Malene Breytenbach

Tot die dood ons skei


Скачать книгу

in sy lewe tegemoet. Haar hart krimp van jammerte vir hom. Hy gaan onderskraging nodig hê, maar sy is huiwerig om te naby aan hom te kom. Destyds het hy haar hart gebreek en sy het lank geneem om uit die donker gat van verwerping en vernedering te klim. Sy het hom vermy totdat sy gevoel het sy kan hom met selfvertroue weer in die gesig kyk en dit regkry om haar koel en kalm voor te doen.

      Nou sal sy verplig word om hom medemenslik te ondersteun.

      Vanoggend sal sy haar motor moet neem, want sy is laat. Gewoonlik stap sy die entjie na die kampus. Eers gaan kyk sy hoe dit in die kombuis gaan en sy tref Riaan daar aan met ’n yslike bord kos. Souf en Liana is duidelik besig om ’n oordrewe ophef van hom te maak.

      “Ek moet ongelukkig draf, anders kom ek laat,” kondig sy gemaak vrolik aan, maar sy wissel ’n vinnige blik met Liana. “Sien julle later. Tatta, Riaan. Lekker eet.”

      Met ’n vol mondjie vra hy: “Waar is Mamma? Die tannie wou nie hê ek moet haar sien nie.”

      Kira onderdruk ’n sug en haar hart loop oor van deernis. “Sy’s ’n bietjie siek, maar Pappa is amper by die huis. Moenie jou bekommer nie. Souf sal mooi na jou kyk as ek en tannie Liana werk toe is.”

      Sy vlug voordat hy nog iets kan vra. Arme ou knapie, dink sy weeïg. Nog nie eens op skool nie en hy verloor sy ma.

      Sy trek net met haar motor by die hek uit toe sy die ambulans se oop deure en twee mans in wit jasse wat ’n trollie naderstoot, sien. Met afgryse merk sy die vorm van ’n mens in die lyksak en ril van kop tot tone. Daardie wit voorwerp is die lewelose oorblyfsels van die mooi vrou met haar lang blonde hare en groen oë wat Kira byna elke dag met haar twee swart poedels sien stap het. Hulle het nie vriendinne geword nie. Monique Brand wou seker nie met Reinhard se eks vriende wees nie, en Kira kon eenvoudig nie.

      Toe Kira terugkom by die huis, is sy verlig dat haar klasse vandag min was en dat die beproewende oggend verby is. Sy moes voor die studente lyk asof sy haar nie buite weste geskrik het nie, maar sy kon nie ophou om aan Reinhard, die mooi Monique en die verwese klein Riaan te dink nie. Sy deins terug van al die implikasies van Reinhard se wewenaarskap wat in haar onderbewussyn opborrel.

      Toe sy instap, is Souf besig om te stofsuig, maar sy skakel dadelik die stofsuier af.

      “Waar is Riaan?” vra Kira.

      Souf skud haar kop. “Hy het skaars klaar geëet, toe kom daardie mevrou Smit, die professor se sekretaresse, om hom te haal. Sy wou nie nee vir ’n antwoord vat nie. Juffrou Liana was ook haastig werk toe, toe laat ek hom maar gaan.”

      Kira weet nie of sy vies of dankbaar moet wees nie. Aan die een kant het die vrou ’n vermetelheid om haar so op te dring, maar aan die ander kant is sy dalk net goedhartig.

      “Toemaar wat, dalk is dit goed dat ’n maatjie sy aandag aftrek. Mevrou Smit se seun lyk asof hy byna dieselfde ouderdom as Riaan is. Professor Brand moet tog net gou huis toe kom dat hy die saak kan hanteer.”

      Kaptein Lucille Wiid staan voor die mooi huis van die slagoffer in die goed versorgde tuin en adrenalien pomp deur haar are. Dis nie haar eerste moord dié nie, maar sy het nog nie met sulke vooraanstaande mense te doen gehad nie. Die slagoffer was besonder mooi, selfs met ’n gesig wat van vrees gevries het. Sy het steeds nagklere aangehad, maar dit het van hoë gehalte getuig en duur gelyk. Die skerp voorwerp wat haar bors en hart binnegedring het, moes haar onmiddellik doodgemaak het. Minstens was dit ’n genade.

      Hierdie moord is soos dié waarvan jy in stories lees, of in soapies sien. Dis allesbehalwe gewoon. Wie sou die vrou uitgelok het in haar nagklere, haar vermoor het en die moordwapen verwyder het?

      Al het sy en haar kollegas die moordtoneel op die agterste grasperk gefynkam en niks gevind nie, geen enkele leidraad nie, gaan sy beslis weer en weer oor dieselfde terrein soek, neem sy haar voor. Nog iets wat haar opgeval het, is dat die agterdeur oop was en die honde aan die ronddwaal. Dit lyk ook nie asof roof die motief was nie, altans nie volgens wat die verskrikte huishulp kon agterkom nie. Die kind het nog binne geslaap, dus het die vermoorde vrou hom nie wakker gegil nie.

      Nee, die motief lyk vir Lucille duister.

      Die Trollip-susters van langsaan fassineer haar. Albei is mooi en slim. Sy het Liana al verskeie kere as landdros sien optree en respekteer haar. Sy weet ook dat Liana ’n vaste vriend het wat ’n prokureur op die dorp is, maar van die professortjie, die mooi donker Kira, weet sy byna niks. Sy was doodsbleek daar voor die hek, terwyl Liana die saak onmiddellik gehanteer en die seuntjie verwyder het. Sy het glo gaan draf – net mooi die tyd dat die arme mevrou Brand die ewigheid ingestuur is. Haar bewegings moet ondersoek word.

      Sy lyk egter nie of sy moord kan pleeg nie. Haar mooi oë was blink van ongestorte trane en sy het ’n kwesbare soort mond. Opvallende oë met lang, swart wimpers wat ’n man se hart seker bollemakiesie kan laat slaan. Sy lyk egter nie na ’n flerrie nie. Te ernstig.

      Ek moet meer van haar te wete kom, besluit Lucille. Ondervinding het haar al geleer: moenie ’n mens op sy of haar baadjie takseer nie. Die wreedste moordenaars kan normaal en selfs aantreklik voorkom. Kyk nou maar vir Jeffrey Dahmer, die Amerikaanse kannibaal.

      Sy skrik op uit haar mymering toe ’n groot silwer Mercedes-viertrek aangejaag kom en met skreeuende bande op die inrit stilhou. Dit moet die professor wees, dink sy en loop nader.

      Hallo, halló! Die man wat uit die voertuig spring, is nie sommer jou boy from next door nie. Hy lyk amper soos ’n filmster: lank, donker, breedgeskouer. Sterk gebeitelde gesig, wat nou strak is van kommer en skok.

      “Wat op aarde het hier gebeur?” roep hy.

      Sy loop hom tegemoet. “Ek veronderstel u is professor Brand?”

      “Ja.”

      “Ek is kaptein Lucille Wiid van die Stellenbosch-polisie se speureenheid. My innige simpatie, professor. Mevrou se liggaam is agter die huis aangetref, dood.”

      Sy sien hom ineenkrimp. Hy knip sy oë vinnig en hou sy hand teen sy hart. Sy kry hom baie jammer.

      “Waar is my seun?” vra hy skor.

      “U bure, die Trollips, het hom weggeneem. Maar u sekretaresse was ook hier en sy sou hom gaan haal nadat hy ontbyt by hulle geëet het. Hy is gelukkig onbewus van die tragedie wat in die agterplaas afgespeel het.”

      “Wys my waar dit gebeur het. Is … is sy nog daar?”

      “Nee, professor, die liggaam is reeds na die staatslykhuis geneem. U moet verstaan dat ons ’n nadoodse ondersoek moet doen.”

      “Natuurlik. Loop voor, asseblief. Dit lyk of die huis wemel van polisie.”

      “Ons moet die misdaadtoneel beveilig, en ons het natuurlik gewag dat u moet kom. U sal vir ons kan sê of enigiets gesteel is.”

      “Waar is die honde?”

      “Ons moes hulle in die waskamer toemaak, want hulle het op die misdaadtoneel rondgehol.”

      Hulle stap by die voordeur in en kom Soekie, die huishulp, teë.

      “Ag, dankie tog Professor is hier!” roep Soekie en lyk asof sy hom wil omhels. Sy bars in trane uit en vee haar oë met die punt van haar voorskoot af.

      Hy plaas ’n troostende hand op haar skouer. “Ek het gejaag om hier te kom. Het jy iets nodig vir die skok, Soekie? Kalmeerpille of iets?”

      “Nee, ek d- … dink ek kom reg met s- … soet tee, d- … dankie, Professor,” kry sy dit uit. “Dis die vreeslikste … dag in my hele lewe … Arme Mevrou … so mooi, so wreed vermoor …”

      Reinhard se kake is so gespanne dat dit eintlik seer is, maar hy dwing homself om normaal te praat. “Waar is die tuinman?”

      Soekie snuif ’n slag hard, blaas haar neus en vee haar oë af. “Abel het nie vandag gekom nie, Professor.”

      Kaptein Wiid spits haar ore. “Moes daar ’n tuinier gekom het?”

      “Ja, hy kom op Dinsdae,” lig Reinhard haar fronsend in. “Of