ou man neem sy hande in syne. Hy voel die eelte en growwigheid. Dis asof die liefde in die ou man se oë hom hipnotiseer.
“God sê jy moenie vrees nie. Hy sê jy moet onthou van Moses, wat ook ’n moordenaar was en ’n priester geword het, en God se vriend. Hy sê as jy jou taak in afhanklikheid van Hom volvoer, sal Hy sy genade oor jou en jou werk uitstort. En ja, Hy sál vir jou sorg. Deur alles wat gaan gebeur. Ook die einde.”
Hy staar die monnik aan, wat nou breed in sy grys baard glimlag. Probeer die woorde verteer. Besef mettertyd dat hy lig en vredig voel, selfs vreugdevol, soos iemand wie se rasende dors geles is. Dat sy vrae verdwyn het soos sterre voor die son. Daar bly net een oor.
“Hoe moet ek leef? Ek bedoel … hoe moet ek … Ek voel so dikwels asof ek net voortstrompel sonder om te weet of ek genoeg doen, of ek op die regte pad is.”
Die ou man soen die kruis op sy gebedstou.
“Soek die stilte op. Moet niks doen wat jou vrede wegneem nie. Koester die gebed van die hart soos die kleinood wat dit is. Onthou dat die Theotokos en die heiliges jou op die weg vergesel. Dan sal alles reg wees.”
Hulle sit nog ’n rukkie terwyl die ou kluisenaar hom glimlaggend in sy oë kyk en dit voel of hy gevoed word, met liefde vervul word. Hy voel hoe abba Johannes sy hande vryf en dis asof hy wakker word.
“Jy sal moet loop, anders gaan jy nie voor donker by die klooster wees nie.”
TERCIO DE VARAS
DIE DERDE VAN DIE LANSE
Daar is net een fout, liplief
lieflip: ek moes jou
nooit gesien het nie.
– Petra Müller
EEN
Want die skone is niks anders nie
as die begin van die verskrikking wat ons nét kan verduur.
– Rainer Maria Rilke
Oor die eerste blik sou die media later uitbundig berig. Maar dit sou natuurlik tweedehands wees: die woord skep sy eie werklikheid, maar kan nie die beleefde werklikheid bevat nie. Dié wete was later vir hom ’n troos wanneer hy daaroor nadink en die gebeure herleef, soos ’n tong wat telkens sy pad vind na die gat waar ’n tand was. Omdat hy weer en weer die varsheid van die eerste, ligtende oomblikke wou ervaar. Maar natuurlik ook oor wat later gebeur het.
Die oggend het begin soos te veel ander, met die geluidjie van die iPad wat hy al hoeveel keer wou verander maar nie het nie. En die wete dat hy nie heeltemal genoeg geslaap het nie. Die opera in die Kunstekaap het tot laat aangehou.
Toe die regop kom, sy bene van die bed afswaai en vir die soveelste keer besef hoe eienaardig dit is om die klein besonderhede van jou lewe presies te vind soos jy dit gelos het toe jy aan die slaap geraak het. En: Hoe onmagtig ’n mens is teen die dikker wordende laag stof wat oor jou lewe neersif.
Hy het opgestaan en seker gemaak dat hy die beddegoed agter haar rug terugsit. Hy het aantrekkamer toe gegaan, die deur saggies toegemaak en die lig aangeskakel, die teëls koud onder sy voete.
Hy het saggies sy fietsryklere aangetrek, die lig afgeskakel en weer die aantrekkamer se deur oopgemaak. Met sy fietsryskoene in sy hand by die trap afgegaan. Hy het die alarm afgesit en in die garage saggies die deur toegemaak en toe sy fiets van die muur afgehaal. Hy het sy fietsryskoene aangetrek, die garage se roldeur laat oopgaan, op sy fiets geklim en weer die deur met die afstandbeheer toegemaak. Hy het ’n oomblik so in die donkerte bly staan en na die dowwe sterre gekyk, die suidooster voel opsteek. Toe die kareeboom opgemerk, wat freneties met sy blare letters teen die lug skryf. Hy’t gedink Helshoogte gaan moeilik wees vanoggend en die fiets vorentoe laat loop, af in Piekesig. Hy het die veiligheidskompleks se skuifhek laat oopgaan, eenbeentjie deurgery, dit weer toegemaak, die afstandbeheer by sy hemp se agtersak ingevroetel en die ander skoen vasgeklik in sy pedaal.
Hy het regs geswaai in Endlerstraat, toe links in Martinson en weer in Merriman. Links van hom het die steendenne soos boodskappers opgedoem, voor hom kon hy die gloed van die dorp se ligte sien. Soos gewoonlik het hy nie dadelik Helshoogte se kant toe gedraai nie, maar eers afgery tot by die kruising met Cluverstraat, om bietjie op te warm voordat hy die bult aanpak. Hy het gestop by die verkeerslig en toe die lig groen word, opgestaan in sy saal en regs by die Helshoogtepad ingedraai. Die heerlike spanning in sy bene gevoel soos hy die bult vat.
Veel meer van die fietsrit kon hy nie later onthou nie. Dit was te soortgelyk aan talle ander kere. Hy kon wel onthou dat die wind inderdaad kwaai was en dat hy op ’n afdraand een keer wild moes uitswaai vir ’n kat. Of het dit ’n ander oggend gebeur?
Toe hy die huis deur die garagedeur binnekom, het sy oor ontbyt gesit en koerant lees.
“Môre,” het hy gegroet.
“Môre.”
Sy het aanhou lees sonder om op te kyk.
Op die vraag hoe haar dag loop, het sy hom vertel dat sy die aand ’n ete met die ouditeursfirma PwC het. ’n Bekendstelling van hulle borgskap vir bergfietsry.
“Klink interessant. Wie gaan daar wees?”
“Weet nie. Seker die gewone spul, plus ’n paar sportmalles.”
“Gaan jy alleen?”
Sy het die koerant laat sak en hom aangekyk.
“Wou jy saamgaan?” Soos ’n uitdaging.
“Nee wat.”
Hy het met die trappe opgestap om te gaan stort en aan te trek.
’n Rukkie later het hy die BMW hoor grom en wegry. Hy is terug kombuis toe. Hy’t ’n pakkie van Woolies se gesnyde vrugte oopgemaak, muesli en jogurt bygesit. Die koerant opgetel.
Selfs dié gesprek sou hy net onthou omdat hy die ete daardie aand met PwC as ’n soort kapstok in sy geheue gehad het.
Dit was sy gewoonte om by Vida e Caffè ’n koffie te drink voor hy werk toe gaan. Daar was ’n warmte aan die plek; en die ligging – op die hoek van Kerkstraat by die oopmaak van Birdstraat op pad Braak toe – het hom altyd op die een of ander manier aan sy kinderdae laat dink. Daar was vroeër jare ’n klerewinkel. Was dit De Jagers? Of was dit op ’n ander hoek? En die musiek, die luide vrolikheid van die personeel en die gemeensaamheid van mense wat koffie drink, het sy gees net so goed gedoen soos die sterk, bitter koffie.
Hy het altyd vroegerig gegaan sodat hy nog parkeerplek daar naby kon kry. Maar dié oggend was Dorpstraat al besig en was daar nie meer parkeerplek nie. Hy het meteens onthou dat die studente terug is. Bliksem. Maar hy het tog plek voor Cluver Markotter se gebou gekry en vir die soveelste keer die ry figuurtjies van metaalwerk op die oorhang opgemerk.
Hy het oor die straat gestap, sy oë opgeslaan na die koffierestaurant en byna gaan staan.
Want by ’n tafeltjie agter Vida se groot vertoonvenster, met ’n koppie koffie in die hand, het ’n beeldskone meisie na hom sit en kyk. In ’n oomblik het hy die groot, bruin oë ingeneem, die perfekte wenkbroue, die fyn neus en breë, vol mond. En haar blik: daar was ’n doelgerigtheid daaromtrent. Hy het verward sy oë laat sak en die argeloosheid probeer veins van iemand wat nie daarvan bewus is dat hy dopgehou word nie.
Hy het die koffierestaurant binnegegaan en in die ry gaan staan, net vaagweg bewus van die koffiejoggies se opgeruimde groete en geselsies met die klante, die gemurmel van die mense by die tafeltjies. Wie is sy? Ken sy my? Nee, hy het haar nog nooit gesien nie, daarvan was hy seker. Sy was nie ’n pasiënt nie, nie ’n student nie, nie een van Ingrid se kollegas of leerklerke nie. Hy sou onthou het.
Sy het aan sy regterkant gesit, knap langs hom waar hy in die tou staan. Hy het probeer om nie te kyk nie, maar kon sy oë nie keer nie. Haar rug was na hom toe gedraai en sy het steeds by die venster uitgekyk en met haar teelepel gespeel. Haar hare was ’n dik bos swart krulle wat tot by haar skouers reik. Sy het smal skouers gehad