Niks nie.
Elke asemteug was pynlik. Ek het doodmoeg gaan slaap en doodmoeg opgestaan.
Vandag kan ek dit eintlik maar net as ’n soort gevoelloosheid beskryf.
In die eerste week van April 2013 skryf ek weer ’n brief aan myself. Of dalk aan Mia?
Mia, ’skuus dat ek daardie laaste dag by tannie Charlene so kwaai en ongeduldig met jou was toe jy nie alleen wou gaan pieps het nie. Mamma was verkeerd. Ek was so gejaagd en wou net alles klaarkry voordat ons met vakansie gaan.
Dankie vir al die kere wat jy Mamma se bussie opgevrolik het.
Dit was so lekker wanneer jy jou boeties in ons bed weggestoei en ons jou ’n klein buffeltjie genoem het as jy so graag in my “ammie” wou lê.
Saterdagoggende se laatslaap was so kosbaar vir Mamma, wat ook ’n ou laatslaper is.
Ek mis jou gekoekte hare wat jy nooit wou uitkam nie. Jou kasdeure wat altyd oopgestaan het, dit mis ek ook.
En nou onthou ek die dag toe Mamma vir Stéfan en Morné moes neem om identiteitsfoto’s te laat neem vir die skaakliga. Jy het ewe gaan regstaan sodat die tannie jou ook kon afneem. Daai foto is steeds in my beursie.
Wanneer jy saam met my Pick n Pay toe gegaan en die eerste bakkie aarbeie opgeëet het nog voordat ons by die betaalpunt kon kom – dít mis ek ook.
En, o ja, onthou jy die dag by On Tap, waar ’n mens alles vir die badkamer kry? Jy wou mos piepie in die toilet wat in die vertoonlokaal gestaan het.
Daar is nog so baie onthou, Mia. Die pienk rokkies wat ek in Woolworths moes koop, en ’n pienk bolero-baadjie wat nogal konsternasie veroorsaak het in die winkel toe jy dit nie wou uittrek nie. En hoekom onthou ek nou ook dat jy so verskriklik honger kon word vir lekkergoed? Ek wens ek het nie een van die swak weggesteekte lekkergoedpapiere weggegooi nie.
Ek skryf vir jou om te onthou. Om te onthou van Tangled, jou gunsteling-DVD, en van skelm middagslapies in jou worshonde se mandjie.
Hoe sal ek nou tog ooit kan aangaan sonder jou in my lewe?
’n Pienk diens
Om funksies te reël is een ding wat ek goed kan doen. Dit was immers jare lank my beroep. Maar ondervinding tel nie as jy jou eie kind se herinneringsdiens moet reël nie.
Ek het tientalle oproepe gemaak, kwotasies gekry en dan skielik, so tussen al die reëlings deur, is ek gekonfronteer met die rede vir al die reëlings. Om te besluit watter foto’s ons in die blaadjie vir die kerkdiens sou gebruik, het my hart stukkie vir stukkie uit my liggaam geruk. Gelukkig was daar so baie oudkollegas en ’n klomp van my hartsvriendinne wat voorstelle gemaak het toe ek nie kon kies nie.
My oudste suster, wat ’n paar jaar lank nie juis naby aan my was nie, was skielik langs my sy.
My ma het stil-stil probeer om sterk te wees vir my, onseker probeer ondersteun waar sy kon, al was ook haar hart stukkend oor haar dogter én haar smart as ouma. ’n Ma bly ’n ma, ongeag hoe oud haar dogter is. Haar dogter se smart bly ook haar smart.
Die diens was pienk. Van die blomme en die linne tot die lekkergoed vir al Mia se maatjies. Ons het selfs gevra dat mense wat die diens wou bywoon pienk sal dra.
Die kleur van die dag was Mia se gunsteling, en ook die musiek moes haar musiek wees. Naas die lied “Until I’m home” van Nianell, wat ’n vriendin vir my voorgestel het, was al die ander musiek by die herinneringsdiens liedjies waarop sy en haar pa, haar mede-musiekliefhebber, gereeld gedans het. Op die speellys van Mia se pienk diens was “Patyn” (“Kaptein” van Kurt Darren), “Skumba” (“Skarumba” van Juanita du Plessis) en “Boetie en Sussie” (“Boerejol”, ook van Juanita du Plessis). Franché het vir hulle laaste dans selfs “I’m a Barbie girl” ingesluit.
Tatta, my blom
Dit was ’n Saterdagmiddag. Ek het gekies om nie ’n kalmeerpil voor die diens te drink nie. In die tuin van die kerk, eenkant, weg van die mense wat al aangekom het, het ek vir God gevra om vir my die krag te gee om deur die dag te kom. Ek wou ook graag iets sê by die diens.
Mense van oraloor was daar. My broer het uit Switserland gekom en kon gelukkig ’n aansluitingsvlug na Bloemfontein kry om betyds vir die diens te wees. Ek het nie geweet ons ken soveel mense nie. Wat nog te sê soveel mense met dogtertjies in pienk tutu’s.
Ons het gekies om met hierdie diens Mia se lewe te vier, want sy was die beste voorbeeld van ’n lewe in oorvloed, soos daar in Johannes 10:10 staan. Sy het baie meer in haar drie en ’n bietjie jare geleef as wat baie mense in 20 jaar kan inpas. (’n Kennis het my weke ná Mia se dood met hierdie presiese woorde kom troos.)
Ek onthou nou hoe ek gebewe het terwyl ek oor Mia gepraat het. Hoe ek die mense, almal met strak gesigte of met trane wat oor hulle wange rol, gesmeek het om nie op te hou bid vir ons nie. Franché het ook daardie Saterdagmiddag gepraat. Sy woorde was min, maar baie intens.
Kan dit wees dat foto’s op ’n skerm al is wat ’n mens van jou kind oorhou?
Die lekkergoedtafel was leeg geëet. Die pienk gaste was weg.
’n Sluier van een groot, bisarre onwerklikheid is oor die dag getrek.
Soos pienk, wasige spookasem.
Die nuwe kwartaal
Toe die nuwe kwartaal op ’n Dinsdag in April begin, waag ek die dapper stap om na Mia se kleuterskool, Bambi, te gaan. Daar was nog van die groot prinseskoek van die herinneringsdiens oor. Ek wou dit vir die kinders by Bambi gee.
Die bitter eerstes sonder Mia was beslis nie beperk tot die eerste Kersfees of die eerste verjaarsdag of die eerste seevakansie of die eerste wat-ook-al nie. Dit was so eenvoudig soos om by PicknPay se groenterak verby te stap en deur Woolworths se kinderklere-afdeling te drentel.
Ek het ook gehuil met die tweede, derde en vierde keer. Net ’n bietjie minder.
“The first cut is the deepest.” Dis so waar. Hierdie bekende woorde van die prediker TD Jakes het my dikwels gehelp. Ek kan dit selfs nou nog in sy swaar aksent hoor: “Even if I do it afraid, but I will do it.” In my weergawe van Jakes se woorde is daar ’n klein byvoeging: “Even if I do it afraid, with tears running down my face, but I will do it. I will face the giants everywhere I go.”
By die kleuterskool het elke kind ’n pienk roubandjie om sy of haar pols gedra. Die besoek was skielik ’n event.
Ons het ’n pienk candy stripe-roos vir Mia geplant. Dit het vir my gevoel ek plant nie die roos nie, maar begrawe dit. Met elke hopie grond wat ek in die pot gegooi het, het ek die klam grond meer intens geruik en my hart het pynlik saamgetrek.
Daardie selfde middag moes ek my seuns by Willem Postma Primêre Skool gaan haal. ’n Ieder en ’n elk wat my daar gesien het, het my vasgedruk. Selfs mense wat ek nie geken het nie. Dit het gevoel of dit doodeenvoudig nooit gaan ophou nie. Daar was egter ook ma’s wat agter bome weggekruip het, wat met vingers na my gewys het terwyl hulle in groepies gestaan en gesels het (ek vermoed maar oor Mia se dood). Ek het so ontsettend blootgestel gevoel.
Dit was ’n baie, baie moeilike en emosioneel uitdagende dag. Lank en pynlik. Net soos die dae, weke en maande ná daardie dag. Die lewe het stelselmatig begin terugkom, soos wanneer jou voet slaap en die naalde en lde jou begin pynig.
9 April 2013
Toe skryf ek weer. Hierdie keer nie ’n brief aan myself of aan Mia nie. Laataand tik ek ’n teksboodskap aan my tannie, ’n mediese dokter.
Tannie, Mia se nekkie het gebreek en sy is dood aan kopbeserings. Ek dink dit was haar harsings wat ek op die gras so ’n entjie van haar af sien lê het. Dink Tannie sy was dadelik dood toe sy die venster getref het? Of sou sy iets kon voel