Adriana Faling

Die seders van Libanon


Скачать книгу

terwyl hulle in die binnekring woon? Daesh. Dit is haar eie stukkie wraak. In haar kop noem Ilizabith hulle graag so, selfs al dring die rebellegroep daarop aan om ISIS genoem te word. Om die waarheid te sê, dreig hulle om enigeen wat hulle “Daesh” noem, se tong uit te sny. Dit is die Arabiese akroniem vir Al-Dawla al-Islamiya-Irak, wa-as-Sham, wat “die Islamitiese Staat van Irak en Al-Shams” beteken. Die grap is dat “Daesh” soortgelyk klink aan die Arabiese woorde Dahes – sondaars van onenigheid, en Daes – een wat onder die voete vertrap. As gevolg van die woordspel kan dit ’n belediging wees, en ISIS duld geen beledigings nie.

      Khaled vertel dat die sogenaamde heidense Moslems met opset die term “Daesh” gebruik. Hulle argumenteer dat die terroristegroep slegs in Irak en Sirië beheer het en dus nie ’n werklike staat is nie. Khaled sê dat hulle nog hulle woorde, of tonge in dié geval, sal sluk. Dit sal nog duidelik word dat Rakka se oorname net die begin was. Van nou af sal die Islamitiese Staat seëvier, so reken Khaled. Hy het, ná sowat twee jaar in die woestyn saam met die Moslem Broederskap, sy gewig saam met ’n klomp ander terroriste agter die nuwe terroristeorganisasie ISIS, wat uit Al-Kaïda ontstaan het, ingegooi. Hy het homself vinnig opgewerk tot een van die “hoofmanne oor honderd” soos sy sarkasties in haar kop na hom verwys. Die geld is goed, dit kan sy aflei. Daar is meer as genoeg om mee te gaan inkope doen wanneer hy tuis is en haar toelaat om saam met hom te gaan.

      Mohammed kom om die hoek gehardloop met sy plastiek-speelgoedgeweer. Hy mik na haar waar sy steeds by die voordeur staan, skiet ’n paar luidrugtige skote af en skree: “Allahu Akbar! Ek is ’n vegter van die Islamitiese Staat!”

      Sy ignoreer hom. Hopelik hou hy op daarmee as niemand saamspeel nie. Hy het in die Sinai-woestynkamp, waar hy die eerste lewenslig gesien het en vir twee en ’n half jaar gewoon het, leer oorlogspeletjies speel. Dis waarmee die kinders hulle daar vermaak, dag in en dag uit.

      “Hoekom het jy ons in die nag uitgedra?” Hy hou steeds die geweer op haar gerig.

      “Waarvan praat jy? Jy moet gedroom het.” Sy hou hom fyn dop.

      “Is nie, jy het my op jou rug gedra!” Die geweer hou haar gevange, maar sy oë verraai nou twyfel.

      “Nee, jy het ’n nagmerrie gehad en toe het ek langs jou kom lê om jou te troos, onthou jy?” Miskien moet sy probeer om sy aandag af te lei. “Kom ek gaan maak vir jou ontbyt.”

      Hy frons. “Pow! Pow!” Hy skiet haar denkbeeldig voor hy die speelding laat sak, maar stry nie verder nie. Hopelik vergeet hy daarvan.

      Terwyl hy eet, tel sy met ’n sug die enigste leesstof in die woonstel op. Dis ’n handleiding vir ISIS-vroue, getiteld “’n Suster se rol in jihad”. Khaled het dit vir haar gegee, met die opdrag dat sy dit moet lees en toepas met die kinders. Sy probeer die bitterheid in haar mond wegsluk. Teen hierdie tyd ken en verafsku sy elke woord in die handleiding, elke voorskrif waarvolgens moeders hulle kinders moet grootmaak as mudjahedeen: guerrillakrygers in Islam se militêre mag. Stryders van die heilige oorlog, jihad. Geen kind is glo te jonk om te begin met jihadi-opleiding nie. Daesh moet hulle toekoms deur hierdie kinders bou.

      Ilizabith skud haar kop stilweg. Sy moet selfs vir die kinders slaaptydstories vertel oor martelare en jihadi-helde. Geen sekulêre TV word toegelaat in ’n Daesh-samelewing nie, want dit besoedel mos kinders se denke met die immorele heidense weë. Moeders kan eerder vir hulle opleidingsvideos, boeke en videogrepe op die internet wys van ISIS-vegters en wat hulle doen.

      Genadiglik kan sy dít nie vir die kinders wys nie, want Khaled laat haar nie toe naby ’n selfoon, rekenaar of enigiets met toegang tot die buitewêreld nie. Sy het genoeg gruwels vir ’n leeftyd gesien, dankie.

      Soos haar ouers haar geleer het om asseblief en dankie te sê, moet die jong mudjahedeen leer dat hulle heidene moet doodmaak; dit is ’n vanselfsprekendheid van die lewe. Volgens die handleiding moet vroue hulle kinders leer om enige heiden of kafir te haat. “Militêre opleiding is ’n móét vir kinders van die kalifaat. Mohammed moet ’n slaansak hê en kan boogskiet,” was Khaled se bevel. “Hy moet vegkuns leer of na teikens skiet. Die teiken is altyd die heidene, jy moet dit vir hom duidelik maak.”

      Sy is die slaansak en die teiken.

      “Daar is opleidingskole waar kinders van so jonk soos ses jaar af ingeskryf kan word,” het Khaled met trots vertel. Sy het hierdie jong seuns al gesien, uitgevat in soortgelyke “uniforms” as wat die volwasse Daesh-vegters dra, soms kompleet met maskers en tulbande. Hulle dra selfs wapens, dikwels heeltemal te groot en te swaar vir hulle. Hulle kan masjiengewere uitmekaarhaal en weer aanmekaarsit. Wanneer hulle die opleiding voltooi, is hulle toegewyde vegters, gebreinspoel om geweld as deel van die lewe te beskou en die sharia-wette as die hoogste gesag te gehoorsaam. Hulle haat die Weste en strewe na die hoogste doelwit van martelaarskap.

      Khaled sê die jonger kinders oefen eers deur poppe te onthoof. Hulle moet verstaan dat hulle tot eer van Allah optree, sodat hulle nie skuldig voel wanneer hulle heidene moet kruisig of onthoof nie. Onwillekeurig dink Ilizabith terug aan haar broers. Hulle het bal geskop, fietsgery en visgevang. Dink aan iets anders, Ilizabith, stop sy haar gedagtegang.

      Haar blik dwaal weer na haar seun. Sy pa het groot planne vir hom. Binnekort is hy oud genoeg om daardie skool by te woon. Daar is selfs ’n skool vir meisies. Sy stapel die ontbytskottelgoed hardhandig opmekaar. ’n Bakkie val en breek.

      “Hy gaan vir jou kwaad wees as jy goed breek,” sê Mohammed beterweterig.

      Oor haar dooie liggaam sal sy Leila soontoe laat gaan. Khaled sal haar letterlik moet doodslaan. Nie dat dit vir hom moeilik sal wees nie. Sy tel die porseleinstukke van die grond af op.

      Sy moet wegkom.

      Pascale

      BEKAA-VALLEI, LIBANON. SEPTEMBER 2014

      Pascale Nassar se hart word ligter terwyl hulle met die kerk se halfverslete bussie oor die berg buite Beiroet na die Bekaa-vallei ry. Dit is nie net omdat sy die besige Mediterreense stad en die konflik by haar ouerhuis vir ’n wyle kan agterlaat nie, maar omdat hulle iets betekenisvols gaan doen. Meer as enigiets anders is dít wat vir haar sin in die lewe gee. Dit is waarvoor sy ’n vrywilliger-diensjaar by die kerk kom doen het. Dit is waarvoor sy haar familie se teëstand verduur. Dit is waarvoor sy opstaan in die oggend, wat haar energie gee: om ’n kind te laat voel dat hy of sy belangrik is. Raakgesien word.

      Sy wil vandag nêrens anders op aarde wees nie as in hierdie bussie, volgepak met ingesamelde kruideniersware, saam met hierdie besondere mense.

      Die feit dat Emile ook hier is, maak dit natuurlik baie maklik om te wil saamkom – ’n hele dag saam met hom! Sy sterk rustigheid agter die stuurwiel het ’n kalmerende invloed op haar. Hy trek sy vingers deur sy dik donker hare, soos sy gewoonte is wanneer hy konsentreer. Sy moet daarop fokus om nie die hele tyd na hom te kyk nie. Sondae as hy tydens die diens as aanbiddingsleier optree, hang die ander jong meisies aan die aantreklike Libanese man se lippe. Sy sal dit haat om soos hulle te lyk. Sy hou haar dus ongeërg in sy geselskap. Hy het klaarblyklik nog nie die regte meisie ontmoet nie, want hy is op die oog af nonchalant en gemaklik met sy enkellopende status. Sou hy meer hou van stil en teruggetrokke meisies? Moet sy haar krulhare dalk reguit blaas, sal sy dan mooier lyk vir hom? O heng, nee. Sy sal altyd laat wees as sy dit soggens eers moet doen! Sy was juis vanoggend weer net-net betyds. As sy maar kon weet wat hy van haar dink. Pascale Haddad … Sy van pas mooi by haar naam.

      Emmanuel wip orent op die sitplek tussen sy ouers, Ashraf en Saleh. Hulle is nuwelinge in die groep wat pas vanuit Egipte by hulle aangesluit het. Hulle stoei om die sitplekgordel om sy lyfie te hou. Die lewe is ’n opwindende plek as jy drie jaar oud is; jy wil niks mis nie.

      “Emmanuel, kyk hierdie boekie wat ons saamgebring het. Kom ek lees vir jou,” probeer Saleh sy aandag aflei.

      Langs Emile sit pastoor Youssef. Hy is ook oorspronklik van Egipte – hy moet omtrent so oud soos haar pa wees. Hy is haar geestelike pa en mentor soos haar eie pa nie is nie.

      Eva sit langs haar en is besig om reëlings te tref met haar selfoon. “Sal jy dan vir Eli en Stephanie ná skool by die huis kan gaan