sal ’n groot bydrae lewer.
“ ’n Goudmyn het eenduisend rand betaal vir elke meter wat elkeen van hulle kon afsak, hy en Steven en Benny. Hulle het baie geld gemaak.”
“En die myn baie reklame.”
“Wel, hulle wou glo nie op stel kom spog voor dit nie op die nuus was nie. Toe kom Emile en Steven gevrek by die werk aan en ek en Janeen weet nie wat aangaan nie. Op die ou end word ons as die prima donnas uitgekryt net omdat ons op ons regte staan.”
Die ruiker ruik na varsgesnyde gras. Dis met raffialint vasgebind waaraan ’n kaartjie hang, Woolworths se logo prominent aan die een kant.
“Ek stem saam, ek sou my ook vervies het. Maar jy weet mos dis die soort goed waarmee ons elke dag moet cope. Hier by my gaan dit nie veel beter nie. Elke regisseur dink sy gans is ’n swaan en net een kan wen. Ek sit vas met die ander beoordelaars.” Vera sug. “Ek word te oud vir hierdie soort ding. Hoe gaan dit met Jackie?”
“Glo baie goed, noudat die operasie elke dag meer bereikbaar word.”
Met haar een hand vou Colette die kaartjie oop. Dis leeg; Emile het niks geskryf nie. Hoekom het sy iets verwag? Wat moes hy in elk geval skryf buiten dat hy jammer is, en dit het hy tog reeds gesê.
“As daardie ortopeed in Suid-Afrika gebly het, sou dit makliker gewees het.” Die bitterheid in Vera se stem is ’n weerspieëling van haar hartseer. Haar enigste kind werk ook in Londen en sy sien hom net elke tweede Kersfees. Hierdie Kersfees gaan hy en vriende in Duitsland ski.
“Wilhelm kom terug,” blaker Colette dit uit.
“Wilhelm, wie’s nou weer …? Wilhelm, jou eksverloofde?”
“Hy en Brigitta skei.”
“Oeps.”
“Hy wil my sien.”
“O ja, en wanneer nogal?”
“Kersfees. Ek weet nie wat om te doen nie.”
“Dis September … Jy het drie maande om te besluit.”
“Ek kry al klaar nagmerries!”
Vera bly ’n ruk lank stil. Colette kyk na die ruiker. Die rose is vars en besonder mooi, hul kleure wissel van donkerpienk na pers, van wit na gelerig en ligoranje. Die irisse is nog nie almal oop nie. Hierdie blomme sal lank hou, ’n teenwoordigheid skep wat haar aan Emile sal herinner.
“Hoe sê die Engelse spreekwoord,” dring Vera se stem tot haar deur. “When in doubt … don’t.”
“Ek wil nie ongeskik wees nie.”
Emile se ruiker lê soos ’n beskuldiging tussen haar en haar woorde. Sy het Emile lelik in die gesig gevat, sy ruiker aanvaar en sy verskoning verwerp. Dít was ongeskik.
“Colette, hy het omgespring en jou hart gebreek, onthou dit.”
“Hy wou met my trou. Dis ek wat nie kans gesien het nie. Mia Barlow was belangriker as ons verlowing.”
“Wilhelm kon gewag het met sy troustories en jou die kans gegun het om jou loopbaan aan die gang te kry. Vandag se vroue trou nie meer om deur mans onderhou en onderdruk te word nie. Vra my, ek staan tussen die twee tydperke. Regtig, as ek destyds geweet het wat ek vandag van Ryno Reynders weet, sou ek hom daai tyd al onder sy jis geskop het en liewer harder gewerk het. Dan was ek ook ’n aktrise met ’n ry toekennings op my kaggelrak en nie ’n slaaf van die stelsel nie. Ek dank die hemele vir my rol in Mediamanie al sit ek ook en stagneer, dit betaal immers die huur. In ons beroep moet jy nou eenmaal vat wat jy kan kry en klou wat jy het. As jy die klomp verhongerde, verwaarloosde wannabees moet sien wat hier op die fees sukkel om aandag te trek, sal jy huil. Sê nou jy het destyds nie daai kontrak vir Mia geteken nie en jy is saam met Wilhelm weg en dinge het skeefgeloop tussen julle, waar sou jy vandag gewees het? Op ’n fees – op elke fees wat op elke obskure dorpie georganise word! Jy het reg gedoen. Al het jy jou frustrasies met Emile en so aan, het jy ten minste jou selfrespek. Wat wil jy nog weet?”
Colette het vergeet hoe Vera kan weghol wanneer sy eers oor die toneelbedryf begin kla. En hoe sy haar haar twee mislukte huwelike verwens, saam met al die kanse wat sy in die proses verloor het. As Colette na haar moet luister, beantwoord sy beslis nie daardie e-pos nie.
“Niks meer eintlik nie …” sê sy versigtig.
“Jammer, skattie, ek het weer afgegaan. Maar regtig, ek haat mans wat met vroue se gevoelens speel en vandag nog vir hulle verbeel hulle is die enigste providers in die stelsel. Jy sorg vir jouself en jy maak ’n goeie lewe – moenie dink hy is Superman wat jou skielik sal kom oppik en wegvoer hemel toe nie. Goed, elke meisie wil graag trou, maar jy is nog jonk, jy het baie tyd. As jy wil trou, kyk na ’n man wat jou regte respekteer, iemand wat jou beroep verstaan en weet hoe dit werk. Kan jy jou voorstel as jy en Wilhelm nou weer iets sou aanhê, hoe hy Emile met sy valkoë gaan dophou? Hy sal nie kan glo dis toneelspel nie, hy gaan julle verdink en daar is mos nou niks tussen julle nie.”
Vera se laaste woorde klink eerder na ’n vraag, maar Colette weet nie of sy haar verbeel nie. Dalk is dit sy wat self die vraagteken agter die sin wil sit. Daar is dae wanneer sy in Emile Linder se arms wil wegsmelt en vergeet dat hulle akteurs is wat speel hulle is verlief – sy Mia Barlow en hy Arnold Penrose.
“Maar let’s face it, skattie, julle lyk smoorverlief.”
“Dis ons werk, jy van alle mense behoort dit te weet,” keer Colette.
“Ja, maar julle doen julle werk so goed. Wie kan Suid-Afrika blameer as hulle julle sien as ’n paartjie?”
Nou is daar geen twyfel nie: dit ís ’n vraag.
Colette antwoord nie. Sy ruik Emile se blomme, ’n mosserige grasreuk, ’n sagte poeieragtige rosegeur wat haar soos ’n pienk wolkie omvou. Harde werk, dink sy, om ander mense se romantiese drome uit te leef terwyl jy self nie daarin deel nie. Sy streel oor een van die volmaakte knoppe. Dit voel koel onder haar vingerpunte. As sy dit nie nou in die water sit nie, verwelk dit voor môre. Afhangende natuurlik van hoe lank Emile daarmee in sy kar rondgery het. Hy is so nes ’n man: dínk nie.
Maar Wilhelm is meer so.
“Moenie te veel stres nie, jy het tyd tot Kersfees.” Dis duidelik dat Vera haar spanning kilometers ver kan aanvoel.
“Ek sal nie. Dankie dat jy gebel het.”
Vera los ’n kort gilletjie. “Oeps, ek moet gaan! Ons finale beoordeling begin oor tien minute, hou duimvas dat ek nie uitstap of iemand se nek breek voor ons konsensus het nie. Sien jou volgende week as ek dit oorleef, kophou, skattie!”
Die gesprek word beëindig voor Colette kans kry om te groet, maar dit maak nie saak nie. Vera het haar op haar manier gewaarsku om nie te hunker na iets wat sy verloor het en wat sy nie eens behoorlik kan beskryf nie. Hoe sou die lewe saam met Wilhelm gewees het? Sy weet nie. Hulle was nie lank verloof nie, het nooit saamgebly nie, en op skool was hulle altyd deel van ’n groep. In ’n sekere sin ken sy Emile beter as wat sy Wilhelm geken het.
Sy tel die ruiker op, druk haar neus daarin, hou dit teen haar gesig. Is Wilhelm nog dieselfde of het hy verander? Hy sou oor lyke loop om sy sin te kry. Emile doen dit nie. Hy sal uit sy pad gaan om ander te help om byvoorbeeld werk te kry.
Die blomme is koel teen haar gloeiende wange. Hoe kan sy nog vir hom vies wees terwyl sy met sy soenoffer staan, en weet dat hy sy lewe in gevaar gestel het om geld bymekaar te maak vir Jackie se operasie?
Sy gaan haal haar grootste glasvaas en tap dit vol water. Sy sny die raffialint los, skeur die sellofaan af en druk die ruiker versigtig in die vaas. Die blomme is klaar kunstig gerangskik. Sy skik dit reg, druk hier aan ’n roos, trek daar aan ’n stingel tot sy tevrede is.
Dit lyk so feestelik op haar ronde tafel dat sy skielik spyt is Emile het nie pizza en wyn gebring nie. Hulle het al saamgekuier sonder om rusie te maak. Hulle wás verlief. Sy meer as hy …
Sy maak ’n paar los blaartjies bymekaar en gaan terug kombuis toe,