dalk kan hy nog net hierdie een keer ’n vreemde vrou geselskap hou. Alles Irma en haar vieslike boodskap se skuld.
“Gespierd, aantreklik, donker … en dan nog snaaks ook?” Die vrou kom oorkant hom sit, die selfversekerde, gesofistikeerde soort.
“Het ek jou gevra om te sit?” Sy stem is steeds laag, speels. Hy het nie ’n gelukkie in hierdie klein plekkie verwag nie, en dit nadat hy besluit het om sy ou weë agter te laat. Ai.
Boonop is die lang donkerkop en haar rooi lippe nie te sleg op die oog nie.
“Wel, jy het nie, maar hoekom sal twee warmbloedige mense nou alleen eet vanaand? Laat ek raai: jou werk het jou na hierdie plek gestuur. Jy is oorwerk, op jou selfoon moet jy vrede by die huis tussen vroulief, die kiddies en die honde bewerkstellig, en tussenin moet jy mooi na jouself en jou behoeftes omsien – en veral werk om daai lyf te hou soos dit tans daar uitsien.” Sy knipoog vir hom.
Sy slaan só die spyker op die kop. Behalwe dat hy nie nou met Dianè besig was op sy foon nie. Hy praat eintlik weinig met Dianè op die foon wanneer hy weggaan. Hy laat weet wel altyd dat hy veilig is en stuur stemboodskappe vir die seunjies, dink hy skuldig. Vir enigiets meer as dit is hy net te besig.
“Dalk is jy reg, dalk is jy verkeerd. Wat gee jou die idee daar is ’n vrou, kinders en honde by die huis? Wie sê ek hét ’n huis?”
“Wat ek wel weet, is dat jy ’n humorsin het. Ek is Maggie, aangenaam.” Sy steek ’n goed versorgde hand uit. Haar naels is ’n sagte grys geverf, die twee ringvingers het goue strepies op. Keurige vrou, dink hy.
“Ek is Steve, aangenaam.” Hy hou haar hand vir ’n ruk te lank vas voordat sy dit wegtrek. Steeds selfversekerd, glad nie ongemaklik nie. “En wat doen Maggie op hierdie plek?”
“Werk, wat anders?”
“Dan is jy oor een ding reg: Twee warmbloedige mense wat mekaar ver van die huis af raakloop, durf nie alleen eet nie. Dis sleg genoeg om alleen te moet slaap …” Hy laat hang die woord suggestief in die lug. Voel die warm gevoel in sy bekken toe sy sy blik uitdagend gevange hou.
“Absoluut. Ons praat dieselfde taal. So wat doen Steve vir ’n lewe?”
“Ag nee, jy wil seker nie oor werk praat terwyl ons eet nie. Dis sleg vir ’n mens se spysvertering.”
“Goed.” Sy blaai deur die spyskaart wat die kelner voor haar neersit. “Kom ons bestel en dan vertel jy my van jou stokperdjies. Aan daai spiere wat onder jou hemp bult, neem ek aan oefening in die gym neem die meeste van jou vrye tyd in beslag?”
“Jy neem reg aan.” Dis altyd lekker as vroue sy spiere opmerk. Sy lyf is sy beste bate, en die een ding waarop hy bitter trots is. ’n Mens kan geld en rykdom erf, maar vir spiere moet jy hard werk. “Wat doen jy vir oefening?” Sy oë streel oor haar nek en borslyn. Die plat magie en res van haar word deur die tafel verberg.
“Wel …” Sy lek suggestief oor haar bolip. “Ek moet baie kreatief wees om fiks te bly. Die binnekant van ’n gym is dalk goed vir visuele stimulasie vir mans, maar glad nie vir ’n vrou wat hou van uitdagings nie.”
“Uitdagings?”
Sy bars uit van die lag. “O, maar jy’s nuuskierig.”
Hy sit terug in sy sitplek en vou sy arms oor sy bors. Hou haar ’n rukkie lank dop sonder om iets te sê. Sy geniet duidelik die speletjie, want daar’s ’n slinkse glimlag om haar mond terwyl sy kastig die spyskaart sit en bestudeer. Met haar sal hy kan toor …
“Kan ek solank vir die dame iets kry om te drink?” vra die kelner wat uit die niet verskyn en sy verbeeldingsvlug onderbreek.
“’n Glas rooiwyn, asseblief. Of sal ons ’n bottel bestel?” vra sy vir Robert.
“Nee, kry gerus vir jou. Ek gebruik nie alkohol nie.” Hy sien die vinnige wip van haar wenkbrou.
“Nie eens een glasie nie? Ek ruik ’n storie – vertel?”
“Dis ’n lang, vervelige storie, glo my. Die kort weergawe: ek wil altyd in beheer wees. Drank laat ’n mens beheer verloor.” Hy leun vorentoe. Dis die eerste eerlike ding wat hy tot dusver vir haar gesê het.
“Bring vir ons ’n bottel droë rooiwyn, asseblief. En jou twee mooiste wynglase,” sê sy vir die kelner.
Sy knipoog in Robert se rigting. En glimlag vir hom. Hy laat sak sy kop in sy hand en blaas stadig sy asem uit. Een glas rooiwyn, net een. Dalk is dit al wat hy nodig het om van hierdie dekselse verterende skuldgevoelens ontslae te raak.
Dianè
Haar hande voel bewerig die volgende oggend toe sy by die salon kom. Nie eens die sterk koppie koffie help haar om te kalmeer nie.
Die oomblik toe alles gisteraand om haar rustig was, het sy Robert probeer bel. Tevergeefs. Hy moet vir haar verduidelik wat aangaan, het sy gedink. Sy miserabele voicenote, iets wat hy in elk geval nooit gebruik nie, want dis volgens hom te onpersoonlik, was nie genoeg om haar woede en vernedering te laat bedaar nie. Sy weet nie hoe sy ooit weer vir mevrou Nieuwoudt in die oë sal kan kyk nie.
Sy het later die aand ’n paar boodskappe op WhatsApp gestuur. Steeds sonder enige reaksie; hy het dit nie eens oopgemaak nie.
Heelwat later het sy besef dit gaan haar nie help om Robert aan te vat nie. Sy kan hom ook nie konfronteer oor ’n kind wat moontlik syne kan wees as hy reeds besluit het om die pad te vat nie. Dit sal hom net kwaad maak en verder van haar vervreem.
Gelukkig bied WhatsApp die opsie om boodskappe uit te vee voordat dit gelees is. Dit was die sinvolle ding om te doen. Sy hoor die salondeur toeklap, gevolg deur Lara se vrolike stem. Steeds vals, maar baie vrolik.
Vandag sou sy eerder iewers wou wegkruip. Sy voel weer soos toe sy klein was en haar ma haar hare met die elektriese skeermes bygedam het. Sy wou vir altyd in die donker wegkruip, skaam dat die res van die wêreld haar so moes sien.
“Môre, liefste Dianè, is jy ook ’n happy chappy vandag?”
“Haai, Lara. Hoe laat kom ons eerste afspraak in vanoggend?”
“Oee, geen antwoord is ook ’n goeie antwoord. Het jy sleg geslaap?”
“Nee. Ek het nie juis geslaap nie. Ek het jou ook ’n vraag gevra?” Sy krap aan haar hals en trek aan die kraag van die katoenrok wat haar so laat jeuk. Dis vroegoggend al warm en die verdomde blou merke het nog nie vervaag sodat sy iets koelers kan aantrek nie.
“Wat is dit?” Lara spring vorentoe. “Dianè, hoekom het jy blou merke om jou nek?”
“Dis niks. Dis in elk geval nie wat jy dink nie.”
“Dis nooit wat ’n mens dink nie, dis altyd erger. Het dit gisteraand gebeur?”
“Saterdagaand al.” Dianè sug. Dit gaan nie help om dit verder vir Lara weg te steek nie. “Alles oor rooivleis. Hy was kwaad oor my nuwe oorbelle ook, maar ek dink veral oor die kos. Of iets met proteïene te doen. Robert gym die laaste ruk soos ’n besetene en sy dieet moet tot in die fynste besonderhede gevolg word. Ek was net te besig, en hierdie keer was dit ongelukkig die soveelste keer dat ek vergeet het. Jy weet ek leef van blare …”
“Het hy jou oor rooivleis geslaan? Was hy gesuip?”
“Jy weet Robert drink nie. En nee, hy het my nie regtig geslaan nie. Net nogal rof rondgepluk en … ’n mens kan dit seker wurg noem. Hy het my gewurg, ja. Hy het ’n hengse greep, dit kan ek jou belowe.” Sy maak die boonste knope van haar bloes los en druk die mou oor haar skouer sodat Lara die res kan sien.
“Jinne, Dianè. Ek verstaan nie die sjarmante Robert wat altyd so gaaf en vriendelik teenoor almal optree nie. Wat gaan aan?”
Dis of iets in haar knak. Die vorige kere dat hy wel handgemeen geraak het, het Robert haar nie met soveel blou merke gelaat nie.
“Dis nie al nie.”
Lara