sluit die kajuit se deur oop en lei hulle in.
“Genade,” sê Justine. “Dis soos ’n koning se slaapkamer in ’n paleis!”
“Ja, dis baie weelderig,” sê Mitzi. “Die Engelse lord slaap alleen op ’n superkoninggrootte bed. Kyk, hy het nóg ’n slaapkamer, sy eie sit- en eetkamer en ’n groot balkon, sy eie vermaaksentrum, twee TV’s, sy eie groot yskas en kombuis, ’n enorme hangkas en spieëltafel, sy eie én ’n gastebadkamer. Kom kyk hoe lyk sy persoonlike badkamer. Dít is nou luuks verby!”
Die badkamer is inderdaad ’n klein saaltjie – daar is selfs ’n jacuzzi. Die krane is van goud, daar’s oral goue versierings en Italiaanse marmerteëls, pragtige houtkaste. Daar hang nuwe wit handdoeke wat dubbel so dik lyk as die normale soort wat Justine ken. ’n Wit handdoekstofjapon wag aan ’n goue hanger aan ’n goue krulhaak, met daaronder ’n paar wit leerpantoffels met skaapwolbinnekante. Dit is alles silwerskoon, bykans klinies, en pynlik netjies, die toiletware in rye gepak. Byna asof niemand die plek bewoon nie.
Justine kyk na Kate en lag verstom. “Ek kán my oë nie glo nie, nes jy voorspel het.”
“Die linne en handdoeke en alles is net van die heel, heel beste,” vertel Mitzi. “Maar dis hoe die ou lord gewoond is om te lewe. Hy het ’n kasteel in Engeland. Hy is mos skatryk, nou toer hy heeltyd om homself te vermaak, sedert sy vrou oorlede is. Sy seun woon nou in Sydney. Sir Geoffrey gaan elke jaar by hom kuier, en dan gaan hy sommer ook op een van die Goddess Cruises-toere van daar af.”
“Hoe is sy volle naam?” vra Justine.
“Hy’s sir Geoffrey Percy. Hy het ’n landgoed met ’n kasteel in die noorde van Engeland en ’n huis in Londen.” Mitzi lyk trots, asof die man se welvaart iets met haar te doen het.
“Dokter Barnard ken hom goed,” sê Kate. “Hy’t ons vertel sir Geoffrey se herehuis is Crannic, of mens sê dit so, maar mens spel dit met ’n W iewers. Sy huis in Londen is naby Kensington-paleis. Hy is die neef van een of ander duke. Nog ’n neef, die Honourable Robert Parfrey en sy vrou, Gwynneth, reis saam. Hulle is langsaan in een van die net effens minder luukse staterooms. Hulle en hul nare, bedorwe seun, Robin. Jy gaan hulle almal leer ken. Robin het sy enkel gebreek en sit in ’n rolstoel, nou’s hy erger as ooit. En sir Geoffrey is ’n diabeet.”
“Julle weet darem baie van die mense af.”
“Ja, ons ken hulle immers al jare,” sê Kate. “Jou voorganger het baie met hulle gewerk en sy’t gesê hulle is vreeslike snobs. Die seun spog net heeltyd oor hoe belangrik die familie is en hoe na hulle aan die koningshuis is. Hy gaan mos skool by Eton, waarheen net die rykste VIPs se kinders gaan. Dis reg langs Windsorkasteel. Ek moet jou waarsku, hulle vereis meer aandag as enige ander passasiers. Sir Geoffrey wil nie self sy daaglikse insulieninspuiting gee nie. ’n Verpleegster moet dit doen. Dit gee hom seker ’n thrill. Van nou af gaan dit jou werkie wees.”
Hulle bedank Mitzi en gaan weer na onder na die mediese sentrum. Justine voel skoon oorweldig.
2
Terug by die mediese sentrum tref hulle dokter Ruben Barnard by ontvangs aan, besig om na iets te tuur op ’n rekenaarskerm. Hy staan op toe hulle inkom.
“Is jy tevrede met jou kajuit, verpleegster?”
“Ja, dankie. Ek het nie ’n suite verwag nie, ek kom tog werk, nie toer en vakansie hou nie.”
“En is die skip vir jou mooi?”
“Ongelooflik mooi, moet ek sê. En so groot!”
“Ja, dis vreeslik groot en ons het baie pasiënte, hoewel mense met ernstige kwale eintlik skaars is. Kate, jy kan gerus aan wal gaan. Ek weet jy smag om Kaapstad te sien. Ek sal vir verpleegster Steyn ons fasiliteite hier wys en haar aan die kaptein gaan voorstel, dan kan sy haar tuismaak. Aangesien ons oor twee dae vertrek, het jy nie juis veel tyd om die Kaap te sien nie.”
“Oukei, dankie, dok,” glimlag Kate. “Wou jy nie saamgekom het nie?”
“Nee dankie, ek sal bietjie later.”
Nadat Kate uit is, is Justine intens bewus daarvan dat sy nou alleen by die dokter is. Sy let op die skaduwee van sy donker baard onder die soel vel, die plooitjies langs sy helderblou oë. Sy skat hom in sy laat dertigs. Hy het ’n snaakse effek op haar. Dis asof haar hart nie normaal wil klop nie, veral as hy so stip uit die hoogte na haar kyk. Sy is lank, maar hy is maklik nog ’n halwe kop langer as sy.
“Sit asseblief,” nooi hy, nou in Afrikaans. Dis soos sy gehoop het!
“Ek is so bly om nog ’n Suid-Afrikaner aan boord aan te tref,” sê sy vrolik.
Hy knik, trek sy mond op ’n plooi. “Ja, maar ek het lankal die land verlaat om skeepsdokter te word. Ek het hier in Kaapstad gestudeer.”
“Ek kom van Stellenbosch af,” sê Justine. “My familie woon nog almal daar. Het dokter ooit hier gepraktiseer?”
“Ek het net my hospitaaljaar by Groote Schuur gedoen. Daarna het ek in Engeland en Australië gaan werk en by Goddess Cruises aangesluit. Ek werk al sewe jaar lank op die skepe. Miskien moet ek een van die dae ophou en gaan spesialiseer in iets. Hartchirurgie, dalk. Mense vra in elk geval heeltyd of ek nie Chris Barnard se seun is nie.”
Justine lag beleef, maar hy glimlag net effens.
“Waar was dokter al oral met die skeepsvaarte?” vra sy.
“Brittanje, Australië, Nieu-Seeland, China, Japan, die Stille Oseaan-eilande, rondom die Middellandse See, die Baltiese See, die Karibiese eilande, Noord- én Suid-Amerika, om Afrika … seker oral in die wêreld.”
“Oeeee, dis fassinerend! Ek wil soveel as moontlik sien.”
Hy kyk haar onderlangs aan. Byna afkeurend. “Jy soek avontuur. Toe ek hoor jy sluit by ons aan, het ek jou nie só voorgestel nie, moet ek sê.”
“Só? Hoe bedoel dokter?”
“Nie soos ’n verpleegster nie.”
“Hoe is ’n verpleegster dan veronderstel om te lyk?”
“Dalk bietjie minder soos ’n Barbie-pop. Ek hoop jy weet hoe om mans beskaaf dog ferm op hul plek te sit.”
Justine se mond val letterlik oop van verbasing – en verontwaardiging. Dié man klink alte veel na Jacques met sy gekke menings oor mense se kullery en kaskenades op plesiervaarte.
“Ek sou hoop ek kom soos die professionele mens voor wat ek glo ek is, en vir mans se truuks val ek nie sommer nie, dokter Barnard.” Sy weet haar stemtoon grens aan bitsig, maar sy kan dit nie verhelp nie. Hy het haar nou sowaar lelik in die gesig gevat.
Tot haar verbasing glimlag hy effens, maar sonder dat enige tande wys. “Ek hoop so. Jammer as ek jou geaffronteer het.”
Daar is ’n kort ongemaklike stilte, wat Justine verbreek. “Ek hoop ek weerhou dokter nie daarvan om aan wal te gaan nie? Dis tog u stad van herkoms. Daar is seker mense vir wie u wil gaan kuier?”
“Ag, dis nie nodig dat ons só formeel hoef te wees nie – ek verseker jou, die spul Australiërs aan boord sou die ge-u baie snaaks vind. Ek sal vanmiddag aan wal gaan. Ek kan nie die mediese sentrum hier ure lank onbeman laat nie. Daar kom dalk ’n noodgeval. Iemand moet altyd hier wees en die ander smag tog so om Suid-Afrika se bekendste stad te besigtig. En ek wou bly om jou te verwelkom, ons het jou verwag. Vanmiddag is dokter Gibson ook terug.”
Wel, dit is darem tegemoetkomend van hom om hier te bly en die ander kans te gee om die stad te gaan sien, dink Justine. Hy’s dalk nie heeltemal so ’n buffel nie.
“Dokter, kan jy my vertel wat ek min of meer op ’n normale dag te wagte kan wees?”
“Jy moet besef dat die werk nogal veeleisend kan raak. Jy moet boonop ’n sosiale funksie vervul. Passasiers gesels graag met ons. Die voordeel is natuurlik dat mens na eksotiese