wie ook al op die oomblik dink.”[12]
In 1997, toe Van Reenen in haar laaste lewensjare was, het Judith Tayler in haar navorsing oor Erika Theron met haar ’n onderhoud gevoer. Van Reenen het haar oortuiging uitgespreek dat Verwoerd se beleid nie uit rassisme gespruit het nie. “Hy het ’n absolute sekerheid gehad en logies die uiteinde gesien as een waar daar absolute gelykheid tussen gelyke volke was. Ek is absoluut oortuig dat idealisme sy vertrekpunt was.”[13]
12. Rykie van Reenen, Op die Randakker: Saamgestel uit die Randakker-rubrieke in Die Beeld en Rapport deur Tobie Boshoff (Kaapstad: Tafelberg, 1980), pp. 16-17.
13. Judith Tayler, “ ‘With her Shoulder to the Wheel’: The Public Life of Erika Theron, 1907-1990”, doktorale proefskrif, Unisa, 2010, p. 73.
’n Ander siening
Die meeste mense in die swart en bruin middestand het geensins die Afrikaners se bewondering vir Verwoerd gedeel nie. Wat hy in sy toesprake gesê het, het hulle ernstige aanstoot gegee.
Een so ’n geval was die kampanje voor die referendum van Oktober 1960 oor republiekwording. Verwoerd het feitlik op sy eie die meerderheid van amper 75 000 vir ’n ja-stem bewerkstellig. In een van sy toesprake het hy verklaar dat die referendum die toekoms van die Suid-Afrikaanse nasie sou beslis, en bygevoeg: “Wanneer ek praat van die nasie dan praat ek van die wit mense van Suid-Afrika.” Net ná die aankondiging van die uitslag het dr. Richard van der Ross, ’n bruin leier, geskryf dat die uitspraak beteken dat geen swart of bruin Suid-Afrikaner “Die Stem” as sy volkslied of die nasionale vlag as sy vlag kan beskou nie.[14] In 1961 het Nelson Mandela, toe een van die opkomende leiers, ’n brief aan Verwoerd gestuur waarin hy namens die African National Congress (ANC) ’n beroep op Verwoerd doen om ’n Nasionale Konvensie byeen te roep. Hier moes verteenwoordigers van alle partye probeer om ’n ooreenkoms oor ’n nuwe grondwet te bereik. Mandela het geen antwoord ontvang nie.
In 1963, in sy verhoor op verskeie aanklagte, het Mandela gesê dat in enige beskaafde land sulke optrede deur die regeringshoof as skandalig beskou sou word. Verwoerd se private sekretaris het getuig dat die brief onbeantwoord gelaat is omdat dit “aggressief” en “onhoflik” was. Mandela het later geskryf dat “there may have been something in this”.[15]
In 1962 het Albert Luthuli, ANC-president, Verwoerd as “die outeur van ons rampspoed” bestempel. Sy wette het elke aspek van swart mense se lewens, van Bantoe-onderwys tot in die graf, beheer. IB Tabata, leier van die Non-European Unity Movement, het spesifiek na Verwoerd verwys met die titel van sy boek Education for Barbarism.[16]
14. R.E. van der Ross, Coloured Viewpoint (Kaapstad: Universiteit van Wes-Kaapland, 1984), pp. 102, 181. Die artikel is oorspronklik op 6 Oktober 1960 in die Cape Times gepubliseer.
15. Tom Lodge, Mandela: A Critical Life (Kaapstad: Oxford University Press, 2006), p. 105.
16. Albert Luthuli, Let My People Go (Londen: Fount Paperbacks, 1962), pp. 176-77.
Akademikus en redakteur
In 1900 stuur die Nederlandse koningin Wilhelmina die skip Gelderland na Lourenço Marques om Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), te gaan haal. Hiermee wou sy verhoed dat hy in die hande val van die Britse troepe wat besig was om die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat militêr tot onderwerping te dwing.
Een van die sterk Boergesindes wat die ou president in Desember 1900 persoonlik in Amsterdam kom ontmoet is die 27-jarige Wilhelm Johannes Verwoerd, ’n vennoot in ’n kruideniersaak. Die naam Verwoerd was oorspronklik Van der Woerd, wat verwys na ’n laagliggende stuk grond in ’n dyk se arm.[17] Wilhelm Verwoerd is getroud met Anje Strik, die kleindogter van ’n kerkleier. Op 8 September 1901 word ’n tweede seun vir die egpaar gebore en hulle besluit om hom Hendrik Frensch te noem.
Verwoerd is bedrywig in die politiek en stry teen die opkomende sosialisme. Hy is aktief in die versameling van kos en klere vir die lydende vroue en kinders van die vegtende Boere. Maar in Mei 1902 is die oorlog verby. Die Boere het ’n verpletterende nederlaag gely en die republieke se onafhanklikheid is verlore. Die Boere is nie net verslaan nie maar finansieel geruïneer.
Wilhelm en Anje Verwoerd besluit om na Suid-Afrika te verhuis om die Boere op die been te help. Hy wil ook sy ideaal verwesenlik om sendeling te word. Met hul kinders Len (4) en Hendrik (2) vertrek hulle per boot na Kaapstad waar hulle in November 1903 aankom. Hulle vestig hulle in Wynberg. Wilhelm verrig eers ambagswerk, maar word gou ’n bouaannemer en maak goed vooruitgang in die boubedryf.
In 1907 word Hendrik in die Lutherse Laerskool in Wynberg ingeskryf. Die helfte van die klas praat Duits en die ander helfte Nederlands of Engels. Ná die primêre skool skryf sy ouers hom in by Wynberg High. Sy hele skoolonderrig in die Kaap ontvang hy met Engels as voertaal. Hy behaal nietemin tweede plek in die laaste eksamen van die junior skool met net I.D. du Plessis, die latere digter, wat hom uitstof.
Die jong Hendrik is lees- en leergierig. Hy word aangegryp deur Rudyard Kipling se Puck of Pook’s Hill, J.H.H. de Waal se Afrikaanse avontuurverhale en D’Arbez (skrywersnaam van J.F. van Oordt) se historiese romans.
Wilhelm Verwoerd begin as lekesendeling werk onder die bruin mense in Wynberg. Hy bekwaam hom as “oefenaar” en ontvang in 1912 ’n beroep om by die gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in Bulawayo sendingwerk te doen.
As leerling aan Bulawayo High blink Hendrik gou uit, al moet hy by ’n heeltemal ander leerplan aanpas. Volgens sy biograaf G.D. Scholtz wat later saam met hom by die koerant Die Transvaler sou werk, het die jong Hendrik hier ’n lewenslange hekel ontwikkel aan die jingoïsme, wat op ’n ongekwalifiseerde propagering van die Britse imperialisme neerkom, en die sing van die Britse volkslied elke skooldag.[18]
In 1915 bied die Vrystaatse NG Kerk Wilhelm Verwoerd die pos van kolporteur in Brandfort aan met die taak om Bybels en godsdienstige lektuur oor die hele provinsie te versprei. Die hoof van Milton High bied Hendrik ’n beurs aan om sy skoolloopbaan daar te voltooi, maar hy antwoord dat sy kop Vrystaat toe staan. Die hoof se antwoord was: “What? Those rebels! Get out, you rebel.” Hy gee Hendrik ’n skop en jaag hom uit sy kantoor.[19]
Aan Brandfort Hoërskool het Hendrik vir die eerste keer deur die medium van Afrikaans gestudeer. Hy word ernstig siek in die griepepidemie van 1918, maar oorleef en skryf in Januarie 1919 die matriekeksamen. Hy kom eerste in die provinsie.
17. Grobbelaar, Man van die volk, pp. 8-9.
18. Scholtz, Verwoerd,