van die restaurante wil gaan eet nie. Ons klomp eet gewoonlik ons ontbyt in ons kajuite, en middagete in die offisiersmenasie. Jy kan saans ook daar eet, as jy nie elders wil nie. Terloops, die skeepskelners is wonderlik behulpsaam, jy moet tog asseblief onthou om aan die einde van die toer vir hulle fooitjies te gee.
“Ons het vrye toegang tot die vermaaklikheidsgeriewe. Die salaris is goed en daar is min uitgawes, want kos en akkommodasie is tog ingesluit. Jy sal kan spaar, as jy wil. Ons mediese fasiliteite is uitstekend. Ons het goeie kantore en rekenaars. Al die nodige toerusting is van die jongste en beste. Ons het ook gratis internet- en telefoongeriewe, so jy kan maklik met jou familie en vriende kommunikeer. Ons werk vier maande lank en kry twee maande verlof, wat lekker is. Baie voordele.”
Dis asof hy haar probeer oortuig, maar sy’s tog reeds aan boord en gereed om te werk, sy vind dit vreemd.
“Hoe laat begin ons dag?”
“Halfnege. Ek en dokter Gibson maak beurte om op roep te wees wanneer ons iewers vasgemeer is. Julle verpleegsters is daar om te help en soms vir ons in te staan. Kate is ons enigste fisioterapeut en sy kan nogal besig raak. Elke dag het ons kliniektye, en dan sien ons die bemanning en die passasiers, ook snags, as ons op roep is. Natuurlik moet adminwerk ook daagliks gedoen word. Die meeste passasiers is ouer mense. Ons kan die meeste noodgevalle hanteer, maar as iemand chirurgie nodig het, word hy of sy per helikopter na ’n hospitaal vervoer. Middae op die skip is gewoonlik stil. Die kliniek open weer van halfses tot seweuur saans. Ek gaan gym gewoonlik daarna. Daar is twee – een vir die bemanning en een vir die passasiers. Ek gaan meestal na die passasiers s’n toe, dis beter toegerus en word minder gebruik.”
So, hy gaan na die gym wat Kate gesê het sy nie moet gebruik nie. “Word ons regtig toegelaat om die passasiers se fasiliteite te gebruik? Ek bedoel nou soos die gym.”
“Ja, jy mag ook die passasiers se gym gebruik as jy dit verkies.”
“Moet mens altyd jou uniform dra?”
“Jy moet dit altyd bedags aanhê wanneer jy na die passasiers se dele van die skip gaan, ja. In die aand trek ons egter semiformeel of formeel aan. Jy moet te alle tye jou selfoon by jou hê, en nooit op silent nie, want jy kan enige tyd benodig word.”
“Dra dokter saans ’n tuxedo?” Waarin hy seker stunning lyk …
“Ja, as ek na ’n formele ete of vertoning gaan. Daar is maar ’n tradisie van optof op dié skepe. Jy sal sien hoe deftig die mense saans by veral die Mountjoy uitslaan.”
“Dit klink alles baie lekker.” Sy glimlag vir hom, besef dan skielik sy klink nou seker weer soos ’n Barbie-pop.
Hy knik half stroef – hy’t ook so gedink! – en staan op. “Kom ek wys jou ons fasiliteite.” Sy volg hom effe bekaf.
“Die grootte van die mediese span hang af van die grootte van die skip. Ons is nie een van die heel grotes nie. Ons mediese sentrum het binnepasiëntbeddens, een kritiekesorgkamer, ’n ontvangslokaal, ’n X-straalkamer, behandelingskamer, laboratorium en apteek. Ons het elkeen ’n eie kantoor.”
Een vir een sien sy die vertrekke.
“Dit lyk alles baie modern en goed ingerig,” sê sy.
Hy loop per abuis in haar vas in die gang, wat haar hart omtrent laat omslaan. Hy staan vinnig tru.
“Ekskuus. Ja, ons het goeie toerusting, defibrilleerders, EKG-masjiene, ventilators, hartmoniteringstelsels en infusiepompe, als. Jy sal verbaas wees om te sien met hoeveel hartgevalle ons te doene kry. Die soort mense wat op skepe vakansie hou, is genieters, en baie se cholesterolvlakke is te hoog. Ons het ook ’n volledige reeks medikasies, rolstoele, draagbare, wat ook al. Soos ek reeds gesê het, as pasiënte ernstig siek is, word hulle geëvakueer. Sterftes moet ons tot elke prys voorkom. Dit besorg die redery altyd baie slegte publisiteit.”
“Nou watter soort kwale sien ons meestal?”
“Baie seesiekte, soms voedselvergiftiging, tropiese peste, gewone virusse, ernstige sonbrand – mense is ongelooflik dom daarmee – en dan die hartaanvalle. Min of meer wat ’n algemene praktisyn sou teëkom. Heelwat ipekonders en neuroses. Klein ongelukkies, migraine, ensovoorts.”
Hemel, daar klink hy weer soos Jacques, dink sy omgekrap, so afwysend en uit die hoogte. En sy moet onder hom werk! Sexy is hy nou wel, maar of hy maklik is om mee oor die weg te kom, moet sy nog vasstel. Sy twyfel.
“Kom ek neem jou na die kaptein. Hy sal nog op die brug wees.”
Op pad kyk Justine waarderend om haar rond. “O, dis pragtig. As die skip darem moet sink, en al dié weelde vergaan in ’n oogwink.”
Dokter Barnard draai na haar met ’n kwaai frons. “Hierdie skepe sink nie. Ons is nie die Titanic nie.”
Al weer die verkeerde ding gesê. Sy voel baie verleë, en gelukkig kyk hy nie weer na haar nie, stap net vinnig vooruit. Sy moet draf om by te hou. ’n Mens moet sekerlik nie sulke dinge op ’n skip kwytraak nie, sy moes gedink het!
Die brug, waar die kaptein en twee offisiere samespreking voer, is so hoog bo in die skip dat Justine oor die hele hawe kan sien. Dit is behoorlik asemrowend.
“Kaptein Tom Bishop, dit is verpleegster Justine Steyn,” stel dokter Barnard hulle voor. “Sy is ’n Suid-Afrikaner wat verpleegster Wainwright vervang.”
Die kaptein is grys met ’n groot baard en snor, bruingebrand en nogal aantreklik, baie netjies in sy uniform. Hy stel die ander mans aan haar voor as die eerste offisier en die uitvoerende stafkaptein. Hulle is almal bitter netjies, onberispelik, maar gelukkig ook vriendelik. Hulle lyk vir Justine soos sy haar verbeel sulke mense behoort te lyk in hul kraakvars uniforms. Omdat Jim haar van die epouletstelsel vertel het, let sy op na die kaptein se vier goue rangstrepe, vier swart-en-goue rangstrepe vir die uitvoerende stafkaptein en twee goue strepe vir die eerste offisier.
“Julle lyk baie deftig. Ek sal nog al die epoulette leer lees,” sê sy met ’n glimlag.
Die kaptein glimlag goedkeurend. “Welkom aan boord, verpleegster Steyn. Ek hoop jy sal dit geniet om deel van ons wêreld te wees.”
“Ek is seker ek sal, dankie, kaptein.”
* * *
Justine pak haar klere in die klein hangkas weg, pak haar toiletware in die badkamer uit en trek haar nuwe wit uniform met epoulette aan. Dit lyk regtig vir haar mooi, so vars, skoon en professioneel. Dokter Barnard het aangebied om haar na die offisiersmenasie te neem vir middagete, waarna dokter Gibson terug sal wees en hy self vir sy landbesoek vertrek.
“Hier kan mens nie kla oor die kos nie,” sê hy op pad na die menasie toe. “Eintlik is daar gans te veel daarvan en dis heeltyd beskikbaar. Jy sal sien, jy is nou langs die vleispotte van Egipte.”
Hý lyk nie of hy hom ooreet nie, dink sy, en sy gaan beslis ook nie gewig aansit nie. Hier en daar kom hulle ander personeel of passasiers teë en Justine sien dat almal dokter Barnard met ontsag aankyk en groet. Vir haar bekyk hulle meestal net nuuskierig. Sy is baie selfbewus, eerstens omdat sy oorbewus is van die lang, aantreklike man wat selfversekerd langs haar stap, en tweedens omdat sy voel soos die nuwe munt wat nog blink as die mense na haar, die vreemdeling, kyk.
Hulle klim trappe na waar daar ’n geroesemoes van stemme is.
“Die mense eet al,” sê dokter Barnard. “Ek sit aan die kapteinstafel saam met die departementele hoofde, jy kan vandag by ons sit. Andersins kan jy kies waar jy sit. Die buffet is regtig smaaklik en ’n kelner neem al jou ander bestellings. Ons is bevoorreg om in die offisiersmenasie te mag eet.”
“Kom ek wys jou die bemanning se menasie,” sê hy dan en laat haar inloer by ’n vertrek met lang wit tafels en plastiekstoele. Daar staan “Crew mess” op die deur. Daar is ook ’n buffet en Justine sien matrose en bemanning wat toustaan. Hier is dit nog meer lawaaierig as by die offisiersmenasie.
“Dis hier waar jy verskillende nasionaliteite kry en vreemde tale van regoor die wêreld hoor,” vertel dokter Barnard. “Dit is