p>
Die Poort: Krygers
Nelia Engelbrecht
Tafelberg
“Onthou, julle is almal superheroes in disguise.
Moenie bang wees om julle eie krag te
ontdek en te gebruik nie.”
– Kali Theron, Bospoort
1
“Oee-ee!” gil Nomsa langs my. “Die hele plek gaan afbrand!”
Oepsie. Ek het genuine nie bedoel om die hotel se dak aan die brand te steek nie. Ek het na die houtteiken gemik en net toe ek dink die oog-ding gaan nie werk nie, kyk ek na die hotel se kant toe en toe werk dit. Soort van per ongeluk.
“Wat de hel het jy aangevang, Kali?” Leonardo gooi sy hande in die lug terwyl weerlig in sy swart oë blits.
Net daar strip ek my moer totally. “Dink jy ek het dit aspris …”
Ek skrik die res van my woorde weg toe ’n weerligstraal die deel van Poveglia-eiland verlig waarop ons veronderstel is om ons Kragte en Magte te oefen. ’n Sekonde daarna volg ’n donderslag wat die mense seker tot op Venesië se Sint Markus-plein kan hoor.
Dan begin dit reën soos dit seker laas gereën het net nadat Noag die lot diere in die ark gelaai het.
“Jy kan bly wees die reën blus die vlamme en red jou gat,” blaf Leonardo.
Hy’s al die hele dag so blafferig – seker omdat ek vanoggend vir hom gesê het ek kan nie nou saam met hom of, for that matter, enige ander ou op die planeet ’n item wees nie, want dit interfere met my duties as Bewaker.
“Kom ons Reis liewer terug hotel toe!” roep Leonardo se niggie, Adriana, in Engels uit en gryp Caleb se hand.
Jason, Caleb se tweelingbroer, sit sy arm om Nomsa se skouers. “Wag, ons gaan saam,” sê hy ook in Engels, maar met ’n baie sexy Amerikaanse aksent.
Poef! Poef! verdwyn die twee couples en los vir my en Leonardo en Tara alleen.
“Leonardo, I think you did it!” roep Tara uit terwyl sy ’n nat haarsliert uit haar gesig vee.
“Wat bedoel jy?” vra Leonardo fronsend.
“You made it rain. Om die vuur dood te maak.”
Leonardo skud sy kop. “Nee, ek dink nie so nie.”
Iets is weird. Ek trek my oë op skrefies. Ek en Tara is al papnat gereën, terwyl daar nog nie ’n druppel van ’n dag oud op Leonardo geval het nie. Net soos toe Tara ’n paar dae terug ’n hengse wind veroorsaak het terwyl daar nie eens een haartjie op haar kop geroer het nie.
“Tara is reg,” sê ek. “Kyk, jy reën glad nie nat nie.”
Leonardo kyk af na sy droë klere en vat aan sy hare. “Wow.” Vir ’n oomblik vergeet hy hy is ’n grommende Rottweiler, en glimlag terwyl hy na die wolke kyk. “Dis amazing.”
So twee maande terug sou ek dit freaking weird genoem het pleks van amazing, maar dit was voor ek een van Bospoort se Nuweling-Bewakers geword het. Intussen het ek uitgevind dat weirdness actually relatief is. Vat maar die merke wat ek op my lyf gekry het. Twee sirkels – en op party plekke meer as twee – wat mekaar oorvleuel. Weird, ja, maar nog nie so weird soos die Magte en Kragte wat daarmee saamgaan nie.
“Maybe kan ek dit laat hael ook,” sê Leonardo en steek sy hande in die lug. “Komaan!”
In plaas daarvan dat dit begin hael, reën dit nou sagter.
“Ek dink nie dit werk so nie – it has something to do with our emotions,” sê Tara.
Sy’s reg. Laas toe sy ’n mini-tornado veroorsaak het, was dit omdat sy pissed was toe sy uitgevind het ek is nie net lief vir my eie ou, Zak, nie, maar ook vir Leonardo, op wie sy al lankal ’n crush het. Nie dat dit nou meer saak maak nie, want ek het intussen mos my hele complicated love life opgegee.
“So, ek moet eers hoog de hel in raak oor iets,” sê Leonardo.
Maybe oor Kali agter haar Bewaker-duties wegkruip, omdat sy te banggat is om tussen my en Zak te kies, sein hy en gluur na my.
“Wat?” vra Tara fronsend.
Jis, ook maar goed sy het nie die sein opgetel nie. In my kop bou ek blitsvinnig ’n muur tussen my en haar gedagtes. Wil jy nou vir Tara embarrass, of wat? sein ek dan vir Leonardo terug.
Leonardo ignoreer my totally en kyk na Tara langs hom. “Laat ek sien … Dalk moet ek dink aan my oupa en ouma Contarini se liegstorie dat my ma in ’n motorongeluk dood is toe ek ’n baba was, terwyl sy nog al die jare op freaking Mitigon aangehou word.”
Dit begin harder reën.
“O, ja, en ook dat my oupa my verbied het om deur die Poort te gaan om my ma te gaan haal.”
Ek sense hoe sy hartklop vinniger raak en die bloed in sy are begin borrel.
“Of maybe moet ek fokus op die Ander wat ons nou die aand probeer doodmaak het. Chanda-Mundia se donnerse cronies.”
My hart ruk toe ek sien hoe hy sy hand op sy bors sit, presies daar waar die Ander hom ’n paar aande gelede in die restaurant in Venesië geskiet het. Gelukkig kon ek my Kragte gebruik om hom en Jason, wat ook beseer is, te Heel.
“Ek sien nog nie hael nie,” roep Tara bo die gedruis van die reën uit.
Ek sien ook nie hael nie, maar daar is iets vreemds in die see agter Tara en Leonardo aan die gang. Deur die vlae reën is dit moeilik om te sien waar die grys van die see ophou en dié van die lug begin, daarom vat dit my ’n sekonde om uit te figure wat besig is om te gebeur.
Ek probeer uitroep, maar die klank steek in my keel vas. So vierhonderd meter van die eiland af is ’n deining wat lyk of dit op steroids is, want dit word baie vinnig al hoe hoër.
“Agter julle!” kry ek die woorde uiteindelik uit.
Tara gil toe hulle omkyk en die wal water sien wat al hoe meer na ’n mini-tsoenami begin lyk.
“Shit, waar kom dit vandaan?” roep Leonardo uit.
“Dis jy – jy het dit gemaak, so jy moet dit stop!” skree ek terug.
Tara gryp Leonardo se arm. “It’s going to flood the island!”
“Leonardo, doen iets!” gil ek.
“Soos wat? Jy’s mos Hoofmeisie-Bewaker – kry lewe en doen self iets!”
“Stop bickering – ons moet dit keer!” roep Tara.
Maybe kan ek die deining vries of iets. Soos toe ek die Ander wat op die Oosterland-seilskip was in standbeelde verander het. As ek net kan onthou hoe … My gedagtes fladder soos budgies in ’n hok rond. Oukei, Kali, fokus. Zoom eers in op die deining. En dan? Sherbet, ek het nie ’n clue nie.
Oom Giovanni gaan ons nooit, ooit vergewe as sy hele eiland wegspoel nie.
2
Ek trek my asem diep in en maak my oë toe. Oukei. Here goes.
Die koue van die water slaan my asem weg toe ek die deining met my gedagtes tref. Die grys wal sluk my in. Die soutwater brand my keel, my longe. Dieper. Ek moet nog verder inzoom, tot waar die deining se hart in die donker dieptes klop. Ek sak al hoe dieper weg, totdat ek die sagte sand van die seebodem voel. Daar word alles roerloos stil.
“Kali, is jy oukei?”
Ek maak my oë oop toe ek Tara se stem hoor. Shitters, die deining is nog steeds daar. Maar dit lyk tog … Ja, sowaar. Dit word nie meer hoër nie.
Dit het intussen opgehou reën en bokant ons skyn ’n pieperige sonstraal deur ’n gat in die wolke. Mind you, so met die bietjie sonlig lyk die wal water nog meer scary.
“Now what?” vra Tara.
“Nou try ek my nuwe Kragte tot die probleem uitgesort is,” sê Leonardo.
Sy