vee. Dit lyk of die man onder erge spanning verkeer. Sy voorkop is heeltyd geplooi en hy staar peinsend voor hom uit.
Sou dit verband hou met sy besoek aan Suleiman Khan? wonder Moos. Of het dit iets met mevrou Leandri Kuyler te doen? Beslis nie ’n gelukkige huwelik nie. Net gegrond op Moos se waarnemings van die afgelope twee dae lyk dit ook nie of Vriendin se vermoede reg is nie. Daar is geen teken van ’n ander vrou in Kuyler se lewe nie.
Wat eintlik ’n bedekte seën is. Dis nou as Moos sy plan van aksie in werking kan stel. Hy het gisternag beswaarlik ’n oog toegemaak nadat dié plan by hom opgekom het. Die vonkie vir sy plan was die beeldskone Nazi-spioen Sophie Kukralova (kodenaam R3749) wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog twee Britse geheime agente in Kaïro só beswymel het met haar skoonheid dat hulle militêre geheime aan haar verklap het. Bob Sewell, een van die agente en ’n getroude man, wou selfs sy vrou vir Kukralova los.
Dan was daar natuurlik ook die Duitsers se baie suksesvolle oorlogstrategie toe hulle in Frankryk plaaslike prostitute as spioene gewerf het. Die vroue het met leiers van die Franse weerstandsbeweging verhoudings aangeknoop en só belangrike inligting bekom.
Met dié voorbeelde as waardevolle verwysingsbron begin Moos se plan nou vorm aanneem, veral noudat hy weet dat Kuyler nie sy vrou verneuk nie, maar dat daar tog ernstige krake in sy huwelik is. Groot genoeg krake om te benut vir die beveiliging van volk en vaderland. En heel moontlik – as die breër prentjie in ag geneem word – die hele Westerse wêreld. Want ’n missielvervaardiger wat konkel met vermeende Islamitiese ekstremiste én met iemand in die land se hoogste regeringsbanke kan net rampspoed bring.
Moos het lank gewik en geweeg of hy sy plan by die SSA-personeel moet toets. Uiteindelik het hy daarteen besluit. Met sy baas in die hospitaal en die interne struweling tussen hom en Max Tsotsobe, is dit moontlik nie die regte tyd nie. Max sal boonop daarop aandring dat ’n senior veldagent betrokke raak, aan wie Moos dan sal moet rapporteer.
Hierdie saak is sy groot kans om sy naam in die annale van uitsonderlike Suid-Afrikaanse geheime agente te verewig, en hy gaan nié die eer met iemand anders deel nie.
Louisa Maritz … Vir die soveelste keer wonder Moos of sy bereid sal wees om die rol van ’n Sophie Kukralova te speel. Sal sy hierdie sleutelposisie kan vul?
Louisa is mooi, verleidelik, avontuurlustig en intelligent genoeg om sukses te behaal. Én sy skuld hom ’n groot guns.
11
Die verdomde oproep kom onmiddellik weer by Kassie op toe hy die koerant deurblaai en die opskrif op bladsy vier sien: Misdadigers kry wapens by polisie.
Hy lees die berig met ’n frons.
Korrupte polisielede word ’n al groter wapenbron vir misdadigers. ’n Aanduiding van dié kommerwekkende neiging is die tipe wapens wat deesdae gewild is in die misdaadwêreld, naamlik R4- en R5-aanvalsgewere. Dié wapens word onderskeidelik deur die weermag en polisie gebruik en mag nie deur private persone besit word nie. Daaruit kan ’n mens aflei dat misdadigers toenemend staatmaak op polisielede om wapens in die hande te kry …
Hy lees nie verder nie. Wat wórd van die Diens? Robbie August is juis met ’n R5 doodgeskiet, het Daan gesê.
Kassie skud sy kop. Is dit nie maar net nog ’n teken dat hy ernstig oor die oproep moet besin nie?
Hy onderdruk die gedagte om die berig vir Rooi te wys waar hy met Cliffie en Da Silva staan en gesels. Een van dié twee het natuurlik stories by Daniels aangedra. Rooi sal nooit so laag daal nie, dit weet hy.
Kassie is steeds ontsteld oor gister se gesprek met die stasiebevelvoerder. Loop Daniels met oogklappe deur die lewe? wonder hy. Pleks dat die man erken die polisie het ernstige probleme, wil hy Kassie die vark in die verhaal maak. Het hom selfs van rassisme beskuldig, terwyl hy nog nooit die polisie deur ’n kleurbril bekyk het nie. Daniels, wat bruin is, is nie ’n slegte bevelvoerder nie. Om die waarheid te sê, hy is aansienlik beter as sommige van Kassie se vorige bevelvoerders – wat wit was.
Wat het van vryheid van spraak geword? dink hy vererg. Of is die Nuwelandstasie nou ’n fokken Kremlin waar jy nie kan waag om jou mening te lug nie?
Hy gaap terwyl hy die dossier oor die OTM-bende nader trek. Het gisteraand hopeloos te laat in die bed gekom, maar sy vraelys aan die sestig filatelieverenigings is uitgestuur.
Sy selfoon begin lui. Fred Smuts se suster, sien hy toe hy dit uit sy windjekker se sak haal. Sy wil seker uitvind hoe hulle vorder. Soms kan die naasbestaandes van ’n moordslagoffer nogal ’n oorlas raak, weet hy uit ondervinding.
Hy antwoord.
“Kaptein Kasselman, hoop nie ek pla nie, maar ek’t iets gekry wat julle dalk kan help.”
“Dis goeie nuus, mevrou.” Kassie is dadelik die ene ore.
“Ja, ek het in ons waskamer op ’n hopie vuil klere van Fred afgekom. Daar was ’n velletjie papier in sy broeksak met die naam en selfoonnommer van ene Emile de Villiers.”
Sy lees die nommer, wat Kassie vinnig neerskryf.
“Niks anders nie?” vra hy.
“Nee, net die naam en nommer.”
“Baie dankie, mevrou. Ek volg dit onmiddellik op.” Hy groet en druk die foon dood.
Dit kan ’n deurbraak wees, besef hy. Magrieta sukkel juis om ’n uitdruk van Smuts se selfoonoproepe te kry. Blykbaar ’n tegniese probleem by die diensverskaffer wat nog lank kan duur.
Hy skakel die nommer, maar kry nie antwoord nie. Los ’n boodskap dat De Villiers hom dringend moet bel. Dan wink hy Rooi nader om hom te vertel van die verwikkeling.
* * *
Die Pion se daaglikse roetine is verdeel in eenhede van ’n uur elk. Ná sy meditasiesessie, sy ablusies en ontbyt, elk presies tot op die sekonde sestig minute lank, wend hy hom na sy studeerkamer.
Dis ’n studeerkamer sonder ’n rekenaarskerm in sig. Die Pion gebruik slegs die betroubaarste van tegnologieë: sy stel lêers waarin hy die besonderhede van sy slagoffers dokumenteer.
Vandag moet sy leeswerk eers wag. Dis altyd sy gewoonte om eers ’n paar dae ná die afhandeling van ’n taak daaroor verslag te doen.
Hy haal die nuwe lêer waarop hy Fred Smuts in drukskrif geskryf het uit die draadmandjie. Neem twee foliovelle uit die lessenaar se laai, rol een in die Olympia-tikmasjien wat sy oorlede moeder op sy veertiende verjaardag vir hom gegee het, en begin tik.
Hy beskryf sy deeglike voorbereiding vir die taak, die proses wat hy gevolg het om toegang tot die huis te kry, hoe hy Smuts oorval en vasgebind het, en hoe hy die huis gefynkam het vir enigiets wat verband hou met die Smuts-ondersoek. Deur elke handeling op papier te verewig, bied dit aan hom ’n terugskouing en ’n geleentheid om op sy werk te verbeter.
Dan tik hy ’n nuwe opskrif, in hoofletters: DIE TEREGSTELLING.
Hy sluit sy oë om eers weer die teregstelling in die fynste besonderhede te herleef. Die ongeloof en skok op die slagoffer se gesig toe hy die stoel onder sy voete uitpluk. Die are wat soos elektriese drade oor sy voorkop span toe die tou om sy nek styf trek. Die oë wat uit hul kasse peul, die spartelende liggaam, skoppende voete …
Hy