hulle het gans ander wêrelde beloof, van gesteelde vryheid en ongekende avontuur en donker heerlikheid.
Haar hande was sag en warm en haar vingers het ongemerk met syne vervleg terwyl sy praat. Sy het Dawid se trouring om sy vinger gedraai. Sy het hom baie dinge vertel, waarvan hy ná die tyd nie veel kon onthou nie, behalwe die algemene strekking: die verhaal van sy meedoënlose aantrekkingskrag vir haar. Maar hy het ná die tyd die besef – dat hy nog altyd só wou voel, dat hierdie een die vrou was wat alles sou moontlik maak, met wie hy voluit kon leef – in sy hart gedra soos ’n skoolseun ’n geliefkoosde knipmes in sy broeksak, hard en vir ewig.
Hulle het ná die ete sommer by ’n gaste-eenheid op die plaas ingeboek en die deur nie eens behoorlik toegemaak voor hulle mekaar se klere afgestroop het nie.
En toe hy sy gesig tussen haar dye inskuif en haar muskusreuk sy neus vul, het die gedagte “My beker loop oor” deur sy kop geflits.
Maar daardie eerste middag al, terwyl sy halflyf op hom lê en sy vingers die paadjies van haar lyf verken, het hy met haar die reëls van hulle verhouding ooreengekom. Geen selfoonkontak van haar na hom nie. Hoegenaamd geen kontak per e-pos nie. Geen kontak by sy praktyk of sy huis nie. Hy sou haar kontak. Hy sou vroegoggend na haar toe kom net voor hy gaan fietsry. Ander afsprake sou hulle maak wanneer hulle die geleentheid kry.
Want hy het daar gelê in die ekstase van iemand wat so pas die eerste keer die sneller getrek het met Russiese roulette. Wat weet dat hy hier en nou leef, hewig, voluit. Maar ook dat hy telkens wéér die sneller sal moet trek om aan te hou leef. En weer. En weer.
+ + +
O, jy met die donker, ruisende vlerke! Ek wag op jou soos die aarde op die reën. Soos Leda op die swaan.
Ek het gisteraand by die klas soos ’n engel gedans. Ek het Enrico se ritme geneem en dit versnel, omvorm van sy versigtige begeleiding tot iets meer, iets groters. Hy moes later noodgedwonge sy kop agteroor gooi en die musiek vrylik deur hom laat vloei. En ek het my hare gegooi en getol soos ’n derwisj, soos ’n duiwel.
In ’n stadium het ek die geluide gehoor van ’n storm wat opsteek. Dit was Inmaculada se stem, met nuwe woorde vir die melodie, woorde wat ek haar nog nooit hoor sing het nie. Sy het oor Enrico se akkoorde gesny soos ’n mes oor ’n buik: hees, skerp, rou. En meteens was jy daar, my geliefde swart engel: meteens was alles vlam.
Mag die man wat jy na my gestuur het ook só aan die brand raak, ook so onder jou vlerke kom dans.
Hy is snaaks en vreemd en maak liefde soos iemand wat soek na die waarheid. Maar versigtig. Lugtig. Soos ’n hond voor ’n hand.
Hy is opreg en deursigtig, iets wat Jacques nie was nie. Dit moet ek sê. En wat hy my vertel het van sy vrou, beteken dat hy ’n moeilike huwelik het. Wat ek kom kompliseer het. Hy lyk soms of hy wonder oor alles, oor ons.
Of miskien is hy die hand en ek die hond. Maar waarvoor sal ek lugtig wees? Dat hy my onverhoeds, sagkens gaan vasvat met sy mooi woorde en mooi hande? My van jou gaan wegneem? My respektabel gaan maak, nes hy? Met sy reëls en regulasies vir die verhouding, met sy vrees.
Te veel dink. Te veel tob. Mag hy brand. Mag ons saam brand. Mag ons dans.
+ + +
Die werklikheid was minder gekompliseerd as wat hy verwag het. Hoe verder die verhouding gevorder het, hoe duideliker het hy die diepte van Ingrid se afsydigheid besef. Hy het deel van die meublement van haar lewe geword en solank hy gestaan het waar sy hom verwag wanneer sy haar blik na sy kant toe laat val, kon dit haar eintlik nie skeel wat hy verder doen nie.
Hy is die meeste oggende vroeg na Eva toe. Sy was gewoonlik nog in die bed, wat beteken het dat sy nog omhul was van die heerlike geure van die nag. Hy sou die kompleks se hek, waarvan die motor nie gewerk het nie, oopskuif en sag aan haar deur klop. Sy sou dit oopmaak met geswelde oë en deurmekaar hare. Hom loom omhels. Hy sou sy fiets in haar woonstel se klein voorportaaltjie sit, dan sou hy saam met haar in die bed klim. Hulle sou fluister en giggel en speel, soos kinders wat hulle eie werklikheid op ’n strand bou.
Hy het aanvanklik gestort voor hy by haar weg is, maar gou besef die feit dat Ingrid nie sy sweetlyf kon uitstaan nie, het beteken hy was heeltemal veilig om eenvoudig te oefen ná hy by Eva weg is.
Soggens het soms saans geword. Maar selfs dit was nie ’n probleem nie, want Ingrid was al ’n hele ruk met ’n reusagtige oudit besig, wat haar dikwels tot laat uit die huis gehou het, en die een keer wat sy voor hom by die huis was, kon hy op ’n ingewing die toelating van ’n pasiënt wie se kop uitgehaak het, as verskoning gebruik.
Maar Ingrid was op die ou end die minste van sy probleme. Met die intrapslag was daar al die rokery. Hulle het die eerste oggend wat hy haar by die woonstel besoek het, op haar bed gelê in die swaar aardsheid van twee liggame en geeste wat nog met mekaar verweef is. Sy het regop gesit, iets uit haar bedkassie gehaal en begin om ’n sigaret te rol.
Hy wou iets sê, maar het nie. Sy het oor hom gebuk en die eerste vars, skerp, gekruide rook van dagga en tabak oor hom losgelaat; dit oor hom uitgesprei soos ’n ligtende blou sluier in die oggendson, terwyl dit oor sy gesig neerdaal en dit streel. Iets soos ’n soen, maar beter as ’n soen … ’n kus, ’n seëning wat sy gesig en lyf bestryk. Toe het sy deur die sluier haar borste oor sy gesig laat afsak, tot een harde tepel heen en weer oor sy neus vee soos ’n vinger of ’n tong, en toe afdaal na sy reikende lippe.
So het hy die rokery gedoog. Maar dit was algaande moeiliker, want sy het verwag dat hy saam sou rook en wou niks weet van sy besorgdheid oor hoe hy sou ruik as hy by die huis aankom nie. Inteendeel, hy het die indruk gekry dat sy dit as deel van háár reuk beskou en dat sy hom daarmee merk as haar eiendom.
En dan was daar die duende. Sy is vir die wintervakansie Spanje toe en hy het ’n kongres in Barcelona op die internet opgespoor wat hom die geleentheid sou gee om drie dae saam met haar deur te bring. Hy het Seville toe gevlieg, waar Eva by haar ma se neef Juan en sy gesin gebly het. Hulle was gesofistikeerde, gasvrye Spanjaarde. Dawid het heerlik gekuier. Die Sondagaand is hulle na ’n stiergeveg toe.
Hy het nie voor die tyd ’n sterk mening oor stiergevegte gehad nie. Hy het al te veel gesien hoe daar op die plaas geslag word om fiemies te hê oor bloed of diere se dood. Buitendien het sy mediese agtergrond hom bewus gemaak van die absoluut lukrake manier waarop die dood toeslaan. Daarom het hy nie die gewone sensitiewe reaksie gedeel oor die doelbewuste doodmaak van ’n dier buiten as om suiwer funksionele redes nie.
Juan, ’n groot man met dik, swart hare soos ’n pels, was ’n connoisseur van stiergevegte. Die Sondagmiddag het hy oor ’n fino en sigare vir Dawid in sy swaar Spaanse Engels agtergrond oor stiergevegte gegee. Hy het gepraat soos die dosent wat hy was, asof hy ’n lesing gee. Maar dit was interessant en sy deklamatoriese styl het Dawid nie veel gepla nie.
“Kom ons begin by die begin: by die bul. Jy weet seker dat bulle al van die vroegste tye aan die gode geoffer is. En in die antieke Griekse en Romeinse samelewings is stiergevegte dikwels met hierdie offerandes gekombineer. Want die bul is ’n simbool van lewenskrag, van viriliteit en van mag. Maar die bul is ook die chaos, die noodlot en die dood. As jy eers die bulle in lewende lywe sien, sal jy verstaan wat ek bedoel. Die dood van die bul is dus ’n offer aan die gode – of aan God – maar ook ’n oorwinning oor die dood en ’n bevestiging van lewe.
“Mense dink stiergevegte is ’n sport, en daar ís natuurlik iets sportiefs daaromtrent. Maar dis in wese ’n kunsvorm en ’n godsdienstige ritueel. Lorca praat van die liturgieë van die stiergeveg, waar daar iets aan ’n god geoffer word. Ek dink dis hoekom mense vandag so gekant is daarteen – hulle is nie meer in voeling met hulle heidense en godsdienstige wortels nie.”
“Maar waarin lê die kuns?”
“In die arena is die bul se doel om die matador dood te maak, net soos wat dit die matador se doel is om die bul dood te maak. En ’n gevegsbul – ’n toro bravo – is meer as daartoe in staat om die matador se lewe te neem. Daar is geen ervare stiervegter wat nie ’n hele reeks wonde aan sy lyf het wat deur ’n bul toegedien is nie. Die meeste stiervegters doen elke jaar minstens een wond op. Een van