in Cloetesville,” vertel Soekie haar. “Ek kan juffrou … e … kaptein gaan wys waar as dit nodig is. Dis nie ver van my huis af nie.”
“Dit sal nodig word as hy nie sy gesig hier kom wys nie, dankie, Soekie. Kom, professor, ek neem u na die toneel.”
Hy staan lank by die plek waar Lucille vroeër die oggend sy vrou se lyk bebloed en met wydgesperde, onsiende oë sien lê het.
“Ek sal u nou ongelukkig moet ondervra, professor,” sê Lucille simpatiek toe hy wegdraai. “U mag natuurlik ’n regsverteenwoordiger laat kom, want alles wat u sê, kan as getuienis teen u gebruik word. U moet besef dat almal wat met die oorledene verbind was, as verdagtes beskou word. Maar natuurlik onskuldig totdat die teendeel bewys word.”
Die man kyk haar aan met grys oë so kil soos Suidpoolys. Met dié een sal sy versigtig moet trap, besef sy. Hy lyk glad nie dom nie. Ook nie skuldig nie, maar dit sê niks. Dalk kan hy uitstekend toneelspeel.
Hy praat met ’n stem wat effens bewe. “Ek sal die vrae beantwoord sonder ’n regsverteenwoordiger se bystand, dankie. Maar hierna sal ek vir my ’n advokaat kry, want dit lyk my u dink ek het dalk my vrou vermoor.”
Sy maak ’n verskonende gebaar. “Professor, dis alles roetine. U is nie meer van ’n verdagte as byvoorbeeld u bure nie.” Nog nie, dink sy. “Ons laat net geen steen onaangeroer nie.”
Hy knik grimmig. Soekie staan handewringend na hulle en kyk. “Bring asseblief vir ons tee,” vra hy. “Kom ons gaan na die sitkamer, kaptein.”
Sy kyk weer in die vertrek rond en dink opnuut dat dit spreek van goeie smaak en geld. Alles is keurig en skynbaar duur. Ja, maar geld is ook nie alles nie. Ellende tref arm en ryk. Haat en nyd kry jy by alle klasse van die samelewing.
Hy gaan sit oorkant haar en vryf met sy hande oor sy gesig voor sy blik hare vasvang. “Vra maar, kaptein. Ek sal so eerlik moontlik probeer antwoord.”
“Weet u van enigeen wat u vrou leed sou wou aandoen, professor? Het sy vyande gehad, of het iemand dalk ’n wrok gekoester?”
Sy sien hoe hy dink. Hy is versigtig. Draai sy woorde eers in sy kop om en om.
“Nee, ek kan nie sê ek weet van so iemand nie.”
“Waar was u vanoggend tussen vieruur en agtuur?”
“Ek was in Kaapstad, by ’n gastehuis met die naam Capeview, in Oranjezicht. Vandag is die tweede dag van ’n kongres wat ek by die Universiteit van Kaapstad moes bywoon. Die verkeer is soggens só erg dat ek verkies het om daar te oornag.”
Baie gerieflik, dink Lucille. Net ver genoeg weg ten tye van die moord sodat hy nie verdink kan word nie, maar naby genoeg om Stellenbosch gou in die vroeë oggend te bereik as die verkeer nie so swaar is nie.
Hy is weg en die tuinier is weg, net op die verkeerde – of regte – tyd. Sameloop van omstandighede? Dit moet ondersoek word.
Soekie onderbreek hulle met tee en beskuit.
“Help uself, kaptein,” nooi Reinhard en kry sy tee ná haar, maar hy sluk dit dadelik af.
Haar tee los sy terwyl sy aantekeninge maak. “Vertel my asseblief van u bure, almal om u: links, regs, voor, agter.”
Hy sug asof dit diep uit sy hart kom. “Regs van my woon die Trollip-susters …”
“Ja, ek hulle reeds ontmoet. Hulle was van die eerste mense hier vanoggend. Gaan aan, professor.”
“Links van my woon die prokureur Geert de Boon, wat met Liana Trollip uitgaan. Agter my is doktor Sarel van Niekerk, ’n dosent by die departement sielkunde aan die universiteit. Oorkant is die rivier.”
“Hoe lank ken u al dié mense?”
“Die Trollips ken ek al jare lank, want ons ouers was vriende en ons pa’s albei professore. Hulle het hul ouers se huis geërf toe prof Edward en sy vrou tragies verongeluk het. Ek het vyf jaar gelede hierdie eiendom gekoop en die huis laat oorbou. Meneer De Boon het laas jaar ingetrek in sy huis. Doktor Van Niekerk was reeds hier toe ek dié plek gekoop het. Ons almal ken mekaar en sover ek weet, was verhoudings tussen ons nog altyd vriendskaplik. Nou moet u my verskoon, kaptein. Ek wil na my kind gaan.”
“Natuurlik. Ons sal weer praat.”
Hy staan op, sy oë bykans wild. Vervaard staan sy ook op en kyk hoe hy na die deur beweeg. Hy groet skaars en is vinnig uit. Sy hoor hoe sy voetstappe wegsterf, hoe die kragtige enjin van die voertuig dreun toe hy dit aanskakel en hoe hy met ’n vaart wegry.
Die arme man. Sy het hom skaars kans gegee om tot verhaal te kom, maar sy glo vas dat iemand in die eerste oomblikke van skok makliker iets verklap.
Daardie mooi oë wat so troebel was … Sy sug.
2
Kira is nog heeltyd op hete kole en toe die voordeurklokkie lui, spring sy amper uit haar vel waar sy sit en voorberei vir die volgende dag se klasse.
Die polisie of Reinhard is hier, dink sy onmiddellik en vlieg op om die deur te gaan antwoord. Souf het haar voorgespring, want sy hoor die bekende diep, melodieuse stem wat nog steeds, ná al die jare en deur alles, ’n snaar in haar roer wat vibrasies dwarsdeur haar lyf stuur. Reinhard … Sy staal haar vir die ontmoeting.
Toe sy in die portaal kom, staan hy daar, sy donker hare deurmekaar en sy grys oë treurig. Dit maak haar heeltemal week.
“Hallo, Reinhard. Ek is só jammer oor jou verlies,” simpatiseer sy en steek haar hande na hom uit.
Hy neem albei in sy groot hande. Die kontak met sy vel is – nes lank gelede – so elektries dat sy ruk. Al probeer sy beheers voorkom, voel dit of haar ingewande begin bewe.
“Dankie, Kira. Dis ’n geweldige skok. Ek kan dit self nie glo nie. Die polisie en speurders het die plek behoorlik gefynkam en my ondervra. Dankie dat julle julle oor Riaan ontferm het.”
Meteens skiet haar oë vol trane, so jammer kry sy hom. Sy moet dit met mening wegknipper. Haar stem is effens hees toe sy sê: “Ons sou na hom gekyk het, maar Riki Smit het hom kom haal.”
Sy kyk op in die aantreklike, sterk gesig en sien dat hy sy lippe opmekaar pers, asof hy dit nie goedkeur nie. Hy los haar hande.
“Ek het by die kaptein gehoor hy is daar en het hom gaan haal. Hy is nou by sy ouma.”
“Weet hy al … Moes jy hom vertel?”
Hy kreun en vryf oor sy voorkop. “Ja. Dis beter om nie ’n kind om die bos te lei nie. Hy weet iets is vreeslik verkeerd en hy vra heeltyd. Ek wou nie vir hom jok nie, maar ek het probeer om dit so sag moontlik oor te dra.”
“Kom ons gaan na die sitkamer. Ons kan nie hier staan en gesels nie.”
Hy huiwer. “Nee, ek moet teruggaan huis toe. Ek wou net kom dankie sê. Arme Soekie is skoon in die war. Sy het op Monique afgekom.”
Hy skraap sy keel. “Dit kon nie ’n mooi toneel gewees het nie. Sy het op die agterste grasperk gelê … Die honde het blykbaar nie alarm gemaak nie, wat baie verdag is, hoewel ek nooit gedink het dat poedels die beste waghonde uitmaak nie. Niemand het haar ook hoor gil nie.”
“Wie op aarde sou so iets wou doen?” vra sy.
Hy haal sy skouers op, sy gesig moedeloos. “Dis die groot raaisel. Riaan het gelukkig niks gehoor nie, want hy het vas geslaap. Niks is gesteel nie, dus kon dit nie rowers gewees het nie, tensy hulle geskrik en op die vlug geslaan het. Dis alles baie vreemd.”
Hy staar stip na haar. Verontrustend. Wat gaan in daardie mooi kop van hom aan? wonder Kira.
“Ek skat ons is almal verdagtes,” gooi hy ’n klip in die bos.
Sy is geskok en verontwaardig. “Maar jy was weg, en Liana en ek was saam tuis! Hoe kan ons verdagtes wees?”
“Omtrent almal wat iets met Monique te doen gehad het, sal verdagtes