hulle het nie eens probeer om die verskillende stukke by mekaar te laat pas nie. Daar is geen sprake van die elegante, stroombelynde vorms van die ruimteskepe in flieks nie. Dit lyk sowaar soos ’n drywende blikkiesdorp!
“Hoe ver is ons bo die aarde?” vra ek.
“Omtrent so driehonderd kilometer,” antwoord doktor Krot. “En jy mag dit dalk interessant vind om te weet dat die Ruimtestasie elke dag sewentien keer om die aarde wentel. Om dit reg te kry, is ’n gemiddelde spoed van 27 743,8 kilometer per uur nodig. Ek twyfel of jy al ooit tevore so vinnig gery het!”
“Sjoe, sowaar?” Ek kan skaars dink hoe vinnig dit moet wees. Maar vir my lyk dit of die Stasie tjoepstil teen die donker ruimte hang.
“Maar hoe kry die Ruimtestasie dit reg om so vinnig te beweeg?” wonder ek hardop. Ek sien geen teken van ’n groot enjin of enigiets anders wat lyk asof dit die lompe stellasie kan voortdryf nie.
“Onthou, jy is nou in die ruimte. En die ruimte is ’n reuse-spasie vol niks. Daar is geen atmosfeer wat wrywing veroorsaak nie. Al wat nodig is, is om die Stasie aan die beweeg te sit, en so nou en dan vuur ons ’n kleinerige enjin as die rigting effens aangepas moet word. Dus is stroombelyning nie nodig nie, en in die oop ruimte handhaaf alle voorwerpte ’n konstante spoed totdat iets hulle stop. Dit is die eerste van Newton se wette, onthou?”
Newton se wette? Ek sal beter moet oplet in die wetenskapklas. Ek moes heeltemal te veel feite absorbeer die afgelope dag of wat. My kop pyn sommer!
“Kyk!” sê Willem, en hy stoot ’n knyperbord met notapapier na my kant toe. Dit kom doodluiters teen ’n konstante spoed na my toe aangedryf, net soos wat doktor Krot verduidelik het.
Ek vang dit uit die lug en bars uit van die lag. Willem se ore het opgestyg en dryf om sy kop rond soos twee groot seile. Hy lyk heeltemal laf!
“Die enjins van julle kapsule het ophou vuur ter voorbereiding vir julle koppeling met die Stasie,” verduidelik doktor Krot van die televisieskerm se kant af. “Julle sal nou gewigloosheid begin ervaar.”
Gewigloosheid! Hoe kan ek dit beskryf? Ek voel hoe my lyf losraak van my stoel. Net die sitplekgordel hou my terug. Ek voel lig en vry. Dit is min of meer soos om onder water te wees, net veel, veel beter.
“Bly vasgegordel, asseblief,” word ons gewaarsku. “Ons gaan nou met die outomatiese koppelingsprogram begin. Dit gaan omtrent ’n uur neem. Eet solank ietsie.”
Ja, ek is skielik dood van die honger. My maag voel asof hy nog nooit kos gesien het nie.
Al ons kos is netjies verpak in gemerkte plastiek- en aluminiumhouers. Ek skil dadelik ’n sjokolade af. My ma is mos nie hier om te sê ek moet my poeding laaste eet nie!
Willem is dors, maar die strooitjiedrinkery gee hom probleme. Hy druk die vloeistof uit die sakkie en dit vorm ’n reusagtige, koeëlronde druppel op die punt van die strooitjie. Net toe hy dit wil hap, wikkel dit los en dobber soos ’n groot jelliebal deur die lug. Willem knip sy sitplekgordel los en sweef agterna.
Ek dog ek lag my dood. In my lewe het ek nog nie iets so snaaks gesien nie! Elke keer as Willem na die borrel water hap, versplinter dit in tientalle kleiner borrels wat in alle rigtings wegdwarrel. Willem se plomp lyf is nog vetter in die ruimtepak, maar gou leer hy om sy bewegings min of meer te beheer en die waterjagery raak ’n heerlike speletjie.
Ek help ook om die borrels water bymekaar te maak. As jy twee van hulle saamdruk, smelt hulle saam tot ’n groter een. Op dié manier kry Willem darem sy dors geles.
Teen die tyd dat ons kapsule veilig gekoppel is aan die Internasionale Ruimtestasie, sit ons weer stroopsoet vasgegordel in ons sitplekke.
Net Willem se nat ore vertel ’n ander storie.
9
In die Stasie
Ons dryf deur die lugluik wat nou die Sojoes-kapsule, waarmee ons van die aarde af gekom het, koppel aan die Ruimtestasie. Die luik sluit agter ons. Ek leer gou om myself in die gewiglose atmosfeer te stuur. ’n Ligte skoppie, en mens dryf egalig vorentoe. ’n Effense stampie teen die muur van die stasie, en jy verander weer van rigting.
Die heel moeilikste ding is om op een plek te probeer stilstaan!
Ons is nou aan boord van die Internasionale Ruimtestasie. Ek kyk met verwondering om my rond.
Die vertrek waarin ons ons bevind, is nie baie groot nie. Die wande is van staal en mens kan die skroewe in die lasplekke duidelik sien soos wat die stasie aanmekaargesit is. Dit laat my steeds dink aan die binnekant van ’n krat. Het hulle sowaar biljoene dollars hieraan spandeer?
“Woef!” Dit is Boris. Sy kom na ons toe aangebons – en kan so ’n gewiglose hond spring!
Ek giggel toe ek die spektakel aanskou: Willem en sy vriendin is oorstelp van vreugde om mekaar weer na al die jare te ontmoet. Ek kan ook vir jou sê dat dit heelwat moeiliker is vir twee brakke om mekaar se sterte te besnuif sonder swaartekrag wat ’n anker vir hul pote bied! Dit is seker die vrolikste herontmoeting wat nog ooit in die ruim-te plaasgevind het.
Boris kom gee my ook ’n lek. Sy is klein en wollerig, ’n basterbrak van onsekere afkoms. Miskien was daar ’n mopshond of ’n klein Engelse herdershond iewers in haar bloedlyn, en dalk ook ’n poedel of ’n Yorkshireterriër. Niemand sal seker ooit kan sê nie, maar sy is nogal mooi. Ek kan sien hoekom Willem met sulke leepoë na haar kyk.
Ek dop myself en vir Willem uit ons ongemaklike ruimtepakke, en ons pak dit eers weg in ’n kas. My ma sou trots gewees het dat ek my klere so mooi bêre, dink ek. Maar hier moet mens alles wegpak of dit sweef die wêreld vol. Niks bly op een plek lê tensy dit vasgemaak is nie!
Die temperatuur in die Ruimtestasie is gerieflik, al is dit blykbaar tweehonderd grade onder vriespunt daar bui-te. Ek druk my T-hemp by my broek in, want dit hou aan opdryf oor my midderif. Dan maak ek ’n paar agteroor-bollemakiesies, sommerso vir die pret. Ek wens Karel kan my sien. Hierdie gewigloosheid-ding is regtig koel!
Boris beduie dat ons haar moet volg. Ons gaan deur nog ’n luik, en ek trek myself met ’n ysterleertjie in ’n gat af in wat ek dink die vloer van die Stasie moet wees. Dit is onmoontlik om hier tussen bo en onder te onderskei!
Ek gee Willem se poot ’n plukkie en hy dryf ook saam met my af, al agter Boris aan. Ons is nou in ’n observasiepos wat aan een kant van die Ruimtestasie uitsteek. Dit is ’n ronde kajuit met drie stoele in, en alles is omring met dik glas. Ek kry dieselfde gevoel as eenkeer toe ek te na aan ’n baie hoë afgrond gaan staan het – natuurlik toe my ma weggekyk het: so ’n opwindende soort bang.
Die sterrehemel rondom ons is asembenemend mooi. Ek sien wolke van sterlig wat saambondel in konstellasies, en vreemde kleure lig wat soos warm wasem ronddryf teen ’n onbeskryflike swart niks.
Is daardie planeet Mars, of Venus?
Maar die mooiste, die heel mooiste van alles is die blinkblou skyf van die aarde, met sy draaiende wit wolkmassas wat die hele linkerkant van die glasvensters vul. Ek sien die yskappe van die Noordpool, en die wyd uitgestrekte, sneeubedekte vlaktes in die noorde van Asië. Daar iewers is die steppe van Kazakstan, waar ons minder as ’n dag gelede opgestyg het. Nou lyk dit onbereikbaar ver.
Ek kan nie dink hoe ons gaan terugkeer nie, maar alles is so ongelooflik mooi en daar is so baie dinge om na te kyk dat ek nie kans kry vir bang wees of my bekommer nie.
Daar is die maan! Die kraters is so duidelik en lyk so naby dat dit voel asof ek my vingers daarin kan druk.
“Adriaan,” fluister Willem skielik agter my. “Boris is bekommerd. Sy reken dat die suurstofapparaat dalk met opset gesaboteer is …”
“Wat bedoel jy, gesaboteer?” fluister ek hard terug.