Marinda van Zyl

Dors


Скачать книгу

jaar deur Khamaland en ’n stuk Dorsland getrek het voor hulle glo die land van melk en heuning in Damaraland gevind het. Jan Greyling, die jagter wat saam met hulle was, is nou terug. Volgens Dries Petoors weet Greyling te vertel dat Damaraland ’n ongerepte stuk aarde is. Olifante, renosters en al wat wild is in oorvloed. Nou is daar al ’n hele paar mense wat regmaak om agter hulle aan te trek.”

      “Maar wat is hulle rede? Mens moet darem bitter ontevrede wees om alles wat jy oor twintig, dertig jaar opgebou het net so te laat staan,” wonder Gustav.

      “Vra tien mense en jy sal tien antwoorde …” antwoord haar pa voor haar ma wat intussen by hulle aangesluit het hom in die rede val.

      “Hulle het mos darem ’n goeie sondebok in president Burgers gekry. Wil glo nie staan onder ’n man wat godslasterlike uitlatings maak en danspartye in die presidensie hou nie.”

      “Hy wou ook die Vierkleur vervang met ’n ander vlag en dit moet mens nie aan ’n Boer doen nie.” Aan die drif waarmee haar pa sy pyp uitklop, weet Adriana dat hy hom vir haar ma vervies het.

      Gustav moes dit ook agtergekom het, want hy paai: “Maar soos ek verstaan, is professore Postma en Lion-Cachet van die Gereformeerde Kerk en kommandant-generaal Paul Kruger erg daarteen gekant. Juis omdat hulle bang is dit gaan die kerk verswak.”

      “As jy regtig wil verstaan hoekom daar mense is wat sommer net alles sal opgee en trek, moet jy met my pa praat,” gesels haar pa. “Toe ek ’n kind was, kon hy nie uitgepraat raak oor die avonture op die trekpad nie. Die gevoel van afwagting, vrees en opwinding wanneer jy ’n gebied intrek waar jy weet niemand voorheen was nie. Die wild om na hartelus te skiet. Vir daardie geslag mense het die wêreld hier net te mak geword. Toe ons in 1842 hier ingetrek het, was Mooirivierdorp, wat mos nou Potchefstroom is, en Klerksdorp die enigste dorpe in die hele Transvaal. Nou, vyf en dertig jaar later, is Rustenburg en Lichtenburg skaars ’n dagreis van mekaar.”

      Adriana kry skielik koud, al slaan die Januarie-hitte nog uit die stoepvloer op. Met soveel passie het sy haar pa nog nooit oor iets hoor praat nie. Hy moet dit tog asseblief net nie in sy kop kry om ook te wil trek nie. Sy is dankbaar toe Gustav skepties reageer.

      “Dit sal maar moeilik gaan om deesdae ’n plek te kry waar reisigers, sendelinge of handelaars nog nie was nie. En as ’n land geskik is vir vee- of saaiboerdery, sal daar vir seker al ander nasies woon.”

      Maar haar pa laat hom nie van stryk bring nie. “Volgens Jan Greyling is die plek waar Gert Alberts sy staning gemaak het onbewoon. Net Boesmans maak soms van die sterk fontein gebruik. Hulle noem die plek Rietfontein. Dis maar so tien dagreise suidwes van die Ngamimeer.”

      “My aarde, dis seker die plek waarvan Charles Andersson in sy reisjoernaal skryf. Ek het dit gelees toe ek in Londen studeer het. Hy’t so twintig jaar terug in Damaraland handel gedryf, gejag en tot by die Ngamimeer gereis. Dis beslis nie onbewoon nie. Die Namas en die Herero’s maak aanspraak op die grond en daar’s gedurig oorloë tussen hulle. As ek reg onthou, is daar ook nog ’n klomp ander nasies wat daar woon.”

      “Is die wild werklik so volop soos Greyling voorgee en sal ’n mens daar kan boer?” dring haar pa op meer inligting aan.

      “Ek dink nie dis ’n land vir veeboerdery nie. Behalwe vir enkele fonteine is daar nie oop waters nie. Met Andersson se eerste probeerslag om Ngami te bereik moes hy juis by Rietfontein omdraai. Nie eens die Boesmans waag dit glo om deur die gebied te trek as dit nie die reënseisoen is nie. Wild is daar in oorvloed. Dit het my gewalg om te lees hoe hy in ’n enkele nag agt renosters by die fontein geskiet het. Dan noem hy nog die skiet van olifante ’n edele sport.”

      Adriana voel lus om hande te klap. Haar pa sal nie ’n bewonderaar wat jag as walglik beskou vir ’n skoonseun wil hê nie. Sy staan met ’n glimlag op. “Koffie vir Meester?”

      “Nie vir my nie, dankie, Adriana. Ek moet in die bed kom. Jakobus, Celia, dankie dat julle vir Heilie toelaat om my te help. Ek weet nie hoe lank ek nog hier gaan bly nie. Daarom wil ek haar touwys maak om oor te vat terwyl daar op ’n ander onderwyser gewag word.”

      Adriana is al in die bed toe die naguil begin roep. Moet ’n regte naguil wees, want sy het vir Wikus gesê Gustav kom vanaand kuier. Toe die naguil bly roep, glimlag sy selftevrede. Hy het seker in die tuin sit en wag tot al die ligte in die huis uitgedoof is. Lekker jaloers op Gustav Mouton. Dit sal hom leer. Hy het mos nie die kans gebruik om met haar pa te praat nie.

      Vanaand klink dit vir haar of die naguil roep: “Jaag-weg-die-wewenaar. Jaag-weg-die-wewenaar.” Adriana tik die ritme van die roep met haar lyf uit. Gewoonlik lê sy met klere aan op die bed en wag vir Wikus se roep, maar vanaand het sy reeds haar nagjurk aan. As sy nou aantrek, gaan Heilie of Bellie dalk wakker word. In haar ouers se kamer hoor sy haar pa snork. Kop of lyf? Kop of lyf? Hoekom nie?

      Sy glip kaalvoet deur die venster. “Lê,” beveel sy die honde by die tuinhekkie. Volg die paadjie tot by die dam. Sy het haar misgis, dink sy teleurgesteld, dit was ’n regte uil.

      Die hand wat om haar mond sluit, laat die gil stol.

      Deur die slaapnewels hoor Adriana die geklots van water. Die skrik kom lê haar lyf vol. Sy vlieg regop.

      Heilie is besig om haarself in die waskom te was. “Wat gaan vanmôre met jou aan?” raas sy met Adriana. “Jy moet opstaan en vir Bellie help. Ek moet klaarmaak vir skool. En onthou, Ma het gesê ons moet vandag vye pluk vir konfyt. Nou sal jy dit alleen moet doen én na Bellie kyk. Maar dit sal jou leer om my terug skool toe te wil stuur.”

      Heilie se teregwysing verdring die skrik ’n oomblik lank uit Adriana se gedagtes. “Nou hoe kan ek dit help as Meester gevra het? Ek was mos net die boodskapper.”

      “Dis nie wat Boeta sê nie. Hy’t gehoor jy sê vir Meester ek wil nog graag skoolgaan, maar Pa dink ek het genoeg geleer. Dis toe wat hy gesê het hy sal met Pa-hulle kom praat.”

      “Ek gaan Boeta se ore vir hom warm klap oor sy klikkery, maar dan gaan sy asempie weer wegslaan en Ma sal alles los om haar ou witbroodjie se borsie te vryf. Sowat van aansit darem.”

      “Jy’s ’n mooi een om te praat. Wat van jou soet stemmetjie en pruilmondjie as jy iets by Pa wil hê wanneer Ma klaar nee gesê het? Dis by jou wat Boeta sy streke geleer het.”

      Adriana besluit om die aftog te blaas voor haar ma kom kyk waaroor die stryery is en Heilie haar verkla. Vandag wil sy uit haar ma se pad bly, anders gaan sy dadelik sien daar skort iets. “Maar jy wou terug skool toe. Stry? Jy’s net te gedooi om op jou regte te staan. Toe doen ek dit maar vir jou. Ma wil vir Gustav aan my afsmeer, maar hy’s net reg vir jou.”

      “Jy’s mal. Hy’s stokoud.” Heilie gooi die nat waslap na Adriana.

      “Wat gaan hier aan?” sny hulle ma se stem van die deur af. “A nee a, Heilie. Dis tyd dat jy jou soos ’n groot meisie gedra.”

      Hulle is tjoepstil tot hulle nie meer haar voetstappe in die gang kan hoor nie.

      Toe kom druk Heilie haar vinger onder Adriana se neus en sis: “Eendag is eendag, dan gaan jou kierankies braai.”

      “Wat’s krienkies?” vra Bellie, duim al klaar in die mond waar sy op die bed sit en wag om aangetrek te word.

      “Husse met lang ore,” maak Adriana haar stil.

      “Nee,” sê Heilie. “Dis wanneer jy self in die warm water beland wat jy vir iemand anders gekook het.”

      “Wil nie bad nie,” begin Bellie pruil.

      Adriana keer haastig. “Toemaar, jy hoef nie. Sit net ’n rukkie stil terwyl ek was en aantrek.” Sy wens sy kon nou ’n warm bad vat. Die leidam se water was yskoud toe sy haar afgespoel het. Maar hulle het almal gisteraand voor ete gebad en Mieta sal dadelik ’n muishond ruik as sy nou weer wil bad. As haar ma moet uitvind, is sy in nog groter moeilikheid. Haar hande bly bewe terwyl sy haar hare vleg. Sy hoop die middelpaadjie is reguit. Sy wil haarself nie in die spieël sien nie.

      In die kombuis hoor Adriana haar ma sing: “Mooie meisies, fraaie bloeme.”