haar snoet ’n knoppie op ’n kontrolepaneel en knik haar kop vir ons. Sy lyk in haar skik.
“My slim liefie het so pas ons verbinding met Baikonoer hier in die observasiepos afgeskakel,” verduidelik my simpel, soetsappige hond. “Nou kan ons praat sonder om te vrees dat ons afgeluister word!”
Werklik!
“Boris reken sy weet waaroor al hierdie probleme gaan. Sy sê sy vermoed iemand wil ’n stokkie voor die planne van die Japannese wetenskaplikes steek. Hulle is besig met eksperimente hier in die Ruimtestasie: hulle werk aan ’n nuwe soort waterstofbrandstof. Blykbaar kan hulle net in ’n gewiglose omgewing aan hierdie eksperimente werk.”
“Waterstofbrandstof?” wil ek weet. “Wat beteken dit?”
“Dit beteken brandstof wat uit water gemaak word!” verduidelik Willem slim. “Blykbaar was een van die drie bemanningslede wat so vinnig ontruim moes word ene professor Maki Saki, ’n beroemde Japannese fisikus wat op die punt was om in sy laboratorium hier op die Stasie ’n deurbraak te maak oor hoe om water as brandstof vir motors te gebruik.”
“Water as brandstof?” vra ek. “Dit klink tog heeltemal onmoontlik? Bedoel jy iets soos stoomkrag?”
“Nee, man!” antwoord my hond ongeduldig. “Hulle leer jou sowaar bitter min in daardie skool van jou. Watermolekules bestaan mos uit waterstof- en suurstofatome. Maki Saki werk aan ’n nuwe manier om energie uit waterstof te kry, met net suurstof as ’n skadelose neweproduk.”
“Maar dit klink fantasties! Hoekom sou iemand dit wil keer?”
“Dink ’n bietjie verder as jou neus, Adriaan. Die petroleumbedryf verteenwoordig triljoene dollars se besigheid. Die geld wat gemaak word uit olie hou baie mense ryk. En sommige lande se hele ekonomie berus daarop …”
Van ekonomie het my pa my darem al ’n bietjie geleer. Ek verstaan skielik. “En wie ook al professor Saki se eksperimente wil stop, probeer keer dat iets anders dalk olie as die wêreld se belangrikste energiebron vervang!”
“Presies. As motors gemaak kan word wat op water in plaas van petrol loop, sal baie biljoenêrs se koninkryke inmekaarstort. Natuurlik sal hulle enigiets doen om dit te keer!”
“Maar hoe op aarde kry hulle dit reg om die Ruimtestasie te saboteer? Ons is derduisende kilometers weg van almal!”
“Jy bedoel seker hoe in die ruimte?” grinnik Willem. Hy het altyd tyd vir ’n simpel grappie.
Dan frons hy en sê: “Dit is doodmaklik. Dit beteken verseker dat iemand wat nou betrokke is by die ruimteprogram vir hulle werk.”
“Van watter ‘hulle’ praat jy, Willem?”
“Dit weet ek nog nie so mooi nie!”
Maar ons hoef nie lank te bly raai nie. ’n Videoskerm op ’n kontrolepaneel flikker skielik aan, en ’n gesig verskyn daarop wat ek gehoop het ek nooit, ooit weer sien nie. ’n Lelike, verrimpelde gevreet wat ek in my dag des lewens nie sal vergeet nie.
Brummel, die bobaasboef!
10
Brummel
Ek het Brummel se lelike bakkies laas gesien toe die Internasionale Polisiediens hom net buite sy hoofkwartier in Engeland in ’n motor geprop het, op pad tronk toe. Toe was hierdie boewebaas darem boosaardig kwaad vir my en Willem! Met goeie rede ook – ons het die silwer tulpbolle teruggekry, vir Hans Houtskoen bevry en Brummel vasge-trek én genoeg bewyse bymekaargemaak van al sy onwettige smokkel- en afpersbedrywighede om te verseker dat hy lank agter tralies sou bly sit.
Wat maak hy dan nou skielik hier op die videoskerm in die Internasionale Ruimtestasie?
“Ja, my goeie ou vriend Willem,” grinnik hy, “ons ontmoet weer! En hierdie keer is die skoen aan die ander voet: myne!”
Willem bly net stil en gluur boos in die boef se rigting. En Willem is nie ’n hond wat sommer stilbly nie!
“En ek sien jy sleep nog steeds daai simpel seun oral met jou saam!” snou Brummel verder. “Weet sy ma waar hy is? Die buitenste ruimte is nie ’n plek vir klein knapies soos hy nie!”
“Sy doen en late, en of sy ma daarvan weet of nie, het niks met jou uit te waai nie, Brummel,” antwoord Willem vies. “Hy is ’n wettige deel van hierdie sending, soos doktor Krot jou sou vertel, indien ’n eerbare wetenskaplike soos hy iets vir jou te sê sou gehad het!”
“Doktor Krot, ’n eerbare wetenskaplike?” grynslag die bobaasboef. “Ék is nou in beheer van die Baikonoer-basis, en dus ook van die Internasionale Ruimteblik waarin julle outjies nou so lekker ronddobber. En dit het ek alles te danke aan die samewerking van daardie einste doktor Julius Krot wat jy so ligtelik ’n ‘eerbare wetenskaplike’ noem!” Brummel lag te lekker.
Hy draai om en kyk oor sy linkerskouer. “Julius, my vriend, dit was werklik slim van jou om die seun te laat saamgaan. Dit sal dinge baie meer hanteerbaar maak vir ons. Sodra hulle uitvind die seun is daar, sal die poppies dans! Almal sal sekerlik sy veiligheid probeer verseker.”
Agter Brummel se sproeterige kaalkop loer die besnorde gesig van doktor Krot nou uit, koffiekoppie steeds in die hand. Hy lyk ’n bietjie bekaf.
“Ek is jammer, Adriaan,” stamel hy effens verleë. “Meneer Brummel het my belowe dat jy niks sal oorkom nie …”
“Niks oorkom nie? Moenie glo nie! Ek het geen liefde vir daardie benerige klein swernoot nie.” Brummel lag dat ek sy gemene kleintongetjie agter sy skerp geel tande kan sien uitloer.
Doktor Krot bloos bloedrooi. “Ek wou net nog altyd so graag self ruimte toe gaan,” verduidelik hy. “En meneer Brummel het my belowe dat hy my op die volgende sending sal saamstuur, noudat hy beheer van die Stasie oorgeneem het.”
“Hoekom wil jy die Stasie beheer, Brummel?” vra Willem.
“Ag, ek het gedink ’n ruimtestasie sal nogal nuttig wees …” antwoord Brummel ontwykend.
“Dit gaan oor Maki Saki se eksperimente, of hoe?” vra Willem.
“Jy hou jou heeltemal te slim, brak! Maar jy is reg. Sjeik Abdoel Amar Ali Khaliki betaal my ’n ongelooflike hoop geld om te sorg dat die wêreld afhanklik bly van olie. Maki Saki is naby aan ’n deurbraak met sy waterstofbrandstof. Ons kan nie toelaat dat hy vir ’n oomblik verder voortgaan met sy eksperimente nie!”
“En is die suurstoftoevoerapparaat werklik stukkend?” wil ek weet.
“O ja, dit is. My vriend Julius hier het gesorg dat die apparaat heeltemal sal ophou werk oor presies …” – Brummel kyk met ’n dramatiese gebaar na sy horlosie – “… twaalf uur. Julle outjies het dus nog ’n tydjie om te kyk na die sterretjies daar bo, en dan is dit koebaai! Sonder die suurstoftoevoer, en sonder slim honde wat inmeng in ons planne, sal dit baie lank vat voor die Ruimtestasie weer op dreef kom.”
“Maar wat van professor Maki Saki?” wil ek weet. “Hy sal sekerlik voortgaan met sy eksperimente?”
“Hy het waarskynlik sy ruimtelaboratorium daarvoor nodig,” antwoord Willem my onderlangs.
“Jy verstaan mooi, ou brak. Jammer jy het nie vir my kom werk toentertyd toe ek jou genooi het nie. Maar nou ja. Noudat hy terug is op aarde, sal dit maklik genoeg wees om te sorg dat Maki Saki nooit weer teruggaan na die Ruimtestasie om sy eksperimente voort te sit nie. Die wêreld se petroleumbedryf is dus veilig in my hande!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».