Скачать книгу

’n spogmotor. Iemand het ’n rooi kombers oor sy bolyf gegooi. Hy is nou stil, lê roerloos. Maar toe die skynsel van Jak se lamp op hom val, lig hy sy kop. Sy oë is waansinnig, onsiende, pienk in die blinkswart gesig. Hy begin skree, maar skielik word die klank verswelg deur ’n stuwing rooiswart bloed uit sy mond.

      Terwyl Jak in afgryse toekyk, krul die man en gooi sy kop agteroor, sy mond gapend soos ’n Middeleeuse dakspuier, en nog lewensbloed vloei uit hom. Dan sak sy kop stadig af en sy gesig val skeef. Jak kruip na hom toe, lig sy kop op en druk ’n stuk kombers daaronder in.

      Daar is bloed op sy hande en hy vee dit teen sy oorpak se voorkant af. “Drie,” sê hy, “tot dusver.”

      Hy laat die sterwende man agter en kruip na die ingevalle wand toe. Grootbul kruip langs hom met twee koevoete. Hy gee een vir Jak.

      Binne ’n uur raak dit ’n kompetisie, ’n kragmeting tussen die twee manne. Agter hulle gee drie ander mans die klippe aan wat Jak en Grootbul van die wand af loswerk. Jak besef hy is kinderagtig, hy behoort terug by die hoofvervoerweg te wees om nie net die reddingspoging te organiseer nie, maar al die ander besluite te neem en alternatiewe reëlings te tref wat nou nodig is. Die maatskappy betaal hom vir sy breinkrag en ervaring, nie vir sy spiere nie.

      Te hel daarmee, dink hy. Selfs al moet ons vanaand se afskieting kanselleer, bly ek net hier.

      Hy loer na Grootbul, en strek om sy hande op ’n groter stuk rots te kry wat in die gleuf vassit. Hy span hom in, eers met sy arms, en dan sit hy sy hele lyf daarin – die klip is stewig vas. Grootbul sit sy groot hande op die klip en hulle rem saam daaraan. Kleiner klippers spat toe die blok loskom, en hulle stoot hom tussen hulle deur agtertoe en glimlag vir mekaar.

      Teen seweuur onttrek Jak en Grootbul van die werkgang af om te rus, toebroodjies te eet en koffie uit ’n termosfles te drink, terwyl Jak met Dimitri praat oor die veldtelefoon wat teen die rotswand aangelê is.

      “Ons het die skofte in albei skagte onttrek, Jak, die werkplek is skoon om te skiet. Behalwe natuurlik vir julle spul, daar’s 58 van julle in seksie 43.” Dimitri se stem is bewerig oor die veldtelefoon.

      “Hou bietjie aan.” Jak oordink die situasie. Hy doen sy berekeninge stadiger as gewoonlik, want hy is moeg – emosioneel en fisiek uitgeput. As hy die ontploffings in albei skagte aflas uit vrees dat dit meer rotse in seksie 43 sal laat instort, sal dit die maatskappy ’n dag se produksie kos – 10 000 ton se gouderts teen R16 per ton. Dit is ’n formidabele bedrag van R160 000, £80 000 of $200 000, hoe jy ook al daarna wil kyk.

      Dis hoogs waarskynlik dat elke man in die werkgang reeds dood is, en die oorspronklike drukbars het die druk in die grond bo en rondom vlak 95 laat skiet gee, dus is daar min gevaar van verdere skuddings.

      Daarteenoor kan iemand dalk tóg nog daar onder lewe, iemand wat in die warm baarmoeder van die werkgang lê met ’n klomp druiwetrosse wat oor sy weerlose liggaam hang. As hulle ál die plofknoppies in die Sonderkloof-myn druk, skiet hulle agttien ton Dynagel af. Die skop is geweldig en sal daardie druiwe laat val.

      Jak neem sy besluit. “Dimitri, skiet al die langfronte in die nommer 2-skag om presies 07:30.” Die nommer 2-skag is drie myl weg. Dit sal die maatskappy R80 000 spaar. “Dan, presies elke vyf minute, skiet die suid-, noord- en westelike langfronte hier in die nommer 1-skag.” As hy die ontploffings versprei, sal dit die skok verminder, en dit sit nog R60 000 in die aandeelhouers se sakke. Die totale finansiële verlies weens die ongeluk sal dus sowat R20 000 beloop. Eintlik nie te sleg nie, dink hy sardonies, bloed is goedkoop. Jy kan dit vir drie rand ’n liter by die bloedoortappingsdiens koop.

      Hy staan op en wring sy seer skouers. “Ek trek almal terug na die skagpilaar toe terwyl ons skiet.”

      5

      Ná die reeks aardskuddende ontploffings vat Jak die manne terug na die werkgang. Teen negeuur herwin hulle twee masjienbedieners se lyke wat teen hulle eie rotsboor se metaal vergruis is. Drie meter verder kry hulle nog ’n mynwerker, sy lyf ongedeerd, maar sy kop platgedruk.

      Teen elfuur kry hulle nog twee masjienbedieners. Jak is in die vervoerweg toe hulle die lyke deur die smal opening sleep. Hulle lyk skaars na mense, dis net hompe rou vleis wat in die grond gesmeer is.

      Kort ná middernag gaan Jak en Grootbul weer na die werkgang toe om oor te neem by die manne aan die wand, en twintig minute later breek hulle deur ’n muur van los rotse in nog ’n kamer in wat op wonderbaarlike wyse heel gebly het.

      Die lug daarbinne stoom van die hitte. Jak deins instinktief terug van die vuil, bedompige vlaag teen sy gesig. Dan forseer hy hom om vorentoe te kruip en by die opening in te loer.

      Drie meter van hom af gewaar hy Frank Lemmer, Sonderkloof-myn se hoofbestuurder. Hy lê op sy rug. Sy helm is van sy kop af gestamp en daar is ’n diep sny bokant sy oog. Bloed uit die wond het in sy silwer hare ingeloop en swart saamgekoek. Hy maak sy oë oop en knip hulle soos ’n uil vir die helderte van Jak se lamp. Jak swaai vinnig die ligstraal weg.

      “Meneer Lemmer,” sê hy.

      “Wat de hel dink jy doen jy by die reddingspan?” blaf Frank Lemmer. “Dis nie jou werk nie. Het jy in twintig jaar se mynwerk nie ’n enkele bliksemse ding geleer nie?”

      “Is als reg, meneer?”

      “Kry ’n dokter hier. Hy sal my moet lossny van hierdie besigheid af.”

      Jak skuifel nader, dan sien hy wat die baas bedoel het. Van sy elmboog af is sy arm onder ’n soliede rotslaag vasgepen. Jak voel aan die rots. Dit sal plofstof vat om dit te skuif. Soos gewoonlik is Frank Lemmer reg.

      Jak wikkel terug uit die opening uit en roep oor sy skouer: “Kry die telefoon hier.”

      ’n Paar minute later kom hy deur na die stasie op vlak 95 wat as noodhulppos en rusplek vir die reddingswerkers ingerig is.

      “Dis Stapelberg. Kry vir my vir dokter Stander.”

      “Hou aan.”

      Dan, oomblikke later: “Hallo, Jak, dis Daniël.”

      “Jis, Daniël, ons het die ou man gekry.”

      “Hoe gaan dit met hom? Is hy by sy positiewe?”

      “Ja, maar hy’s vasgepen – jy sal moet kom sny.”

      “Is jy seker?” vra Daniël Stander.

      “Natuurlik is ek seker,” snou Jak.

      “Stadig nou, ou kêrel,” vermaan Daniël hom.

      “Jammer.”

      “Nou ja, waar’s hy vasgepen?”

      “Arm. Jy sal hom bokant die elmboog moet afsit.”

      “H’m, tog te lekker,” merk Daniël op.

      “Ek wag hier vir jou.”

      “Goed so, ek sal so oor vyf minute daar wees.”

      6

      “Dis snaaks, jy sien hulle keer op keer so sny, maar jy’s seker dit sal nooit met jou gebeur nie.” Frank Lemmer se stem is rustig en sterk. Die arm moet sy gevoel verloor het, dink Jak terwyl hy langs sy baas in die werkgang lê.

      Die man draai sy kop na Jak toe. “Hoekom gaan boer jy nie, ou seun?”

      “U weet hoekom.”

      “Ja.” Lemmer glimlag effens, net ’n trekking van sy lippe. Met sy los hand vee hy sy mond af. “Jy weet, ek het nog net drie maande voordat ek aftree. Ek het dit so byna gemaak. Jy sal ook nog in hierdie posisie beland, boet, in die grond met jou bene verbrysel.”

      “Dis nie die einde nie,” sê Jak.

      “Is dit nie?” Hierdie keer grinnik hy. “Is dit nie?”

      “Wat’s die grap?” vra Daniël Stander, en kyk deur die opening na hulle.

      “Genade, dit het jou lank