het sy reeds vir hom dood gelyk.
Haar antwoord: Nee, sy sou dadelik dood gewees het en sy sou niks gevoel het nie. Sy sou nie eens besef het wat met haar gebeur het nie. Liefde.
Ek skryf terug: Die laaste wat sy geweet het, was dan toe sy nog in my arms was? Want dit was vir my so vinnig. Ek het haar nie voel uitglip of gedink: O krisis, nou moet ek vashou, nie. Sy het net uit my arms in Jesus se arms ingegaan?
Haar antwoord: Definitief. Sy sou net in die hemel in Jesus se arms wakker geword het. Try slaap nou en sien in jou geestesoog haar in die hemel speel saam met engele (sic). Vra die Here om haar vir jou te wys sodat dit vir jou gemoedsrus kan bring.
Dagboek, 10 April 2013
Ek skryf weer. Of bid ek? Pleit ek?
Here God, laat my tog toe om haar in my drome weer te sien en vas te druk. Wys vir my dat sy daar by U is en dat sy gelukkig is. Ek weet almal sê dis hoe dit is, Here, maar ek wil dit so verskriklik graag sien, en daarmee saam u bonatuurlike berusting kry.
Here, hou my en my man styf vas. Laat ons al nader aan mekaar beweeg. Ek weet dit is die vyand se plan om tussen ons twee in te kom in hierdie ontsettende seer en deurmekaar emosies, maar ek gaan dit nie toelaat nie. Ek het te hard baklei vir ons huwelik om te kom tot waar ons nou is. Here, beskerm ons gesin teen nog dodelike pyle van die vyand.
Here God, vul die groot gat in my hart met u vrede. Gee dat ek nie so lam sal voel nie, so asof ek net vorentoe strompel van die momentum wat ek opgebou het. Here, help my, asseblief!
Here, ek skryf vir U, want dis makliker as bid. My hart word te seer as ek bid en dan kry ek nie ’n woord uit nie.
Here God, ek bly steeds lief vir U, al het U toegelaat dat my meisiekind doodgaan. Ek is nie kwaad nie. Ek verstaan net nie. Dit voel vir my so ’n bietjie unfair. Ek het gedink ons het genoeg uitdagings in ons lewe. U weet tog van die seuns en hulle daaglikse gestoei met hulle liggame. Ek het nie gedink dat so ’n vreeslike ding ook nog oor ons pad sou kom nie.
Ek besef dat ek nie nou gaan verstaan nie, maar, Here, hou my net styf vas.
Ek is baie lief vir U.
Dagboek, 11 April 2013
Ek skryf sommer net weer …
Dit was vandag vir my baie sleg toe ek my ryskedule vir die buitemuurse aktiwiteite moes oordoen of herbeplan of wat ook al jy dit wil noem as jy die kinders se op- en aflaai by aktiwiteite moet opstel. Ek kon myself eenvoudig nie sover kry om dit, soos altyd, op die rekenaar te doen nie. Want dit sou beteken ek moes die lyntjies met haar Kindermusiek en Dance Mouse delete. Dit was vir my net te erg.
Nou sit ek hier met ’n halfhartige, handgeskrewe skedule langs my. Waar is die super-georganiseerde Mariska en haar Excel spreadsheets?
Dagboek, 12 April 2013
Ek dink ek is in denial. Ek huil van tyd tot tyd, maar die res van die tyd weet ek glad nie wat om in my magtelose toestand te doen nie. Dit voel of Mia net by ’n maatjie gaan speel het. Sy sal nou-nou terug wees.
Dis amper soos die eerste dag by ’n nuwe werk. Jy weet nie eintlik wat om te doen nie. Jy weet nie of jy net moet rondstaan of koffie maak of lêers oortrek nie. En jy weet nie waar die badkamer is nie.
Ek is gewoonlik die een met die planne en die lysies, reg om alles te fix. En nou, nou is ek numb.
Almal wil by my kom koffie drink. Vriende en vreemdes. Kennisse en nuuskieriges. Almal bied hulp aan: Hulle wil my inkopies gaan doen, my kinders rondry en vir my kos maak.
Ek begin insluip by die skool wanneer ek die seuns aflaai. Solank ek net nie raakgesien word nie. Tog is daar elke keer iemand iewers om ’n hoek wat my voorkeer en dan huil ek onbeheersd.
Ek besef mense wil help en mense gee om en almal bedoel goed. Maar help dit regtig? Dit voel vir my dit maak alles net erger om weer en weer hiermee gekonfronteer te word.
Mense wat nog nooit, ooit in hulle lewe saam met my wou koffie drink nie, húlle wil nou. Ná so ’n afspraak voel dit vir my ek doen dit net om hulle tevrede te stel. Dit klink lelik, maar dit voel regtig vir my so.
Ek is moeg gekoffie. Die meeste mense is meestal onseker oor wat om te sê en wat om te doen. En van almal is ek die onsekerste. Ek weet glad nie hoe om te “wees” nie.
Die uiteinde? Ons maak maar net geselsies.
Dit voel of iemand my in China gaan aflaai het en ek moet aangaan met my lewe op hierdie volksvreemde bodem.
Pienk
_______________
The phrase “in the pink” means
healthy; the expression “tickled pink”
means being happy, content.
– www.bournecreative.com
The phrase “to pink” means
to create a small cut.
– www.dictionary.com
’n Hartsbegeerte
Ek en Franché het die begeerte na nog ’n kind gehad, ten spyte daarvan dat dit toe reeds amptelik was dat Stéfan en Morné aan ’n medies gesproke ongeneeslike spiertoestand ly. Ek het vir toetse gegaan sodat hulle kon bepaal of ek ’n draer van dié toestand is. Die gewag op die uitslae het soos ’n ewigheid gevoel. In daardie “ewigheid” het ons besluit om in geloof voort te gaan met ’n derde swangerskap. Hierdie geloofsreis was van die begin af pienk gekleur.
Toe Mia haar verskyning maak, was dit al neonpienk.
Ek wou Mia só graag hê. Ons almal wou. En toe daag sy op. Soos ’n lentebloeisel ná die winter. En sy was gesond. Ek was nie ’n draer van die seuns se onverklaarbare spiertoestand nie. Die tyd na haar geboorte was een van die gelukkigste tye van my lewe.
Mia se lewe is oordadig in pienk gevier.
Van begin tot einde.
19 April 2013
Ek bid in my kamer. Ek bid in tale en … toe gebeur dit.
Ek sien my Miemie Muis in ’n lang wit rokkie. Daar is ’n helderpienk band wat oor haar skouer tot by haar heup hang. Haar blonde lokkies is sag en sonder koeke. Ek kan amper daardie sagte hare tussen my vingers voel.
Sy kyk stip na my. En sy lyk tevrede. Dit is ’n kyk van aanvaarding. Soos wanneer ek soms van die huis af moes weggaan en sy by Pauline moes bly.
Haar gesig is effens verlig en daar is iets bokant haar kop wat die lig oor haar laat val. Haar tandjies skitter spierwit. Sy skaterlag met ’n oop bekkie terwyl sy begin speel op die groen gras in die tuin, ’n tuin wat my asem wegslaan so mooi is dit. Daar is ook allerhande diere by haar en sy speel met hulle.
In die visioen dra Mia ’n lang, amper té lang, wit rok. Ek kan nie haar voete sien nie. Sy slaan bollemakiesie en rol oor die gras. Sy is gelukkig en lag.
Ek sien hoe Mia vra of Hy (Jesus) haar kan optel, maar dit is nie net hulle twee daar nie. Daar is ook ’n groepie mense in wit geklee. Mari, ’n vriendin wat ons jare vroeër aan leukemie verloor het, is deel van dié groep. Haar swart hare is lank en haar vel blas en sy staan langs Jesus. Later sit Mia op Jesus se heup. Almal glimlag. Mari se oë is sag.
Ek vra vir Mari om mooi na Mia te kyk. Ek gee haar ook ’n opdrag: Gee haar baie drukkies! Mari glimlag, knik haar kop en sit haar arms om Mia terwyl Jesus haar steeds vashou.
Die ander mense se gesigte kan ek nie sien nie, maar hulle waai vir my. Mia soen in haar handjies en blaas die soen dan na my toe, net soos sy altyd gedoen het.
Toe begin Mia met mening haar hande beweeg, vinniger en meer. Die soene stroom na my toe. En toe gee Jesus Mia vir Mari.
Ek sien almal waai vir my, maar die beeld word geleidelik dowwer, soos wanneer jy uitzoem van die voorwerp waarop jy met jou kamera gefokus het. Toe draai die groepie mense stadig om en stap in die rigting van die heuwels