hy ander houtwerk ook?”
“Nee. Net as ’n mens aanhou dat hy iets vir jou moet maak.”
“Waar het hy geleer om houtwerk te doen?”
“Dis sommer ’n stokperdjie wat hy homself geleer het nadat hy ophou boer het.”
“O, hy boer dus nie meer nie. Wie behartig dan nou die plaas?”
“Hy’t die plaas verkoop.”
“Woon hy nou op die dorp?”
“Ja. Maar ek weet nie hoe lank dit gaan vat voor hy weer ’n stukkie grond gaan aanskaf nie. Hy verveel hom so dat my ma dit nie kan uithou met hom in die huis nie.”
Toe Riana ná nog heelwat vrae en antwoorde met die koffie opdaag, kom Pikkie agter haar en Frans se geselsery het al tot amper op ’n beskaafde vlak gevorder.
Sy hou niks daarvan nie en staan dadelik op met ’n ver-skoning dat sy aandete wil gaan maak.
“Wat van jou koffie?” vra Riana. “Ek het dit mos nie verniet gemaak nie.”
“Ek vat dit sommer saam kombuis toe. Tant Doortjie hou daarvan om saans vroeg te eet.”
Hoe lank gaan Brian weg wees? wonder sy toe sy in die kombuis kom. ’n Week of wat kan beteken sy gaan hom dalk vir twee weke of langer nie sien nie. Hoe gaan sy die dae omkry? Aan wat hy daar in Johannesburg doen, wil sy liefs nie dink nie. Dis niks lekker om te weet hy is elke dag omring deur skoonhede nie.
4
Dis nie lank nie of Riana het tant Doortjie omgepraat om langer by hulle te kuier. “Ons geniet tante se geselskap so, hoekom wil tante nou al teruggaan?”
“Kind, wat gaan ek dan nou hier doen? Daar by my huis het ek darem my hanslam en hennetjie om te versorg. Ek kan mos nie so ledig sit nie. En julle kom dan smiddae wie weet watter tyd eers van die skool af.”
“Kan tante hekel?”
“Natuurlik kan ek hekel. Watter vrou van my ouderdom kan nie hekel nie?”
“Dan gaan koop ek sommer nou vir tante hekelgare en ’n hekelpen.”
“Nou maar as julle dan so aanhou . . . Ja, ek sien hoeka jul koffietafel het nie eens ’n kleedjie nie. Maar ek bly net op een voorwaarde: dat ék vir ons kos maak. So, koop sommer ertappels ook. En vleis en groente. Ek weet nie van hierdie blikkieskos van julle af nie.”
Vir Pikkie gaan die dae gans te stadig verby. Haar verlange na Brian word by die dag groter. Hoekom bel hy haar nie? Sy het tog die ander aand haar selfoonnommer vir hom gegee. Sy het ook nie sy nommer nie. Nie dat sy hom maklik ongevraagd sou bel nie, maar darem. Hy is seker maar baie besig.
Op ’n dag toe sy van die skool af kom, is haar verlange na hom so groot dat sy Kampsbaai toe ry. Net om sy huis te sien, sal help om haar verlange draagliker te maak, glo sy. Maar toe sy die huis nader, sien sy ’n ander motor buite in die oprit stilhou. Sy rem dadelik en haar hartklop versnel. Dalk is dit hy. Miskien het hy so pas teruggekom. Maar dis ’n vrou wat uit die motor klim en na die voordeur stap. ’n Baie mooi en smaakvol geklede vrou. Dalk een van sy modelle? Maar wat kom maak sy dan hier by sy huis? Sy sal mos weet hy is in Johannesburg.
Sy pas natuurlik sy huis vir hom op, verjaag sy vinnig die groenoog-monstertjie op haar skouer toe sy sien die meisie sluit die voordeur oop en verdwyn na binne. Iemand moet tog sy potplante nat maak. ’n Paar oomblikke oorweeg sy dit om te gaan aanklop om te hoor of die vrou sy selfoonnommer vir haar kan gee. Maar haar moed begewe haar. Hy vra dalk waar sy aan die nommer kom, en sy wil darem nie hê hy moet weet sy is só erg oor hom dat sy glad by sy huis ’n draai gaan maak het nie.
Die vrou bly ook so lank binne besig dat sy maar naderhand omdraai en terugry huis toe. Daar aangekom, wil Riana weet hoekom sy so laat is. “Neville is so pas hier weg. Hy’t lank vir jou gewag, maar het toe maar geloop.”
“Neville? Maar hoekom het hy my nie gebel en gesê hy kom nie?”
“Hy was in die stad en het op ’n ingewing besluit om hier aan te kom.”
“O. Wel, dan is dit nie my skuld dat ek nie hier was nie.”
“Ek het darem vir hom koffie gemaak.”
“ ’n Gawe man,” sê tant Doortjie. “Aansienlik ook. Maar sonder vrou. Riana sê sy dink hy’s geskei. En vir geskeide mans moet ’n mens lig loop. Dis selde dat hulle onskuldig is. Hy’t seker maar sy vrou verneuk.”
“ ’n Mens kan hom nie sonder meer beskuldig nie,” sê Pikkie vinnig. “Dit kan dalk net andersom wees, dat sy vrou hóm verkul het.”
“Vir wat sal ’n vrou so ’n aantreklike man verkul? Nee wat, hy ís skuldig.”
“Alle geskeide mans is nie altyd skuldig nie,” tree Riana ook toe tot die gesprek. “Die vroue dra baie keer die skuld.”
“H’m, sorg julle twee maar net dat julle wegbly van geskeide mans. Daar is genoeg jong kêrels in die land.”
Toe die naweek aanbreek, dink Pikkie by haarself dat Riana tant Doortjie se geselskap darem werklik baie geniet, want wanneer laas was sy vir ’n aand uit? Dis ook nie eens dat sy baie skoolwerk huis toe gebring het nie.
Haar verbasing is nóg groter toe Riana Vrydagmiddag vir haar sê Stephan het haar genooi om saam met hom te gaan dans, maar sy’t besluit om liewer die aand tuis deur te bring.
“Jy’s dan so dol oor dans. En jy’t nog altyd gesê ’n beter dansmaat as Stephan sal ’n mens nêrens kry nie.”
“Ag, ek is net nie lus vir hom óf vir dans nie. Hy dans wel lekker en alles, maar partykeer verveel sy geselskap my so dat ek eerder na ’n papegaai sal luister as na hom.”
“Jy moenie nou al begin met oujongnooistreke nie, eers van volgende jaar af. Ek hoop nie jy voel verplig om hier te bly ter wille van tant Doortjie nie. Ek gaan vanaand nêrens nie, so ek kan haar geselskap hou.”
“Man, ek het jou mos gesê ek is nie lus vir uitgaan nie. Los my tog uit,” sê Riana skielik so geïrriteerd dat Pikkie haar maar net verslae agterna kyk toe sy opstaan en by die vertrek uitstap.
Die Sondagoggend toe sy en tant Doortjie van die kerk af kom en in die oprit stilhou, kyk tant Doortjie om haar rond. “Is hier nie van julle bure by wie julle ’n garage kan huur nie? Die motors kan mos nie so in die son staan en verrinneweer nie.”
“Ons was van plan om ’n afdak hier te bou sodat albei motors darem onderdak kan wees, maar toe kom steek Frans Goedhardt ’n stokkie voor ons planne.”
“Hoe dan so?” wil tant Doortjie weet.
“Nee, hy is mos die bou-inspekteur van die area. Hy sê ons gaan ’n gemors maak van die besigheid. Hy gaan nie toelaat dat ons ’n afdak hier opsit nie.”
“Gmf! En vir wat hou hy hom so rammetjie-uitnek? Ek hou van die mansmens, maar wie gee hom die reg om vir julle te wil voorskryf? Het julle dan nie die huis en erf wettiglik gekoop nie?”
“Ons het, ja.”
“Nou maar dan is dit jul eiendom en kan julle mos daarmee maak wat julle wil!”
“Ek het ook so gedink, maar –”
“Kyk, as ek julle is, steur ek my nie aan hom nie,” onderbreek tant Doortjie haar sin. “Julle karre kan g’n so in die wind en weer staan nie. Laat bou die ding.”
“So, tante dink ook ons moet voortgaan?”
“Natuurlik!”
“Dan gaan ek sommer nou vir oom Jorrie vra wie die man is wat sy garage gebou het. Hy bly net ’n entjie hiervandaan. Tante kan maar solank ingaan huis toe. Ek stap sommer oor na hom toe.”
Op pad na oom Jorrie se huis oorval die twyfel Pikkie. Haar beterwete sê lankal vir haar die afdakstorie gaan nie werk nie. Dis sommer net moeilikheid soek om daarmee voort te gaan. Maar Frans