wees?” Die bestuurder gee duidelik ook nie ’n snars om oor haar welstand nie.
“Dit is gereël dat ’n veerboot ons oor die kanaal sal neem tot in Port Fouad.”
Ilizabith het dié naam op skool geleer. Port Fouad en Port Said is tweelingstede wat deur die smal Suezkanaal van mekaar geskei word. Hulle verlaat dus nou die Afrika-vasteland en beweeg na Asië se kant van Egipte. Hoe graag wou sy nie op hierdie veerboot vaar en dit beleef nie. Nou het haar droom in ’n nagmerrie ontaard. Elke kilometer wat hulle ry, is nog ’n kilometer verder van haar ouerhuis.
Khaled maak sy venster oop en ’n gedempte stem in die donker beduie waarheen hulle moet gaan. Sy het geen benul meer van tyd nie. Hulle ry stadig tot op ’n onstabiele oppervlak. Die veerboot? Moet wees. ’n Enjin begin dreun en hulle beweeg stadig die onbekende in.
Die bestuurder klim uit en leun teen die motor terwyl hy ’n sigaret aansteek. Soos altyd wanneer sy alleen in Khaled se teenwoordigheid is, trek haar keel toe. Haar saamgeklemde vuiste sweet. Die stilte is dik. Khaled tik-tik met sy vingers teen die paneelbord. Dan ruk hy die motordeur oop en klim uit.
Dankie tog! Sy haal dieper asem. Haar spiere kramp van ineengekrimp lê. Sy strek haar effens uit op die agtersitplek, vat versigtig aan haar gesig. Dis reeds opgeswel en dit pyn genadeloos. Sy het geen verweer meer nie. Haar trane drup stil op die onsimpatieke bekleedsel.
Later voel sy hoe hulle stadiger beweeg en vasmeer. Die mans klim terug in die motor en die enjin draai. Hulle ry die donker in, weg van die lewe wat lank gelede bekend en veilig was. Magteloosheid hang soos ’n kleed oor Ilizabith. Sy ril koulik. Sy knyp haar oë toe en onthou hoe haar ma haar snags kom toedek met ’n warm kombers.
Sy word wakker. Dit is ligdag. Khaled se kop rus skeef teen die sitplek. Hy slaap. Die bestuurder is gefokus op die pad. Sy waag dit om haar effens op te lig en by die venster uit te kyk. Die bestuurder slaan geen ag op haar nie. In die vroeë oggendlig sien sy net bleekwit woestynsand om haar uitstrek.
’n Doodse vrees neem van haar besit. Wat gaan hier van my word? Desperaatheid wurg haar.
Khaled se kop roer en sy val plat.
“Is ons amper daar?” Hy strek hom uit.
“Nog so twintig minute se ry.”
Khaled loer om die sitplek en sien dat sy wakker is. “Ons is amper by ons nuwe huis, my duifie.” Hy lag sarkasties.
Sy knyp haar oë toe.
Deel II
But this is a people plundered and looted, all of them trapped in pits or hidden away in prisons. They have become plunder, with no one to rescue them; they have been made loot, with no one to say, “Send them back.”
– Isaiah 42:22
It was found that the mutism had resulted as a learned behaviour to cope with the chaotic home environment that existed for a long period of time. One of the findings is that selective mutism developed through living in a confined home environment and being raised by a dominant, erratic caretaker. Individuals with selective mutism will usually have a failure to speak around individuals with whom they are less familiar.
– American Medical Student Research Journal
Ilizabith
RAKKA, SIRIË. SEPTEMBER 2014
Dit is twee ure ná middernag. Dis stil en sy behoort goed te kan vorder voor dagbreek. Mits alles goed gaan, natuurlik. As die kinders net nie so swaar was nie! Sy het Leila voor haar bors vasgeknoop en Mohammed agter op haar rug, albei weggesteek onder die swart abaya. Haar buitelyne is seker ’n vreemde prentjie. Iemand moet haar asseblief tog nie sien nie!
Mohammed is eintlik te groot om te dra, maar daar is nie ’n ander manier nie. ’n Seuntjie van amper drie is nie ’n maklike reisgesel nie. As die kinders kan aanhou slaap terwyl sy beweeg, is haar kanse beter om weg te kom. Die sak met basiese benodigdhede vir die pad het sy skuins oor haar skouer gehang, bo-oor die hele pakkaas. Sy wens sy kon meer kos en water saamdra, maar sy het nie nog plek nie.
Sy maak seker dat Leila gemaklik is. Die seun sou sy maklik kon los; sy wil eintlik. Sê nou hy verloën hulle, klein soos hy is? Tog is hy haar grootste wraak, die kind. Hy is Khaled se trofee. Khaled se arrogante, selfbehepte idee dat die kind bloot ’n miniatuurweergawe van homself is. Hy sal haar haat as sy Mohammed vat. Dis goed so, haar haat vir hom is reeds groter as haar vrees. Dit maak haar dapper.
Sê nou die seun haat haar óók? Sy pa is sy held. Juis daarom moet sy hom wegvat, sodat hy minstens ’n kans staan om nie soos sy pa te word nie. ’n Skraal kans. Hy aard baie na sy afgryslike pa. Dit is in sy DNS. Dit is soos om ’n replika van haar haat saam te dra. Vasgebind op haar rug. Vasgebind aan haar hart. Hy is haar kind ook.
Sy sug en trek die hijab op haar kop reg. Dit is verbode vir ’n vrou om alleen op straat te wees. Selfs ’n taxibestuurder wat haar vrou-alleen oplaai, kan gestraf word; dertig houe as hy lig daarvan afkom. As ’n man buite die huis gesien word saam met ’n ander vrou as sy eie vrou of ’n onmiddellike familielid soos sy ma, suster of dogter, kan hy gearresteer word en die sweep as straf verwag.
Daesh maak graag ’n groot gedoente daarvan om mense in die openbaar te straf, soos op die Al-Naeem-plein. Ironies genoeg beteken dit “Paradysplein”. Selfs kinders word aangemoedig om die openbare teregstellings by te woon. Daarna stel ISIS boonop die liggame nog ’n paar dae lank ten toon. Hulle steek die koppe aan die traliewerk vas, of los die lyke in die straat sodat die motors hulle vermorsel. Geen wonder die inwoners van die besette stad Rakka voer die wette tot op die letter uit nie – hulle leef in vrees.
Sy haal diep asem en maak die voordeur versigtig oop, kyk op en af in die straat. Sy is op haarself aangewese, niemand sal haar help nie. Daar is in elk geval niemand op straat nie, net die nagwagte en skerpskutters. Sal ’n kopskoot werklik so erg wees? Nee wat, selfs die dood is beter as haar lewe nou.
Was dit nie vir Leila nie … Die baba is al wat haar vorentoe laat dink, laat planne beraam. Leila mág nie só leef nie.
Sy droom al dae, maande, jare van hierdie dag en nou is dit onverwags hier. Die VSA en ’n paar Arabiese lande het ’n lugaanval op die nuwe kalifaat geloods, en Khaled is weg op ’n missie na ’n onbekende slagveld om nog onskuldige mense te gaan uitmoor en sy kalifaat te verdedig. Sy gaan die kans aangryp. Sy hoor gerugte dat Siriese vlugtelinge letterlik oor die grens na Libanon stap, so eenvoudig is dit. Sy het geen idee hoe hulle uit Rakka gaan ontsnap nie. Sy weet nie hoe ver Libanon is, of waar die pad daarheen is nie, maar sy sal soek totdat sy dit vind. Sy moet dit waag.
Sy tree katvoet in die stikdonkerte in en klik die deur agter haar toe. Die wagte wat die vroue dag en nag bewaak het in die woestynkamp is minstens nie meer voor haar deur nie. Hier in Rakka behoort die hele stad aan Daesh. Sy vertrek straataf en kies koers in die rigting van die verwoeste geboue. Sy stap so vinnig as wat haar swaar vrag haar toelaat.
’n Knal laat haar vassteek. Dis geweervuur! Sy is hoendervleis tot op haar kopvel. Sy glip agter ’n vervalle muur in. Waarvandaan kom die skote? Sy staan roerloos en luister. Die klank kom van ver af, van iewers doer voor. Sy wag totdat dit stil word. Hoewel haar oë gewoond raak aan die donker, kan sy nog bitter min sien.
Haar moed wil-wil haar begewe. Is die risiko nie te groot nie? Nee, besluit sy, haar haat is groter. Haat vir Khaled en sy Daesh. Haar haat sal hulle moet dra.
Daesh is sterk. Moet sy nie maar omdraai nie? Sê nou hulle sterf? As hulle sterf, moet hulle almal saam sterf – of net die seun, dink sy as nagedagte. Sy moet vir Leila hier wegkry.
Sy dwing haar voete om verder te loop. Hulle vorder stadig, maar sy moet versigtig wees. Die kinders is gelukkig stil.
Die kind op haar rug hou haar stywer vas. Is hy wakker? Hy is stil, wat ongewoon is vir hom. Onder haar swart abaya is sy asem warm in haar nek. ’n Bang asem. Voel hy benoud onder haar swart rok? Sy hoop nie so nie, want dan gaan hy begin kriewel. Dis juis so warm vannag. Straaltjies sweet, van hitte en senuwees, kielie die agterkant van haar bene.