Marinda van Zyl

Dors


Скачать книгу

so lekker gekuier het.”

      Adriana knik instemmend. “Dit was ’n baie lekker aand, Mamma,” sê sy omdat sy weet dis wat haar ma wil hoor. Dankbaar dat haar ma niks vreemds aan haar merk nie, begin sy vir die skoolkinders droëwors en beskuit in ’n meelsakkie sit. “Kan Meisie by Bellie kom speel terwyl ek vye pluk? Anders gaan sy heeltyd onder my voete wees.”

      Voor haar ma nog kan antwoord, skree Debora by die kombuisdeur uit op haar dogtertjie.

      In die boord wag Fanja reeds. Adriana pluk die vye wat sy kan bykom, terwyl Fanja in die bome rondklouter om die ander te pluk. Kleintyd was dit haar en Wikus se werk. As die vyemelk te veel gebrand het, het hulle sommer klere uitgepluk en in die leidam geswem. Ontstem deur die herinnering aan gisteraand, druk sy ’n oorryp vy stukkend en moet eers haar hand met ’n vyeblaar skoonvee. ’n Halfuur later sit sy dankbaar die laaste vy in die skottel. Haar nek is seer en haar arms brand van die vyemelk.

      Toe sy regop kom, praat Wikus met haar. “Hoekom het jy my nie geroep om te kom help nie?”

      Adriana tree verskrik agteruit en struikel sodat Wikus haar moet vasgryp. “Jy’t vyemelk op jou wang. Laat ek dit afvee.”

      Daar staan haar pa en oom Lodewyk aan die begin van die laning vyebome.

      “Los my.” Sy druk Wikus weg.

      Haar pa draai dadelik om en loop huis toe. Oom Lodewyk grynslag en bly staan asof dit sy boord is. Sy tel die skottel vye op en koes onder die takke deur om met ’n ander laning huis toe te loop.

      “Ek sal jou ma stuur om te help met die emmers!” roep sy oor haar skouer vir Fanja.

      Debora is besig om die stoepie by die kombuisdeur met ’n grasbesem te vee.

      “Debora, gaan haal gou die emmers in die boord. Dis te swaar vir Fanja. Dan begin ek solank skil.”

      Debora sit die grasbesem teen die pilaar neer. Toe sy om die hoek verdwyn, hoor Adriana haar met iemand praat.

      Gelukkig sien sy haar pa nêrens nie. Hopelik is hy reguit kraal toe en sal hy nie vir haar ma vertel wat hy in die boord gesien het nie. Sy balanseer die skottel op haar heup om die kombuisdeur oop te maak.

      Die hou wat haar oor die blaaie tref, is so onverwags dat sy die skottel laat val. Sy swaai om en sien haar ma se verwronge gesig, grasbesem in die hand. Sy weer die tweede hou met haar arm af. Gil, probeer wegkom van die houe wat genadeloos neerreën, maar gly op ’n vy en val. Haar gesig tref die stoeppilaar. Duisende sterre ontplof in haar kop.

      Mieta help haar op. “Kom, Adriana, jy kan nie hier bly lê met al die nuuskierige agies in die rondte nie.”

      Adriana krimp ineen toe sy haar pa by die waenhuis en oom Lodewyk en Wikus by die hoek van die huis sien. Besef die volle omvang van haar vernedering en probeer wegkom, gly weer op ’n vy.

      Maar Mieta hou haar regop en skree op Fanja. “Kom tel op die vye voor iemand sy nek breek!”

      Adriana wens sy kan dood neerslaan toe Fanja vies die eerste vy neersmyt.

      “Ag sies, Ouma. Die goed is dan ene pis.”

      “Sie jy jou mond hou, Fanja. Loop haal ’n emmer water en spoel die stoep af. En gooi die vye vir die varke. Hier sal nie vandag konfyt gekook word nie.”

      Adriana word wakker toe die kussing van haar kop afgehaal word. Nadat Mieta haar soos kleintyd gebad, versigtig afgedroog en skoon aangetrek het, het sy op die bed kom lê. Toe sy die trane van pyn en vernedering nie meer kon terughou nie, het sy haar kop onder die kussing ingedruk en haar aan die slaap gehuil. Vaagweg hoor sy haar ma se stem.

      “Jy het genoeg lyf weggesteek vir een dag. Boeta-hulle is nou-nou hier, dan moet ons eet.”

      Instinktief beskerm Adriana haar gesig. Sy is naar-dronk toe sy regop kom en sak terug op die bed.

      “Liewe Here, jou oog.” Haar ma steier of sy ’n klap gekry het en hardloop by die kamer uit.

      Met die tweede probeerslag bly Adriana staande en skuifel muurlangs tot by die wastafel. Sy herken haarself nie in die spieël nie. Haar linkeroog is bloupers opgepof. ’n Skreeu bars uit haar uit. Sy gryp na die wastafel, maar dit stuit nie haar val nie. Die lampetbeker en wasskottel kletter oor die vloer.

      Adriana probeer haar oë oopmaak toe sy haar naam hoor. ’n Sagte streling oor haar wang. Is Wikus hier by haar? Toe word haar ooglede oopgedwing en krimp sy ineen van die pyn.

      “Adriana, help my ’n bietjie. Ek moet kyk of jou oog dalk beskadig is.” Dis Gustav se stem. Sy probeer regop kom, maar hy druk haar liggies vas.

      “Nee, bly lê.” Hy trek haar ooglede oop. “Geen skade aan die oogbal nie. Ek vermoed haar gesig moes ’n groot klip of stomp getref het met die valslag. Haar oogbank en wangbeen het gelukkig die oogbal beskerm.”

      Adriana se gesonde oog vlieg oop. Waarvan praat hy? Langs Gustav, wat by haar op die bed sit, staan haar ma en huil.

      “Dit lyk erger as wat dit is,” probeer hy troos. “’n Aartjie het op die oogbank gebars, maar die bloed kon nêrens heen nie, want die vel is nie stukkend nie. Binne ’n paar weke sal sy weer haar pragtige gesiggie terughê. Maar ek voel tog meisies behoort nie toegelaat te word om met perde oor kraalmure te spring nie. Ek is bekommerd oor die feit dat sy flou geword het. Dit kan harsingskudding wees. Sy moet ’n paar dae stil gehou word. Gee vir haar een van dié pille, elke vier ure. Dit sal die pyn verdoof en haar ook rustig laat slaap.”

      Twee oggende later, nadat Heilie en Boeta skool toe is, kom jaag Mieta vir Adriana uit die bed. “Jy’s nie die eerste mens op hierdie werf wat al onbehoorlik geslaan is nie,” raas sy toe Adriana kla dat haar lyf en kop nog te seer is om op te staan. “Laas toe Fanja onder die karwats deurgeloop het oor hy die kalwerhok se hek oopgelos en die melkkoeie uitgesuip was, moes hy maar net bly werk.”

      “Maar dis mos nie dieselfde nie. Ek het niks verkeerd gedoen nie, toe slaan my ma my halfdood.”

      “Adriana, sie jy vir my jou speelmaat kom maak. As jou ma geweet het wat ek weet, was jy nie nou net halfdood nie. Onthou net, dis ek wat jou klere was.”

      Voor Mieta nog by die deur uit is, is Adriana by die waskom besig om te was. Sy byt die trane terug toe sy te hard oor die bloupers haal op haar arm vryf. Die huis is doodstil en die kombuis opgeruim. Mieta is besig om die voorstoep te vee. “Waar’s almal dan?” wil Adriana weet.

      “Pluk vye en jou pa is saaivolk toe. Loop sit net jou langtuitkappie op dat mens nie so in darie blouoog hoef vas te kyk nie.”

      Adriana koes onwillekeurig toe Mieta met die grasbesem in haar rigting beduie. Sy vlug kombuis toe om vir haar koffie en beskuit te kry. Die klap van perdepote laat haar opskrik uit haar selfbejammering.

      “Jakobus!” hoor sy haar ma roep. “Wag. Ek moet met jou praat.”

      “Dit moet wag. Ek’s haastig.”

      “As jy saans kamer toe kom, kon ons al lankal klaar gepraat het,” pleit haar ma nou sagter. Seker bewus daarvan dat elke siel op die werf staan en luister. “Ek weet nie wat my besiel het om die kind so te slaan nie. Ek het kop verloor toe jy kom sê hulle staan in die boord en vry.”

      “Is dit al?”

      “Natuurlik is dit nie al nie. As jy na my geluister en haar Bloemfontein toe gestuur het, sou dit nie gebeur het nie. Ek gee nie om wat jy sê nie, sy gaan nou na my ma toe.”

      “As jy vir Adriana en Wikus uitmekaar wil hê, sal ek dit vir jou doen. Ek is op pad na Jan Greyling om uit die perd se bek te hoor van die trek Damaraland toe.”

      “Oor my dooie liggaam. Trek waarheen jy wil. Ek vat my kinders Bloemfontein toe.”

      “En wie dink jy gaan jou en die kinders hier wegvat sonder my toestemming? Skryf gerus aan jou ma dat sy haar koets stuur om jou te kom haal. Ek en die kinders trek noordwaarts, so ver weg van hierdie vervloekte plek af as wat kan kom.”

      Adriana laat sak haar kop op