Malene Breytenbach

Hartstog op see


Скачать книгу

      Hartstog op see

      Malene Breytenbach

      1

      Justine staan opgewonde op die kaai met haar tas en skouersak. Die windjie waai haar lang, donker hare oor haar gesig en sy vee dit vir die soveelste keer uit haar oë, kyk dan oorstelp op na die groot wit skip, verskeie verdiepings hoog, wat in die Kaapstadhawe vasgemeer lê. Op die boeg staan die naam Moon Goddess.

      Dit is kamstig een van die kleiner skepe wat aan Goddess Cruises behoort, maar dit is die grootste skip wat sý nog gesien het – spierwit, oorweldigend en duidelik superluuks. ’n Drywende sewesterhotel. Op háár gaan Justine vir die volgende paar weke verpleegster wees.

      Dit was haar geluk dat een van dié skip, wat van Australië vaar en na die Middellandse See op pad is, se verpleegsters in Kaapstad vervang moes word. Die skip vaar vanaf Kaapstad om die weskus van Afrika, deur die Straat van Gibraltar, waar dit ’n tydjie vertoef, na die hawestad Alexandrië in Egipte, waar dit ’n ruk lank vasmeer sodat die toeriste ’n binnelandse toer kan geniet. Daarna vaar dit na Kreta, na Malta, terug na Gibraltar en weer om Afrika na Kaapstad. Van Kaapstad af keer die skip na Australië terug en begin ’n volgende toer.

      Justine het lankal aansoek gedoen om ’n pos as skeepsverpleegster en die nodige gevorderde noodhulpkursus voltooi. En skielik, voordat sy dit verwag het, is daar toe ’n opening vir haar!

      Die mediese personeel op die Moon Goddess moet sowat seshonderd passasiers versorg. Die skip is Australies en Justine verwag daarom dat die bemanning en personeel meestal Engelssprekend sal wees. Dit was ’n aanstellingsvereiste dat sy Engels goed magtig moet wees, maar natuurlik is sy wel. Tot dusver weet sy net van twee mense in die mediese afdeling. Die hoofverpleegster onder wie se leiding sy gaan werk, is ene Sally Williams, en die senior dokter is Ruben Barnard. Sou hy Australies en Engelstalig wees, of een van die vele Suid-Afrikaners wat oorsese weivelde gaan soek het?

      Justine is baie nuuskierig en gretig om met almal kennis te maak. Sy kan ook nie wag om te sien hoe so ’n enorme skip werklik van binne lyk nie. Sy het al foto’s gesien, maar was nog nooit self op so iets nie. Dit sal seker so luuks wees soos die Titanic van destyds, net veel meer modern, natuurlik.

      Volgens die inligting wat sy nagevors het en ook van die skeepsredery ontvang het, is die passasiers ’n mengelmoes van tale en kulture, meestal volwassenes. Hulle het skynbaar geld in oorvloed, want dié plesiervaarte is bitter duur. Daar word hoog opgegee oor die skip se pragtige dekor, die kajuite (veral die héél luukses wat elkeen ’n eie balkon het), die vele restaurante, sitkamers, kroeë, die nagklub, spa en gim, boetieks, skoonheidsalonne, swembaddens, natuurlik die casino en ’n groot balsaal, die Mountjoy. Dié saal is die middelpunt van sosiale bedrywighede en dien ook as konsertsaal. Daar is allerlei vertonings, kabarette, danse, vier-en-twintig-uur-buffetetes, verrykingsprogramme, speletjies … alles waaraan ’n mens kan dink om die passasiers te vermaak en verveeldheid hok te slaan.

      Dit beteken dan sekerlik dat daar verskeie kunstenaars ook aan boord sal wees, dink Justine. Dis ’n hele klein wêreld, ’n mikrokosmos met ’n uiteenlopende, interessante groep mense. Heerlik opwindend!

      Op so ’n plesiervaart gee mense hulle aan allerlei lewensgenietinge oor. Een van die redes waarom haar verhouding met Jacques skipbreuk gely het, was dat hy niks gehou het van haar plan om ’n tyd lank ’n skeepsverpleegster te wees nie. Hy het pas as algemene praktisyn gekwalifiseer. Hý sal so ’n pos nooit eens oorweeg nie, het hy afkeurend gesê toe sy hom van haar plan vertel. Hy het haar kwansuis oor alles en nog wat gewaarsku: Mense ooreet hulle vreeslik en dan sal sy met nare maagprobleme en diarree te kampe hê. Mense kry ipekonders en word seesiek.

      “Jy weet ook nie wat alles in die kajuite aangaan nie, ek’s seker die mense pleeg allerhande sondes en ruil bedmaats sommer so goedsmoeds uit,” het hy suur beweer. “En dan praat ek nie eens van die wolwe wat op jag is nie. ’n Verpleegster is ’n maklike teiken. Hulle stel natuurlik net mooies aan, sodat dit vir die passasiers plesier sal gee.”

      Sy was naderhand regtig vies vir sy praatjies. “Jy maak asof ’n verpleegster gelyk is aan ’n slet! Jy laat my nou regtig goedkoop voel net omdat ek my vir so ’n doodgewone werk inlaat. ’n Plesierboot is nie ’n drywende bordeel nie. Dis jóú kop wat in daardie rigting dink! Skaam jy jou nie? Dit is doodeenvoudig ’n lekker vakansie waar mense kan ontspan en vermaak word, dis al. Mag ’n verpleegster nie ook op ’n seereis gaan nie? Ons sal mos oraloor aan wal kan gaan, dan sien ek darem die wêreld. Maar dis juis wat jy nié wil hê nie, nè!”

      Afgesit sou sy beslis nie wees nie. In elk geval het Jacques so jaloers, besitlik, veeleisend en dominerend geword, dat die dun ou draadjie waaraan die verhouding gehang het, nou eenvoudig gebreek het. Sy het nuwe, vars ondervindings en plekke nodig. Nuwe gesigte, nuwe persoonlikhede.

      Dis tyd vir heling van die teleurstelling waarin haar verhouding met Jacques ontaard het. Sy het hom aanvanklik so bewonder. Eintlik wou sy self graag dokter geword het, maar sy kon dit nie bekostig nie. Toe kry sy maar ’n meer haalbare graad in verpleegkunde.

      Die dokters met wie sy al saamgewerk het, is meestal mense wat sy bewonder vir hul intelligensie en mensvaardighede. Sy het haar verbeel Jacques is ook so bewonderenswaardig, en toe val sy vir hom …

      Maar nee, sy moet vir eers van hom probeer vergeet. Nou moet sy aan boord stap. Sy tel haar bagasie op en stap met die loopplank op ná sy ’n slag diep asemgehaal het. Net toe sy bo kom, haak die wieletjie van haar tas egter aan iets, die handvatsel ruk uit haar hande en die tas rol ’n entjie na onder. ’n Offisier in wit, met rooi-en-goue epoulette, is gelukkig agter haar en hy kry haar tas beet voor dit in die water of op die kaai val.

      Toe hy haar tas vir haar aangee, kyk sy op in die helderste blou oë in ’n sonbruin gesig. ’n Hoekige gesig, nie filmstermooi nie, maar manlik.

      Hy knik net vir haar verligte bedanking, glimlag en loop weg oor die dek van die skip. Van agter kyk sy betower na die regop rug en breë skouers in die wit uniform, die donker kop met netjies gesnyde hare. Sy kan skaars glo dat sy pás op die skip aangekom het, en hier loop sy haar in so ’n beeld van ’n man vas! Wat sou hy wees? Een van die skeepsoffisiere, ’n hotelpersoneellid of een van die dekpersoneel? Wie ook al, sy hoop sy sien hom gou weer.

      Moenie verspot wees nie, betig sy haar egter. Jy behoort op die oomblik sku te wees vir mans. Gedra jou!

      Sy sien nog twee mans in uniform en gaan vra hulle waar die mediese afdeling is.

      “Ek kan u gaan wys, dame,” sê een, ’n vriendelike jong man met ’n sproetgesig en vlamrooi hare. “U is tog nie siek nie? U lyk of u pas aan boord gekom het.”

      “Nee, ek is ’n verpleegster. Ek kom die plek inneem van die een wat blykbaar siek geword het en die skip moes verlaat. My naam is Justine Steyn.”

      Hy glimlag breed en word sommer heel informeel. “O, ek is bly om te hoor jy gaan ook saam met ons hier werk. ’n Mooi jong meisie soos jy bring sommer die gemiddelde ouderdom af. Daar is hope ryk ou fogeys wat op dié toere gaan. Aangename kennis, Justine, ek hoop jy werk baie lekker.”

      “Dankie. En wie is jy, as ek mag vra?”

      “Ag, ekskuus! Ek is Jim Sylvester, derde offisier in die dekdepartement. Sien, ek dra swart-en-goue epoulette. Ons word almal deur die kleur van ons epoulette onderskei. As jy iemand met vier goue strepe raakloop, dan weet jy dis kaptein Tom Bishop, die koning van die skip.”

      Justine glimlag bly vir hom. “Dankie vir die inligting, dit gaan nuttig wees.”

      “Kom, jou kajuit en die mediese sentrum is drie vloere ondertoe. Heel bo is die luukse kajuite van die rykste passasiers sodat hulle die uitsig kry waarvoor hulle so duur betaal. Die meeste mense het aan wal gegaan om die stad en die Waterfront te besigtig en bietjie die binneland in te reis, maar dalk is hier iemand aan diens om jou te ontvang.”

      Justine verwonder haar aan die prag van die skip, maar Jim Sylvester loop vinnig vooruit met haar tas, en sy moet byhou. Taamlik ver af in die skip se buik loop hulle by ’n lang gang af tot waar daar ’n kennisgewing is: Medical Centre. Hulle gaan by ’n deur in na ’n ontvangslokaal. ’n Man en vrou staan daar en gesels. Albei is in uniform,