ook haar stuiwer in die armbeurs. “Natasha is die ideale assistente vir Dewalt. Hy sal nie sonde en ergernis met haar hê nie, want sy is te fyn opgevoed om haar aan ’n man op te dring.”
“Ek sal maar liewer loop, want ek sien julle is nou twee teen my,” glimlag die oubaas met ’n vriendelike knipoog toe hy die vertrek verlaat.
“Ek hoop nie my pa het jou nou afgeskrik nie, Natasha,” sê Irene.
“Toemaar, moenie bekommerd wees nie,” glimlag Natasha. “Ek het gisteraand al besluit dat ek die betrekking sal aanvaar. Jy moet my net beduie hoe ek moet ry om by jou broer se plaas uit te kom.”
“Ek sal vir jou op die padkaart wys, maar ek vrees dit is ’n bietjie moeilik om by die huis, wat hoog teen die berg geleë is, uit te kom.”
“Ag, verduidelik maar, ek sal wel die plek kry,” meen Natasha.
Hierna vertoef Natasha nie lank nie. Irene verduidelik die pad aan haar baie noukeurig, toe groet sy die twee meisies en vertrek. Sy besef dat daar nog baie dinge is wat sy moet doen voordat sy Saterdag sal kan vertrek.
2
Dit is ’n nat wintersdag. Die wind dryf die reën in vlae voor die motor verby tot daar gunter oor die vlaktes. In die voertuig is dit stil. Net die sagte geskraap van die reënveërs is hoorbaar. Deur Natasha se verstand maal baie gedagtes.
Sedert haar gesprek met Irene en oubaas Lafras het sy al dikwels gewonder of sy die regte ding doen deur vir Dewalt te gaan werk. Daar is so baie dinge wat teen hom tel. Dit wil vir haar al voorkom of hy die soort werkgewer is van wie al wat werknemer is op die lange duur wegvlug. Boonop woon hy nog in die Drakensberge en, vir al wat sy weet, ver en afgesonder van al wat ’n lewende wese is.
’n Ongelukkige trek verskyn meteens om haar mond en in haar oë. Sy besef dat sy nou geen ander keuse het as om vir Dewalt te gaan werk nie. Sy het geen ondervinding van kantoorwerk nie en kan nie juis bekostig om kieskeurig te wees nie.
Dis waar, oubaas Lafras het haar nou wel werk in sy kantoor aangebied, maar dit was vir haar ook baie duidelik dat Irene nie daarvan sou hou as sy Dewalt se betrekking nou van die hand moet wys nie.
O wel, as ek nie met Dewalt oor die weg kom nie, kan ek altyd bedank en by oubaas Lafras gaan werk, besluit sy. Hierdie gedagte laat haar heelwat gelukkiger voel.
Sy nader die Drakensberge en merk dat dit nou opgehou het met reën – maar die wind sny steeds koud oor die vlaktes.
Natasha se hande is ietwat lomp, met die dik wolhandskoene aan, toe sy die padkaart op die sitplek langs haar opneem en so in die ry kyk of sy darem nog die regte pad volg. Sy bereken die afstand wat sy nog moet ry om Die Arendsnes te bereik, en besef dan dat sy oor anderhalf uur haar bestemming sal bereik.
Dit sal inderdaad ’n seën wees om uit hierdie wind en weer te kom, gesels Natasha in haar enigheid met haarself. ’n Kaggel waarin ’n gesellige vuur brand en ’n koppie stomende koffie is al waarna sy op die oomblik uitsien. Maar die heer Dewalt sal bepaald verwarmers gebruik …
Die reis is lank en eentonig en die pad kronkel gevaarlik teen die berg uit. Eindelik hou sy stil voor ’n indrukwekkende dubbelverdiepinghuis wat lyk of dit uit die rots, waarop dit staan, gekap is. Aan die een kant van die huis toring die rotsagtige berg die bloute in, en aan die ander kant daarvan lê ’n duiselingwekkende afgrond.
Natasha kyk na die gevaarlike afgrond en ril merkbaar. Sy voel skielik bang vir hierdie huis. Dit lyk of dit die elemente al baie eeue hier teen die berg trotseer … Ja, dit lyk vir haar glad nie na ’n vriendelike huis nie.
Nou ja, of dit ’n vriendelike huis is of nie, sy het ’n lang reis agter die rug en sal noodgedwonge die beste van ’n slegte saak moet maak.
Natasha knoop haar pelsjassie versigtig toe, trek haar wolmus styf oor haar kop, neem dan haar handsak en klim haastig uit die motor. ’n Oomblik lank voel dit of die wind haar oor die afgrond gaan waai. Sy hou aan die motordeur vas en bid saggies dat die wind tog net ’n oomblik moet gaan lê.
Natasha weet nie of dit is omdat sy gebid het nie, maar die rukwind begin beslis bedaar. Sy neem egter die geleentheid waar en draf haastig met die trap op wat na die voordeur toe lei. Sy lig haar hand op om te klop, maar die deur gaan skielik oop. Sy kyk vlugtig op, vas in die helderblou oë van ’n lang, blonde man.
“Ek neem aan jy is my nuwe assistente, juffrou Natasha Zeltmann,” sê hy. Natasha wil iets sê, maar hy gee haar nie eintlik kans om te antwoord nie. “Ek is Dewalt de Meyer – maar waarom ek jou eintlik hier by die deur voorkeer, is om vir jou te sê dat jy jou motor asseblief op ’n ander plek moet parkeer; nie hier in my voordeur nie.”
Natasha kyk die man stil aan, tel dan tot by tien en vra versigtig: “Mag ek vra waar ek my motor moet parkeer, meneer De Meyer?”
Hy kyk haar aan asof ’n skroef êrens by haar los is. “Maar vervlaks, juffrou, parkeer die motor enige plek; net nie in my voordeur nie!” sê hy onthuts. “Trek die motor daar langs die krans.” Hy dui die plek met sy vinger aan.
“Is hier iemand wat my bagasie na my kamer toe kan neem, of moet ek dit self doen?” vra sy met ’n koue, sarkastiese stem. Sover dit haar aangaan, het sy nou heeltemal genoeg van Dewalt de Meyer se onvriendelikheid. Hy moenie met haar praat asof sy iets is wat die kat van buite af ingebring het nie; hy sal sy rieme met haar styfloop.
Die sarkastiese toon in haar stem laat Dewalt vlugtig en met opgetrekte wenkbroue na haar kyk. Sy klink beslis omgekrap.
“ ’n Huishulp sal jou bagasie na jou kamer toe neem, juffrou Zeltmann,” sê die man nou effens vriendeliker. “Trek solank jou motor daar langs die krans, ek sal die huishoudster, mevrou Hugo, intussen sê om ’n huishulp te stuur om jou bagasie te bring.”
Dewalt verdwyn in die huis en Natasha het geen ander keuse as om haar motor voor die deur te verwyder nie.
Die ongevoelige bees, kners sy vererg deur haar tande. Hy kon my ten minste eers binnegenooi het vir ’n koppie warm koffie; hy het tog gesien ek is blou van die koue! Maar vir hom is dit bepaald belangriker dat ek my motor nou dadelik voor sy deur verwyder. Waarom sal hy hom dan ook oor ’n doodgewone ou salaristrekkertjie se gerief bekommer? Dié soort nasie is mos volop!
Natasha is so bitter ontstoke dat die gevaarlike afgrond haar glad nie afskrik nie. Dewalt se koue, onvriendelike oë bly haar knaend by. Die man is skoon gek om sy lewe so te vergal oor ’n gewetenlose fortuinsoekster.
“Mevrou het gesê ek moet juffrou se tasse kom haal,” kondig ’n huishulp haar teenwoordigheid aan toe Natasha in die voertuig wil klim.
“Wat is jou naam?” vra sy belangstellend.
“My naam is Truia, maar die mense noem my sommer Truitjie,” sê sy.
“Gaaf, my naam is Natasha en hier is my bagasie in die motor.”
Met haar motor uit die pad stap Natasha haastig na die voordeur wat Truitjie vir haar oopgelaat het. Sy wonder of die huishoudster ook so onvriendelik soos hul werkgewer is. As dit die geval is, sien sy donker dae vir haarself.
Natasha sug byna hoorbaar van verligting toe ’n vriendelike, middeljarige vrou haar in die portaal groet.
“Ek is mevrou Rina Hugo, die huishoudster,” sê sy vriendelik, “en u moet juffrou Zeltmann wees.”
“Dis reg, mevrou. Ek is Natasha Zeltmann. En los gerus die u – dis darem te formeel!”
’n Wedersydse kennismaking volg. Toe word Natasha na ’n knus sitkamertjie geneem waar ’n vuur in die kaggel brand en twee koppies stomende koffie op ’n skinkbord staan.
Natasha gaan op die ouer vrou se uitnodiging op ’n stoel voor die kaggel sit en geniet dan uiteindelik die koppie koffie waarna sy die hele middag al uitsien.
“Ek hoop jy gaan langer vir meneer De Meyer werk as die vorige twee meisies, juffrou Zeltmann,” glimlag die ouer vrou gemoedelik. “Ek vind dit verwarrend as die mense