Susanna M Lingua
Keur 10
Staan op, my beminde • Jy is my droommeisie • Lied van die reënvoël
Melodie
1
Henk de Swart knip sy tas toe en staan van die stoel af op. Elke trek op die prokureur se gesig toon dat hy bitter teleurgesteld voel met die bepalings van wyle Nicholaas Zeltmann se testament, wat pas voor sy dood deur die firma se jongste vennoot opgestel is terwyl Henk met verlof was.
Hermien Zeltmann, die sewe-en-twintigjarige weduwee, is sigbaar bleek. Sy het heeltyd geswyg terwyl die prokureur haar vyf-en-vyftigjarige oorlede man se testament gelees het, maar nou kan sy die stroom van woorde nie ’n oomblik langer keer nie. Iewers, voel sy, moet daar ’n groot fout wees.
“Is dit al wat my man nagelaat het?” begin sy ontsteld en met ’n onheilige frons, terwyl sy die prokureur beskuldigend aankyk. “Net hierdie huis en ’n miserabele vyftigduisend rand kontant? Toe ek vyf jaar gelede met hom in die huwelik getree het –”
“Was hy ’n ryk man,” vul die regsgeleerde nadruklik aan, “maar u en u oorlede man het te uitspattig gelewe, mevrou. Oorsese vakansies, swaar verliese op die renbane en by die oorsese dobbeltafels, swierige onthale en luukse sportmotors –”
“Ja, toemaar, ek weet,” val sy hom platweg en duidelik ontstoke in die rede, “maar as hy so skatryk was soos wat hy destyds aan my te kenne gegee het, sou hy al daardie uitgawes nie eens gevoel het nie.”
“U behoort dankbaar te wees, mevrou,” sê die prokureur ongevoelig. “U het die huis plus vyftig duisend rand geërf, terwyl juffrou Natasha Zeltmann nie ’n sent van haar pa geërf het nie.”
Die een-en-twintigjarige Natasha, klein en fyn met raafswart hare en groot, sagte bruin oë, kyk haar jong stiefma met ’n koue, afkeurende blik aan. Sy kon nog nooit begryp wat haar pa besiel het om met hierdie koue, onopgevoede vroumens te trou nie. Dit was vir haar uit die staanspoor duidelik dat haar stiefma, net ses jaar ouer as sy, glad nie oor die fyn opvoeding en die goeie agtergrond van haar eie ma beskik nie. Ook nou is dit baie duidelik dat haar pa se dood sy jong weduwee nie juis diep raak nie, ondanks haar deftige, swart pakkie. Dis of die skyn van ’n lieftallige eggenote met die dood van haar man soos ’n kleed van haar afgeval het en sy nou hier in haar ware kleure sit – vir almal om te sien.
“Jy sê dankbaar? Dankbaar omdat ek die beste jare van my jong lewe aan ’n ou man vir ’n huis en ’n miserabele bedraggie verkwansel het?” roep Hermien onbeskaamd uit. Sy lag kortaf en bitter. Haar groot, blou oë blits beskuldigend op die regsgeleerde asof dit sy skuld is dat sy nie meer geërf het nie.
“U persoonlike lewe, asook die rede waarom u met die oorledene getrou het, gaan my nie in die minste aan nie, mevrou,” sê hy kil. “Ek het bloot die testament kom lees.” Hy tel sy tas op en draai na Natasha. “Kom spreek my asseblief op kantoor sodra dit vir u geleë is, juffrou.”
Natasha knik instemmend.
Hierna groet hy die twee vroue beleef en keer haastig terug na sy kantoor toe. In geen vrou het hy nog ooit so ’n renons gekry soos in Hermien Zeltmann nie. Wat Natasha se pa besiel het om hom aan so … so ’n skepsel te verbind, gaan sy verstand te bowe.
“Ek hoop nie die ou jakkals het my ingeloop nie,” sê Hermien nadruklik met ’n ontsierende frons tussen haar mooi wenkbroue.
“Daar gaan groot moeilikheid wees as hy vir jou iets gee wat my toekom. Laat ek net –”
“Wat laat jou so iets dink?” val Natasha haar stiefma met ’n onverskillige houding in die rede.
“Omdat dit vir my na ’n gekonkel klink – hierdie storie dat hy jou môre in sy kantoor wil spreek. As dit iets is wat hy met jou wil uitklaar, kon hy dit mos vanmiddag hier in die huis afgehandel het,” sê Hermien met ’n kil, agterdogtige blik op Natasha. “Die ou mannetjie moet versigtig wees en in sy spoor trap. Hy moenie kom –”
“Watter ou mannetjie?” val Natasha die ouer vrou met ’n verwarde frons in die rede.
“Die skynheilige ou prokureurtjie met sy skelm oë,” kom dit steeds ontstoke van Hermien. “Ek sal hom hof toe neem as hy hom nie by die testamentêre bepalings hou nie. Volgens die testament is ek die enigste erfgenaam. Daarom behoort alles aan my.”
“Ek wonder net waarom ek … niks geërf het nie,” wonder Natasha hardop met hartseer in haar oë en in haar stem. “Ek is tog my pa se enigste kind –”
“O, ek het jou pa half belowe dat ek na sy dood vir jou sal sorg,” val Hermien haar met ’n ongevoelige stem in die rede. “Maar toe ek daardie belofte gemaak het, het ek natuurlik nie geweet dat daar kwalik genoeg geld sal wees om myself aan die lewe te hou nie. In elk geval, ek sal jou so ’n ietsie gee. Dit behoort jou deur te help totdat jy werk gekry het. Intussen moet jy maar hier aanbly totdat die huis verkoop is, maar daarna sal jy op jou eie bene moet staan en vir jouself moet sorg.”
Meteens gaan daar vir Natasha ’n lig op. Nou verstaan sy waarom haar pa vir haar niks nagelaat het nie. Deur haar skok en verslaentheid kan sy dit steeds nie kleinkry dat ’n intelligente man soos haar pa hom so maklik deur ’n fortuinsoekster kon laat mislei nie. Haar held het meteens voete van klei en die voetstuk waarop sy hom van kindsbeen af geplaas het, lê voor haar in skerwe.
Natasha se trots dwing haar om die aalmoes wat Hermien so halfhartig aanbied summier van die hand te wys. Dan skiet dit haar te binne dat dit in elk geval háár pa se geld is wat Hermien haar nou so halfhartig staan en aanbied; geld wat háár in alle regverdigheid toekom.
Dis waar, sy weet nie hoe op aarde haar pa nie deur Hermien se slinksheid kon sien nie. Sy het nog nooit geglo dat die liefde ’n mens kan verblind nie, maar nou lyk dit vir haar asof die ou gesegde heelwat waarheid bevat.
Wel, as die liefde die lewe vir ’n mens so ongemaklik maak en jou verblind vir belangrike dinge, besluit Natasha toe sy langsaam van die stoel af opstaan, is dit maar beter om jou hart liewer vir die liefde gesluit te hou.
Dan maak sy verskoning en verlaat die weelderige vertrek wat ’n paar dae gelede nog haar pa se studeerkamer was. Sy hou haar kop trots en regop, maar diep in haar is ’n eensame verlatenheid wat sy vir almal rondom haar probeer wegsteek. Ja, ook ’n groot seer oor haar pa se onregverdigheid wat haar nou van Hermien afhanklik maak.
Sy stap byna werktuiglik in die rigting van die tuin, verby die spuitfontein, die somerhuisie en die swembad, totdat sy ’n enkele wilgerboom bereik waarvan die takke byna op die grond hang. Hier vly sy haar neer op die bankie wat om die boom se stam strek. Met haar elmboë op haar knieë gestut, neem sy haar benarde posisie in oënskou. Sy sal sonder versuim werk moet soek. Hoewel sy haar nie juis vir ’n besondere beroep bekwaam het nie, het sy darem handelsvakke op skool geneem. Dit behoort nie vir haar te moeilik te wees om êrens werk te kry nie.
Maar hoe en waar begin ’n mens nou eintlik om werk te soek? wonder Natasha met ’n loodswaar gemoed, want dit was nog nooit vir haar nodig om ’n vinger te verroer nie. Die afgelope drie jaar, sedert sy matriek geslaag het, was sy meer saam met haar pa en Hermien oorsee as wat sy in haar eie land tuis was. Sy ken net die lewe van ’n rykmansdogter – ’n kommerlose lewe van gemak.
Natasha dink aan Hermien se woede vroeër vanmiddag toe die testament gelees is. Dan besef sy opnuut dat die lewe saam met haar jong stiefma van nou af onuithoudbaar sal wees. Hermien sal nou knaend daarop hamer dat sy haar jong lewe op ’n ou man vermors het en sy sal gedurig na die gesanik moet luister.
Hierdie gedagte laat haar meteens besluit om so gou moontlik aansoek om ’n betrekking te doen. Hoe gouer sy werk kry, hoe gouer kan sy Hermien se huis verlaat. Sy weet nog nie hoe en waar sy moet begin nie, maar haar goeie vriendin, Rita Grové, sal haar seker hiermee kan raad gee.
Hierna kom Natasha haastig regop en stap na die luukse sportmotor wat langs die huis staan – ’n geskenk van haar pa op haar een-en-twintigste verjaardag.
Terwyl Natasha van Waterkloof na Groenkloof ry, dink sy aan Rita, een van die bekende Johannesburgse nyweraar Lafras