het, was daar vir mooipraatjies oor die weer nie, en niemand wou die ewige lewe aan ons kom smous nie.
Ek het destyds toe ook vir Jesus as ’n monster afgeskryf: groot, onbeskof en met geen respek vir mense se slaap nie. Ek moet by Hom ook maar op my hoede wees vir enige moontlike straf wat Hy kan uitdeel as ek nie die emmers vol water gemaak het nie of nie die huis ordentlik skoongemaak het nie.
Eers later, toe my lewe en storie die draai gemaak het tot hier waar ek nou sit, het ek besef ek het Jesus die monster gemaak. Ek het Hom in die menslike beeld van my slegste nagmerrie omskep.
Maar Jesus is nie soos skoonheid wat in die oog van die waarnemer lê nie, soos die bekende sêding lui. Jesus is konstant – van begin tot einde, dieselfde. Deur ons dik en dun, deur ons monsterjare, deur ons verlore jare, totdat ons terugkeer huis toe vir die fees van alle feeste!
Maar hoe maklik is dit nie vir ons om Jesus in ’n blik te druk nie! Om Hom in ons pyn se blik, ons rykdom se blik, ons armoede se blik, en so meer, te druk en alles oor wie ons dink Hy moet wees deur daardie lense te sien nie. Maar Jesus is soos Philip Yancey vir Walter Wink aanhaal in sy boek The Jesus I Never Knew: “If Jesus had never lived, we would not have been able to invent Him.”
Huis – soos ek dit later jare sou leer ken – is waar jy veilig voel, waar jy gegrond voel en waar jy behoort. Dis die plek waar jou storie die veiligste en jou drome goud werd is. As dit wel die geval is, het ek nooit “huis” geken nie. Ek ken van ’n dak oor my kop hê, ja; ek ken van kos op die tafel. Maar ek ken nie die gevoel van behoort nie. Ek ken nie van ’n gesonde tuiste hê nie. Dit was ’n voorreg wat nie vir iemand van my strate beskore was nie. En ná 35 jaar op aarde, plus vier jaar van getroude lewe, is die idee van huis steeds vir my vreemd. Die taal van behoort, van voete opskop, sit party dae steeds ongemaklik by my.
Maar ek het nou al ’n baie gesonder definisie van wat huis moet wees. Ek weet nou my storie is veilig, ek behoort, ek hoef nie eers myself te oortuig – of ander mense oortuig – van my bestaan, van my regverdige plek in die samelewing nie.
Ek probeer ook kleur gee aan daai definisie van huis en behoort deur my lewe, my toekomsplanne en my gedagtes volgens dié gesonde prentjie in te rig. Dis ’n keuse wat ek elke dag moet maak. Om nie te val vir die leuen dat ek steeds alleen is en steeds op soek is na aanvaarding nie. Maar dat daar mense is wat voor my, langs my en selfs agter my staan – vir ondersteuning, en wat ook na my kyk vir ondersteuning. Ek is nie meer die afvlerkvoëltjie wat te vroeg die nes moes verlaat nie.
Die meeste van die tyd voel dit vir my ek het nie die vaagste benul wat ek doen nie, en hoe om huis en behoort te bou nie, maar my liefste Nadine se glimlag, die reuk van die piesangbrood wat sy gereeld bak, die yskas se geraas, die braai by vriende wat ek regtig vriende kan noem, dit bring altyd die gevoel van “Mama, I made it” by my op, van “Mama, kyk, ek het toe heel oukei uitgedraai. Daar is toe lig aan die einde van die tonnel. Jy was reg. Dankie. Dankie. Dankie!”
Dit bring ’n bewustheid by my dat die begin van ons stories nie noodwendig ’n aanduiding is van hoe ons stories eendag gaan uitdraai nie. Al weet jy nie hóé dit gaan vorm kry nie. Wat ek nie sal gee om in tyd te kan teruggaan om die klein en verlore Ivor te laat glo hy gaan eendag in ’n baie kreatiewe huis bly en met die kreatiefste vrou getroud wees nie!
Ek weet nou wat bedoel word met die spreekwoord: “There’s no place like home.” Want nêrens voel ek meer myself as in die ruimte wat ek en Nadine probeer bou en inkleur nie. Sy is die geskenk wat God vir my uitgesoek en gespaar het. Haar geduld met wie ek was en waar ek vandaan kom, is genade self – Goddelike genade van Bo. En dis hier – waar ek nou sit en skryf – waar ek die ruimte en vrymoedigheid het om oopbek te kan lag en uit volle bors te kan sing. Dis hier waar ek kan koffie drink en bid – by ’n tafel wat ek self gekoop het, waarop die mooiste bos oranje rose staan, langs die swart-en-wit foto van ons troudag.
Ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie. Ek is dankbaar vir elke druppel, en vir elke sent, en vir elke gebed. Dis ’n tevredenheid wat nooit daar was nie – of wat deur jare se pyn en selfvernietiging toegesmeer is.
Die stories in hierdie boek is soms onaanvaarbaar pynlik. Dis rou, eerlik en ’n klein venster op ’n wêreld wat vir my gekies en gegee is, maar wat ek self aangeneem en selfs verder gevat het as wat bestem was.
Moenie jammer voel vir my terwyl jy die bladsye lees nie. Sê eerder vir God dankie vir sy genade oor my. Dat ek aan die kant van die lewendes uitgekom het, en die stories het om te vertel van die God wat op reis gaan om verlore kinders weer by die huis te kry.
Niks van wat gebeur het, kan verander nie. Maar God se genade is nuut elke oggend. Wees bly daaroor. Want dis die storie wat ek eintlik wil vertel – al moet ek eers deur die stories van die dal van doodskaduwee gaan. Die Hoop en Lig is sterker in die tweede helfte van die storie. Byt vas met jou storie. Hoop en Lig is op pad.
Ek het eenkeer op Facebook gesê waar ek vandaan kom, kan nooit van my af weggevat word nie. En dis waar van ons almal. Die strate van jou grootwordjare dra by tot die ware vorm wat jou storie moet aanneem. Ons dra daai strate en herinnerings oral saam met ons – soos ’n selfoon wat oorloop van foto’s – en elkeen het ’n storie om te vertel.
Maar dit beteken nie altyd dat ons met ywer sal wil terugkeer – of móét terugkeer – na waar ons vandaan kom nie. Partykeer moet ons die vandaankom in die verlede los, hom in die truspieël sit, soos ’n verhouding wat jy weet verby is die oomblik dat jy wegry. Dis al manier om vorentoe te beweeg as ons op ’n gesonde plek in die toekoms wil beland.
Maar soms klou en krap die verlede ongenooid aan ons vas. Dit sleep agter ons aan soos ’n angstige tiener op tik – jy raak nie maklik van hom ontslae nie. Al wil jy ook hoe graag.
In ander gevalle is dit amper ’n moet-saak dat jy die huis, die strate en die monsters van jou herkoms wéér gaan besoek – en alles wat daarmee gepaardgaan. Dis om dit alles broek-bewe in die gesig te gaan staar sodat jy daar waar jy nou is en die huis wat jy geskep het, of wil skep, regtig kan waardeer.
Ek gaan gereeld terug na die huis en strate van my grootwordjare. Die Gaatjie – met die stukkende skoolvensters, die skollies op die straathoeke en die moeders wat in lang rye vir welsyngeld wag. My jongste broer bly steeds daar. Dis meestal vir hom – ons suster en my dogter – dat ek nog soontoe teruggaan.
Maar oor die algemeen is ons nie gemaklik met die idee van teruggaan na ons verlede toe nie – selfs al is dit net om ondersoek te gaan doen oor wie ons was of waarvan ons gedroom het. Ons wil die verlede in die vallei los, en net geniet waar ons nou is. We want bygones to be bygones. Ons hou nie van ou koeie uit die sloot uit grawe nie – al kan die ou koeie vir ons nuwe wêrelde oopmaak oor wie ons is en die dinge wat ons gevorm het.
Ek is oortuig dat ons die lewe juis met oorgawe kan geniet as ons ook ons verlede, met al sy nukke en grille, in sy volheid kan aanvaar en omhels. Ek was te lank ’n gevangene van die verlede – letterlik en figuurlik, liggaamlik en emosioneel. Ek het ’n baie ongesonde verhouding met die verlede gehad omdat dit al was waaraan ek kon vashou – of so het ek gedink. Ek moes deur diep waters gaan om uiteindelik die hartskuif te maak dat ek die verlede – hoe noodsaaklik dit ook al vir die toekoms is – nie kan vertroetel nie, nie as ek wil glo die mooie lê voor in die toekoms nie.
Nostalgie kan ’n gevaarlike vriend wees, maar ook ’n wyse rigtingwyser vir die toekoms. Ek lees in Pierre du Plessis se boek Boomwortels in die hemel dat die woord vir bekering in Hebreeus juis beteken om terug te gaan na die begin, om weer tot by die oorsprong te kom, daar waar alles begin het. Seker ook maar om weer huis toe te kom, terug te keer na die begin – want elke stukkende storie het ’n begin. En het ons almal nie maar die behoefte om huis toe te kom, sonder al die bagasie waarmee ons die huis verlaat het nie?
GRABOUW
Elke merk op my lyf het ’n naam en ’n plek. Die meeste van hulle is familie, en kom van dieselfde plek af
– Ivor Swartz.
Ek is gebore en getoë op Grabouw in die Wes-Kaap. Nie die prentjiemooi Elgin-gedeelte nie, maar die stowwerige rooigrondstrate van die Gaatjie – die noemnaam van die gebied