haar wang en sit ’n enorme bos blomme op die bedkassie neer.
“Ek sien hier is reeds baie blomme, maar dit sou niks baat om sjokolade te bring nie, want jy kan dit nie eet nie.”
Michelle knip vinnig haar oë. Sy kyk ondersoekend na hom. Hy is dieselfde lang, maer man met netjiese bruin hare en intelligente bruin oë wat sy onthou. Hy is onberispelik geklee, asof hy werk toe gaan en kliënte gaan sien. Die tipiese ouditeur. Sy wonder net waar is die blydskap en tinteling wat sy moet voel vir die man wat sy veronderstel is om lief te hê. Die man wat met haar wil – of wou – trou. Voordat sy omtrent opgefrommel is.
Aan sy gesigsuitdrukking kan sy agterkom dat hy bang is sy hou letsels van die ongeluk oor. Hy kyk ondersoekend na haar gesig, lyf en hande.
“Jis, jy lyk sleg. Nicci het my gewaarsku dat daar nie ’n heel been in jou lyf is nie, maar dis nie heeltemal só erg nie. Sy oordryf maar gewoonlik. Jou gesig het ook seergekry, en ’n mens sien steeds die kneusing om jou oë. En jou kakebene is vasgemessel sodat jy nie kan praat nie.”
Hy kyk na die verband om haar kop. “Hulle sê jy het harsingskudding ook gehad. Hopelik hou jy nie merke van die steke oor nie.”
Sy beduie met haar linkerhand na die boekie en pen op die bedkassie.
“O, jy kan darem skryf.” Hy klink verlig. Hy kry die boekie en plaas dit onder haar hand. “Wag, ek sit die pen tussen jou vingers.”
Michelle sukkel om die woorde met haar dom linkerhand te skryf: Vertel van Sandra. Sy het nie die krag om nog asseblief ook by te skryf nie.
Hy lees dit fronsend, en toe kyk hy in haar oë. Sy hou nie van die terughoudendheid wat sy by hom bespeur nie.
“Sandra is in ’n koma,” sê hy.
Sy skryf weer: So lank hoekom.
Hy kyk in die vertrek rond asof hy uitkoms soek. “Ek weet nie,” sê hy naderhand.
Wil haar ma sien, skryf sy.
Hy haal sy skouers hulpeloos op. “Ek sal die boodskap oordra.”
Hy begin gesels oor sy werk en mense wat hulle ken, asof hy die onderwerp doelbewus verander en haar aandag wil aftrek.
“Ek bly tot môre, dan vlieg ek terug. Jy kan in elk geval nie praat nie, my arme meisie. Ek sal by Nicci se woonstel oorbly. Ek het ’n motor op die lughawe gehuur.”
Dit moet vir jou ’n skok en baie vervelig wees om hier te moet kuier by ’n vrou wat nie kan terugpraat nie, dink sy. Ten minste sal dit vir hom lekker wees om in Nicci se woonstel in Seepunt te bly. Die twee kom mos so goed klaar. Nicci flankeer, en hy is ontvanklik.
Hy gesels aanmekaar, maar dan lyk dit asof sy onderwerpe van gesprek opgedroog het. Sy kan sweer hy lyk verlig toe haar ma en Nicci inkom. Hy staan dadelik op en soengroet hulle.
“Ek nooi sommer vanaand ’n paar vriende oor, dan kuier ons bietjie,” sê Nicci. “Ná besoektyd, natuurlik.” Sy kyk skalks na Michelle. “Jy gee mos nie om nie? Jou boyfriend is veilig by my.”
Michelle kyk maar net terug en dink: Veilig se voet. By jou is geen man veilig nie.
“Hoe voel jy vandag, my liefling?” vra haar ma besorg.
Michelle skryf in haar boekie: OK. Sy kan tog nie jok en sê goed nie. Sy voel eintlik ellendig.
Haar ma kyk na die ander gekrap. Toe sy Vertel van Sandra sien, sit sy haar hand voor haar mond, asof sy skrik. Toe kyk sy met hartseer oë na Michelle, wat haar oë baie vinnig knip.
Michelle skryf Waarheid so vinnig soos sy kan, maar die pen gly van die boekie af en die laaste d verdwyn. Haar ma verstaan maar te goed, sien sy.
“Sandra het baie seergekry, nog erger as jy,” sê sy.
Michelle kyk haar deurdringend aan.
“Vertel tog vir haar, Ma. Waarom moet sy heeltyd in spanning gehou word?” Nicci klink byna bitsig. “Wat dink jy, Jak?”
Hy haal sy skouers weer hulpeloos op en lyk of hy wens hy is nie daar nie.
Vertel, skryf Michelle.
“Sy is …” Haar ma se stem weifel. “Sy het …”
“Sy het dalk breinskade opgedoen,” maak Nicci die sin klaar. “As sy breindood is, sal sy seker met allerhande masjiene aan die lewe gehou kan word.”
Zenda de Villiers kyk verwytend na haar stiefdogter, en toe in Michelle se geskokte oë.
“Nee, as sy breindood was, sou hulle ons gesê het. Ek het met haar ma gepraat en hulle hoop sy kom binnekort by, soos jy.”
Michelle is geensins gerusgestel nie. Sy het genoeg mediese kennis om te weet daar kan verskeie dinge verkeerd gaan ná trauma. Sy het al self met ongelukslagoffers gewerk. Haar oë raak blind van trane. Sy lig haar linkerhand op en laat dit weer val. Dis alles háár skuld, weet sy. Sy het bestuur.
“Dit was nie nodig om dit so brutaal vir haar te vertel nie, Nicci,” hoor sy haar ma verwyt.
“Sy moes dit tog een of ander tyd uitvind,” verweer Nicci. “Sy dring dan aan om te weet. Ek dink sy vermoed in elk geval lankal iets. Stem jy saam, Jak?”
“Ja, jy is seker reg,” knik hy.
Hy neem Michelle se linkerhand asof hy haar wil troos, maar sy is so ontsteld dat sy dit terugtrek.
“Jy het haar nou laat huil, Nicci,” verwyt haar ma, en probeer om Michelle se trane af te vee.
“Wat gaan hier aan?” Suster Erna Etsebeth kom in.
“Michelle het geskrik,” sê Zenda de Villiers hees. “Sy het pas gehoor dat haar vriendin wat saam met haar in die ongeluk was dalk breinskade opgedoen het.”
“Wat? Het julle haar tog nie dit vertel terwyl sy in dié toestand is nie?” roep die suster geskok uit.
“Sy moes tog een of ander tyd –” begin Nicci.
“Hierdie meisie kan nie nóg skokke hanteer nie. Ek sal die dokter in kennis stel. Ons sal haar ’n kalmeermiddel moet toedien.” Sy klink woedend. “Ek dink dit sal beter wees as julle eers gaan.”
Michelle is so ontredder dat sy voel asof sy innerlik aan die bewe gegaan het. Sy kan net kreun. Die suster droog haar trane af.
Sy hoor mense inkom, maar haar gedagtes is in ’n pynlike warboel. Vir die hoeveelste keer voel sy die prik van ’n naald in haar arm en sy swymel die genadige duisternis in.
Michelle skrik weer eens wakker uit ’n paniekdroom. Iemand is by haar. Sy fokus met moeite en sien dokter Douw Hefer langs haar bed staan. Op sy gesig is ’n frons asof hy haar gemoedstoestand aanvoel.
Sy onthou die verskriklike nuus wat sy verneem het en kreun skaars hoorbaar.
“Ek hoor hulle het jou vertel van jou vriendin, ounooi, en toe is jy baie ontsteld,” sê hy simpatiek.
Sy knip so woes dat hy die boekie en pen in haar hand sit.
My skuld, skryf sy, maar hy skud sy kop.
Vragmotor ons gestamp, skryf sy. Ek bestuur.
Hy lees dit en kyk na haar. “Dan is dit mos nie sonder meer jou skuld nie. Jy was nugter en dit het gebeur in ’n bergpas waar die pad smal is. Boonop was dit nag.”
Sy oë is regtig vol medelye en sy voel trane in haar opstu, uit die diepte van haar gekweste hart.
“Ongelukke gebeur, ounooi, en ons is slagoffers.”
Sy breindood? skryf sy en kyk smekend na hom.
Hy sug. “Nee, dis nie so erg nie, hoor.”
Verduidelik, skryf sy en kyk hom met gespanne afwagting aan.
Douw Hefer huiwer. Hy weet alles van die pyn van verlies, die skuldgevoelens wat aan jou vreet, en hy gun dit nie vir dié meisie