Malene Breytenbach

Hartstog op see


Скачать книгу

staan nogal flink op en loop vooruit slaapkamer toe. Sy volg en maak die deur agter haar toe.

      “Sal u asseblief op daardie stoel sit?” vra sy.

      Hy gehoorsaam sonder om iets te sê. Kyk net stip, takserend, na haar.

      “Trek asseblief u pantoffels uit sodat ek u voete kan ondersoek.”

      “Hoekom? Dis mos die dokter se werk. Jy is net hier om my in te spuit.”

      Justine staan en kyk bedaard af na hom. Hy is soos ’n iesegrimmige kind.

      “Nee, ek is nie bloot hier om u in te spuit nie, sir Geoffrey. U sal asseblief doen wat ek vra, anders moet u maar afkom na die mediese sentrum en soos die ander passasiers in die wagkamer vir die dokter wag.”

      Hy kyk verstom na haar, met sy mond oop. “Maar jy is parmantig!” merk hy bitsig op.

      Sy hou haar stem kalm, sodat sy nie aggressief klink nie. “Ek is die een wat weet wat goed is vir u, of wat sleg is, sir Geoffrey.”

      Hy draai een punt van sy snor, frons dat sy welige wenkbroue bo sy snawel ontmoet. “Nou maar goed dan.”

      Eerste ronde van die geveg gewen, dink Justine. Sy bekyk sy voete. Wit en blou beaar, maar minstens silwerskoon, die naels gepedikuur. Dié is ’n man wat van kop tot tone gepamperlang word.

      “Dit lyk nie sleg nie,” sê sy. “Voel u soms ’n prikkeling in u voete?”

      “Soms.” Sy oë kyk stip na haar. “My sig gaan agteruit. Ek laat my tande gereeld kontroleer. Ek laat my niere toets. Alles wat die dokter aanbeveel.”

      Justine maak die mediese tassie oop en haal die bloeddrukmeter uit. “Ek gaan u bloeddruk toets en ’n bloedmonster neem, sodat ons u cholesterol en trigliseriedvlakke kan nagaan.”

      “Vind jy nou die wiel van voor af uit of speel jy net graag dokter, verpleegster?”

      Sonder om te antwoord stoot sy sy mou op, draai die bloeddrukmeter om sy boarm, pomp, en lees. “Dis ’n bietjie hoog. Die dokter het aanbeveel dat ek al u metings neem, sir Geoffrey. Ek hoop ek doen my werk deeglik.”

      “Hmm. Nou goed dan. Doen wat jy moet. Wat help dit ek protesteer?”

      Justine neem sy hand en prik ’n vinger, trek ’n druppel bloed. “Hoekom sou u wil protesteer as almal moeite doen om u te versorg? As ek u was, was ek eerder dankbaar.”

      Hy gluur haar aan, sê niks. Sy ignoreer hom en berei die spuitnaald voor.

      “Dink jy dit is vir my lekker om siek te wees?” vra hy bars ná die inspuiting.

      “Nee, maar u is een van die bevoorregtes wat behoorlike mediese sorg kan bekostig. U moet sien waarmee ek al moes werk in hospitale hier in Kaapstad. Arm, siek mense, met vreeslike kwale, geen mediese versekering nie en bitter min geriewe om hulle mee te help. My pa het altyd gesê mens mag nie kla met die witbrood onder die arm nie.”

      Hy kyk haar lank aan met ’n eienaardige uitdrukking op sy gesig. Kry hy sowaar skaam, of lees sy hom verkeerd? Hy is so bevoorreg, so verhewe bo die armes en behoeftiges, hoe sal hy ooit verstaan met watter probleme hulle te kampe het?

      Hy verbaas haar egter. “Jy’s reg, verpleegster. Ek behoort dankbaarder te wees. Dankie vir jou deeglikheid. Jou voorganger het net kom spuit en dan weer gegaan. Dis tog nie lekker om met ’n ou knorrige diabeet te werk nie.”

      Justine glimlag vir hom. “Sir Geoffrey, ‘lekker’ is nie iets waaraan ons mediese mense dink nie. Ons plig is vir ons ’n voorreg. Ons wil dit doen om ons medemens se lewe te verbeter. Ek het nie ’n verpleegster geword omdat ek mooi uniforms wil dra nie. U moet asseblief nie dink dat ek tandeknersend en teësinnig hierheen kom nie. Al my pasiënte is vir my belangrik. Hul welstand en geluk lê my na aan die hart.”

      “Jy klink sowaar opreg.”

      Justine frons ligweg vir hom. “Ek ís opreg. Waarom sou ek nie wees nie?”

      Vir die eerste keer glimlag hy haar toe. “Kom jy weer môre? Moet tog nie daardie ander ene stuur nie.”

      Nou toe nou. Sy steek die breë glimlag weg wat wil deurbreek. “Ja, as u wil. Ek kan dit so reël.”

      “Gaan jy saam met ons tee drink? Ek wil net gou verklee. Roep asseblief vir Robert om my te kom help, dis tog waarom hy saamgekom het.”

      Justine glimlag en maak haar tassie toe. “Miskien ’n ander dag, dankie, sir Geoffrey, maar ek moet nou gaan. Dis my eerste dag en die hoofverpleegster wil nog sekere dinge met my deurpraat.”

      “Goed, miskien môre, dan? Sê vir daardie senior dokter van julle, die ander Suid-Afrikaner, dat ek daarop aandring.”

      “O, hoe weet u dat ek ’n Suid-Afrikaner is?”

      “Ek kan dit tog aan jou aksent hoor. Maar ek maak dit ook my besigheid om sulke dinge te weet. Ons weet julle opleiding hier is uitstekend.”

      “Dankie, ons hoop so.”

      In die sitkamer bly die ander drie skielik stil toe sy inkom. Sy kan sweer hulle het oor haar geskinder.

      “Meneer Parfrey, sir Geoffrey vra dat u hom asseblief moet gaan help aantrek.”

      Die man staan met ’n ergerlike sug op en loop na die slaapkamer. Net saamgebring met die doel om die ou aristokraat met sy geld en invloed by te staan, en hy doen dit onwillig. Voor sir Geoffrey sit hy natuurlik ’n meer gedienstige gesig op.

      Sy groet, verlig om te kan gaan. “Ek sal weer môre terug wees.”

      Die seun rol met sy rolstoel nader, maar die vrou bly met ’n tydskrif sit, groet skaars. Justine maak die deur oop en tot haar verbasing stoot die seun homself vinnig eerste deur, voor haar uit sodat sy haastig moet terugstaan.

      “Wel, en het jy vir sir Geoffrey ’n lekker tyd gegee?” vra hy parmantig.

      Justine gaan staan in die gang. Sy het self ’n klein boetie wat baie vermetel kon wees as kind, so sy dink sy weet hoe om dié kêreltjie te hanteer.

      “Lekker is nie wat ek ’n inspuiting en bloed trek sou noem nie, Robin. Moet ek dit met jou ook doen sodat jy kan voel hoe dit voel?”

      Hy grinnik. “Jy’s mooier as die laaste een, maar nie so sexy nie. Hy sal vir jou ook ’n harde tyd gee.”

      “Hy sal nié. Ek doen my werk en hy is my pasiënt. Ek dink regtig nie jy moet oor sir Geoffrey skinder nie. Is julle nie sy gaste nie?”

      “My ma en pa sê hy gebruik hulle net want hy is so belangrik, maar hulle doen alles wat hy vra, en hy wil nie ’n verpleegster saambring nie want hy sê hy’s nie só siek nie. Ons is een van die belangrikste families in Brittanje. My pa se ander neef is die Duke of Northumberland. Sy kasteel is Alnwick, waar die Harry Potter-flieks en ’n klomp ander gemaak is.”

      “Jy is darem haastig met die uitlê van jou familie se pedigree teenoor iemand wat vir jou ’n vreemdeling is. Maar dankie vir die inligting. Ek moet nou gaan, Robin.”

      Sy loop vinnig weg, wonder oor die kind. Waarom vertel hy sommer dadelik vir ’n mens van die familie? Het hy ’n minderwaardigheidsgevoel wat hy met spog probeer besweer? Of is dit hoe sy ouers hom leer? Wys dadelik vir die mense wat vir jou werk dat jy hul meerdere is?

      Gaan hulle so onverkwiklik bly reg deur die reis? Sy sal dit net moet leer hanteer, maar dis nie ’n blye vooruitsig nie.

      * * *

      “Dit lyk of jy die ou lord sal kan hanteer,” skerts dokter Gibson nadat sy verslag gedoen het. “Hy het nog nooit een van die ander verpleegsters vir tee genooi nie. Vir dokter Barnard wel, maar dis die enigste van ons klomp van wie hy regtig hou.”

      “Daai kwajong van ’n seun het al jou voorganger aan die agterstewe geknyp,” vertel Sally met smaak. “Ek hoop die klein vabond probeer dit nie met jou nie.”

      “Ek sal hom soos