Nelia Engelbrecht

Die Poort 4: Krygers


Скачать книгу

daar in te kom, moet jy die regte toegangskaart hê.”

      Ek lig my wenkbroue. “Ek neem aan jy het dit?”

      “Jip, ek het gedink my oupa sal nie omgee as ons dit bietjie leen nie. Maar voor ons gaan party, gaan ons eers gondel ry.”

      ’n Entjie verder wieg ses swart gondels wat aan houtpale vas is, sag op die water. Die gondeliers, met hulle swart langbroeke en wit-en-swart-gestreepte T-hemde, staan eenkant en gesels. Twee van hulle kom nader toe hulle ons sien en groet vir Leonardo asof hulle ou pelle is.

      “Right, julle vier lovebirds kan saam met Guiseppe gaan,” sê Leonardo. “Tara, jy en Kali kom saam met my. Antonio is ons gondelier.”

      Die kort, stewige Italianer lig sy pet en groet voor ons hom tot by een van die gondels volg. Terwyl hy die gondel losmaak en met ’n roeispaan van die kant af wegstoot, trek Mr Wikipedia los.

      “’n Gondel is omtrent 11 meter lank en weeg 600 kg,” vertel Leonardo. “Die ouens bou dit van hout in fabrieke wat ons squeri noem. ’n Paar honderd jaar gelede was daar omtrent 10 000 gondels op die water, maar nou is daar net so 500. Die gondels is actually net daar om toeriste af te rip – die locals ry met vaporetti wat gewone bote is, of met traghetti wat amper soos groot nie-so-grand-gondels lyk en twee roeiers het.”

      Die gondel met Nomsa, die tweeling en Adriana, gly skuins voor ons oor die water. Die nag ruik na nat koue en donker skadu’s.

      Antonio buk toe ons onder ’n lae brug deur vaar. Dan is ons saam met ’n paar ander bote en gondels in die Groot Kanaal. Weerskante van die kanaal weerkaats die ligte van geboue en straatlampe op die water.

      Leonardo beduie na ’n groot brug ’n ent vorentoe. “Dit is die Ponte di Rialto. Dis in 1591 gebou en was vir driehonderd jaar die enigste brug oor die Groot Kanaal.”

      Ons is in ’n gondel op Venesië se Groot Kanaal en netnou gaan ons onder die Rialto-brug deur vaar. Hoekom is my hart dan so swaar? Is dit omdat ek alleen op ’n bankie sit terwyl Tara en Leonardo langs mekaar op die oorkantste bankie sit en gesels? Of omdat die twee couples in Guiseppe se gondel hande vashou?

      Hart-seer verdof die prentjiemooi toneel voor my. Ek wens Zak was hier. My liewe Zak met sy heuning-en-sonlig-oë en sy rooibruin kuif. My kleintydse speelmaat wat al so lank my hart in sy hande hou.

      Ek sluk en knip my oë. As ons nie Bewakers was nie en daar nie goed soos Poorte en Ander was nie, het Zak dalk nou saam met my na die Rialto-brug gestaar terwyl Venesië se ligte om ons op die water wieg.

      Ek vat aan my nek. Ouch. Brand die merk nou al as ek net aan Poorte en Ander dink?

      Something is wrong, sein Tara ’n sekonde voor twee motorbote naderdreun en voor ons gondalas insny. Die bote se enjins veroorsaak golwe wat tot in die gondels slaan. Ons gondelier roep uit en swaai sy vuis in die rigting van die naaste boot.

      Vure slaan oral op my lyf uit en verander my bloed in lawa. Ek staar deur ’n rooi waas na die mans met hulle swart klere. Een van hulle het ’n lang, wit poniestert. Hy glimlag smalend terwyl hy sy laserpistool lig.

      Dis Chanda-Mundia en die bek van sy pistool wys na ’n plek tussen my oë.

      8

      Ek gee twee supervinnige treë. Trap vas. Spring. Vir ’n millisekonde hang ek oor die donker water. Weerlig tref my linkerskouer. Pyn skiet deur my arm, my nek. Dan tref ek hom en hy val agteroor. Ek land bo-op hom.

      Leonardo se uitroepe vul my kop. Bewegings flits om my. Die boot kantel. Ek gryp na die pistool wat tussen die twee sitplekke lê. Dis koud en hard tussen my vingers. Ek swaai my arm. Bloed spuit toe die pistool Chanda-Mundia se neus tref. Swart spikkels dans om my toe ek regop kom.

      Meteens gryp iemand my van agter. Die vuur in my skouer word rooiwarm woede. Ek skop agtertoe. Daar’s ’n uitroep toe my hak been tref. Die arms om my verslap. Chanda-Mundia se oë is koue staal toe hy met ’n bebloede gesig regop kom. Ek systap toe hy storm, gryp na hom en gebruik sy momentum om hom in die Ander skuins agter my vas te gooi.

      Die twee se hande gryp in die lug voor hulle oor die kant van die boot tuimel. My bene bewe en die wêreld draai en dein om my. Ek sak op my knieë neer. Nee. Moet regop kom. Die ander help. Waar’s hulle?

      “Kali, ons moet Reis!” Ek lig my kop. Leonardo se gesig is sentimeters bokant myne. Sy arms vou om my. Lig my op. Ek ruik staal wat gesweis word. Dan word alles wit en stil. Ons is in die Portaal. My oë wil nie oop bly nie. Swart skaduwees flits tussen wit repe mis. Mense beweeg, buk oor my. Stemme. Vrae. Ek wil antwoord, maar my tong is te swaar.

      “Heel jouself, Kali!”

      Ek lig my gesonde arm. My vingers vind die nat warmte van bloed. Glibberige vleis. Brandreuk.

      Leonardo praat iewers bokant my. “Is almal oukei? Nomsa?”

      Ek moet yssplinters bymekaarmaak. Na die wond stuur. Dit werk nie. Die vuur in my skouer laat hulle smelt.

      “Oee, she’s bleeding terribly … ek dink ek gaan naar word …”

      Nomsa se stem is ’n tou waaraan ek vir ’n oomblik vashou. Dan gly dit uit my hande en ek tuimel saam met ’n wit gletser ondertoe. Die sneeu ruik na blou ysblokkies. Iets sis, soos ’n warm pan in koue water. Die vuur in my skouer word gloeiende kole. Dan wit as. My hart skop teen my ribbes. So moeg.

      Tara se hare raak aan my wang. “It’s working, Kali!”

      “Ons is daar!”

      Dit was Caleb se stem. Ek maak my oë oop. “Leonardo?”

      “Ek’s hier, cara mia. Hoe voel jy?”

      “Beter …” Ek draai my kop. “Waar’s ons?”

      “In die tuin agter die hotel,” antwoord Adriana. My nagvisie skop in en bokant my herken ek Caleb se gesig langs hare. Of is dit Jason?

      “Jason is by Nomsa,” sê Leonardo. “Sy gooi op. Sy het ’n harde hou teen haar kop gekry.”

      Harsingskudding. Ek moet haar Heel.

      Later, jy moet eers self heeltemal regkom, sein Leonardo.

      Jy’s in my kop, sein ek terug.

      Hy ignoreer my beskuldiging. As jy vanaand … Sy oë blink nagswart in sy bleek gesig. Ek sou myself nooit vergewe het nie.

      Ek sit regop. Die beweging laat ’n warm pyl deur my skouer skiet. “Die gondeliers … is hulle oukei?”

      “Ja, hulle het in die kanaal geduik en weggeswem toe hulle sien wat gebeur,” antwoord Adriana.

      “En die Ander?”

      “Die donners het weggekom.” Daar is klippe in Leonardo se stem. “Hulle het Gereis toe hulle sien Chanda-Mundia val oorboord.”

      “Wow, jy’t soos ’n pro geveg,” sê Caleb. “Jy moes daai dude se gesig sien toe jy bo-op hom spring.”

      “Hoekom het jy?” vra Tara dan.

      “Ja, Kali, hoekom het jy?” In plaas van geworried en skuldig, lyk Leonardo nou skielik erg pissed. “Het jy ’n freaking death wish of wat?”

      Jeez, waar’s die cara mia nou heen? Ek frons en lek oor my droë lippe. “Ek … al waaraan ek kon dink, was om hom te stop voor hy op ons begin skiet.”

      “Jy kon dood gewees het,” sê Tara, haar oë groot.

      Voor ek kan reageer, storm Nomsa nader en kniel langs my. “Oh. My. Word. Ek het gedink jou arm is morsaf. Mind you, dit het gelyk of dit nog net aan ’n stuk vel hang. Shame, dit sou absolutely awful gewees het as jy vir die res van jou lewe met net een arm …”

      “Nomsa!” raas Tara. “Don’t be so grim. Anyway, dit was haar skouer, nie haar arm nie.”

      “Hoe voel jou kop? Moet ek jou Heel?” vra ek.

      Nomsa sit haar