– en ek is seker dat Esna in spanning op jou terugkoms wag. Jy moet liewer nou teruggaan Leliesvlei toe. Gaan vertel haar die goeie nuus dat julle een van die dae sal kan trou.”
“Wil jy nie maar vanaand ’n afskeidsete saam met my geniet nie?” probeer hy weer. Maar Natasha is nie vir sy voorstel te vinde nie.
“Ek het lankal van jou afskeid geneem, Dewalt – in Die Arendsnes al,” laat sy pynlik ongeërg hoor. “Gaan liewer huis toe en vier vanaand fees saam met jou aanstaande vrou. Sy kan seker nie meer wag om te hoor of jou sending geslaag het of nie.”
“Nou goed, kom drink dan vir oulaas ’n koppie tee saam met my. Daarna sal ek teruggaan Leliesvlei toe,” doen hy weer aan die hand.
“O, nou goed, dan sal ek maar saam met jou gaan tee drink,” stem sy baie onwillig in. “Maar daarna moet jy my sonder versuim huis toe neem. Ek wil graag tuis wees wanneer jou pa kom.”
Daar is ’n ongeduldige trek op Dewalt se gesig toe hy gesteurd sê: “My pa is baie bevoorreg dat selfs jy, sy skoondogter, getrou na sy pype dans. Maar onthou, hy is net jou skoonpa, terwyl ek in sekere sin nog jou man is –”
“Jy is nou soos ’n stout kind wat nie sy sin kan kry nie, Dewalt,” val sy hom in die rede. “En terloops, ek beskou jou in geen sin meer as my man nie – veral nie noudat ek die egskeiding aanhangig gemaak het nie.”
Daar kruip meteens ’n verdwaaldheid in sy oë. “Jy het gelyk; ons het geen huwelik meer nie,” sê hy half verontskuldigend. “Ek belowe om jou dadelik huis toe te neem sodra ons klaar tee gedrink het. Maar ek het darem gehoop dat ons vriende sou bly.”
“O, jy wil hê ons moet vriende bly sodat jy later op my skouer kan kom huil wanneer dinge weer vir jou begin skeefloop,” sê sy met daardie kenmerkende, sonnige glimlaggie. “Dit sal nie werk nie, Dewalt. Vergeet maar daarvan,” vervolg sy bedaard.
Hierna is hy opvallend nukkerig en praat skaars met Natasha, maar sy steur haar nie aan sy buierigheid nie. Alles is tog verby. Selfs die liefde wat sy vir hom gekoester het, is iets van die verlede.
Hulle geniet tee in ’n strandkafee met ’n wye uitsig oor die see. Hieroor voel Natasha bly, want sy word nooit moeg om na die see te kyk nie. Dit is of die see en die geruis van die golwe ’n kalmerende uitwerking op haar het.
“Wat is jou planne vir die toekoms, Natasha?” vra Dewalt nadat die kelner hulle met tee bedien het. “Gaan jy vir ’n onbepaalde tyd hier op Dennebaai bly, of gaan jy jou elders vestig?”
Sy kyk etlike oomblikke na die rustelose golwe. Dan draai sy haar gesig na hom en sê half onseker: “Ek weet nog nie, Dewalt. Dit hang alles van omstandighede af. Ek sal maar eers wag tot na die bevalling voordat ek besluit wat om te doen.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor alledaagse dinge en dan staan Natasha van haar stoel af op en sê dat sy moet gaan.
Dewalt volg haar voorbeeld traag en onwillig. Toe hy haar eindelik aflaai, besluit hy om maar dadelik terug te gaan Leliesvlei toe.
Dit is omdat ek Esna nie saam met my gebring het nie dat dit nou voel of my hele lewe so hopeloos uit verband geruk is dat ek selfs na Natasha se geselskap verlang, besluit hy by homself toe hy haar groet en wegry. Ja, dis nooit anders nie. Sodra ek by Esna is, sal alles sommer weer in die regte perspektief val.
Oubaas Lafras het reeds aangekom toe Natasha pas voor twaalf tuis kom. Sy tref hom en Irene op die voorstoep aan. Hy groet haar vriendelik en verneem belangstellend na haar gesondheid.
Irene merk dadelik dat die ou sprankelende lewenslus weer terug is in Natasha se mooi, sagte oë. “Natasha, ou sussie, wat het met jou gebeur? Waar was jy die hele oggend?” roep sy verras uit.
“Waarom vra jy my so ’n vraag, Irene?” wil Natasha met haar ou sonnige glimlaggie weet toe sy op die naaste stoel plaasneem. “Lyk dit of daar iets met my gebeur het?”
“Wel, jy het gisteraand nog so hartseer en verstote gelyk en nou kom jy hier aan – stralend soos toe jy was toe ek die eerste keer met jou kennis gemaak het. Is jy verlief, of wat?”
“Verkeerd, my liewe Irene,” lag sy die ouer meisie saggies uit. “Ek het vanoggend agtergekom dat ek glad nie meer verlief is nie. Jy lyk verniet so skepties. Dis die waarheid. Sedert Dewalt met Esna deurmekaar is, het hy so ontaard dat hy vir my eintlik afstootlik is.”
“Wanneer het jy Dewalt laas gesien, my kind?” vra die oubaas belangstellend terwyl hy vir hom ’n sigaar aansteek.
“Ek het hom vanoggend op die strand raakgeloop. Altans, hy het my strand toe gevolg, Pappa,” begin Natasha. Sy vertel hom wat die oggend plaasgevind het. “Dewalt wou gehad het dat ek die dag saam met hom op die strand moes deurbring. Hy wou ook hê dat ek vanaand saam met hom in die hotel moes gaan eet het. Ek het vir hom gesê hy moet liewer na Leliesvlei en na sy Esna toe teruggaan,” sluit sy af.
“Dit was ’n groot fout, ou dogter,” laat die oubaas ernstig hoor. “Jy moes saam met die egskeiding ook ’n eis teen Dewalt ingestel het vir die helfte van sy besittings vir jul kind –”
“Nee wat, Pappa,” val Natasha hom in die rede, “laat hom gerus maar begaan. Hy sal elke sent nodig kry om Esna gelukkig te hou. Ek het die afgelope paar maande geleer om met min klaar te kom. As ek eenvoudig lewe, sal ek dit kan bekostig om vir my kind ’n goeie opvoeding en geleerdheid te gee.”
“Oor die kind se geleerdheid hoef jy jou nie te bekommer nie, Natasha,” stel die oubaas haar gerus. “Ek sal self vir my kleinkind se geleerdheid betaal. En as dit ’n seun is, moet hy leef met die wete dat hy eendag sal moet voortgaan waar ek ophou. Jy sal hom ook baie fyn moet dophou. As hy net ’n effense neiging toon om storietjies soos sy pa te skryf, sal jy daardie onding dadelik in die kiem moet smoor. Ons gaan ’n uitmuntende sakeman van die kêrel maak –”
“Haai, wag ’n bietjie,” val Irene die oubaas laggend in die rede. “Pappa praat nou asof dit ’n uitgemaakte saak is dat die kleinding ’n seun gaan wees. Ek hoop dis ’n dogter. Dan sal ek vir haar balletlesse betaal sodat sy saans vir haar tannie Irene kan kom dans …”
Natasha se hartlike lagbui bring ’n einde aan Irene se relaas, en toe haar lagbui eindelik bedaar, sê sy gemaak streng: “Dit klink vir my al of jy my dogter wil verwen, Irene. Nou ja, laat ek jou maar sommer vroegtydig waarsku dat daar niks van sal kom nie. Ek glo nie Esna sou haar doel met Dewalt bereik het as hy nie so pynlik verwen was nie.”
“Jy het heeltemal gelyk,” sê die oubaas. “Dewalt is ’n bedorwe brokkie. Ons sal almal sorg dat klein Lafras nie soos sy pa verwen word nie. Ons sal baie lief vir hom wees sonder om hom tot in die afgrond te bederf.”
“Hm, ek wil dit eers sien voordat ek dit glo,” kom dit skepties van Irene. “Daardie baie liefde klink vir my ietwat verdag. Dit wek al die indruk dat ’n seun lekker verwen kan word, maar ek gaan nie my kop daaroor breek nie. Dit gaan mos ’n dogter wees –”
“Moenie glo nie; dit gaan ’n seun wees,” val die oubaas haar met ’n alwyse glimlaggie in die rede. “Die De Meyers se eerstelinge was nog altyd seuns.”
“O, maar die De Meyers van wie Pappa praat, was almal sakemanne, maar die pa van hierdie kleinding is ’n skrywer. Hy is dus nie ’n volbloed De Meyer nie,” terg Irene en Natasha kan nie help om die twee se ligte stryery te geniet nie.
Hulle sit op die voorstoep en lag en gesels totdat Mieta die klokkie vir middagete lui.
Oubaas Lafras gaan na ete vir ’n uur of wat rus terwyl Irene en Natasha langs die strand gaan stap. Daardie middag, terwyl hulle koffie op die voorstoep geniet, praat die oubaas eindelik oor dit wat hom al die hele dag pla.
Hy wag ook net totdat Natasha se koppie leeg is voordat hy bedaard sê: “Jy en Irene sal maar weer moet oppak en saam met my terugkom, ou dogter. Noudat jy waarskynlik swanger is, kan jy onmoontlik alleen hier op Dennebaai bly.”
Natasha kyk hom met ’n warm, waarderende glimlaggie aan. “Ek is nie alleen nie, Pappa. Irene en Mieta is mos ook hier.”