Ivor Swartz

Die verlore seun vannie Gaatjie


Скачать книгу

steek vir die vriend wat langs hom sit. Dié foto sal loshande die eerste prys wen in die “bring die coolste foto van jou pa skool toe”-kompetisie. Ek grap ook baiekeer in my praatjies deur te sê ek hou dié foto van my pa om vir mense te wys dat ek nie die daggalewe gekies het nie; dit het mý gekies. Soos jy op die foto kan sien. Dis mos net baie makliker om die oorsprong van jou pyn en swart hart aan iets of iemand anders op te dra. Want dan hoef jy nie enige verantwoordelikheid vir jou lewe, jou keuses, jou toekoms en jou potensiaal te aanvaar nie.

      My suster vertel hoe ek as kind, kort ná Pieter-Bingo se dood, baie dae voor die venster gesit het, vir hom gewag het om terug te kom huis toe. Om alles te kom balanseer, seker. Ek het blykbaar my gesig so styf teen die venster gedruk dat die snot en trane dae lank vuil vlekke daarop gelos het. Ek het geskree en geroep na elke bus wat in die straat verbygery en mense kom aflaai het, in die hoop dat my pa daaruit sou klim.

      Ek kan niks daarvan onthou nie. Dalk het die jare se opbou van trauma en skuld en hartseer dit uitgeblok. Met goeie rede, seker ook. Ek het te veel swaarkry op myself gepak om nog die gewig en volle waarheid van my pa se dood ook rond te sleep. As jy moet oorleef, vergeet jy van die dooies. Hulle is verlos van die wêreld, en hulle kan nie jou gevegte vir jou veg nie.

      My suster sê niemand het geweet hoe om die dood aan ’n kind van my ouderdom te verduidelik nie. Dis hoekom hulle soms maar net saam met my gehuil het of saam met my geroep het as die bussie verbykom. Was dit beter as om net die waarheid te vertel? Het dit my regtig beskerm teen die vrae wat ek sou vra?

      Ek het blykbaar van kleins af grootmensvrae gevra – vrae waarvoor grootmense self soms nie antwoorde gehad het nie. Hoe die werklikheid van die dood by my ingesink het, en of ek later net moeg was van die geroep na iemand wat nooit sy verskyning sou maak nie, weet ek nie. Maar ek het eendag ophou roep en skree en snotneus verlore by die venster staan.

      Maar ek vang daai seuntjie nou nog baiekeer waar hy by die venster staan en roep, veral as dinge nie vir hom uitwerk soos dit moet nie. Ek vang hom op sy slegste dae van eensaamheid wanneer hy weer so behep raak met die “wat asse” van die lewe. Wat as Pieter-Bingo dit sou gemaak het? Wat as hy daarna tog sou gaan brood koop het? Wat as Deon ’n sterker eweknie gehad het om bors teen bors mee te staan?

      Dis gewoonlik makliker om jou aandag en energie te gebruik om te sif deur die dinge wat jy verloor het as om na jou hande te kyk en te tel wat jy nog daarin het. My selfbejammering was ’n teken van terugkyk na wat in die verlede verlore geraak het. Dit kan onnodig swaar raak as jy meer kere as wat nodig is, omdraai om die verlede te gebruik as versiering by jou pity party.

      Dis wanneer ek die laaitie by die venster vandag nog sien dat ek hom innig jammer kry; dat ek hom ’n drukkie wil gee en ’n oomblik vir hom alles wil laat vooruit speel, tot waar hy nou is – veilig, geliefd, besig om voluit te leef. Ek laat hom nie toe om ’n slagoffer van sy verlede te wees nie. Ek troos hom liewer met die dieper waarheid dat hy ’n hemelse Pappa het wat hom tegemoetkom in sy uitroep; Een wat ook jare lank by die venster gestaan en wag het vir hom om terug te keer huis toe; Een wat hom laat glo hy is nie alleen of verlore in sy uitroep nie.

      Dis die boodskap waarna ek onwetend gehunker het vir omtrent die grootste deel van my tienerjare, want ek was kwaad vir ou Pieter-Bingo. Sy dood was nie sy skuld nie. Ek het wel vir lank gevoel ons swaarkry was sy skuld. Aan ons swaarkry kon hy min doen. Aan sy dood kon hy min doen. Maar ons was nog aan die kant van die lewendes, en moes doen wat agtergeblewenes doen: oorleef!

      “Pa verjaar vandag,” kom daar een jaar op 7 Oktober uit die bloute ’n SMS deur op my foon. Dis van my suster Tess af, wat steeds op Grabouw bly. Sy het baie goed na my en Peter gekyk om te probeer opmaak vir waar ma Lettie en Pieter-Bingo dalk verkeerd gegaan het.

      ’n Paar minute het ek net gesit en wonder wat ek moet voel en óf ek ooit iets moet voel. Verlies? Of verlange miskien? Hoe voel of huil jy oor iemand wat jy nie geken het nie, maar wat tóg onafskeidbaar deel is van jou?

      Die oggend toe die SMS deurkom, was ek by ’n skool waar ek my storie vertel het. Ek het juis met die leerders gesels oor die leemte wat ’n pa kan los as hy te vroeg doodgaan of sy vaderskap-kaart ingehandig het. Die brood en seep gaan nie hulleself koop nie. Dit was ’n skool waar die leerders ’n storie soos myne baie goed ken, want hulle leef dit tans. Dit was eers toe ek klaar was by die skool dat ek die konneksie gemaak het: Die meeste van die tyd is daar nie 100% duidelikheid of noukeurig deurdinkte antwoorde op wat met ons gebeur het of hoe dit inpas by waarmee God in sy wêreld besig is nie, al probeer ons alewig om God duidelik in ons pyn te sien.

      Ons probeer altyd sin maak uit wat God ons nou weer wil leer deur ’n moeilike situasie. Maar Juliana of Norwich het gesê: “First there is the fall, then the recovery from the fall. Both is the mercy of God.” God se genade is by ons voordat ons val, terwyl ons val en nadat ons geval het. Dis ons wat daarvan hou dat die getalle moet klop. Dat een plus een twee móét maak. Want hoe anders sou ons kon verduidelik wat met ons gebeur? Hoe anders sal ons verlore pad sin maak? Sekerlik moet dit deel van God se groter plan vir ons lewe wees? Sekerlik moet ons uitkyk vir die les wat Hy ons deur hierdie seisoen wil leer?

      Regtig? Is dit so maklik? Jy word ’n hand gedeel weens jou eie keuses, of weens die keuses van ander, en die beste waarmee mense kan opkom, is dat dit deel van God se plan is? Watse God laat ’n kind sy pa op drie verloor, nét om die kind later in sy lewe ’n les te leer? Om hom kastig sterker te maak?

      Ons kry wel van tyd tot tyd sulke katspoegies – soos dié dag by die skool – wanneer God saggies in ons harte kom bevestig: “Ek mors nie pyn nie, nie die pyn wat ander jou aangedoen het of die pyn wat jy jouself toegedien het nie.”

      Ek ontmoet elke jaar duisende jong mense oor die hele land heen wie se stories ook begin met: “My pa . . .” En dié woorde word selde met iets positiefs gevolg. Ek was eenkeer by ’n laerskool in die Wes-Kaap om met die kinders te praat toe ’n laaitie halfskaam, halfopgewonde na my toe stap nét om te sê sy pa bly nie meer by hulle nie. Hy mis sy pa, en hy vra of hy my ’n drukkie kan gee. Die vaderlose leemte en die soeke na bevestiging van ’n mens se identiteit hang nie van jou ouderdom of jou ras af nie. Hopelik sal meer van die verlore seuns se stories eendag ontwikkel tot waar die leemte en krake ’n geskenk word vir ander se stories. Nes myne die afgelope paar jaar doen, al het dit nie maklik gekom nie.

      Ja, Pieter-Bingo, ek ken jou dalk nie, maar jy leef tog voort in my storie, wat ook ander se stories word. Jy leef voort in my en vele ander se vrae, pyn, verlies en struikelende wandeling na genesing. Jy leef ook voort in hierdie nuwe storie van my, die een waarin ek nie meer verlore is nie.

      Ek het baie van die redes en die oorsprong van my seer op my dooie pa se skouers laat rus. Hulle beweer dat omtrent 63% van alle geboortes van 2017 in Suid-Afrika geen besonderhede van die pa’s op die registrasiesertifikate het nie. Afwesige pa’s is ’n tikkende tydbom en die skade wat aangerig word, is enorm. Daar is duisende jong seuns en dogters wat antwoorde soek, wat roep, wat by vensters staan en wag en wat daardie leemtes vul met kokende haat vir ander.

      Ek self het soms woedend en hardop gewonder of ons dalk nie genoeg was vir Pieter-Bingo sodat hy net nóg ’n paar meter hoër kon strek na daai venster toe nie. Sou Deon dalk ’n ander mens gewees het? Sou hy dalk meer mens en minder monster gewees het? Sou Peter dalk vandag nie gelyk het of iemand hom met ’n nat koerant geslaan het van al die jare se tatoeëermerke op sy lyf nie? Sou hy meer as standerd 5 gehad het? Sou my greep op my manlikheid dalk sterker gewees het?

      Maar al die gewonder kan jou vinnig ’n slaaf van jou verlede maak. Die wonder kan maak dat jy nooit verantwoordelikheid aanvaar vir jou lewe nie. Die “arme ek”-sindroom, die slagoffermentaliteit, vang jou en vou jou toe soos ’n swaar en donker kombers. Dit verlam jou en laat jou dikwels met jaloesie en bitterheid na ander kyk.

      Dit het my ware identiteit en potensiaal baie lank verberg. Ek wou heeltyd hê mense moes hul lewe stopsit om aan my wonde aandag te gee. En ek kon nogal vinnig ’n goeie vloermoer soos ’n tweejarige gooi as mense my nie raakgesien het vir mý wonde, vir mý gebrokenheid nie. Dit kan verslawend raak, maar dis nooit volhoubaar nie.

      Iewers moes ek toegee dat ou Pieter-Bingo se dood my ook gevorm het in die man wat ek vandag is, en steeds besig is om te word.