Sowaar. Die wolke beweeg nie meer in die rondte nie en hier en daar verskyn openinge in die digte massa.
“Jy het ons gered, Kali!” sê Nomsa terwyl sy na my kyk asof ek engelvlerke het.
Ek vryf oor my arms. Daar’s natuurlik nie ’n enkele veer nie. Ek het net gedroom ek is Chikawa.
Not so much, kom Jason se sein van die ander kant van die vliegtuig af. Jy hét Chikawa se vorm aangeneem – hulle noem dit shapeshifting.
Shapeshifting. Régtig? Hoekom kry ek die idee my lewe het nou net meer complicated geraak?
12
“As die grond nie so vol kieme was nie, het ek dit gesoen toe ons van daai vliegtuig afgeklim het,” sê Nomsa en loer oor haar skouer na die bussie se bagasieruim.
Leonardo kyk vir haar in die truspieëltjie. “Ek het mos gesê jou tas is daar iewers tussen die ander bagasie. En al het dit op die lughawe agtergebly, gaan dit oor ’n week nog daar staan as ons huis toe vlieg. Niemand sal so ’n lelike tas wil hê nie. Dit lyk soos ’n pienk skilpad met masels,” sê Leonardo.
Nomsa frons en wys ’n spits vingertjie na Leonardo waar hy voor in die bussie sit. “Jy het géén idee hoeveel designer brand items daar in my tas is nie.” Dan draai sy na Tara wat skuins agter ons langs Adriana en Caleb sit. “Dis natuurlik behalwe my Tommy Hilfiger-boots wat jy uitgehaal het,” sê sy verwytend.
Nomsa het soort van ’n klerekrisis gehad net voor ons uit Bospoort weg is, en sy’s nou nog vies vir Tara en Leonardo wat goed uit haar tas gehaal het omdat dit twee kilogram te swaar was.
Ek moet sê, ek is nou self spyt ek het nie boots ingepak nie. Dit sous al vandat ons by Dublin-lughawe weg is. Oral waar jy kyk, is dit nat. En natuurlik alle skakerings van groen.
Nadat ons van die M1 afgedraai het, ry ons op die besige M50 al om die stad suidooswaarts. Dis hoe Aeden, ons bussie se drywer, in ’n swaar Ierse aksent beduie het. Ek skat hom so in sy dertigs en toe hy hom aan ons voorgestel het, het hy gesê hy is oom Séamus se estate manager, whatever dit beteken.
Terwyl ons suid van Dublin teen die kus af ry verby dorpies soos Bray, Greystones en Wicklow, word die reën en wind al hoe erger.
“Hoe lank nog, Tara?” roep Nomsa bo die gedruis van die reën uit. “Ek’s dors. En moeg gesit.”
Ek kyk om. Tara staar met ’n klipgesig deur die ruit langs haar.
“Hey, earth to Tara, ek vra hoe lank …”
“Tien minute,” val Tara haar kortaf in die rede. “We’re almost at Dunbur Head where the castle is.”
“Dit moet weird wees om in ’n kasteel te bly.” Nomsa frons. “Ek hoop hulle fumigate die plek darem nou en dan. Dink net hoeveel prehistoric goggas kruip in so ’n ou plek weg.”
“En spoke,” voeg Leonardo van die voorste sitplek af by. “Hulle sê kasteelspoke hou niks van mense nie. Hulle vang nie so lekker dat hulle dood is en die kasteel nie meer aan hulle behoort nie. Hulle is so organised, hulle spook in skofte – party in die dag en ander …”
Die volgende oomblik trap Aeden so hard rem dat ons aan mekaar moet vasgryp om nie vooroor te val nie. Deur die reënvlae kan ons voor ons net-net die boom wat oor die pad geval het, uitmaak.
“Die wind moes dit omgewaai het nadat ek hier verby is,” sê Aeden terwyl hy sy selfoon uithaal. Hy kyk na die selfoon en skud sy kop. “Geen sein nie. Damn. Ek wou ’n boer hier naby bel om die boom met sy trekker te kom wegsleep.”
“Wel, ons kan altyd self probeer om dit uit die pad te kry,” sê Leonardo.
“Dié boom? Jy maak seker ’n grap,” sê Aeden. Hy trek sy oë op skrefies. “Séamus het gesê julle Nuweling-Bewakers is besonders, maar as julle dié boom uit die pad kry, vat ek julle pub toe en koop vir julle elkeen ’n Guinness.”
Jeez, as my ma hoor Aeden wil ons kroeg toe vat en vir ons bier koop, gaan sy dit vir seker verloor. Maar nou ja, Mother Dearest hoef seker nie alles te weet nie? Anyway, die boom het nie ’n kans teen ons kickass Bewakers nie. Ek vat die deur se handvatsel vas. “Komaan, wie gaan my join?”
“Met dié skoene in daai modder? You must be joking,” sê Nomsa dadelik.
“Daar’s waterdigte mantels onder die sitplekke,” sê Aeden.
Op die ou end is dit ek, Leonardo en die tweeling wat saam met Aeden die boom aandurf. Seepgladde modder waarin jy nie kan vastrap nie, wind wat aanhoudend reën in jou gesig waai en takke wat breek as mens die boom daaraan probeer trek, maak dat dit toe nie so maklik is as wat ek verwag het nie.
Moet ek en Tara kom help? sein Adriana naderhand vanuit die bussie.
Nee, ons is amper …
Ek hou op sein toe ’n boom reg langs die bussie skielik soos ’n Kersboom begin blink. Weerlig verf ligstrepe teen die stam en takke en die knetterende lug ruik na elektriese drade wat brand. Die res gebeur in slow motion: die knal, die helse tak wat afskeur en op die bussie se dak afpyl.
“Nee!” My hande vlieg vanself in die rigting van die tak, ’n millisekonde voor dit die bussie se dak tref. Takke steek my arms stukkend en skurwe bas skuur my hande velaf. Die gewig van die tak laat my armspiere brand. Met my laaste krag beweeg ek my hande na links en die tak skuur oor die bussie se dak en val met ’n dowwe slag aan die ander kant op die pad.
“Blimey!” roep Aeden uit.
“Wow, dis freaking awesome!” Caleb kyk na my, sy reguit swart hare teen sy kop vasgeplak. Sy oë blink. “Telekinese!”
Tele-wat? Ouch. My skouers pyn en my armspiere bewe. Ek kyk af na my hande. Dis weird. Behalwe dat hulle vol modder is, is hulle glad nie stukkend geskuur nie. Asof ek nie regtig aan die boomtak geraak het nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.