Скачать книгу

oopte in die middel lê vyf draagbare, en by twee daarvan is die helderrooi komberse oor die mans daarop se gesigte getrek. Die ander drie mans se gesigte lyk asof dit met meel bestuif is.

      “Twee,” brom Jak. “Tot dusver.”

      Die stasie is ’n deurmekaarspul van manne wat doelloos rondmaal. Elke nou en dan kom nog van hulle met die vervoerweë langs, namate hulle onttrek word uit die onbeskadigde werkgange wat nou ook as potensieel gevaarlik beskou word.

      Jak kyk vinnig om hom heen, en herken een van sy mynkapteins.

      “McGee,” roep hy, “vat oor hier. Laat hulle in rye sit, gereed om gelaai te word. Ons begin dadelik hierdie skof boontoe vat. Gaan na die hyskamer toe en sê vir hulle ek wil die draagbaargevalle eerste uit hê.”

      Hy wag lank genoeg om te sien dat McGee beheer oorvat, en kyk op sy horlosie. Vier minute voor drie. Hy besef verbaas dat daar net 26 minute verbygegaan het sedert hy die drukbars in sy kantoor gevoel het.

      McGee skep ’n mate van orde op die stasie. Hy skree in die hyskamertelefoon, en op grond van Jak se gesag eis hy voorrang om stasie 95 te ontruim.

      “Reg,” sê Jak. “Komaan.” En hy vat die voortou in die vervoerweg in.

      Die stof is dig. Hy hoes. Die rotsdak is laer hier. Toe hy weer begin loop, dink hy daaraan dat daar miljoene tonne rots bokant hulle hang.

      Die vervoerweg vertak en sonder huiwering kies Jak die regterkant. Hy het ’n akkurate driedimensionale kaart van die ganse myn in sy kop, die 283 kilometer se tonnels wat Sonderkloof se operasionele gebied uitmaak. Die vervoerweg kom by ’n T-aansluiting; die sywaartse arms is laer en nouer. Regs na seksie 42, links na 43. Die stof is nou so dig dat jy skaars drie meter ver kan sien. Dit hang swaar in die lug en sink byna onmerkbaar na benede.

      “Ventilasie is uitgeskakel hier,” roep hy oor sy skouer. “Van den Bergh!”

      “Ja, meneer.” Die noodspan se leier kom tot by hom.

      “Ek wil lug in hierdie strekgang hê. Kry dit aan die gang. Gebruik seilpyp as jy moet.”

      “Reg so.”

      “Dan wil ek druk op die waterslange hê om hierdie stof te laat neerslaan.”

      “Reg.”

      Jak draai in die tonnel in. Hier is die vloer ongelyk en hulle vorder stadiger. Hulle kom op ’n ry koekepanne vol gouderts af wat in die middel van die strekgang agtergelaat is.

      “Kry hierdie goed uit die pad uit,” gelas Jak en loop verder.

      Vyftig tree later steek hy vas. Hy voel hoe die hare op sy voorarms orent staan. Hy kon nog nooit aan die geluid gewoond raak nie, dit maak nie saak hoeveel keer hy dit al gehoor het nie.

      Dis die geluid van ’n uitgegroeide man, met sy bene vergruis onder honderde ton klip, sy ruggraat dalk gebreek, stof wat hom versmoor, en ’n kop wat uitgehaak het oor die doodsangs van die omstandighede waarin hy vasgevang is, wat roep om hulp, wat sy God aanroep, wat roep na sy vrou, sy kinders, of sy ma.

      In die mynwerkers se doelbewus onverskillige taal noem hulle hulle “kermgatte”.

      Jak begin weer vorentoe beweeg, en die geluid raak harder, angswekkend, skaars menslik. Dit snik en brabbel en raak dan stil, net om weer met ’n bloedstollende kreet te begin.

      Meteens is daar mense in die tonnel voor Jak, donker figure wat in die stofmis skuifel. Hulle koplampe gooi strepe geel lig, grotesk en verwronge.

      “Wie’s daar?” roep hy.

      Hulle herken sy stem. “Dankie Vader, dank Vader dat jy gekom het, meneer Stapelberg.”

      “Wie’s julle?”

      “Barnard.” Seksie 43 se skofbaas.

      “Wat’s die skade?”

      “Die werkgang se hele rotsdak het ingefoeter.”

      “Hoeveel man het daar gewerk?”

      “Twee-en-veertig.”

      “Hoeveel is nog binne?”

      “Sover het ons sestien ongedeerd uitgekry, twaalf met ligte beserings, drie draagbaargevalle en twee dooies.”

      Die kermgat begin weer, maar sy stem is nou baie swakker.

      “En hy?” vra Jak.

      “Hy het twintig ton klip op sy heupe. Ek het hom twee dosisse morfien gegee, maar dit hou hom nie stil nie.”

      “Kan mens in die werkgang inkom?”

      “Ja, daar’s ’n plek waar jy kan deurkruip.” Barnard skyn sy lamp oor die hoop gebreekte blou kwartsiet wat die strekgang blokkeer, soos ’n tuinmuur wat omgeval het. Aan die bokant is ’n opening groot genoeg vir ’n foksterriër om deur te hardloop. Ligstrale skyn in die gat, en van die ander kant af kom die skuurgeluide van voete oor los klip en mans se gedempte stemme.

      “Hoeveel man het jy wat daar binne werk, Barnard?”

      “Ek …” Barnard huiwer. “Ek dink omtrent tien of twaalf.”

      Jak kry die man se oorpak beet en ruk hom byna van sy voete af.

      “Jy dínk!” In die koplamp is sy gesig wit van woede. “Jy’t manne daar laat ingaan sonder om te tel hoeveel daar is? Jy het twaalf van my manne ingestuur om nege te probeer red?” Met inspanning lig Jak die skofbaas skoon van die grond af op, swaai hom teen die strekgang se muur en druk hom daar vas.

      “Jou vreksel, jy weet goed die meeste van daardie nege is al moer toe. Jy weet daai werkgang is ’n doodsakker, en jy stuur nog twaalf in om ook te vrek, en jy tel nie eens hoeveel daar is nie! Hoe de hel sal ons ooit weet na wie ons moet soek as die rotsdak weer inval?”

      Hy laat los die skofbaas en staan agteruit. “Kry hulle daar uit, ontruim die werkgang.”

      “Maar, meneer Stapelberg, die hoofbestuurder is daar binne, meneer Lemmer is daar binne. Hy het die werkgang kom inspekteer.”

      Vir ’n oomblik is Jak uit die veld geslaan, dan snou hy die man toe: “Ek gee nie ’n hel om of die staatspresident daar binne is, kry almal uit die werkgang uit. Ons gaan van voor af begin, en hierdie keer doen ons dit behoorlik.”

      Binne minute is die reddingspan teruggeroep, hulle kom deur die opening gepeul, wit van die stof soos larwes wat uit vrot kaas borrel.

      “Reg,” sê Jak. “Ek sal vier man op ’n slag waag.”

      Vinnig kies hy vier van die meelwit figure, onder meer ’n enorme kêrel met ’n spanleier se bronskenteken op sy regterskouer.

      “Grootbul, is dit jy?” Jak praat in Fanagalo, die omgangstaal wat mans van ’n dosyn volkere in staat stel om in die myne te kommunikeer.

      “Ek is hier,” antwoord Grootbul.

      “Wil jy nog toekennings hê?” ’n Maand tevore is Grootbul omtrent sestig meter ver met ’n tou in ’n vertikale ertsglybaan af laat sak om ’n mynwerker se lyk te gaan haal. Die maatskappy se beloning vir sy dapperheid het honderd rand beloop.

      “Wie praat nou van toekennings as die aarde mense se vlees gevreet het?” berispe Grootbul hom sag. “Maar vandag is sommer kinderspeletjies. Kom die grootbaas in die werkgang in?” Dis ’n uitdaging.

      Jak se plek is nie onder in die werkgang nie. Hy is die organiseerder, die koördineerder. Tog kan hy nie die uitdaging ignoreer nie, geen werker sal glo dat dit enigiets behalwe vrees is wat hom laat terugstaan terwyl hy ander manne instuur om hulle lewe te waag nie.

      “Ja,” sê Jak, “ek kom.”

      Hy lei hulle binnetoe. Die gat is net-net groot genoeg vir Jak se groot lyf. Hy bevind hom in ’n opening so groot soos ’n slaapkamer, maar die dak is net meer as ’n meter hoog. Hy laat sy lamp oor die rotsdak gly, en dit lyk sleg. Die klip is gekraak en lelik – as dit só lyk, noem die manne dit