die naweek vir jou kuier.”
Michelle se oë draai na die reuse ruiker wat haar vennoot vir haar gestuur het. Die kaartjie lui: Ek gaan jou so mis, my liewe maat. Word gou gesond.
Ek belowe ek sal hard probeer, dink Michelle met ’n knop in haar keel.
Michelle wil gil, maar sy kan nie ’n geluid uitkry nie. Sy hoor net weer die slag van die ongeluk en voel die pyn, en Sandra wat gil en gil en sy weet Sandra sal doodgaan.
“Liewe hemel, ons pasiënt wys al die kenmerke van post-traumatiese stres,” hoor sy ’n vrouestem sê. “Haar hartklop is onreëlmatig en sy ruk in haar slaap.”
Die stem praat en praat, maar Michelle kan nie veel inneem nie.
“Ounooi, jy het trauma en ek stel voor jy kry berading by een van ons beste sielkundiges, doktor Annette Reinders,” dring Douw Hefer se diep stem tot haar deur en sy is verlig om na die werklikheid terug te keer.
“Ná ernstige trauma gebeur daar dinge in die brein en ons moet kyk met watter psigoterapeutiese prosedures ons jou kan help. Jy verstaan dit mos, nie waar nie?”
Michelle knip ja. Sy voel soos ’n drenkeling en hierdie man staan met ’n lewenslyn.
“Omdat dit so onverwags toeslaan, is die simptome ver buite wat ons verwag het. Jy voel heel waarskynlik asof jy waansinnig word. Ek kan net sê dat hoewel dit ongewoon en ontstellend is, is dit tipies en ’n mens kan dit verwag. Dis die brein en die psige se normale reaksie op abnormale gebeurtenisse. Verstaan jy?”
Michelle knip en hy kyk haar stip aan. “Jy kry terugflitse, nè? En angsaanvalle?”
Sy knip weer.
“Ja, dis baie ontstellend. En jy is natuurlik ook bekommerd oor jou vriendin. Die sielkundige sal jou help om dit te verwerk. Ek beveel haar sterk aan. Intussen sal ons jou moet sus en kalm hou.”
Michelle wens hy wil weer aan haar raak. Sy wil weer die gerusstelling van sy sterk, warm hand voel. Hy hou egter sy hande in sy sakke terwyl hy ernstig met haar praat.
“Môre haal ek die gips van jou hand af en dan kyk ons hoe ons vordering maak,” sê hy. “Totsiens dan, ounooi.”
Die plek ontvolk as hy hier was en hy loop weer, dink sy. Dis ’n fout om emosioneel afhanklik van jou dokter te raak, maar dis ’n natuurlike reaksie, troos sy haarself.
3
“Tra- … la!” hoor Michelle, en haar vennoot Lynn kom in, met ’n sak vol boeke en tydskrifte, en nóg blomme. Haar bruin oë is lewendig soos altyd en haar kort krulle wip.
“Haai, jou arme ou ding! Toegedraai soos ’n geskenkpakkie.” Sy kom soen Michelle tussen die wenkbroue. “Ek het jou dokter raakgeloop. ’n Pragstuk! Hy sal enige mens weer gesond kry.”
Haar vrolikheid is so opbeurend dat Michelle wens sy kan vir haar glimlag.
“Jy moet jou nou net niks bekommer oor die werk nie, hoor! Ek organiseer alles. Word net gesond. Ek het vir jou baie leesstof gebring wat die verpleegsters vir jou kan staanmaak. Kan jy omblaai?”
Michelle knip ja en lig haar gesonde hand.
Lynn se gesig word ernstig. “Foei tog, jou ma het my vertel van Sandra. Dis baie hartseer. Maar jong, in die hemel is ’n Here en Hy het ’n plan met alles. Hy pluk die beste blomme eerste, maar ek glo Sandra gaan regkom. Ek weet jy is baie lief vir haar. Haai, jy kry trane. Jammer, ou maat.”
Sy haal ’n snesie uit en vee Michelle se oë af.
Michelle skryf in haar boekie: Hart baie seer voel skuldig. Nagmerries.
Lynn druk haar hand. “Natuurlik is jy hartseer, maar jy moenie skuldig voel nie. Daardie ellendeling wat julle van die pad af gestamp het en toe weggejaag het, sal nog gevang word. Die wiel draai en elke hond kry sy dag. Hý is die een wat gewetenswroeging moet hê, nie jy nie.”
Sy ondersoek Michelle se verbinde hand. “Ek hoor die dokter haal vanmiddag die gips af om te kyk. Ek wil net vir jou sê dat ék enige rehabilitasie wat nodig mag wees, gaan doen. Ek sal die dokter laat weet voor ek gaan. Laat jy maar net my ou maatjie in my bekwame hande, sal ek vir hom sê. Ek sal haar regkry. Genade, waarom het ek dan ’n fisio geword? Dis so bestem.”
Michelle knip en druk Lynn se hand om haar dank te kenne te gee.
Haar vriendin kuier lank en gesels soos ’n draai-orrel. Michelle voel amper opgebeur, maar toe Lynn vertrek, voel dit asof sy in ’n donker put van depressie wegsink. Iets waarteen sy wil stry, maar nie kan nie.
Michelle is geskok toe dokter Hefer die gips verwyder. Die verkleurde, geswelde, skeeflykende hand wat te voorskyn kom, lyk nie na hare nie. Onwillekeurig kreun sy.
Hy kyk op, vas in haar oë. “Jy moenie skrik nie. Dis nog net die begin. Natuurlik lyk dit nou sleg, want daar het nog nie genoeg genesing plaasgevind nie. Jy gaan weer teater toe en ek gaan weer daaraan werk.”
Nóg ’n operasie, dink sy. Dit klink nie goed nie. Dit lýk nie goed nie.
Die dokter se hande is groot, warm en skoon, met lang vingers. Bruingebrand. Hy werk sagkens en haar hand lê verdwerg in syne. Sy kry die eienaardigste gewaarwording van geborgenheid.
Hy draai haar hand weer met ’n verband toe en gee ’n paar bevele aan die verpleegpersoneel. Toe groet hy en stap uit.
Michelle sien hom eers weer toe sy by die teater ingestoot word. Hy het reeds sy volle operasiemondering aan. Die moue is kort en sy sien gespierde arms. Hy lyk vir haar na ’n chirurg met genoeg stamina om ure lank te opereer. Waarom is sy so bly om hom weer te sien, al beteken die weersiens dat sy regtig gekrok is?
“Moed hou, ounooi,” sê hy, en laat haar aan die narkotiseur oor – ’n waardige grys man wat vriendelik vir haar glimlag.
Toe Michelle weer bykom, is sy terug in haar kamer en haar hand is vars verbind.
As die lewe terugkom, sal dit ontsettend seer wees, dink sy, maar sy is te verward om te besef dat sy pynmiddels sal kry. Oomblikke lank is sy terug in die wrak en verbeel sy haar sy sit vas en sy kan haar hand nie loskry nie.
Nagmerriebeelde, verwronge en erg ontstellend, kom en gaan.
Toe sy weer wakker word, is suster Erna en dokter Douw Hefer by haar. Haar mond voel droog en asof haar kake met sement aan mekaar geheg is.
“Hallo, ounooi,” groet hy. “Ek sien jy voel maar oes. Suster sal vir jou pynstillers sorg. Ek wil net vir jou verduidelik wat ek gedoen het.”
Michelle probeer konsentreer terwyl hy van beentjies en senings en artikulasie praat, maar haar gedagtes is meer by sy gesig en sy oë, wat weer moeg lyk.
“Jy is baie gekwel in jou gees,” sê hy. “Ek verseker jou dat jou vriendin nog lewe en dat sy onder baie goeie sorg is. Ons sal jou binnekort na haar neem.”
Douw Hefer loop in die gang af, so ingedagte dat hy skaars die mense sien wat by hom verbyloop. Michelle Judson se operasie was lank en ingewikkeld, en hy is moeg. Heeltyd sien hy die meisie se gesig voor hom: die troebel oë wat al mooier word soos die swelsels sak, die bleek vel, die kake wat lyk asof hulle toegesweis is. Die ortodontis het darem bevestig dat haar tande nie gebreek het nie. Die blink donker hare teen die wit van die kussing.
Ongetwyfeld was sy baie mooi, dink hy. Nie die popmooi soort soos die wulpse suster nie, maar die mooi-met-karakter-soort. Die soort wat Isobel was.
Michelle Judson is ’n pragtige, gebreekte vaas, soos Isobel. Maar ten minste lewe Michelle darem nog.
Hy kan hom indink hoe aaklig sy voel, en dit wek groot deernis in hom. Moenie te betrokke raak by hierdie pasiënt nie, al herinner sy jou hoe sterk aan dinge uit jou eie verlede, betig hy homself. Jy kry die meisie net ontsettend jammer. Ná Isobel sal geen vrou weer sy hart so totaal kan inneem nie.
Op die ingewing van die oomblik besluit hy om met sy kollega, die neuroloog Peet Human, te gaan praat. Dalk