betrag.
“Ek skat jy sou haar kon skei. Niemand kan jou keer om dit te doen nie. Maar jy moet besef dat Ingrid baie sleg gaan reageer as jy weer haar wêreld opbreek. En jy moet ook weet dat ek sal moet kies as dit gebeur.”
Met die instink waarmee ons die waarhede van ons bestaan raaksien, het Dawid geweet dat dié dreigement bedoel was; en dat Herman se konneksies op Stellenbosch waarskynlik ook beteken het die dreigement is een met tande. Maar hy wou nie so maklik gaan lê nie.
“Wat sou jy gedoen het as jy in my posisie was?” Sodat sy skoonpa kon voel hoe dit voel, of ten minste kon dínk.
“Ek weet nie. Ek het nog nie daaraan gedink nie.” Herman het gehuiwer en toe voortgegaan: “Maar jy het ook nie só ’n slegte lewe nie. Jy’t om die waarheid te sê ’n heeltemal goeie lewe. Dis nie asof Ingrid die lewe vir jou ondraaglik maak nie. En daar is tog baie mense wat lewens lei wat nie presies is wat hulle wil hê nie – ek sou sê die meeste mense. Daar is selfs mense wat doelbewus besluit om nie kinders te hê nie. Of nie kinders kán hê nie.” Hy het sy mondhoeke afgetrek asof hy iets oorweeg, toe sy skouers gelig.
“Op die keper, dus, dink ek … ja, ek sou maar net aangegaan het. Die hand speel wat ek gekry het.”
Terwyl hy Dawid waterpas in die oë kyk.
Ingrid was wakker toe hy die aand by haar aankom. Sy was nog wasbleek. Sy het asof verstar gelê en voor haar uitgestaar. Sy het geen reaksie getoon toe hy by die saal instap nie.
Hy het ’n stoel nader getrek en langs haar gaan sit. Haar hand gevat. Sy het steeds nie sy teenwoordigheid erken nie.
Hy het so lank so bly sit dat hy naderhand tred van die tyd verloor het. Hy het stram regop gekom en haar hand gelos. Toe het hy haar op die voorkop gesoen en geloop.
Sy het nog twee dae hoegenaamd nie gereageer op sy teenwoordigheid nie. Toe begin om hom met haar oë te volg. Later geknik wanneer hy inkom. Hom nog later toegelaat om haar te voer.
Ingrid is ’n paar weke later na ’n rehabilitasie-eenheid oorgeplaas en is ongeveer twee maande later huis toe.
Dawid het die motor in die garage getrek en haar deur oopgemaak. Sy het uitgeklim, regop gekom en hom in die oë gekyk.
“Het jy gesien wat jy wou?”
Dit was al wat sy ooit oor die voorval gesê het. Sy het herstel. Langmouklere gedra om die letsels weg te steek. Sy het geen meer gevoel in haar linkerhand se ringvinger en pinkie gehad nie. En skynbaar probeer om haar woedebuie te beteuel.
Op die oog af het hulle voortgegaan asof niks gebeur het nie. Dit was vir Dawid asof die kennis van haar gebrokenheid hom meer toegeneë tot haar maak. Dit was ook asof hy ná die gesprek met Herman ’n groter warmte teenoor homself bespeur het. Hy het oor ’n middagete saam met sy skoonpa uitgevind wie Ingrid behandel het en die sielkundiges – want daar was oor die jare twee – en die psigiater gaan sien. Hulle het haar geval met hom bespreek, hoewel hulle nie veronderstel was om dit te doen nie. Twee dinge het vir hom duidelik geword: dat haar behandeling inderdaad van die beste was, en dat Ingrid een van daardie moeilike gevalle was wat eenvoudig nie behoorlik op behandeling reageer nie. Oor hoekom dit so was, kon die sielkundiges en psigiater maar net spekuleer. Sy het ’n moeilike verhouding met haar ouer suster gehad. Dalk het sy skuldig daaroor gevoel dat dié vermoor is en sy nie. Dalk het die feit dat die trauma reg aan die begin van haar puberteit gekom het, beteken dat haar persoonlikheid so met die steurnis vervleg geraak het dat dit nie reggestel kon word nie. Hulle kon dit nooit vasstel nie. Maar hoe ook al, almal was duidelik daaroor dat die prognose ná soveel jare maar sleg was. Dawid sou dit moes aanvaar en daarmee leer saamleef, tensy …
Tensy, ja.
Daardie “tensy” het hy een Saterdagoggend oor ’n fietsrykoffie by The Hoek in Franschhoek bespreek met Ferdi Pieterse, ’n klasmaat op universiteit en nou ’n neuroloog. Van al sy vriende was Ferdi die een met wie hy oor die kwessie sou kon praat sonder dat dit uitlek of op die een of ander manier teen hom gehou word.
Ferdi het met sy voete op een van die rooi stoeltjies na Dawid se relaas geluister en elke nou en dan ’n vraag gevra. Toe het hy Dawid op sy droë manier aangeraai om sy praktyk mooi te analiseer om te sien watter persentasie van die pasiënte Herman of Ingrid se kontakte is. En om die moontlikhede om sy praktyk uit te brei, te ondersoek.
Die volgende Saterdagoggend het hulle weer kajuitraad gehou. Dit het uit Dawid se ondersoek duidelik geblyk dat sy praktyk nie sou oorleef sonder Ingrid en Herman se ondersteuning nie.
En die uitbreidingsmoontlikhede was beperk. Somerset-Wes had reeds amper te veel psigiaters. Die Paarl en Franschhoek het albei reeds gevestigde praktyke gehad en die poel was te klein om ’n verdere een lewensvatbaar te maak. Geen satellietpraktyke nie, dus.
Dit sou beteken dat hy sy praktyk van voor af sou moes begin bou, iewers in Kaapstad. En dan sou hy wat alles verbeur? Die deeltydse pos by die universiteit en die intellektuele stimulasie wat dit bied; sy vriendekring; sy lewe op die dorp. Moes hy werklik van nuuts af elders begin? Op sy leeftyd? In die huidige ekonomiese klimaat?
Dawid het agter Ferdi aan teruggery Stellenbosch toe en besef dat hy sou moes gewoond raak aan die feit dat sy bestaan steriel was en so sou bly. Dat hy hom in sy hok moes vermaak. Dit was asof hy saam met Danté kon sê dat hy hom in die middel van sy lewe in ’n woud bevind, verdwaal en sonder uitkoms.
+ + +
Hy het dié oggend met die meisie van die koffierestaurant in sy gedagtes rondgeloop. Hy het agtuur ’n dubbelperiode met die sielkundestudente gehad. Tussen die periodes het hy onder ’n plataan gaan staan en die studente dopgehou wat verbyloop – en telkens het sy gedagtes weer hulle loop na die koffierestaurant geneem.
Ná sy lesing is hy haastig na ’n vergadering in verband met ’n artikel wat hy aan die skryf was, en daarna na die Mediclinic om ’n pasiënt wat hy toegelaat het te gaan sien. Hy was kwart oor twaalf se kant by sy praktyk in Piet Retiefstraat. Die sentrum waarin sy kantoor was, was oud en taamlik verlep, maar daar was parkering vir sy pasiënte en sy kantoor het ’n pragtige uitsig oor die Eersterivier en Simonsberg gehad.
Hy het geweet hy het ’n nuwe pasiënt en die besoek aan die Mediclinic het langer geduur as beplan. Hy het die trappe opgehardloop en haastig die deur na sy suite oopgemaak. En die tweede keer die dag byna vasgesteek. Want in die ontvangsarea het die jong vrou van die koffierestaurant gesit, rustig aan die blaai deur ’n tydskrif. Sy het nie opgekyk toe hy inkom nie.
Mevrou Wilsnach het hom met ’n vinnige blik betrag.
“Hier’s jou boodskappe, dokter. Die rep van Pfizer het nou al ’n tweede keer gebel. En jou nuwe pasiënt is hier,” het sy met haar oë na die meisie beduie terwyl sy vir hom die lêer aangee.
Hy is by sy spreekkamer in en het die deur agter hom toegemaak. Hy het by die venster gaan staan en in die lêer gekyk.
Haar naam was Eva Rodriguez. Sy was 21 jaar oud, ’n musiekstudent in haar derde jaar. Wat woon in Verreweide 4. Waarskynlik in een van die klomp studentewoonstelle wat in dié omgewing opgespring het. Pappa sou die rekening vereffen, met ’n duur mediese plan. Pappa het ’n ander van as sy gehad: Le Grange. Hy was woonagtig in ’n duur buurt in Pretoria. Onderaan die vorm was ’n groot, sterk handtekening.
Die verwysing was van ’n vooraanstaande huisarts op die dorp, maar daar was geen verwysingsbrief nie.
Dawid het sy asem diep ingetrek en die deur oopgemaak.
“Juffrou Rodriguez?”
Sy het haar tydskrif neergesit, van die heup af opgestaan en na hom toe aangestap gekom terwyl sy hom in die oë kyk. Sy het verby hom geloop tot in sy kantoor, gaan staan en rondgekyk: die kuns teen die mure, die uitsig, die meubels. Toe met dieselfde ek-en-my-lyf-is-een-beweging haar sak van haar skouer afgeswaai en gaan sit op een van die besoekerstoele.
Hy het die deur toegemaak, aan sy kant van die lessenaar gaan sit, die stoel om hom voel vou. Hy het sy bene gekruis en haar aangekyk.
“My naam is Dawid Neethling