Malene Breytenbach

Hartklop Omnibus 4


Скачать книгу

Sy sluip na die balkondeur, maak oop en loer uit. Laas keer het sy hom gehoor, maar nie gesien nie. Dié slag maak sy uit dat ’n figuur in die skadu’s staan, onder een van die groot bome oorkant die inrit. In die nagstilte klink die lied hard. Kan hy sien sy maak die deur oop en loer uit? Daar is vanaand helder maanlig.

      As sy buite op die balkon gaan staan, sal dit vir hom soos aanvaarding en goedkeuring van sy hofmakery lyk. Sy wag dat hy klaar sing. Die skaduwee verdwyn en stilte daal. Die ander mense moes dit tog kon hoor? Wat op aarde dink hulle daarvan? Die contessa en Violetta slaap vanaand oor. Maria is in ’n ander vleuel, maar sê nou net sy hoor dit? Rafaella kreun. Wat sou Giulio dink? Dat hy maar weer moet agteruitstaan vir sy broer?

      Nee, sy gaan Luigi vra om asseblief nie weer vir haar te kom serenade nie. Sy sal hom sê om nie die aandkoue te trotseer nie, dit kan gevaarlik wees vir sy stem. As enigiets hom sal afskrik, sal dit só ’n waarskuwing wees.

      Rafaella is verlig toe die contessa en Violetta die volgende oggend weer in hul groot, goue motor vertrek. Giulio is weg na sy praktyk en sy wens sy kon weer saamgegaan het.

      Sy dwaal rond voor middagete. Geniet die tuin, hou die werkers dop, dié wat bou en dié wat oes. La Renza is eintlik ’n besige plek. Sy gaan vra hoe dit met Franco, die man wat sy vinger beseer het, gaan. Hy is weer op die perseel, sy hand in ’n verband. Hy bedank haar vir haar hulp.

      “Grazie! Grazie, dottore! Ek kan darem toesig hou. Die vinger sal gou gesond word.”

      “Prego, dit was niks. Wees net voortaan versigtig,” vermaan sy met ’n glimlag.

      Hulle kom vir middagete bymekaar en ook Maria en Mimi is daar, met die hondjie, maar Luigi is afwesig.

      “Waar is Luigi dan?” wil Maria weet.

      Louisa frons bekommerd. “Hy is in die bed. Hy dink hy’s besig om verkoue te kry.”

      “Ag nee!” roep Maria dramaties, asof dit iets ernstigs is.

      Rafaella voel onmiddellik skuldig. Hy het sowaar koue gevat van in die nag serenade. Sy wou hom ewe “waarsku” om hom af te sit, maar sy het nie gedink dit sal regtig gebeur nie!

      “Giulio het vir hom medisyne gestuur,” sê Louisa.

      Sy kyk na Rafaella, maar nie verwytend nie. Waarskynlik weet sy nie van die nagtelike sang nie.

      “Sal jy omgee om Luigi ná ete te gaan ondersoek, Rafaella? Jy weet, verkoues is iets wat sangers vrees.”

      “Sekerlik. Wys my net waar sy kamer is.” Rafaella kan skaars weier, maar sy is werklik teensinnig. Dis gans te intiem, so na die man se kamer.

      “Hy was gisteraand nog piekfyn,” sê Maria agterdogtig. “Hoe kan hy nou skielik verkoue wees?”

      Rafaella wissel ’n vinnige blik met haar ouers. Hulle het natuurlik die serenade gehoor.

      “Mens kan oornag verkoue opdoen,” sê Rafaella.

      “Ek sal hom ook gaan sien,” sê Maria. “Mimi het ’n konkoksie met heuning en brandewyn wat sy altyd vir my maak. Dit doen wondere. Sy kan dit vir Luigi ook maak. Hy moet in die bed bly totdat die gevaar verby is.”

      Dié mense se stemme definieer hulle. Dit is die spil waarom hul lewens draai, dink Rafaella pligmatig. Sy moet simpatie daarmee hê en nie dink hulle is bespotlik ipekondries nie.

      “Ek is seker ons sal hom gou gesond kry,” troos sy.

      Louisa lyk ongerus. “Luigi is so versigtig. Toe Francesco so siek geword het, het hy eers gedink hy het brongitis, toe laringitis, maar uiteindelik was dit iets veel erger.”

      Natalia kom by die deur uit en kondig aan dat die middagete gereed is. Hulle gaan in. Aan tafel voel Rafaella heeltyd Maria se oë op haar, maar sy vermy oogkontak. Vermoed Maria iets?

      Hulle is byna klaar geëet toe Maria se stem skerp opklink. “Het ek nie gisteraand vir Luigi buite hoor sing nie? Of het ek gedroom?”

      Rafaella versteen, sê niks.

      “Ek het niks gehoor nie,” sê Louisa, haar wenkbroue gelig. “Hy sal mos nie sommer buite gaan sing nie, sal hy? Dit sou mos doodsveragtend wees.”

      Rafaella voel ’n blos van verleentheid in haar nek opkruip en sy loer na haar ouers. Hulle sit doodstil, asof hulle van niks weet nie.

      “Ons het laat gesit en gesels, ek en Luigi en Giulio en Violetta,” sê Maria. “Ons het seker saam ’n hele bottel port gedrink. Toe gaan slaap ons. Dit was net ná een. Ek kan nie dink dat Luigi toe sou uitgaan nie, tensy …”

      Sy gluur Rafaella aan, maar sê niks verder nie. Is dit iets wat hy met vroue doen en Maria weet daarvan, wonder Rafaella verskrik. Is dit ’n gewoonte van hom om vroue te verlei? Dit ontstel haar dat hy dit met háár ook probeer, maar dit ontstel haar meer dat die vier saamgekuier het nadat sy en die ander weg is. Knus bymekaar. Giulio en Violetta. In haar verbeelding sien sy hulle teen mekaar sit. Hoe hulle liggies aan mekaar raak. Hoe haar oë skitter van verliefdheid.

      “Dit is seker die drank se invloed wat Luigi laat sing het,” merk Louisa droog op. “Maar ek dink jy verbeel jou dat dit buite was, Maria.”

      Louisa neem Rafaella onmiddellik ná ete na Luigi se suite in die vleuel waar die Di Mareneschi’s tuisgaan. Dit is besonder weelderig, met dik matte in lang gange en pragtige skilderye aan die mure, asook foto’s van die familie, meestal van Francesco en Luigi in ’n verskeidenheid operarolle. Rafaella verwonder haar aan alles.

      Luigi se suite is soos sy verwag het dit sal wees. Dis luuks gemeubileer in skakerings van blou en grys. Die gordyne is van koningsblou fluweel, teruggebind met sykoord, sodat die son deur kantgordyne gefiltreer word. Daar is blomme op ’n laaikas en op tafels. Aan die mure is nog foto’s van Luigi in operarolle. Rafaella wonder of hy dan nie genoeg van homself te siene kan kry nie. Alles spreek van ’n enorme ego. Die groot bed waarop hy koninklik lê, is werklik soos dié van ’n vors. Hy het nie slaapklere aan nie, maar gewone dagklere, maar om sy keel is ’n wit wolserp sorgsaam gedraai. Langs hom op die bed lê bladmusiek. Dit lyk asof hy besig is om ’n rol in te studeer.

      “Rafaella kom jou ondersoek, caro,” sê Louisa.

      Hy gee ’n kuggie. “Dankie. Ek voel regtig olik.” Hy kyk onderlangs, bykans skelm, na Rafaella. Oordryf ’n martelaarshoudinkie.

      “Het jy Giulio se medisyne gedrink, caro?” vra Louisa besorg.

      “Ja, Mamma, maar dit help nog glad nie.”

      Rafaella tree nader aan die bed. “Sit op die rand en maak jou mond oop sodat ek jou keel kan ondersoek.”

      Hy gehoorsaam. Sy voete is gehul in dik sokkies, sien sy. Ongelukkig moet sy byna teenaan hom gaan staan en hy lyk sowaar asof hy haar nog nader wil trek, steek een hand na haar uit.

      “Maak asseblief jou mond oop, Luigi.”

      Hy maak oop en sy moet sy ken met haar vinger lig sodat sy behoorlik kan inloer. Gelukkig staan Louisa nog daar, anders sou hy dalk vatterig geraak het. Tog voel Rafaella hoe skuif hy sy been skelmpies om hard teen hare te druk. Vabond, dink sy, maar hou haar kalm, maak of sy niks agterkom nie.

      “Dit lyk nie sleg nie,” troos sy, maar sy sien die keel is wel ’n bietjie rooi. Sy voel weerskante van sy nek. “Jy het nog jou mangels, nè?”

      “Ja.” Sy oë word groot. “Is hulle ontsteek?”

      “Ek het ongelukkig nie my instrumente om diep in jou keel en in jou ore te kyk nie, maar dit lyk nie so nie. Hoe lank is jou keel al seer?”

      “Sedert gisteraand.” Hy kyk betekenisvol, beskuldigend na haar.

      “Jy het nie koors nie. Is jou nek styf?” Sy voel daaraan, laat hom sy kop heen en weer beweeg. “Nee, jou nek is nie styf nie. Jy het waarskynlik nie mangelontsteking nie, maar jy moet dat Giulio jou ook ondersoek.”

      “Jy weet, my pa het gedink hy het laringitis en mangelontsteking, en toe is dit veel erger